Die meisie met vlerke
Jaco Jacobs
Uitgewer: Pan Macmillan South Africa Children’s Books (2022)
ISBN: 9781776251766
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Al wat Wilson Fourie wil hê, is ’n normale lewe en ’n normale gesin. Die soort gesin wat nie die wêreld vol in ’n huis-op-wiele rondtrek nie. Maar op die dorpie Verkeerdevlei wag ’n geheim. ’n Asemrowende geheim wat Wilson met nuwe oë na die wêreld sal laat kyk ...
Die verwagting wat reeds met dié bladteks geskep word, herinner aan Jaco Jacobs se vermoë om as meesterskrywer interessante jeugverhale te skep – wat selfs deur volwassenes (soos ek) geniet word. Die verhaal sorg vir die herevaluering van stereotipes en opvattings oor die “normale” of “aanvaarbare” tipe mens in die samelewing. Lesers word uitgedaag deur verrassende karakters, ’n opwindende handeling en afloop van gebeure wat vereis dat die leser ook, soos Wilson, met nuwe oë na die wêreld kyk. Deur eiedaagse kwessies en gesinne teen die agtergrond van ’n tipiese kleindorpie te skets, slaag Jacobs daarin om dit wat as normaal, tradisioneel of doodgewoon beskou word, te bevraagteken en uiteraard ’n wêreld te skep waarin die abnormale, rare of selfs onmoontlike ’n gerespekteerde plek verdien. Tradisionele temas van jeugliteratuur, soos gebroke huishoudings, afwesige of afgesterfde ouers, armoede, grootwording en booswigte (om maar net ’n paar te noem) word op nuwe en insiggewende maniere in die verhaal verweef. Die meise met vlerke kan ook as ’n moderne sprokie bestempel word, weens die insluiting van tipiese sprokieselemente op direkte én subtiele maniere. Booswigte en helde word teen mekaar gemeet, terwyl ’n morele les (of lesse) ook geleer kan word – wat gelukkig nie op ’n eng didaktiese wyse aan die leser oorgedra word nie.
........
Deur eiedaagse kwessies en gesinne teen die agtergrond van ’n tipiese kleindorpie te skets, slaag Jacobs daarin om dit wat as normaal, tradisioneel of doodgewoon beskou word, te bevraagteken en uiteraard ’n wêreld te skep waarin die abnormale, rare of selfs onmoontlike ’n gerespekteerde plek verdien.
........
Jacobs het die vermoë om omstrede kwessies wat al vir dekades in jeugboeke figureer, vanuit ’n vars oogpunt aan te durf en met sukses aan jonger en ervare (ook volwasse) lesers op ’n eenvoudige dog effektiewe manier ten toon te stel. Die feit dat dit vanuit ’n slim, geestige meisie (vernoem na ’n tennisraket) se oogpunt vertel word, maak dit net soveel lekkerder en belangrik vir ’n genre waarin daar steeds in ’n mindere mate vanuit hierdie oogpunt oorspronklike stories in Afrikaans verskyn. Wilson gee dus nie net vir die meisie met vlerke hoop nie, maar ook vir jonger lesers wat nie noodwendig hoofsaaklik vanuit ’n seun se oogpunt die wêreld beter wil verstaan nie.
Tori Stowe verdien ook lof, aangesien haar gepaste en pragtige illustrasies bydra tot die genotvolle leeservaring van hierdie boek. Ontluikende lesers sal die sinvolle bydrae tot die teks kan benut om die betekenis daarvan suksesvol te ontsluit, terwyl ervare lesers die humor en atmosfeer wat dit aan die verhaal verleen, ten volle sal geniet. Kyk byvoorbeeld gerus na die illustrasie met die perd en die perdefluisteraar.
Die meisie met vlerke is ’n belangrike teks deurdat dit karakters wat anders is en wat nog min aandag tot dusver geniet het, op die voorgrond plaas.
Lees ook: