
Sankind lees die wind (Von Wielligh se San-stories) deur Wendy Maartens (Uitgewer: Lapa, 2024)
Sankind lees die wind (Von Wielligh se San-stories)
Outeur: Wendy Maartens
Illustrasies: Dedré Fouquet
Uitgewer: Lapa (Kinder- en jeug)
ISBN: 9780637000383
Jy tel ’n pragtige boek op as jy Wendy Maartens se Sankind lees die wind optel. Die omslag trek onmiddellik jou aandag. Die kolofon noem boonop dat KI saam met digitale collagetegnieke ingespan is. “Moderne tegnologie en kreatiewe verbeelding is saamgevoeg om die essensie van die verhaal weer te gee.” My ouma sou sê: “Well I never!”
Ek het Sankind lees die wind, ’n bundel San-stories, ’n rukkie gelede gelees, eintlik uiteindelik verslind. Dedré Fouquet se lynsketse vertel heerlik saam aan die stories en haar bladsyversierings roep rotskuns op. Ek moet bieg – ek het dierestories, natuurelemente waar die maan waarskynlik ’n groot rol sou speel, definitief ’n hottentotsgot (of bidsprinkaan) en ’n paar lewensboodskappe, dalk selfs ’n sedeles of twee, verwag. Hierdie stories is toe veel meer – boeiend, interessant, hartseer, snaaks. Ten spyte van die feit dat dit meer as ’n eeu gelede oorvertel en deur Piet Retief se susterskind, Gideon Retief von Wielligh, neergeskryf is, is dit nou danksy Maartens weer lewendig en gemaklik toeganklik vir jong gehore en lesers. Die stories het my gevang, maar ek ontdek toe dat daar meer as stories uit die 144 bladsye van die boek te ontgin is. Die San-mense was jagter-versamelaars. En nou was dit my beurt. Daar is beslis baie te versamel hier. Ek móés met Wendy Maartens hieroor gesels.
Kom ons wees eerlik – hierdie stories is oud – baie oud – dis reeds lank voor Von Wielligh dit neergepen het, al oorvertel, én bevat, soos alle stories, onmiskenbaar elemente van die skeppers daarvan se lewens, gebruike en gelowe deur die jare. Oor koffie vertel Maartens dat dit om dié rede is dat sy haar die reg op hierdie stories nie mag toe-eien nie. Sy het nie hierdie pad gestap nie. Sy mag Von Wielligh se stories egter wel soos ’n aflosstokkie aanvat, verteerbaar maak en vir ons aangee. En dit het sy gelukkig gedoen.
Sy vertel dat sy oor ’n paar jaar gereeld by !khwa ttu by Yzerfontein gaan sit, oplees, en rondstap het. Von Wielligh was, soos sy, in wese ’n veldkind, maar soos sy in ’n hoofstuk oor hom vertel, óók soos sy, passievol oor Afrikaans en skryf. Sy raak passievol as sy vertel van die navorsingsreis voor sy begin skryf. Dis wat haar laat “tiek”. Sy het altyd die groter prentjie nodig om te kan doen wat sy doen. En daar gaan by my ’n lig op. Dis hierdie eerbiedige en byna teer aanslag waarmee sy met hierdie verwerkings omgegaan het, wat deurskyn of uitstraal wat jou jouself in hierdie bundel laat verloor.
........
Oordrag in San-stories is meer subtiel en lesers en gehore moet ook oplet na wat nié gesê word nie.
........
Maartens beklemtoon met hoeveel respek sy Von Wielligh se stories moes hanteer. Sy noem hoe Khoi- en San-stories verskil: San-stories is “sagter”. Oordrag in San-stories is meer subtiel en lesers en gehore moet ook oplet na wat nié gesê word nie. Wanneer brutaliteit en geweld wel grafies oorvertel word, is dit nie ter wille van dramatisering nie, maar eg en eerlik vanuit hulle leef- en ervaringswêreld gehaal. Von Wielligh praat in die voorwoord van die tweede boek van sy vier Boesman-stories-boeke ook van die verskille tussen die Khoi en San se vertelstyl en -tegnieke. Hy vergelyk die Khoi se tegnieke met dié van ’n karikaturis wat spotprente maak om te vermaak of skok, teenoor dié van ’n San-verteller, wat soos ’n kunstenaar, musikant of digter natuurbeelde of -klanke getrou naboots. Wat jy sien of hoor, is hoe dit is en wat gebeur. Daar is waarskynlik meer, maar alles word nie aan die groot klok gehang nie. Dit is wel daar vir die leser om raak te sien – of nie.
Om die tafel vir hierdie stories te dek – as’t ware vir die lesers, soos vir hulle skrywer, ’n groter prentjie te skets – skop Sankind af met ’n insiggewende voorwoord in vier kort hoofstukke. In die eerste drie hoofstukke vertel Maartens meer van die San – hoe hulle tradisioneel in die natuur sou lewe, en ’n handjievol steeds leef. Daar word onder andere verduidelik hoe hulle baie meer waarde aan respek en goeie maniere as aan besittings heg. Die vierde hoofstuk vertel wie Gideon von Wielligh was, en hoe hy as jong seun eers saam met sy pa en later as landmeter die hele land deurkruis het. Tydens hierdie reise het hy baie stories versamel en neergeskryf. Daar was moeilike tye waar sy naastes teen hom gedraai het. Dikwels was dit net hy en sy stories. Maartens beklemtoon hier in hoofletters wat Von Wielligh geweet het: “STORIES LAAT ’N MENS NOOIT IN DIE STEEK NIE.”
