UJ-pryse 2017: Commendatio oor Bibi Slippers se Fotostaatmasjien

  • 1

Karen de Wet (Foto: UJ)

Die UJ-pryse 2017 is onlangs toegeken. Hier is Karen de Wet se commendatio oor Bibi Slippers se Fotostaatmasjien, ontvanger van die 2017 UJ-debuutprys.

’n Beiteltjie, ’n lugdrukboor, en nou, ’n literêre hipster1

Dames en here

Vanaand is ons eksemplaar en toonbeeld van die literêre wêreld – wat wesenlik ook funksioneer soos wat die opset rondom sport- en popsterre2 funksioneer. Aanhangers bly aanhangers: Ons gee ook graag vleiende byvoeglike naamwoorde, in oortreffende trap, aan ons lieflinge en gunstelinge, ons helde en heldinne onder die skrywers. En ons doen dit omdat ons aanklank vind by ’n benadering, ’n houding, ’n klank, by ’n reël wat ons laat dink, tot stilstand laat kom of skok, wat ons laat sidder of versug: Ons wil ook só wees, so maak, so lyk, so klink, só dig. En só maak ons ikone. As ek vanaand by hierdie geleentheid waar die vyftiende UJ-debuutprys3 oorhandig word, die aanbeveling wil maak dat Bibi Slippers se Fotostaatmasjien ’n waardige ontvanger is, dan hierom:

 

1. Oor Bibi – die ikonisiteit van Bibi

Binne die sisteem waarin sy funksioneer, is dit maklik om Bibi Slippers as ikonies te eien. Ikonies in die sin van met die aard en eienskappe van ’n ikoon, iemand wat beskou word as gereken en ’n verteenwoordigende simbool, iemand wat verering werd is.4 Eweneens om te sien dat Fotostaatmasjien ikoniese status aan die bereik is. Die bekendstelling van die boek in Johannesburg was op 18 November 2016. Ten tyde van die prysoorhandiging (19 Mei 2017) is dit maar ses maande later, en van die “baie stewige oplaag” vir ’n Afrikaanse digbundel5, is minder as honderd eksemplare6 oor. In meer as drie dekades van uiteenlopende boekbekendstellings, het ek nog nooit soveel hip jong mense (in hulle twintigs, dertigs, veertigs – professioneel, studente, Afrikaans) en soveel jong kinders (party in swaardvegterpakke, party met prinseskrone op) só aandagtig na só ’n lang voorlesing uit ’n digbundel sien luister nie. En daarna tou sien staan om die boek te koop, om die handtekening te kry (met die eienaar se naam wat noukeurig in blokletters ingevul word, soos per instruksie7) én om daarna ook nog die kunsuitstalling in reaksie op van die gedigte, te besoek.

Bibi Slippers self funksioneer soos ’n ingeligte, goed geoliede media-masjien.

  • Sy skep ’n energieke media-beeld van digter, leser en kunstenaar.
  • Sy het haar eie TV-program – oor boeke. En die gaste staan tou om pantoffels aan te trek en In die bed met Bibi te spring om oor boeke te gesels.
  • In die bed met Bibi is ook ’n webwerf (indiebedmetbibi.com) met haar eie boekklub. Mens kan saam met die klub lees:

mens kan oor die klubboeke blog: “Deel jou mening ... Lewer kommentaar.”

Terwyl die argief ’n “bibiLIOTEEK / BIBI*LIOTEEK” word – ’n versameling boeke “waaroor (Bibi) mal was”: “Die boeke in hierdie versameling beveel ek met oorgawe aan.” ’n Eie klein kanon. Openbaar gedeel en bemark. Bedoel om impak te maak en terugvoer te kry.

  • Sy neem deel aan literêre aande, soos Loftus Marais se inisiatief waar al die genooide digters oor Lucian Freud se windhond moes skryf:

  • Om haar debuutbundel bekend te stel, nooi sy kunstenaars uit (30 name) wat gedigte uit Fotostaatmasjien kies en in hul kunswerke daarop reageer. Die eerste debuutbundelbekendstelling-met-kunsuitstalling-as-interteks – wel, beslis in Afrikaans.

