Hoe kry Jaco Jacobs dit reg om ’n topverkoper-skrywer van jeug- en kinderboeke te wees? Zoë Salzwedel* het hom uitgevra.
Jy’t op die ouderdom van 18 jou eerste boek geskryf. Enige raad wat jy het vir jongmense wat in jou voetspore wil volg?
Die heel belangrikste raad vir enige skrywer is: lees, lees, lees. Veral as jy nog jonk is. Hoe meer ’n mens lees, hoe meer besef jy van watter soort boeke jy hou en wáárom jy daarvan hou, en ook watter soort boeke jy verpes en wáárom jy dit verpes. En dit is hoe jy ’n skrywer word.
Was jou skoolmaats nie destyds jaloers nie? Was jy nie volgens hulle ’n nerd nie?
Hehe! Dit sal jy hulle moet vra! Ek was in ’n klein skooltjie in die Karoo, waar akademiese prestasies en prestasie op kultuurgebied dalk ietwat meer aandag gekry het as in party groter, sportmal skole, so dalk het dit gehelp om te verhoed dat ek dadelik in ’n “nerd-boksie” geplaas en daar gelos is. Ek het aan dinge soos redenaars en debat en eisteddfods deelgeneem; ek was op die skoolkoerantredaksie en het in die skool se toneelstuk gespeel (én in matriek die teks geskryf). Ek wás sekerlik ’n nerd (en is dalk nog steeds!), maar gelukkig het ek genoeg great vriende gehad dat dit nie regtig saakgemaak het nie.
Wat was vir jou die aanmoediging om te begin skryf? Wou jy altyd ’n skrywer wees?
My pa vertel dat ek kleintyd al my veel ouer niggies en neefs vermaak het met stories. Ek kan dit skaars glo, want ek was ’n baie skaam kind. Maar ek onthou wel dat ek baie vroeg al versot was op stories. Ek het eers teen die einde van my laerskooljare begin eksperimenteer met skryf. So deur my hoërskooljare het dit vir my ’n al hoe groter erns begin word – ek het baie gewroeg oor of ek goed genoeg is om ’n bestaan uit skryf te maak. Ek was waarskynlik nooit weer so ambisieus soos op hoërskool nie – ek het verbete aan al wat skryfkompetisie is, deelgeneem en elke moontlike skryfgeleentheid probeer benut. Ek wou régtig graag ’n skrywer word. As ek egter een ding moet uitsonder wat my aangemoedig het om daarmee vol te hou, was dit ’n afgetrede regter wat ek in matriek by ’n skryfskool ontmoet het. Hy het my eenkant toe geroep en vir my gesê ek moet asseblief nie ’n beroep volg wat my ongelukkig gaan maak nie. Hy het my vertel hy was tot met sy aftrede in die regsberoep en het dit elke dag gehaat. Hy wou eintlik skryf. Dit was vir my baie depressing.
Wat inspireer jou met ’n nuwe boek? Waar kry jy jou idees?
Storie-idees is oral rondom jou – ’n mens moet net jou oë en ore oophou. Die meeste van my stories is geïnspireer deur doodgewone, alledaagse dinge wat ek teëgekom het. Ek werk op die oomblik aan ’n tienerboek waarvan die “vonk” een middag in ’n gastehuiskamer in die Kaap ontstaan het terwyl ek en medeskrywer Fanie Viljoen op ’n bemarkingstoer was. En dit was niks “wow” nie – ek het bloot by die gastehuiskamer se venster uitgestaar en ’n boom gesien wat my aandag getrek het!
Kry jy soms “writer’s block”?
Ek het nog altyd verkondig dat daar nie iets soos skrywersblok bestaan nie, maar dis nie heeltemal waar nie. Soms verloor ’n storie net sy stoom. Sodra dit moeite word om dit te skryf, is dit beter om die storie te los en met iets anders aan te gaan. Gelukkig werk ek aan heelwat verskillende projekte gelyk – so gewoonlik kan ek dan met iets anders aangaan. Vanjaar was nogal vir my ’n moeilike skryfjaar, want ons het verhuis (weliswaar skaars drie kilometer!) en ek sukkel om in ’n nuwe plek nes te skrop. Maar noudat ek ingeburger is, is ek mal oor my nuwe, groot kantoor!
![]() |
Watter boek het jy die meeste geniet om te skryf?
Waarskynlik een van dié wat die maklikste “gebore” is, soos Liewe land, ’n olifant! – ek het die grootste deel van daardie boek binne ’n paar minute geskryf. Daarna het ek net ’n paar dae lank daaraan geskaaf. Dit gaan egter selde só maklik!
Die karakters – ek dink nou spesifiek aan Suurlemoen! – hoe gebeur hulle? Ken jy dalk mense wat soos hulle is?
