
Foto’s van Fotostaatmasjien en Soekenjin: NB-Uitgewers
Onthou om na Bibi Slippers te kom luister by vanjaar se Easy Equities-skrywersfees op die Toyota US Woordfeesprogram.
Haar volgende digbundel verskyn in Oktober, maar hierdie onderhoud met Bibi Slippers verskyn weens die derde kwartaal se literêrenavorsingstaak.
Die literêrenavorsingsprojek wat gedurende die derde kwartaal in Suid-Afrikaanse skole plaasvind, vereis soms dat leerders navorsing oor ’n digter moet doen.
Hier bied LitNet ’n vinnige oplossing vir jong navorsers!
Bibi Slippers beantwoord Maja Meyer, wat 12 jaar oud en in Laerskool Stellenbosch is, se vrae oor Bibi se agtergrond.
Bibi, wanneer en waar is jy gebore?
Op 24 Oktober 1983 in Bloemfontein.
Wat was jou gunstelingstokperdjie toe jy nog ’n kind was?
Ek het daarvan gehou om dinge te maak: klere, kunswerke, gebruiksartikels – enige ding wat ek met my hande kon maak. Ek het ook baie gehou van lees! En ek het gimnastiek gedoen.
Wat was jou eerste gedig se naam en waaroor het dit gegaan?
Ek onthou een spesifieke gedig wat ek op laerskool geskryf het oor kabouters wat treinry. Die eerste reëls was: “Vyf kabouters / baie klein / ry in hul kaboutertrein” – die res kan ek nie onthou nie!
Waar kry jy idees vir jou gedigte?
Sjoe, ek is nie altyd seker waar die idees vandaan kom nie. Maar om ander digters se gedigte te lees, goeie boeke te lees en musiek te luister sit my kop aan die gang. Ek kry ook idees in die stort of as ek lekker ver stap.
Wat was die name van jou laerskool en hoërskool?
My laerskool was Heuwelland, en my hoërskool was Hoërskool Empangeni.

Foto van Bibi Slippers: verskaf
Wat was jou gunstelingvakke op skool en hoekom?
Kuns, Afrikaans en Engels. Ek het ook musiek geneem en was nie baie goed daarmee nie, maar dit was baie pret.
Wat het jy op universiteit studeer?
Beeldende kuns en tale aan die Universiteit van Pretoria.
Wat was die lekkerste gedig wat jy al ooit geskryf het? Vir jou?
O griet! Ek sukkel om nou aan ’n spesifieke een te dink wat baie lekker was. Maar onlangs, vir my nuwe bundel, was daar so ’n paar gedigte oor die kleur pienk wat ek baie geniet het. En dan een uit my eerste bundel oor ’n windhond, wat ek baie vinnig geskryf het. (Gewoonlik skryf ek nogal stadig.)
Wat is jou gunstelingtroeteldier en sy/haar naam en as jy meer as een het, wat is hulle name?
Ek is so bly jy vra! My troeteldier is ’n Italiaanse windhond (ook bekend as ’n Iggy) en haar naam is Matilda. Sy is vreeslik oulik. Ek het ook ’n mak skaap gehad, Wolraad, maar hy is verlede jaar aan ouderdom dood na baie, baie jare.
Is daar iets waarop jy versot is? Dit kan jou kêrel of jou man wees, maar dit hoef nie ’n mens te wees nie.
Ek is versot op die see!
Wat doen jy nou deesdae in jou vrye tyd?
Ek het nie tans baie tyd nie – maar lees en fliek kyk en stap bly my lekkerste dinge om te doen. Deesdae ook slaap.
Is Bibi jou regte naam?
My doopname is Beatrice Barbara – dis waar Bibi vandaan kom, die twee B-name.
Word jy ooit moeg daarvoor om gedigte te skryf?
Hahaha, ja, gereeld. ’n Mens kan jouself nogal irriteer. Maar wat slegter is as om gedigte te skryf, is om te wil skryf en nie daarby uit te kom nie, omdat jy ander werk of verpligtinge het.
Hoekom skryf jy gedigte?
Vir my is dit ’n vreeslike lekker speletjie wat my brein besig hou. Dit help my om te dink en om myself en my ervarings te verstaan.
Wie is jou gunstelingdigter?
Daar is ’n paar, maar een wat nou vinnig in my kop opkom is Jack Underwood – hy is van Engeland.
Kry jy ooit slegte terugvoer (of hate mail) van mense wat nie van jou gedigte hou nie en hoe verwerk jy dit (deal jy daarmee)?
Ek dink so min mense lees gedigte, en dié wat lees, lees omdat hulle van gedigte hou – so ek is gelukkig dat ek nog nie hate mail gekry het nie. TV-kykers is ’n ander storie – hulle stuur maklik hate mail!
Wat is jou gunsteling-sport?
Draf.
Noem twee van jou vriende uit jou kinderdae.
Colette en Christina. Colette het ek eers in die hoërskool ontmoet – sy woon nou in Australië, maar ons is steeds vriende. Ek en Christina het in dieselfde straat gewoon toe ek in graad 1 was en baie saam gespeel.
Wat sal jy vir iemand sê as hulle begin gedigte skryf?
Dat hulle baie gedigte moet lees!
Wat is jou grootste vrees?
Ek droom soms van reusegolwe, so hoog soos geboue – en dan voel ek altyd baie bang. Maar ek is ook bang vir mense se oordeel, en dat iemand sal dink ek is dom.
Wat is jou grootste droom?
Om baie goeie boeke te skryf, en baie goeie flieks te maak, en baie rustig te wees terwyl ek dit doen.
Wat is jou digbundels se name?
Die een wat reeds verskyn het is Fotostaatmasjien, en die een wat in Oktober 2023 uitkom is Soekenjin.
Lees ook:
Die EasyEquities-skrywersfees by Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Elmari Rautenbach
Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywer: ’n sagte landing vir Bibi in Cradock
Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywer: Bibi Slippers oorgehaal vir die muse van die Karoo
LitNet Akademies-resensie-essay: In die spieël met Bibi – Fotostaatmasjien (2016) deur Bibi Slippers
UJ-pryse 2017: Commendatio oor Bibi Slippers se Fotostaatmasjien
Bibi Slippers in gesprek met Andries Visagie: verslag en klankopname