Eers het die Afrikaanse poësie ’n “beiteltjie” (Louw, 1954)8 gehad, later ’n “lugdrukboor” (Marais, 2008)9 en nou Bibi, die literêre hipster10. Die een wat weet11. Wat weet hoe. Wat die toon aangee, die mode stuur12. Sy lees soos ’n masjien, sy kyk soos ’n kunstenaar, sy dink soos ’n dromer, sy droom soos ’n digter. Sy gaan swem in die see by Bakoven om haar UJ-debuutprys te vier. Sy lyk soos ’n sagte (hans)lammetjie, maar sy is onwrikbaar rammetjie-uitnek en ’n onuitoorlêbare gladdebek ... so as jy vanaand by haar gaan eet, trek handskoene aan vir die omhels van die kaktus (pp 90-91) want voor jy jou oë uitvee, vreet sy jou sekerlik voor, of vir, brekfis op.

Tot sover Bibi.

 

2 Oor Bibi se bundel: Fotostaatmasjien

’n Géél digbundel? Dit moet ’n eerste wees? Maar nee. Daar is Peter Blum se Enklaves van die lig (1958), en ’n weergawe van Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet (1964) was geel. (Die ysterkoei wat dalk ’n tikmasjien is. Nog nie ’n fotostaatmasjien nie.) Daar is André Letoit se Die geel kafee (1985), PJ Bosman se Die ryp geel kring (1992) Antjie Krog se drietalige kinderverseboek Voëls van anderste vere (1992), die postume Sonklong oor Afrika van Opperman (Kannemeyer, 2000) en Petra Müller se Om die gedagte van geel (2012) – almal digbundels, die meeste pryswenners, die meeste omstrede. Breytenbach se Lady One (2000) het die vuurhoutjieboksie-geel en sy latere Die beginsel van stof (2011) ’n dieper ougoud. Suidpunt Jazz (Letoit, 1989) was geel en Sirkusboere (Sonja Loots, 2011) ook, soos die bundels essays Hart-lam (Breytenbach, 1991) en Melk die heilige koeie (Deon Maas, 2016).

En kyk mens na Nuwe stemme 4 (Marais & De Goede, 2010) waarin Slippers se gedigte vir die eerste maal formeel gepubliseer bekend gestel word, het dit ’n groot geel kol en (veelseggend) iets soos verfspatsels en inkkolle op.

’n Voëlvlug-blik op Afrikaanse digbundels met geel omslae, kan só beskou egter hoogstens net maar nog een van die moontlike invalshoeke tot Fotostaatmasjien wees, soos ook ’n ondersoek na interpretasiemoontlikhede by geel. Ek verwys na die omslag van Fotostaatmasjien (en ander omslae) omdat dit my waarneming onderlê oor die procédé wat Bibi Slippers die digter volg, naamlik dat sy optelgedigte13 maak. Dat sy uit die letterkunde, uit die lewe, uit leef en belewing, uit wat sy sien en lees, iets optel en daarvan iets anders maak. In die taal van die bundel: ’n fotostaat, ’n afskrif, ’n geskrif, ’n gedig. Soos ’n kunstenaar kuns uit found objects maak. Die found objects in Fotostaatmasjien is reëls uit gedigte, is gedigte, is digters, is foto’s, is indrukke, is leesreaksies én dit is ’n oopskryf van ’n eie siening van poësie en van die lewe. Só word dit deel van die digter se ars poetica: ’n benaderingswyse. Só word Fotostaatmasjien die boek, ’n dokument van ’n bepaalde benadering, van ’n bepaalde lewe en lewenswyse en blik op die lewe en die poësie – op daardie stadium. Dié van die digter Bibi Slippers tydens haar debuut.

 

3 Oor die outobiografiese en ars poetica

Só ’n benadering tot poësie (skryf, poësie lees) betrek onvermydelik ’n outobiografiese werklikheid – wat flink aangekondig word deur die eerste afdeling, “Die reïnkarnasie van Chester Carlson” met die twee gedigte “Eerste lewe: Biografie” en “Tweede lewe: Outobiografie”. Soos tevore in die Afrikaanse letterkunde gebruik Slippers ’n historiese figuur (Chester Carlson, uitvinder van “xerografie. droogskryf” (p 13), wie se biografiese gegewens verweef word met dié van die outobiografiese digterspreker.

