Hennie Aucamp (1934–2014)

  • 0


Gebore en getoë

Hendrik Christoffel Lourens Aucamp is op 20 Januarie 1934 in die Oos-Kaapse dorp Dordrecht gebore. Hy word groot op die plaas Rust-mijn-ziel op die Stormberg-hoogland in die Jamestown-distrik en matrikuleer in 1951 op Jamestown. Die wêreld van sy grootwordjare vind neerslag in baie van sy latere skryfwerk. Hy het een suster, Rina.

Hennie skryf al van sy negende jaar af. In standerd 2 (nou graad 4 genoem) het hy met die bemoeienis van sy onderwyseres, mej Dolla Marais, gediggies in Die Jongspan gepubliseer, en hy het sedertdien nog nie opgehou skryf nie. Na Die Jongspan volg verhale vanaf 1949 in Die Naweek en in sy matriekjaar verskyn sy eerste verhaal in Die Huisgenoot.

In sy verjaardagrede met sy sestigste verjaardag het Hennie vertel van die huise waar hy as kind gekom het waar daar altyd tekste en spreuke teen die mure was, “soms uitgeborduur en ingeraam agter glas; en verjaardagalbums met stigtelike aanhalings en Autograph-albumpies was deel van elke huiskultuur. Jy het jou vriende gevra om ’n diepsinnigheid of kwinkslag in jou Autograph-boekie neer te pen, of iets te teken, as daar ’n talent in dié rigting was. In my ma se Autograph was daar self ’n gedurfde versie:

The Devil made the wind
to blow young girls’ dresses high
but God was just
and made the dust
to blind young men’s eyes.

“Die platteland van my jeug was nog vol Edwardiaanse reste. Maar dis waarskynlik my ma wat my liefde vir die gedronge sêding die sterkste gevestig het. Sy het haar waarhede op die koop toe met soveel gesag uitgespreek dat jy haar aforismes as Bybelwaarhede aanvaar het. Party van haar waarhede het sy van háár moeder gekry – ’n ouma wat ek net van sepia-foto’tjies af ken. Daardie onbekende ouma sou aan haar dogter gesê het: ‘’n Man is van nature ’n skaam ding. As hy voorbarig word, is dit ’n vrou se skuld.’

“Ma het weer dikwels gesê: ‘net lui mense is eensaam’; en van ’n gemeenskaplike vriendin het sy guitig gesê: ‘Daar mag bedrog in haar skuil, maar jy sal dit nie by haar soek nie.’ Vir my suster het sy in seldsame bitter oomblikke gesê: ‘Trou met ’n weeskind: dit skakel skoonfamilie uit.’”

Hennie het ’n teorie dat die groot invloede in jou lewe, ook wat boeke betref, meestal voor jou sestiende jaar gebeur het. “Dis nie altyd dat die boeke van jou jeug literêr indrukwekkend was nie; nee, jou ontvanklikheid was net so groot. Jy was een en al gereedheid toe jy ’n bepaalde boek gelees het, en jy het behou, vir al jou dae, soos dit my nou lyk, die innerlike krag wat daar in daardie boeke opgesluit was.

“As sekere verhale en boeke ’n mens ná vyftig jaar nog steeds ontroer, selfs meer as toe jy ’n kind was, dan het jy duidelik ’n boek ondergaan, en is daardie boek ’n invloed in jou lewe. Ek wil drie, nee vier, sulke boeke uit my jeug noem.

“Die een is Psalms van Dawid; die ander, Prediker. Wat ek van poësie en prosa weet, en van hul onderskeie ritmes, het ek tydens die huisgodsdiens geleer, toe my pa so ernstig en oorwoë uit hierdie boeke voorgelees het. Geen latere poësie en prosa het my so indringend gevorm soos Psalms en Prediker nie.

