Draakasem deur Jaco Jacobs: ’n lesersindruk

  • 0

Draakasem (2019)
Skrywer: Jaco Jacobs
Illustreerder: Linki Brand
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 978-0-7993-9412-2

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Draakasem (2019) is spookasem se nagmerrie! Hierdie lekkerleesstorie is ideaal vir die jong leser wat van avontuur hou en nog leer lees, veral vir diegene wat groot, vet, dik boeke met minder prente nog bedreigend vind. Draakasem is vir dié wat op soek is na ’n ongewone, opwindende avontuur.

Jaco Jacobs het al vele pryse gewen vir sy kinderliteratuur en is onlangs genomineer vir die gesogte Hans Christiaan Andersen-prys wat deur IBBY (International Board for Books for Young people) toegeken word aan kinderboekskrywers en illustreerders. Dit word tweejaarliks toegeken aan ʼn skrywer vir sy hele oeuvre, die impak wat dit op die kinderliteratuurbedryf en genre as geheel het. Jacobs is ook vir die prestigeryke Carnagie-medalje benoem, een van die gesogste kinderboekpryse in Brittanje.

Die illustreerder, Linki Brand, se illustrasies werk uitstekend saam met Jacobs se teks. Dit is kleurvol en dit verg nie te veel verbeelding om die karakters tot lewe te roep nie.  Veral Oupa wat in sy jongdae ’n bokser was, maar deesdae brei hy die interessantste serpe.

Hierdie boek is ook ideaal vir ’n klaskamer of selfs vir ouers, as jy met jou kind wil praat oor probleme soos selfbeeld en selfvertroue. Die boek gebruik die beeld van die draak, wat universeel herkenbaar is en natuurlik vele mites en legendes geïnspireer het. Die draak dien as ’n uitgebreide metafoor en lig selfvertroue as ’n karaktereienskap uit, iets waarmee kinders sukkel. Die draak verteenwoordig mag, krag en towerkragte wat net die regte kombinasie is om ’n seun te help om sy vrees vir hoogtes te oorwin.

Die tipografie en bladuitleg, nes van Jacobs se ander kinderboeke, help die beginnerleser om te identifiseer waar daar iemand direk praat of iets uitgeroep word. Dit bied goeie ondersteuning vir die leser wat bietjie sukkel, asook tweedetaallesers wat Afrikaans wil leer lees.

Dié dun boekie het beslis potensiaal om vir biblioterapie gebruik te word, en dit kan op ’n eenvoudige wyse gebruik word om gesprekke met kinders aan te knoop. Dit mag hulle dalk die moed gee om te praat oor wat hulle pla. Miskien is daar ’n boelie soos Hannes Sink in hul lewe en kort hulle ’n cool oupa om vir hulle van "draakasem" te vertel. Iemand wat hulle selfbeeld en vertroue ’n hupstoot kan gee. En wie weet, dalk is hierdie boek ’n belangrike hulpmiddel vir daardie kind se persoonlike ontwikkeling en leer hulle ’n paar belangrike lewenslesse by Darius sonder dat hulle dit besef. Darius se storie help om selfvertroue te bou by kinders deur die ervarings wat hulle saam met al die karakters in die boek meemaak.

Draakasem (2019) is nie prekerig nie en verklap geensins dat dit vir sy leser ’n les probeer leer nie - dis net ’n lekker storie oor drake en mense wat in drake kan verander. Sulke tipe boeke help kinders om self uit te vind watter les hulle uit die storie kan leer.

Hierdie eenvoudige verhaal is pragtig geïllustreer en die drake lyk indrukwekkend. Beslis ’n goeie opsie vir die Kerskous.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top