Die karakters in Suurlemoen! is van die weiniges wat ek ooit geskep het wat nogal heelwat ooreenkoms met regte mense toon. My uitgewer beweer Tiaan is baie soos ek op skool was, en ek dink nie sy’s ver van die kol nie. Ek het ’n beste pel gehad wat, nes Zane, gewoonlik op dieselfde meisies as ek verlief geraak het – die enigste verskil is dat hy hulle gewoonlik gekry het! Maar gewoonlik baseer ek nie karakters op mense wat ek ken nie.
Hoe kry jy dit reg om so te skryf dat ons, tieners, dit geniet? Dis taal wat ons verstaan, en karakters met wie ons kan identifiseer.
Baie dankie, dis ’n lekker kompliment wat jy so vra-vra uitdeel! Ek dink dit het bloot met storie te doen. Ek hou toevallig van die soort stories waarvan jong lesers ook hou. En ek het my eie tienerjare baie intens beleef – ek kan nog presies onthou hoe dit voel om deure te wil toegooi, of vir jou beste pel kwaad te wees, of malverlief te wees, of dom dinge aan te vang vir die pret, of een oomblik te voel jy kan die wêreld verander en die volgende oomblik miserabel te wees.
![]() |
Hoekom het jy besluit om onder ’n skuilnaam ook boeke vir meisies te skryf?
Dit was nooit my besluit nie. My uitgewer het my destyds gevra om ’n liefdesverhaal te skryf wat hoofsaaklik op tienermeisies gemik is. Ek het dit gedoen en sy het baie daarvan gehou. Sy het egter vir my vertel navorsing het bewys meisies hou nie daarvan dat ’n “tipiese” meisieboek (om nou so vreeslik te stereotipeer) onder ’n mansnaam verskyn nie. Dis waarom sy voorgestel het ek gebruik ’n skuilnaam. Sy was heeltemal reg, het ek agterna uitgevind. Meisies het al vir my kom sê hulle was mal oor Liefde laat jou Rice Krispies anders proe en ander “Tania Brink-boeke” – totdat hulle uitgevind het ek het dit geskryf!
Wat is die moeilikste soort boek om te skryf: ’n kinderverhaal of ’n tienerboek?
Elkeen het sy eie uitdagings, maar vir my is ’n tienerboek moeiliker. Ek het ’n baie kort aandagspan, daarom verloor ek baie vinnig moed met ’n langer manuskrip. Ek het ’n hele paar onvoltooide tienerboeke op my hardeskyf – bloot omdat my asem opgeraak het tydens die skryfproses.
Hoe lank skryf mens aan ’n boek?
Dit hang af. Soms ’n dag lank, soms vier jaar lank. En snaaks genoeg is die lengte van die boek nie altyd die bepalende faktor nie. Ek het al prenteboeke geskryf wat my maande geneem het om klaar te kry, en ek het al ’n tienerboek binne ’n week voltooi.
Voel skryf nou al vir jou soos ’n werk of is dit nog steeds net ’n stokperdjie?
Dis seker ’n eenvoudige vraag, maar om een of ander rede weet ek nie regtig nie. Ek twyfel of skryf ooit regtig vir my “net ’n stokperdjie” was. Selfs op skool was dit vir my iets meer as net ’n tydverdryf. Maar dit voel ook nie regtig soos ’n werk nie, want ek wil dit graag vir die res van my lewe doen. (En ek wil beslis nie die res van my lewe werk nie!) Miskien is dit nie ’n stokperdjie óf ’n werk nie, maar ’n leefwyse. (Hoe’s daai vir ’n lekker vet cliché!)
Jy het reeds laat blyk dat jy baie lees. Watse boeke geniet jy?
Ek lees baie, ja. Noudat daar ’n amper-tweejarige dogtertjie in die huis is, is my leestyd effe minder, maar daar is altyd een of twee halfgelese boeke op my bedkassie. Ek lees regtig ’n verskeidenheid boeke – van literêre boeke tot ontvlugtingsliteratuur. My allergunstelingskrywer ooit is Stephen King. Ek besit byna elke boek wat hy ooit geskryf het. Vanjaar was ’n goeie jaar vir King-aanhangers, want daar het twee nuwe boeke van hom verskyn. Joyland was heerlik, en Doctor Sleep lê vir my en wag – geen Desembervakansie is vir my volledig sonder ’n King-boek nie. As daar nie ’n nuwe een verskyn het nie, herlees ek een van die oues.
*Zoë Salzwedel (15) is in Hoërskool Alberton, en het al ál Jaco Jacobs én Tania Brink se boeke gelees.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
Kommentaar
Hi Jaco, ek lees amper elke boek van jou! As ek ’n boek van jou lees voel dit vir my of ek een van die karakters is. Ek is 12 en in Unitas. Ek will ook graag ’n skrywer word. Ek skryf stories, meestal gedigte. Um ... ek weet nie of ek so good is nie, maar my juf en maats sê ek’s uitstekend. Jy inspireer my!