“’n Ander groot ervaring het ook mondelings geskied, en dateer van my voorskoolse jare. Ma het Hans Andersen vir my voorgelees terwyl ek drie maande lank in die hospitaal was. Tot vandag toe reken ek Die klein meerminnetjie tot een van die skrynendste verhale in die wêreldletterkunde.

“In my hoërskooljare het ek The Story of an African Farm van Olive Schreiner opgeneem. Vir die eerste keer het die veld om my dringend met my begin praat. Ek het ontdek dat landskap ook binneskap is.

“Is dit toevallig dat Psalms, Prediker, Die klein meerminnetjie en The Story of an African Farm letterkunde is? Hierop het ek nie ’n oortuigende antwoord nie. Ek weet net dat al vier tekste invloede in my lewe was en, wie geïnteresseerd mag wees daarin, ’n sleutel tot my psige en werk.”

Volgens Hennie het hy en sy suster Rina ongesensureerd grootgeword. “Ons het na ruie, boertige gesprekke geluister, gespeel op die plaas en vir mekaar voorgelees in die lang, koue Stormbergwinters. Pa het Die Huisgenoot deur die pos gekry. Ma het haar eie gesofistikeerde boekery gehad en Vrydae het ons kinders Die Brandwag gaan koop. Ouma het die Bybel as ’n roman benader en byvoorbeeld die boek Ester met smaak voorgelees. Almal wat vertel, gelees en gekuier het, het outomaties toneelgespeel – met lyftaal en stemveranderinge.

“’Dit was egter tant Mara, Pa se suster, wat eintlik die drama en romantiek by my wakker gemaak het, sowel as die nuuskierigheid oor die dekadente.

“Van sub A het ons plaaskinders geboard in die week. Omdat Klein-Jan van Bruggen van Die Brandwag voornemende skrywers aangeraai het om dagboek te hou, het ek op 15 daarmee begin. Daar lê nou al 31 volumes in my wakis!

“Ek het uitgesien na wat ágter matriek lê - die Boland, en studie. Ek wou kuns doen, maar daar was nog nie ’n kunsfakulteit nie; dit sou dus BA wees.”

Die dorpie van sy kindertyd, Jamestown, was ’n dinamiese dorp wat in sy eie kultuur- en sportbehoeftes voorsien het. Onderwysers het hul naweke ingeploeg in diens van opvoeding en nooit daaroor gekla nie. Jan Lap, vader van Dorothea van Zyl, stigter van die Stellenbosse Woordfees, het Vrydagaande volkspele gelei en onderwysers soos meneer Stander en uncle Steve Wagenaar het atletiek afgerig en atletiekbane help aanlê.

“Atletiek was ’n groot ding in my skoollewe; oor voetbal het ek my nooit sorge gemaak nie, en vind die geweldsromantiek van hierdie sportsoort tot die huidige dag toe onaanvaarbaar. Sport in my Jamestown-jare was doodgewoon ’n uitbreiding van die speel-kultuur. Ons het kennetjie gespeel, en veral blikaspaai, soms in die nag op die markplein, met volmaan. Ons het berg geklim en in die dorpsdam en in Skulpspruit geswem, en vir ’n kort seisoen was daar skattejagte in die veld, onder leiding van ’n energieke, en vir Jamestown bepaald eksentrieke onderwyser, genaamd Jan Rabie.

“Meneer Wilke, ons geliefde en geesdriftige prinsipaal, het jaarliks ’n toneelstuk op die planke gebring, die bydrae van die skoolpersoneel tot die Dankfees. (...)

“Mona Vorster het my as hoërskoolleerling in ’n kameerol in haar opvoering van Die bekeerde Jodin gebruik. Ek is bruin gesmeer met kakao, want ek het ’n wrede barbaar gespeel wat uit ’n bos spring en ’n onskuldige wit vrou die skrik op die lyf jaag. Daar was darem ook ’n heroïese rol in my kort loopbaan as toneelspeler, naamlik dié van Japie Greyling in Die wit muur van Uys Krige. Teen die einde van die stuk staan meneer Wilke met my in sy arms; ek, Japie Greyling wat nie sy eie mense wou verraai nie. En wat gebeur toe? Meneer Wilke breek uit in ’n volkstoespraak, en ek, dig teen sy boesem, luister verskrik.

