Ingonyama en ander maats met leeueharte: ’n Kortverhaalbundel
Saamgestel deur Carin Krahtz
Uitgewer: Best Books, NB-Uitgewers
ISBN: 978-1-7760-7303-0
Is jy ’n onderwyser en is jy in hierdie moedelose pandemietyd wat so ’n groot impak op die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel het, op soek na lesmateriaal wat jou leerders sowel as vir jou sal inspireer? Ingonyama en ander maats met leeueharte is ’n boek wat onlangs by BestBooks verskyn het en met vrug in die klaskamer ingespan kan word. Gebruik dit vir begripstoetse, kreatiewe skryfprojekte en lekkerlees.
Henriëtte Loubser praat met Naomi Meyer oor Henriëtte se kortverhaal rondom die ekologie en natuurbewaring, “Operasie Rooitobie”.
Henriëtte, jy het ’n storie vir die Ingonyama-bundel geskryf wat handel oor ekobeskerming en kinders wat hulleself Ekokrygers noem. Ek het dadelik aan ’n strand in Bettiesbaai gedink toe ek dit gelees het, so helder was die prentjie vir my. Waar het die idee vir jou storie vandaan gekom?
Naomi, ek is bly jy het die storie geniet. Baie dankie vir die geleentheid om daaroor te kan praat. Ek het die uitnodiging van Carin Kratz ontvang om ’n storie oor ekokrygers vir die bundel te skryf en dadelik het ’n idee in my kop opgekom oor ’n situasie ’n hele tydjie gelede. Ek my twee kleinkindertjies het hoeka in Bettiesbaai gewag terwyl die mans probeer visvang. Op ’n stadium moes ons om die afgebakende gebied, waar die rooitobies broei, loop, en dit was kosbaar om die voëls so ongestoord op hulle neste te sien sit. Ons het egter opgelet dat daar met die versperrings gepeuter is en dat daar rommel in daardie area lê. Ek het die geleentheid gekry om met die kleintjies oor rommelstrooi, bewaring en bedreigde spesies te gesels en dit was dan ook die inspirasie vir Operasie Rooitobie.
.......
Ek het die geleentheid gekry om met die kleintjies oor rommelstrooi, bewaring en bedreigde spesies te gesels en dit was dan ook die inspirasie vir Operasie Rooitobie.
........
Wil jy iets van jou storie vertel – en van jou storie se karakters?
Dit is ’n avontuurverhaal wat die ervarings van vier vriende met omgeeharte vertel. Daar is Londi, Nathan, Sophia en Alexander, elkeen met sy/haar eie persoonlikheid, maar met ’n gedeelde passie: ’n harmonieuse saambestaan op aarde, ’n besorgdheid oor die natuurlike omgewing en die mens se verhouding met die planeet en sy wesens. Die twee seuns en twee meisies is deel van ’n groep leerders wat hulself Ekokrygers noem, omdat hulle graag deelneem aan projekte om die natuur te help, veral diere in nood. Hulle "superkragte" is dus DINK, OMGEE en DOEN. In hierdie verhaal is hulle besig om rommel in die bewaringsgebied op te tel, maar hulle beleef terselfdertyd wonderlike avonture, wat soms selfs gevaarlik raak. Daar is die onderonsie met smokkelaars (wat die natuurlike seebronne uitput en besteel) en dan is daar ook die redding van die robkalfie wat verstrengel geraak het in die treknette van stropers.
.......
Die twee seuns en twee meisies is deel van ’n groep leerders wat hulself Ekokrygers noem, omdat hulle graag deelneem aan projekte om die natuur te help, veral diere in nood. Hulle "superkragte" is dus DINK, OMGEE en DOEN. In hierdie verhaal is hulle besig om rommel in die bewaringsgebied op te tel, maar hulle beleef terselfdertyd wonderlike avonture, wat soms selfs gevaarlik raak.
.........
Om om te sien na die natuur en verantwoordelik met die ekostelsel om te gaan is iets wat nodig is om onder jong lesers se aandag te bring. Jou storie is boonop ’n avontuur ook, met baie aksie daarby. As jy ’n onderwyser was, hoe sou jy hierdie storie in die klaskamer aanwend om jou leerders nog meer van stropers en van bewaring te leer?
......
Daar kan idees uitgeruil word en voorstelle gemaak word om kwessies soos besoedeling en vernietiging aan te spreek; optredes te oorweeg, dus. Leerders se kreatiwiteit kan ook in die skryf van hulle eie ekoverhale ingespan word.
.........
Ek het nie kennis van klasgee vir die junior fases nie, maar miskien kan die onderwyser vooraf ekokonsepte aan die leerders bekendstel en verduidelik deur middel van aktiwiteite soos blokraaie, nuusberiggies voorlees en bespreek, begripstoetse en algemene woordeskatuitbreidingsoefeninge. Nadat die storie in die klas voorgelees is, kan aktiwiteite rondom die verhaal beplan word, soos wat Carin ook voorgestel het en in die boek genoem word. Die klaskamer kan byvoorbeeld ook ingerig word as ’n "rehabilitasiesentrum" waarheen diere in nood gebring kan word, byvoorbeeld indien hulle oliebesmeer is of beseer is. Verder kan debatvoering oor ekotemas soos besoedeling, optrede om die aarde te beskerm, klimaatsverandering, uitwissing van spesies, uitputting van natuurlike hulpbronne en die toekoms van die planeet gevoer word. Daar kan idees uitgeruil word en voorstelle gemaak word om kwessies soos besoedeling en vernietiging aan te spreek; optredes te oorweeg, dus. Leerders se kreatiwiteit kan ook in die skryf van hulle eie ekoverhale ingespan word.
Lees ook:
Lesmateriaal vir Afrikaans-onderwysers: Fanie Viljoen se kortverhaal oor kunsmatige intelligensie
Lesmateriaal vir Afrikaans-onderwysers: Chase Rhys se Kaapse kortverhaal oor buitengewone mense
Lesmateriaal vir Afrikaans-onderwysers: Elrien Scheepers se kortverhaal as voorbeeld van ’n fabel