Slippers skram nie weg van die outobiografiese nie. Sy maak poësie daaruit. Sy leef die poësie. Die weinig inligting oor haar persoonlike lewe waarmee sy die media en haar aanhangers in onderhoude voer, is reeds in die gedigte –

  • Haar hanslam (“my mak ram”, p 17), Wolraad, maak ’n buiging in "Tweede lewe: Biografie" wat ook terugroep na "Eerste lewe: Outobiografie" waarin jong Chester leer praat deur na te aap (p 12):

Skapie mê, Skapie mê, wat is dit wat jy wil hê? Skapie mê, Skapie mê. Sê vir my wat jy wil hê. (Foto: via Instagram)

  • Haar kleuterskoolrapport is afgedruk op die flap van Fotostaatmasjien se omslag.

  • Haar voorliefde vir fietsry en gedigte14 kry gestalte in die verbysterende gedig vol fiets en vlerk en (verlore/gewaande) liefde, “Die resiesfiets en die reier” (pp 55-9). 
  • Een van die beelde van haarself wat sy in die media sirkuleer is die verskillende foto’s van haar met ’n polkakolrok aan (insluitend een op die flap van Fotostaatmasjien en een met ’n Royal Bakpoeierblik / Droste-effek) –

iets wat onvermydelik meespeel in die gedig “Ondersoek na die aard van obsessie met spesifieke verwysing na die polkakol-kunswerke van Yayoi Kusama” (p 44).

  • En verder is die outobiografiese Slippers,15 wat immers ook digter is, se siening van die letterkunde duidelik sigbaar in die ars poetikale uitsprake in Fotostaatmasjien. Die Jonker-teëspraak: “my pop val stukkend” (p 83) waarin ook NP van Wyk Louw se ‘Alleenspraak’ opgestuur word, lees soos ’n manifes:

    poësie probeer te permanent wees
    wil monumentaal omgaan met pyn
    pop spin spookasem van als wat
    seermaak of plooie veroorsaak
    hou dit lig en pienk en eetbaar, poëte
    vergeet die gewete en hogere kuns
    gaan koop vir jou hoëhakskoene
    en ’n hotpant laat staan jou righteous
    rant en word ordentlik meegevoer
    deur die dinge wat nét flikker om die grense
    van enige goedbeligte disko-dansvloer

     

4 Oor die visuele en tipografiese

Dat Slippers in Fotostaatmasjien tegnieke gebruik en gedigte maak waarna verwys kan word met behulp van die tipiese termevisuele poësie, konkrete poësie en kykpoësie, is ook besonder opvallend.

Uiteenlopende en interessante voorbeelde hiervan is:

  • die reeks Instagram-gedigte (onder een titel: ‘15 Instagram gedigte’),

  • die indruk van fridge magnet poetry16 wat geskep word in die gedig “sewe klein fantasieë oor Breyten Breytenbach met fotostaatmasjien en skêr” (pp 32-34) 

en hoe dit op die titelblad en die afdelings van Breytenbach (1964) se debuutdigbundel Die ysterkoei moet sweet, lyk:

  • die tipografiese kolle ipv O’s in die polkakol-gedig (p 44)

  • die “tjiiiiiiiiiiiirrrrrr” (p55) van die resiesfiets

    (“Aaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaa
    ek voel sy swaard soos ’n graat in my gorrel”)

eindig “Die Tweegeveg” (Breytenbach, 1964:10) en “hiiiiieeeeeeee” (Breytenbach, 1964:54) is die titel vir die gedig langs die treinspoor.

  • En dan is daar die klein krabbeltjies, skribbels, krappies wat dwarsdeur die boek uit die bloute langs reëls in die gedigte verskyn totdat Slippers ook daarvan ’n tipografiese eksperiment en gedig maak:

(pp 102–3). Volgens die inhoudsopgawe is dit die afdeling “Kantaantekeninge” en die gedig “Weerstand”.