“Min het ons as kinders vermoed dat sekere fasette van ons dorpskultuur ’n vals boom gehad het. Daar was iets vreemds omtrent al die motors wat om vieruur Saterdagmiddae, of was dit Sondagmiddae, in tant Bettie Vorster se straat gestaan het wanneer oom John Vorster op besoek was. Vooraanstaande boere was daar, soos oom Andries Coetzee; ook onderwysers en selfs ’n dominee. Maar ons het toe nog niks van die Broederbond geweet nie, al het ons al van Bokryers gehoor.

“Die retoriek van Dingaansdag-toesprake, of die bombastiese preke van gas-arties Koot Vorster, het ons gruwelik verveel. Die donker subteks van hierdie orasies sou eers dekades later tot ons deurdring.”

Verdere studies en werk

In 1952 gaan Hennie na die Universiteit Stellenbosch, waar hy in 1955 sy BA-graad behaal. In 1958 verwerf hy sy magistergraad met lof met ’n verhandeling oor die poësie van Ernst van Heerden. In 1957 verwerf hy ook sy Senior Onderwysdiploma. Hy gee onderwys op Stellenbosch, Jamestown, Cradock en Rondebosch en doen twee maal waarnemende werk in die Departement Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch. In 1963 vertrek hy op ’n studiereis na België, waar hy hom aan die Universiteit van Leeuven toespits op letterkunde-onderrig op hoërskoolvlak.

Oor sy studentejare vertel Hennie aan Susanne Beyers (Die Burger, 26 Maart 2004): “’n Tyd van BTK-toere, kampvuurkonserte, spraaklesse by Margaret de Villiers vir die onderwysloopbaan wat voorlê en stimulerende aande by die Erlanks, Malherbes, en dr Con de Villiers - almal ontwikkelde mense wat jou ’n paspoort tot die wye wêreld gegee het. Dit was ’n goeie tyd - intiem en verrykend.

“Ek het met beurse oorsee kon gaan om verder te studeer. In Europa het ek met die goue era van die teater kennis gemaak. Op die Londense verhoë het ek klassieke werke ervaar, vertolk deur Laurence Olivier, Michael Redgrave, John Gielgud, Ralph Richardson, en selfs Sybil Thorndike. Waarmee jy terugkom, is ’n sin van standaarde. Jy kan nooit weer met minder tevrede wees nie.”

Hennie het vroeg in sy loopbaan swaarde gekruis met die Broederbonders.  Hy vertel op LitNet: "Op Stellenbosch is ek as dosent deur ’n Broederbonder – hoog op in die hiërargie – gevra om ’n aanbeveling vir ’n wankel kandidaat te skryf. Ek het geweier, want die kandidaat was akademies glad nie geskoold en gereed vir ’n professoraat nie. Die Broederbonder het my met drillende wange verskree: ’Eendag, my maatjie, gaan ek groot klippe in jou pad rol.’ En hy het.”

Hennie debuteer in 1963, op 29-jarige ouderdom, met Een somermiddag: landelike sketse en vertellinge. In Kort voor lank (1978) sê hy dat die jeugwêreld vir baie skrywers die kompas is waarmee vreemde ruimtes verken word. Een somermiddag is saamgestel uit Hennie se vroeë verhale wat in NaweekDie Huisgenoot en Die Huisvrou verskyn het. Dit is ’n agttal landelike vertellings met die seuntjies Wimpie en Tatties as deurlopende figure en met die chronologiese gang in die ontwikkeling van Wimpie van seun tot jeugdige as strukturerende element. JC Kannemeyer skryf in Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Deel 2 dat hoewel hierdie sketse los van mekaar staan, hulle wel ’n onderlinge verband het en almal oor die daaglikse lewe op die plaas handel.

