Die Groot Jaco Jacobs-storieboek
Jaco Jacobs
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799392401
Die Groot Jaco Jacobs-storieboek is ’n omnibus van Jaco Jacobs se lekkerste stories en sal enige kind op ’n leesavontuur neem.
Dié boek is ideaal vir die beginnerleser, veral kinders tussen 7 en 12 jaar, en die verhale is gepas vir seuns én meisies. Daar is ’n goeie balans tussen die illustrasies en teks en dis ook verfrissend om te sien dat die illustrasies nie aangepas is om konsekwent te wees vir die omnibus nie. Die oorspronklike formaat van die individuele boeke is gebruik en dit help om die jong leser se aandag te behou. Dit verdeel die omnibus in individuele verhale, maar sonder om die geheel negatief te beïnvloed.
Ek kon nie elke aand wag om die volgende storie te lees nie en moes met groot moeite myself weerhou om nie die hele omnibus op een slag te verslind nie. Jacobs se verhale gryp ’n kind se verbeelding aan, maar is nie te ver verwyderd van ‘n kind se leefwêreld nie. Dit bevat net genoeg fantasie, pret en avontuur om lekker te lees. Tog woon sy verhale in daardie skemersone tussen werklikheid en fantasie sodat kinders dit maklik sal glo en die volwasseneleser self dalk ’n bietjie daarin sal wil glo.
Die omnibus bevat vyf verskillende verhale en daarom is dit bloot regverdig om ’n kort opmerking oor elk van die vyf verhale te verskaf.
Koebaai, gorilla
Dié verhaal herinner sterk aan die bekende King Kong-film, maar het ’n lekker Suid-Afrikaanse kinkel. Dit is ’n tipiese avontuurverhaal met mal idees wat net kinders kan uitdink; soos wat sal gebeur as jy vir ’n hele week nie jou tande borsel nie? Touché – Jacobs weet waarvan kinders hou.
Die verhaal het darem ook ’n dieper aanslag, omdat dit duidelik word met die verloop van die verhaal dat Enrico eintlik vir Hein afpers en uitbuit. Daar is ’n besliste boeliegeur aan Enrico se gedrag, alhoewel sy toebroodjies gourmet is.
Superboetie
Die kultuur van strokiesprente, of algemeen bekend as “comics”, word onmiddellik in hierdie verhaal opgeroep. Alhoewel Ryna aanvanklik ‘n bietjie jaloers en uitgesluit voel omdat sy bababoetie superkragte het, maak hy gou vrede met boetie Riko. Want met ’n skurk soos StouteBaba kom Ryno en Superboetie tot almal se redding. Ryno teken selfs ’n strokiesprentboek van hom en sy boetie se avonture.
Hierdie verhaal kan ook moontlik ’n baie subjektiewe probleem opper, naamlik hoe om ’n nuwe boetie of sussie in die gesin te hanteer. Veral wanneer daar ’n bietjie jaloesie tussen die sibbe te bespeur is, soos in Ryno en Riko se geval. Die situasie word op ’n baie kreatiewe manier aangespreek, al beteken dit nie noodwendig dat iemand ’n superboetie sal kan kry nie. Om yskaste te kan rondskuif al is jy nog nie eers ’n jaar oud nie, is nogal indrukwekkend.
Borrels
Hierdie verhaal leen selektief by die bekende Andersen-sprokie The mermaid (1993), maar dit het ’n plaaslike geur. Ek het onmiddellik aan die Weskus gedink, alhoewel al die plekname fiktief is. Franna Ferreira is die boelie wat almal se lewens moeilik maak in Dolfynbaai en sy pa besit Ferreira Visprodukte, die plaaslike visfabriek. Iets ruik vreeslik sleg by dié fabriek, maar niemand weet hoekom nie. Vir kinders is hierdie ’n interessante afwyking van die tradisionele meerminsprokie met die gewone prinse en seemonsters.
Pasop vir die feetjies
Dit was beslis my gunsteling, omdat die stereotiepe konsep van feetjies heeltemal op sy kop gedraai word. Dié feetjies is nie die fyn en blink soort meisies-met-towerstaffies-feetjies nie. Hulle herinner mens eintlik aan argetipiese skurke. Die ingeligte leser sal beslis die ooreenkomste met die Aspoestertjie-sprokie kan sien, veral as die Goeie Fee en stiefsusters se rolle omgeruil was.
Koebaai Gorilla, Borrels en Pasop vir die feetjies bevat al drie elemente van boeliegedrag, asook subjektiewe lewenslesse wat nie prekerig is nie. Wat voordelig is vir kinders se sosiale ontwikkeling en wat die lewenslesse interessanter en minder vervelig maak.
Die probleem met dinosourusse
Dis nou ’n lekker storie vir klein oortjies en lewer subtiele kommentaar op die sosiale gedrag van kinders. Spesifiek oor hoe om hulle te help sosialiseer met ander kinders. Dit is lekker interaktief en die bladuitleg is gepas vir beide voorlees en selflees. Die illustrasies in waterverf en akwarel is verfrissend teenoor die ander verhale se digitale illustrasies. Dis moontlik ’n goeie manier om jou kind te help verstaan hoe om hulle persoonlike ruimte met ander te deel, veral as hy of sy ’n enigste kind is.
Hierdie resensie sou nie Jacobs se werk gestand doen sonder om te noem dat hy al vele gesogte kinder- en jeugliteratuurpryse gewen het nie. Hy het onder andere die KykNET/Rapport-prys vir ’n Goeie dag vir boomklim (2015), die Alba Bouwer-prys vir Moenie hierdie boek eet nie (2016), die Tienie Holloway-medalje vir Grom! (2016) en die CP Hoogenhout-medalje vir Wurms met tamatiesous (2008) gewen. Sy mees onlangse prys is die gesogte Scheepers-prys vir jeugliteratuur wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken is vir Dinge wat ek nie van skape geweet het nie (2018).
Jacobs is ’n baie produktiewe skrywer vir kinders van verskillende ouderdomme en ’n Goeie dag vir boomklim (2015) het groot opspraak verwek, veral omdat dit wêreldwyd in Engels vertaal is. Boonop sal dit binnekort ook in Italiaans verskyn.
Ten slotte lewer die keuses vir die omnibus ’n goeie balans, en dit bied ’n verskeidenheid van avonture. Ek kan hierdie boek aanbeveel vir kinders wat graag lees en selfs vir dié wat nog beginners is, veral omdat die teks nie so oorweldigend is nie en dit ’n prettige boek is. ’n Absolute leesplesier en aanwins vir elke kind.
Verwysings
Andersen, H.C. 1993. Andersen’s Fairy Tales, Complete an Unabridged. Wordsworth Classics: Groot-Brittanje
Jacobs, J. 2008. Wurms met tamatiesous. Pretoria: LAPA
—. 2015. ’n Goeie dag vir boomklim. Pretoria: LAPA
—. 2016a. Grom!. Pretoria: LAPA
—. 2016b. Moenie hierdie boek eet nie. Pretoria: LAPA
—. 2018. Dinge wat ek nie van skape geweet het nie. Pretoria: LAPA
Jacobs, J. 2019a. Webtuiste, beskikbaar aanlyn: http://www.jacojacobs.co.za/jacojacobs.co.za/TOEKENNINGS.html (Afgelaai: 6 Mei 2019).
—. 2019b. Die groot Jaco Jacobs-storieboek. Pretoria: LAPA
Kommentaar
Pingback: Die Groot Jaco Jacobs Storieboek – Resensie (LitNet) – Nerd Literêr