Middernagfees
Jaco Jacobs
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799345186
Jaco Jacobs is my gunstelingskrywer en ek verslind al sy boeke. Ek hou veral van grilstories en was baie bly toe ek Middernagfees by ons plaaslike boekwinkel sien.
Ek was so opgewonde dat ek sommer dieselfde aand al begin lees het en amper die hele boek klaar gelees het. Die boek het 96 bladsye met 14 lekkerlees- en grillerige stories. Dis ideaal om gou voor slaaptyd ná ‘n lang skooldag te lees om net ‘n bietjie te kalmeer voor skool weer begin. Jaco Jacobs se boeke lees maklik en dié een is glad nie ‘n uitsondering nie. Veral omdat dit kortverhale is, is dit lekker ontspannend (en ook lekker grillerig!) om te lees voor slaaptyd. Dit bevat mooi kleurvolle prente en lekker duidelike woorde geïllustreer deur Chris Venter, wat die boek ophelder.
Jaco se boeke lees altyd maklik en dit voel of ek in sy stories is en saam alles doen. In Middernagfees is daar kortverhale en lang verhale oor aliens, monsters, vampiere, weerwolwe en ‘n groot groen slymerige padda en nog baie ander grillerige goeters. Ons seuns hou mos van al die grillerige dinge. Ek weet meisies sal seker minder van dié boekie hou – meisiekinders is mos vies en bang as hulle sulke dinge lees. Daar is nie net bangmaakstories nie; sommige van die stories is snaaks en rym tot. Ek het lekker gegiggel in die hoofstukke waar daar ‘n boetie of sussie is. Ek het self ‘n boetie en weet van al die grillerige goed wat babas in hul monde prop. Die meeste meisies sal seker nooit die kamma-snot-storie gelees kry nie en heeltemal te veel gril soos altyd. Of in elk geval die meisies in ons skool. Ek verstaan dit nie lekker nie, maar ek is bly Jaco skryf daaroor sodat daar lekker stories vir ons seuns ook is om te lees en te geniet. My ma hou ook baie van sy boeke. Kersfees het sy vir my een gekoop wat hy spesiaal vir my geteken het! Daar is tot jou eie resep om groen slym te maak. Dan kan ek by die skool daarmee speel en meisies baie bang maak en wegjaag! (WONDERLIK!]