Die hartseerwals: verhale en sketse is in 1965 gepubliseer en beleef etlike herdrukke, maar, skryf PA du Toit inPerspektief en profiel. Deel 1 (1998), hier is dit nie meer “gemoedelik-lokale realisme” nie. Kannemeyer het in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur gevoel dat Die hartseerwals ’n groot vooruitgang op Hennie se debuutbundel was. Die situasies in die verhale is nog baie soos die tipiese gegewe van die ouer Afrikaanse prosa, soos die byeenkomste tydens die Nagmaalsnaweke, die wewenaar wat by ’n jong meisie kom kuier, en die dansparty op die plaas. Ten spyte van hierdie geykte gegewe slaag Aucamp daarin om die tradisie te verfyn.

Hennie se kortverhaalbundels word met gereelde tussenposes gepubliseer. Spitsuur verskyn in 1967 en die verhaal “Portret van ’n ouma” is verteltegnies ’n belangrike verhaal in die Aucamp-oeuvre. Kannemeyer skryf dat Aucamp se kuns in Spitsuur ’n groter verskeidenheid openbaar en dat die problematiek van die individu aangrypend aan die orde kom, terwyl sy waarnemingsvermoë, taalgebruik en karakteriseringstegnieke nog verder verfyn word.

’n Bundel reissketse en essays getiteld Karnaatjie word in 1968 gepubliseer. In die skets “Grüss Gott” is daar ’n uitspraak wat die strekking van Aucamp se reisliteratuur illustreer: dat jy van toeris na reisiger vorder wanneer jy volledig katalisator geword het, alles wat die oog sien en die oor hoor, vergeestelik. Hierdie sketse en essays handel oor Hennie se reise na Ierland, Spanje, Oostenryk, Vlaandere en Italië.

Volgens PA du Toit (Perspektief en profiel) is die verteller in ’n Aucamp-teks dikwels ’n “ek” met ’n landelike verlede, ’n denkende, kunssinnige skrywer wat soos in “Armed Vision” uit ’n Bruidsbed vir tant Nonnie (1970) as weerlose enkeling poëties bely of ironies insny. In “Armed vision” vind die leser dat die verteller ’n bewuste skrywer is. Daar vind min uiterlike gebeure plaas; die genre-grense tussen kortverhaal, skets en essay word oorskry; in die stylwisseling kan ’n meerstemmigheid waargeneem word; verwysings wat betekenisse vermenigvuldig; en deur die woordkeuse en sinsbou word ’n besondere toon en ritme aan die vertelling gegee.

Vanaf ’n Bruidsbed vir tant Nonnie vind die leser dat eensaamheid ’n al hoe belangriker motief in Aucamp se werk word – tot en met Gekaapte tyd (1996). Daar is karakters in Bruidsbed wat probeer om die gevoel van eensaamheid te besweer deur met hulleself te praat, of al vertellende, om te probeer om tyd vinniger te laat verbygaan om die die skryn van die hede te vermy, maar dit lei tot die vashou van oomblikke uit die herinnering wat die hede beide verhelder en vertroebel.

Die eerste afdeling van Bruidsbed speel weer af teen die vertroude omgewing van die Stormberge. Die titelverhaal was vir Kannemeyer die hoogtepunt van die eerste afdeling. Hierin vertel Aucamp van ’n afgetakelde, sewentigjarige tante wat by die verteller se ouers moes gaan woon en genadebrood eet, maar wat nog steeds die sensuele inslag en liefde vir die wêreldse en erotiese verraai wat lewenslank haar rigsnoere was. Die tweede afdeling het se kern is die teleurgestelde liefde, die eensaamheid en verlatenheid en hoe daar probeer word om die vroeëre geluk terug te vind. Vir Kannemeyer is die hoogtepunt van hierdie afdeling die verhaal “Steven en Fay”, die eerste van Aucamp se “gay”-verhale waarin die homoseksualiteit as tema ingevoer word.

