Net aliens eet spinasie
Jaco Jacobs
Human & Rousseau
ISBN: 9780798182843
Human & Rousseau publiseer die jongste herdruk van bobaasskrywer Jaco Jacobs se immergewilde kortverhaalbundel Net aliens eet spinasie en ander stories.
Die bundel beslaan 121 bladsye en agt skreeusnaakse, ietwat vreemde én spokerige avontuurverhale. Die titels van die stories is: “Net aliens eet spinasie”, “Abrakadabra”, “Nie vir sensitiewe lesers nie”, “Ouma die vampierjagter”, “Meneer Grijsamen se papegaai”, “Bang vir spoke”, “Woefie-woef” en “Vissermanstories”. Iain Rennie het vir die gedetailleerde en treffende swart-en-wit illustrasies gesorg.
Jaco het ’n paar van Louise Viljoen van Jeffreysbaai se vrae beantwoord.
Jy was maar 18 toe jy die stories in Net aliens eet spinasie geskryf het. Intussen het ’n hele geslag kinders grootgeword. Ná al die jare is 9-12-jariges steeds opgewonde om te hoor dat ’n heruitgawe van Net aliens eet spinasie en ander stories pas die lig gesien het. En daar is ’n splinternuwe storie om na uit te sien. Hoekom bly hierdie stories relevant ná byna twee dekades?
Ja, dit het nogal vreemd gevoel om dié stories ná soveel jare weer te lees. Ek was inderdaad maar pas klaar met matriek toe ek die kortverhale geskryf het. Ek was op skool reeds gek oor die kortverhale van skrywers soos Jeffrey Archer en Paul Jennings, wat dikwels so ’n lekker kinkel in die kabel teen die einde het, en die stories in Net aliens eet spinasie het meestal ook ’n humoristiese aanslag en ’n verrassende ontknoping. Die stories is almal so ’n klein bietjie grillerig en makaber, maar met ’n stewige skoot humor daarby – en ek dink dit is die rede waarom dit hopelik steeds relevant is.
.............
Die stories is almal so ’n klein bietjie grillerig en makaber, maar met ’n stewige skoot humor daarby – en ek dink dit is die rede waarom dit hopelik steeds relevant is.
................
Jy het al meer as 220 boeke vir kinders geskryf. Daar is al meer as ’n miljoen kopieë van jou boeke verkoop. Voel jy ooit dat daar nie meer ’n storie in jou kop oor is nie?
Ja, deesdae gebeur dit soms wel dat dit voel asof ek nie meer stories oor het om te vertel nie. Maar gewoonlik hou so ’n droogte gelukkig nie baie lank nie – as ’n mens jou storievoelers uitgesteek hou, is daar oral stories wat wag om vertel te word.
Hoe meld ’n nuwe storie by jou aan, of liewer, waar kom jy aan jou storie-idees?
Dit gebeur nie altyd op presies dieselfde manier nie. Soms sal ek doelbewus met ’n notaboek en ’n pen sit en storie-idees neerkrabbel – ek speel “sê nou maar net”-speletjies en gooi vreemde idees en woorde bymekaar – totdat ek met iets vorendag kom wat my opgewonde maak. Dit gebeur ook gereeld dat ek iets raaksien of hoor, sommer alledaagse dinge, wat my storiebrein aan die gang sit.
Op watter wyses moes jy jou skryfwerk aanpas om steeds by hedendaagse kinders aanklank te vind?
Ek moet doodeerlik sê ek dink amper nooit in terme van “hedendaagse kinders” of aanpassings aan my skryfwerk om meer trendy te wees nie. Ek dink ek skryf basies stories vir die jong leser wat ek self was – met elke storie of rympie wat ek skryf, probeer ek dit bloot so goed as moontlik aanmekaar sit en dit so prettig of vermaaklik of boeiend as moontlik maak, sodat dit die kind binne my soveel moontlik plesier kan verskaf. As ’n storie of rympie my vermaak of boei, hoop ek altyd dit sal dieselfde vir lesers doen. Ja, dinge verander – met die heruitgawe van Net aliens eet spinasie het ons byvoorbeeld die verwysings na tegnologie ’n bietjie afgestof, maar dit was maar kosmetiese veranderinge – ’n storie bly ’n storie, en ’n lekker storie is tydloos.
Wat sou jy reken is taboe wanneer dit kom by die skryf van kinderboeke?
Ek verpes eintlik die fokus wat die afgelope paar jaar op “taboes” in kinderboeke geplaas word. Dit sou destyds nogal die onderwerp van my meestersgraadverhandeling gewees het, en ek is eintlik half dankbaar ek het toe nooit daardie verhandeling voltooi nie. Om jou vraag te beantwoord: Ek vermoed min onderwerpe is regtig taboe as jy dit met die nodige respek en deernis teenoor jou teikenmark aanbied en hul ouderdom in gedagte hou. Maar met dít gesê: Die afgelope paar jaar was daar so ’n neiging in Afrikaans, en veral in die media, om ’n bohaai te maak elke keer as ’n kinder- of jeugboek ’n omstrede onderwerp takel, en dit het daartoe gelei dat skrywers soms doelbewus “omstrede” boeke probeer skryf het. Dit irriteer my grensloos. Ja, kinder- en jeugboeke móét ook moeilike en uitdagende temas aanpak, maar daar is ook ander maniere waarop ’n boek vernuwend of fantasties kan wees.