*

Dames en here, tot hier is dit nou al ’n mondvol vir ’n commendatio: Die ikoniese digter, outobiografiese aspekte, ars poetica, tipografiese eksperimente, kantaantekeninge en oorskrywery wat alles (onder andere) in der daad die nuwe teks, per implikasie die nuwe fotostaat, word.

En steeds bied dit nog maar ’n klein skrefie van die blik wat op Fotostaatmasjien gegee kan word. Hier is nog nie ’n woord gesê oor die galery Afrikaanse digters en gedigte aan wie Slippers in Fotostaatmasjien staanplek gee deur haar eie ver-beeld-ings en her-verwoord-ings nie.17

Hier is nog niks van die res van “Bibi se kanon” in Fotostaatmasjien nie: die internasionale digters en musikante wat voorlopers en eksperimentele entrepreneurs van hulle dag is en was, en waarop Slippers reageer nie: van Charles Bukowski en Allan Ginsberg tot Anne Sexton, Anne Michaels en Anne Carson. Van Regina Spektor tot Taylor Swift, Beyonce en Justin Bieber. Hier is nog niks oor die manier waarop Slippers liefdesgedigte aanpak dat jy hoendervel kry terwyl dit jou tog ook yskoud (van angs en insig, nie van ongeraaktheid nie) laat. Niks van die verbluffende metaforiese toepassings en sosiale kommentaar in die reeks oor die vals tolk (“The great fake”, p.114) by Nelson Mandela se begrafnis nie. (Met die veelseggende titel: “Handgebare: Die tye en swye van Thamsanqu Jantjie,” pp 104-14.)

Een ding staan wel: Bibi Slippers is ’n kunstenaar. Sy is ’n joernalis. Sy is ’n leser. Sy is ’n uitgeslape, uitgelese, ingeligte digter. En sy is akademies onderlê. Die feit dat sy sosiale media en popkultuur betrek en tipografies bewus en uitdagend skryf, dat sy aan die grense van genres torring, dat sy wyd gelees word en populêr in aanvraag is, moet ons nie vir een oomblik laat dink dat hierdie gedigte eenvoudig of oppervlakkig is nie, óf dat haar lesers, wat wyer as die "tradisionele" Afrikaanse poësieleser blyk te kring, nie intelligent, ingelig, byderwets en krities is nie.

Wat Slippers deurentyd en deurdag doen is om die grense te verlê. Sy skryf in die kantlyn, sy skryf oor en sy skryf na en sy skryf af18 (ook in die betekenis van afreken met, klaarspeel met) en sy beweeg buite die skutblaaie van die boek.

Om mee af te sluit dan: ’n Voorsmakie (of vir dié wat reeds daarmee vertroud is: ’n herkou) uit ’n gedig van Slippers wat reeds identifiserend met haar geassosieer word, ikonies raak – “Ondersoek na die aard van die geskilderde windhond met spesifieke verwysing na die latere werk van Lucian Freud” (p 45):

watter weeksdag is die wind-
hond? mens wil dink ’n woens-
dag, maar, nee: die windhond
is dunner, en ’n dinsdag, dus.

wie se kind is die windhond?
die aanteelt van ’n kluitspier
en ’n kantgordyn, of die klein-
tjie van ’n jakkals en ’n sweep?

...

As dit is wat ’n ondersoek na die aard van kunswerk kan doen aan die aanbod en formuleer van gedigte: A lua continua!

Dames en here, ek beveel hiermee daarom graag aan dat die 2017 UJ-debuutprys toegeken word aan die digter Bibi Slippers vir haar vindingryke, omvangryke digbundel Fotostaatmasjien.

 

Bibliografie

Breytenbach, B. 1964. Die ysterkoei moet sweet. Kaapstad: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Kannemeyer, JC (red) 2000. DJ Opperman - Sonklong oor Afrika: faksimilee, transkripsie en konstruksie van ’n bundel verse-in-wording.

Krog, A & P van Sietert (illus) (Engelse vert: Michael Cope; Xhosa vert: Sandile Dikeni.) 1992. Voëls van anderste vere: gedigte vir kinders. Kaapstad: Buchu Books.

Leroux, E. 1959. Die mugu Kaapstad: HAUM.