’n Bruidsbed vir tant Nonnie is in 1970 bekroon met die Tafelberg-wedstrydprys.

Hongerblom word in 1972 gepubliseer met die subtitel vyf elegieë. Vier van dié vyf elegieë het ’n romantiese ondertoon waarin ’n verlange na’n landelike verlede en ’n vervloë jeug na vore kom. ’n Liriese toonaard kom deur die romantiek in hierdie tekste na vore, soos in die reisverhaal “Voor die winter kom. Daar is die insig van die jeug wat besig is om verby te gaan, die ouderdom wat al nader kom en die finaliteit van die dood. Daar is ook nou’n ruimer sosiale bewussyn in Hennie Aucamp se tekste te bespeur .

In Wolwedans: ’n soort revue (1973) is daar ’n duidelike wending in Hennie se prosa te bespeur. Daar kan drie vlakke in die bundel onderskei word: die revue, ’n “verskeidenheidsprogram”; die wolfsheid van die samelewing; en die verloopte en vereensaamde enkeling. Wolwedans en Hongerblom is in 1974 (saam met Chris Barnard se Mahala) met die WA Hofmeyr-prys bekroon.

Hennie vertel dat dit eers met die skryf van Dooierus (1976) is dat tydhantering in die kortverhaal hom doelbewus begin boei het. In Kort voor lank (1978) word die liriese tyd as raakpunt tussen die kortverhaal en die poësie gebruik. Dit kom ook na vore dat dit ook in die kortverhaal dikwels nie meer die tydsverloop is wat belangrik is nie, maar die verdieping van ’n stemming of gevoel.

Die titel Dooierus kan op twee dinge dui: stagnasie, die rus van die dooies, maar dit kan ook die presiese aanlê van die skut op die kol wees. Soos in vroeër verhale vind die leser weer die eensaamheid en vrees van gefrustreerde wesens en die boerewêreld van die Stormberge. Hierdie temas word soms in Dooierus verder uitgebou en verfyn, terwyl ander weer deur vroeër verhale oorskadu word, iets wat ’n sekere eenselwigheid in Aucamp se oeuvre tot gevolg het, skryf Kannemeyer.

Bogenoemde drie bundels – HongerblomWolwedans en Dooierus – vorm in sekere opsigte ’n “drieluik”.

Hennie verwerf in 1974 sy doktorsgraad in die opvoedkunde (tesistitel: ’n Ondersoek na die doeltreffendheid van die eksterne eksaminering van voorgeskrewe letterkunde vir Afrikaans Hoër in die Kaaplandse Senior Sertifikaat) en word in 1983 aangestel as hoof van die Departement Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch. Hy word aangestel as hoogleraar in Afrikaans in die Fakulteit Opvoedkunde aan die universiteit, ’n pos wat hy beklee tot en met sy aftrede in 1994. In Maart 2000 ontvang hy ’n eredoktorsgraad in die letterkunde van die universiteit.

Ook in Enkelvlug (1978) vind die leser die eensame mens op sy eenrigting-alleenreis deur ’n troostelose wêreld die dood in. Die “enkelvlug” (want daar is geen retoer in hierdie lewe nie) is die belangrikste motief en kan deur Hennie se hele oeuvre heen nagespeur word, soos gesien kan word in die motto van die bundel wat aan Camus ontleen word: die gevoel dat die reis nie maar blote plesiersoek is nie, maar ’n noodwendigheid – om vir die ewigheid ’n sintuig te ontwikkel.

In Volmink (1981) – ’n titel waarin die woorde volmaak en vermink verbind word – is daar ’n baie groter verskeidenheid wat temas betref as byvoorbeeld in Dooierus en Hongerblom. Die “ek”-verteller en die outobiografiese illusie word ook minder gebruik. ’n Hoogtepunt in Volmink en in Aucamp se oeuvre is, volgens PA du Toit, die saamgestelde verhaal “Vir vier stemme” wat verskeie letterkundige tradisies in herinnering roep.