Word enige van jou stories nog afgekeur deur ’n uitgewer of is hulle maar te bly om ’n nuwe Jaco Jacobs-boek uit te gee?
Ek besef maar alte goed hoe gevaarlik dit kan wees as uitgewers begin om jou werk uit te gee bloot omdat jy reeds ’n staanplek binne die mark het. Gelukkig is my uitgewer, Miemie du Plessis, iemand met ’n onwrikbare sterk fokus en ’n passie vir die kinderboekbedryf, en sy stel altyd, áltyd die leser eerste. Ons werk al meer as 20 jaar saam. Dit gebeur nie dikwels nie, maar ja, sy keur steeds so dan en wan van my boeke af – en dis altyd ’n teleurstelling, maar ek is bitter dankbaar vir haar vlymskerp oog.
Twee van jou boeke is al tot films verwerk. Hoe voel dit om op die grootskerm na jou storie in beeld en klank te kyk?
Dit is nogal skrikwekkend, moet ek erken. ’n Boek is so ’n ordentlike ding wat stil en op sy plek daar op die rak sit – ’n fliek is groot en raserig en daar is mediabohaai en plakkate en ’n rooi tapyt. Ek moet darem sê, ek was albei kere baie tevrede met die eindproduk, en dit is lekker as ’n storie op dié manier ’n nuwe lewe en gehoor kry.
Twee van jou kinderboeke is wêreldwyd in Engels uitgegee, en jou werk is ook al in Italiaans, Sloeweens en Nederlands vertaal. Waaraan skryf jy jou internasionale sukses toe?
Dit is regtig vir my moeilik om te sê. Wat ek wel kan aflei, is dat daar oorsee nogal ’n belangstelling in ander kulture is, en dat spesifiek die Suid-Afrikaanse milieu in die boeke as ’n verkoopspunt aangebied word.
Jy spog met 40 bekronings vir jou skryfwerk. Voel jy ooit dat jy onder druk verkeer om te presteer? Kom hierdie druk van jouself af?
Enige skrywer wat sê ’n bekroning is nie lekker nie, jok natuurlik vreeslik lekker. Maar ek moet doodeerlik vir jou sê, dit is regtig nie die rede waarom ek skryf nie. Dit is wonderlik om erkenning vir jou werk te kry, maar die erkenning wat vir my die heel meeste beteken, is wanneer ek ’n boodskap van ’n ouer kry wat sê: “My kind wou nooit lees nie. Jou boeke het hom aan die lees gekry.”
............
Dit is wonderlik om erkenning vir jou werk te kry, maar die erkenning wat vir my die heel meeste beteken, is wanneer ek ’n boodskap van ’n ouer kry wat sê: “My kind wou nooit lees nie. Jou boeke het hom aan die lees gekry.”
..............
Ek voel selde druk van buite om te presteer of skeppend te wees; hier iewers in my is bloot iets wat ongedurig raak wanneer ek nie skep nie, wat my die heeltyd uitdaag om nuwe dinge aan te pak, die grense van my kreatiwiteit nog ’n bietjie verder te verken.
Jy vertaal ook internasionale kinderboeke in Afrikaans. Wat maak dat ’n vertaalde boek ook aanklank vind by ons plaaslike kinders?
Die uitgewer se keuse van boeke om te vertaal speel natuurlik in die eerste plek ’n baie groot rol. As vertaler probeer ek meestal om die teks so toeganklik as moontlik vir die Afrikaanse leser te maak – dit moenie “voel” soos ’n vertaling nie.
Watter kinderboekskrywer, plaaslik of internasionaal, is jou gunsteling? Hoekom?
Roald Dahl bly een van my allergunstelinge. Ek dink ek het by hom geleer dat ’n mens altyd jou jong leser respekteer en nooit “af” skryf na jou jong gehoor nie.
Is daar enige skryfmikpunt wat jy vir jouself gestel het?
Nee, ek werk aansienlik minder planloos as dit. Ek stel wel vir myself korttermynuitdagings, soos wanneer ek aan ’n nuwe rympie- of kortverhaalbundel werk, om ’n sekere hoeveelheid werk per dag of per week afgehandel te kry.
As jy net vir één van jou boeke onthou sal word, watter een hoop jy sal dit wees?
..............
Ek dink dit is die moeilikste vraag wat iemand my nog ooit gevra het! Miskien my boek Oupa Zombie – ek het ’n baie sagte plekkie vir die karakters in daardie storie, en dit is die een boek wat my steeds laat lag as ek dit herlees, soos toe ek die oudioboek daarvan opgeneem het.
...............
Ek dink dit is die moeilikste vraag wat iemand my nog ooit gevra het! Miskien my boek Oupa Zombie – ek het ’n baie sagte plekkie vir die karakters in daardie storie, en dit is die een boek wat my steeds laat lag as ek dit herlees, soos toe ek die oudioboek daarvan opgeneem het.
Net aliens eet spinasie en ander stories is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar. Jy kan dit ook hier bestel.
Lees ook:
Die Groot Jaco Jacobs-storieboek deur Jaco Jacobs: ’n resensie
Die literêre-navorsingstaak vir Afrikaans Huistaal (graad 4–9)