Louw, NP van W 1954. “Die beiteltjie”. In Nuwe verse. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk.

Marais, D & De Goede, R (samest) 2010. Nuwe stemme 4. Kaapstad: Tafelberg.

Marais, L 2008. “Die digter as rockstar.” In: Staan in die algemeen nader aan vensters. Kaapstad: Tafelberg.

Müller, P 2012. Om die gedagte van geel. Kaapstad: Tafelberg.

Opperman, DJ 1970. Edms. Bpk. Kaapstad: Human & Rousseau.

Slippers, B 2013. Dit gaan nie oor die fiets nie. [Bydrae vir Die week in woorde.] LitnetSkryfwerk. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/dit-gaan-nie-oor-die-fiets-nie/ Besigtig: 19 Mei 2017.

Slippers, B 2016. Fotostaatmasjien. Kaapstad: Tafelberg.

 

Eindnotas

1 Frederick Botha het die term “literêre hipster” gebruik in sy keurverslag van Fotostaatmasjien vir die 2017 UJ-debuutprys.

2 Kyk die gedigte oor Justin Bieber,Taylor Swift, Beyonce ...

3 Die UJ-pryse is vir die eerste keer in 2001 (vir publikasies in die vorige kalenderjaar) toegeken en het eers (2001 tot 2004) bekend gestaan as die RAU-prys. In twee jare (2001, 2005) is egter geen toekenning vir debuutpryse gemaak nie.

4 “A person or thing regarded as a representative symbol or as worthy of veneration.”
(South African Concise Oxford Dictionary. https://en.oxforddictionaries.com/definition/icon)

5 Privaat korrespondensie per e-pos met NB-uitgewers, 30 Mei 2017.

6 Sien ook die kunsfees Innibos se program (beskikbaar sedert April 2017) “Fotostaatmasjien het reeds ’n herdruk beleef, byna ongekend in die Afrikaanse boekbedryf.” (Beskikbaar: http://innibos.co.za/program/produksie/boeke/boeke-oppistoep/boekgesprek-bibi-slippers/, besigtig 19 Mei 2017).

7 Kyk ongenommerde bladsy in Fotostaatmasjien se voorwerk, teenoor die gedrukte publikasie-inligting:
“Vir _______________ ___________
(Gebruik asseblief slegs blokletters)”

8 “Ek kry ’n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.” Eerste strofe van “Die beiteltjie” (Louw, 1954).

9 “ék is nie ʼn beiteltjie nie
ek is ʼn fokken lugdrukboor” uit “Die digter as rockstar” (Marais, 2008).

10 “a person who is unusually aware of and interested in new and unconventional patterns (as in jazz or fashion)” (https://www.merriam-webster.com/dictionary/hipster).

11 Dit is Etienne Leroux (1959) se woorde in Die mugu:

“‘Wat is ’n hipster?’ vra die staatsaanklaer.
‘’n Hipster is iemand wat weet,’ sê die eendstert.”

12 Toonaangewer as “trendsetter: someone who starts a new fashion, style, etc, or helps to make it popular” (Merriam Webster Learners’ dictionary: http://www.learnersdictionary.com/definition/trendsetter).

13 Opperman (1970) se woord vir sy “Visvangplekke op die Plaat” en "Ruimtesentrum, Houston" in: Edms. Bpk ... Maar later in meer uitgebreide sin gebruik.

14 Nota bene: “Dit gaan nie oor die fiets nie.”(Slippers, 2013).

15 Soos gekonstrueer deur byvoorbeeld die program In die bed met Bibi, die “Bibi-lioteek,” en bekend vir die foto van die pienk stilettos.

16 “Yskasgedigte,” sê Versindaba, maar dit laat die visuele indruk van die onewe gerangskikte woorde wat op klein yskasmagneetjies gedruk is, dalk effe skade ly.

17 Die opvallendste: “Vyftien fotostate” (vir Adam Small, p 41), “Voëlvang in die skemering” (p 53), “ses brokkies Stockenström”(p 74), “Jonker as voorbok van Afrikaanse pop” (p 84), “antwoord hy alom” (p 89), Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Marlene van Niekerk.

18 So verreikend aangebied met “Skiewie in die skriptorium”.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top