monoloog vir ’n hond

  • 1

 

monoloog vir ’n hond

in memoriam, The Fugard Theatre

 

’n Hond lê en slaap op ’n sypaadjie in Distrik 6 voor die toe deur van die Fugard-teater.
Hy is ’n bruin brak met swart om die snoet, sy neusgate rinkel in sy slaap.
Hy skrik wakker uit sy droom en snuif nuuskierig in die lug.

JAKKALS:
ek het die deur weer oopgedroom en verlore
reuke het teruggekeer. tonele stroom oor
die verhoog van tyd in my asem en dis hoe
die onthou my binnekom: ’n vloeibare laag-
koek van lug in die neus.

(Hy staan op en stap na die deur, ruik al met die soom van die twee sye langs.)

mense dink met die sluit van ’n deur word reuke
minder. verkeerd. dit word méér. die gisters bly
draal, hoe flou ook al, maar nou het die helder botoon
van verlies bygekom, vlugtig en amper sonder inhoud.
dit ruik soos ys

maar sal verdonker, met die dae, tot die vrot
basisnoot van vriesbrand ontwikkel, en vermeng
met die geur van dwaalgeeste en ou drome, muf
en drukkend maar vol versteekte lewe, steeds,
sampioene en mos.

(Hy sit, snoet omhoog, en neem die oomblik in.)

hier is die aardse reuk van aandag nog die middelkleur,
saam met vryheid, wat die vars klankie het van veld,
en die fynbosgeur van verbeelding. ek ruik verandering.
dis soos verbeelding maar met beweging by, met ander
woorde: wind,

die hart van die plek se parfuum. denne, muskus, hand-
skoen, sederhout en sandel- saamgeklits tot die kragtige
geur van kamma-kamma, en die windpomp-reuk van
woorde wat wérk vir ’n lewe, olie en staal en die verrassing
van water.

(Jakkals gaan lê weer, sit sy kop op sy pote neer.)

’n hond kan ’n hele storie in ’n snuif leer lees.
’n teater ruik soos wat was en wat is en soms
as jy gelukkig is soos wat kan wees –

 

Hierdie gedig is deel van ’n reeks verse met “teater” as tema, en dit word aangebied om die dramaturg Athol Fugard se 90ste verjaardag in 2022 te vier. Lees al die gedigte hier:

Athol Fugard 90: Teatergedigte

Die bydraes in hierdie reeks word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die LW Hiemstra Trust.

 

  • 1

Kommentaar

  • Marietjie warrington

    Mooi, mooier, die beste ... Baie dankie hiervoor. Ek sien geweldig uit na die opvolg!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top