So, hoe het Maartens met Von Wielligh se stories omgegaan? Soos vroeër genoem, boei hierdie stories en is dit interessant, soms hartseer en ander kere snaaks. Maartens vertel hoe sy hierdie stories uitmekaar moes haal – soos mens vleis van ’n been afkerf, dissekteer, stukkies weggooi, en dan weer opbou om soos die oorspronklike te lyk. Wreedheid was byvoorbeeld aan die orde van die dag in haar bronteks. Sy moes wegsny en vervang met wat meer gepas sou wees. Haar aanbieding moes dikwels minder grafies as die bronteks wees.
Hoewel Maartens hoofsaaklik die 2017-uitgawe van Von Wielligh se Boesmanstories wat deur !Kwa ttu & Mantis Books uitgegee is, eerder as die 1922-uitgawe as bronteks gebruik het, was die taalgebruik steeds styf en ouderwets en moes sy ook hier die messie inspan en wegsny en met moderner woordeskat en begrippe vervang om hierdie stories binne begrip en belangstelling van jong gehore te plaas. So beskryf sy Tatsie, die hoofkarakter in “Die boom wat saam met die maan groei” byvoorbeeld as “’n moeilikheidmaker soos min, wat net mooi alles onder die son gedoen het wat mens nie mag doen nie.” Voorheen was hy “’n wonderlike Boesman van die ou geslag wat geroof en gemoor het.” Seker een van die duidelikste voorbeelde van Maartens se insig rakende taalgebruik kom egter uit my gunstelingstorie, “Meerkatte en erdmannetjies”. Maartens se jakkals dreig die San met “Die velle gaan waai”, terwyl die ouer weergawes se “Ek gaan julle wys hoe dood lyk” definitief oë sou laat rek. Maartens slaag daarin om hierdie stories binne duidelike raamwerke van jong, moderne kinders te plaas.
Waar dit nodig is vir meer inligting of verduidelikings van meer onbekende begrippe, woorde of name word daar ná sommige hoofstukke (stories) ’n bladsy of twee hieraan gewy om oor hierdie tameletjies uit te brei en dikwels sommer ’n bonusfeit of kopkrapper ook in te gooi. So word ’n hongerband byvoorbeeld gedefinieer as “’n riem wat die San gebruik om honger draagliker te probeer maak” en word ons herinner dat “hemelstraat” ’n ander woord vir “Melkweg” is. Een van my interessantste wegneempakkies was die bonusfeit dat die wolf in San-stories eintlik ’n hiëna en die slim een is teenoor die stomme wolf as dwaas waaraan ons gewoond is in tradisionele sprokies en Jakkals en Wolf-stories.
........
Hoe mooi is dit om te sê iemand se wind het uitgewaai, sy hart het omgeval, as hy gesterf het? Die San glo boonop dat wanneer iemand sterf, sy hare wolke word, soos ook die voëls se vere – weliswaar nie wolke wat reën bring nie, bloot wolke wat verby sweef.
........
Die laaste 20 bladsye ná lesers hulle as’t ware danksy die stories in die San-wêreld kon begin tuismaak, werp lig op dieredanse, San-gedigte en San-gebede. Die gebede vertolk ek as algehele respek teenoor en erkenning aan die natuur en die kragte van die natuur. Wanneer hulle koud kry, sal hulle byvoorbeeld vir die Son vir hitte vra, en die Son besing wanneer sy verskyn. Die bidsprinkaan en die waterslang word onder meer ook met die grootste respek bejeën. Van Kaggen, die bidsprinkaan of hottentotsgot, sê hulle: “Jy vat raak waar jy gryp,” en hulle wil ook graag so wees.
Tussen hierdie drie interessante naskrifte vertel Maartens kortliks ook wat die San sê oor die wolke, die wind, en oor wanneer iemand sterf. Hoe mooi is dit om te sê iemand se wind het uitgewaai, sy hart het omgeval, as hy gesterf het? Die San glo boonop dat wanneer iemand sterf, sy hare wolke word, soos ook die voëls se vere – weliswaar nie wolke wat reën bring nie, bloot wolke wat verby sweef. Waar ek woon, waai die wind baie dikwels baie mooi wolke oor ons koppe sonder dat ’n druppel val. Ek sal nooit weer dieselfde na daardie wolke kyk nie.
Om eerlik te wees, ek glo dat hierdie boek – en ek sál my vererg as iemand dit ooit ’n “boekie” voor my sou noem – koppe kan swaai. Hierdie stories moet soos aflosstokkies aangegee word, soos Maartens hierdie stokkie van Von Wielligh gevat en na ons aangegee het. Hierdie boek kan baie bydra tot begrip van die ryk San-kultuur en wat ons daarvan kan leer. Maartens hoop dat lesers deur as’t ware in die San se voetspore te stap, die natuur én hulleself hopelik beter sal kan leer ken. Om uiteindelik makliker met “sagte oë na hulleself en ander te kyk”. Ek vat die stokkie, Wendy Maartens. Ek salueer jou.
Kommentaar
Uitstekende resensie... ek wil dadelik die boek lees! Baie dankie!