Jaco Jacobs wen twee Akademiepryse

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vandeesweek bekendgemaak dat Jaco Jacobs vanjaar se Scheepersprys vir Jeugliteratuur wen vir sy jeugroman Dinge wat ek nie van skape geweet het nie.

Die Akademie het ook in April reeds bekendgemaak dat Jaco Jacobs (skrywer) en Zinelda McDonald (illustreerder) ook vanjaar bekroon gaan word met die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur vir die rympiesboek Moenie hierdie boek eet nie.

Die Scheepersprys vir Jeugliteratuur is ’n letterkundige toekenning deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dit is ingestel in 1956 en word sedert 1974 elke drie jaar toegeken. Vorige wenners sluit in: PJ Schoeman, Mikro, WA de Klerk, Alba Bouwer, MER, ID du Plessis, PH Nortjé, Anna M Louw, Karl Kielblock, Rykie van Reenen, Freda Linde, Jan Rabie, Rona Rupert, Freda Linde, Dolf van Niekerk, Chris Barnard, Eleanor Baker, George Weideman, Leon de Villiers, Jan Vermeulen, Derick van der Walt en Marita van der Vyver.

Die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur word ook uitgeloof deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dit is in 1989 ingestel en word ook elke derde jaar toegeken. Jacobs het dit al tevore gewen. In 2006 is hy vereer vir sy werk Wurms met tamatiesous en ander rympies. Freda Linde, Marietjie de Jongh, Barrie Hough, Corlia Fourie, Philip de Vos, Martie Preller, Leon de Villiers, Linda Rode, Elizabeth Wasserman, en Kobus Geldenhuys het ook reeds hierdie prys gewen.

Foto: Izak de Vries

Jaco Jacobs bly in Bloemfontein. Die webruimte Afrikaans.com noem hom “Die rock-ster van Afrikaanse kinderliteratuur”.

Meer oor Dinge wat ek nie van skape geweet het nie

Luan, die hoofkarakter, beland in die moeilikheid en as straf stuur sy ouers hom om saam met sy eksentrieke fotograaf-ouma te gaan reis vir die vakansie. Sy ouma wil ’n fotoboek oor windpompe publiseer.

Op pad deur die Karoo ontmoet hy vir Lana, wie se pa al die pad van Bloemfontein na Kaapstad met sy fiets ry om geld vir kankernavorsing in te samel. Lana eet nie vleis nie en sy mal is oor boeke. Lana is ook mal oor Luan en, sonder dat sy dit weet, oortuig Lana vir Luan om ’n skaap te bevry van die kerkbasaar se veiling. Dis net, wel, hy betaal nie vir die skaap nie.

Dinge ruk hand uit: Delores, die DeproSkaap, raak bekend op Facebook en Instagram, die polisie kry snuf in die neus en... die leser moet maar self uitvind wat als op die Karoo se stil agterpaaie kan gebeur.

Meer oor Moenie hierdie boek eet nie!

Hoe lank is ’n weerwolf se humeur? Is enige iets erger as skottelgoed was? Wat soek jou ouma op die Pick n Pay se dak? Hoekom dra bere nie klere nie? Bestaan daar iets soos ’n spaghettiboom? Wat moet jy doen as ’n renoster jou jaag?

Jy sal die antwoorde op al hierdie vrae vind in Moenie hierdie boek eet nie!

Dié lawwe lekkerlagboek bevat 365 rympies (en ’n bonusrympie vir ’n skrikkeljaar) wat kinders (én grootmense!) heeljaar sal laat skaterlag!

Daar is rympies oor oupas en oumas, goggas, krieket, ruimtevaarders, seerowers, spoke, skooltoilette, erdvarke, Kersvader, krokodille, volstruismelk, Valentynsdag, en dinge wat baie sleg ruik!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top