In 1979 ontvang Hennie ’n buitelandse studiebeurs wat hom in staat stel om in New York aan die Teacher’s College en aan die Universiteit van Columbia spesialiteitskursusse in die skryf van drama en populêrer fiksie, en in professionele and opvoedkundige skryfwerk te volg.

In 1975 is hy die samesteller van ’n program onder die titel Om Boer te wees vir die Taalfeesprogram in die Paarl. Hierdie program bied ’n beeld van die boer soos vervat in die Afrikaner se letterkunde en preliterêre erfgoed.

In die tagtigerjare spits Hennie hom toe op die skryf van kabarettekste, en in 1979 word ’n kabaretopvoering van hoofsaaklik Die lewe is ’n grenshotel deur SWARUK in Windhoek op die planke gebring. Ook in Windhoek word die eerste professionele aanbieding van Slegs vir almal in 1985 deur SWARUK opgevoer te midde van baie kritiek oor die taalgebruik en “oormatige klem op homoseksualisme”. In 1988 word sy kabaret Blomtyd is bloeityd, wat die vrou in al haar gedaantes ontgin, tydens die Grahamstadse Kunstefees opgevoer met Coenie de Villiers as toonsetter en Marthinus Basson as regisseur. Vir hierdie kabaret ontvang Hennie die Fleur du Cap-toneelprys in 1987.

In 1991 en 1992 word die kabaret Oudisie! deur Kruik in Kaapstad opgevoer met Casper de Vries, Nataniël en Joey de Koker, en volgens ’n onderhoud is dit Hennie Aucamp se laaste kabaret. In 1994 word ’n huldigingsprogram vir Hennie vir sy belangrike bydrae tot die Afrikaanse kabaret op Stellenbosch gehou.

In Wat bly oor van soene? (1986) skryf die skrywer in Beeld van 20 Januarie 1986 dat dit hier gaan om die bankrotskap van seks en die liefde, teenoor die beswerende krag van kreatiwiteit. Volgens André P Brink is daar in Wat bly oor van soene? ’n speelsheid en groter rustigheid waardeur die onthullinge ’n breër terrein van menslikheid belig. Die speelse toon hou gedeeltelilk verband met die verstrengeldheid met die melodrama; om dit te satiriseer, maar ook om te bewys dat daaruit kuns te maak is. Ook kan die understatement en keurige en estetiese taalgebruik te sien.

Tydens ’n dramaskryfkursus in Amerika het Hennie besef hoeveel prikkels hy reeds deur die jare opgedoen het om veral kabaret te skep. Toe Rina Botha as spraaklektrise by die dramafakulteit oorgeneem het, het hy monoloë begin skryf, maar in 1980 kon hy sy Met permissie gesê opgevoer sien met studente in die eerste volwaardige Afrikaanse kabaret.

Hennie se liefde vir die toneel het reeds begin met die verbeeldingsalons op die plaas saam met sy suster, Rina. Ander invloede op toneelgebied was Herman Pretorius wat die dramadepartement aan die Universiteit Stellenbosch begin het en dié departement as laboratorium vir Hennie se teatertekste beskikbaar gestel het; Marie van Heerden, die Stellenbosse teatergees wat Hennie op grond van die tikwerk wat sy vir hom moes doen, aangemoedig het om die liedtekste vir Die lewe is ’n grenshotel (1977) te skep; en Robert Mohr, wat hard probeer het om Hennie self op die verhoog te kry.

“En dan die ongelooflike werk wat ek in veral Duitsland gesien het. Marlene Dietrich, wat in 1966 in Kaapstad opgetree het. Ek het lank in die Fleur du Cap-keuringskomitee gedien, maar sedert die streekrade verval het, kan ’n mens nie regtig meer praat van ontwikkeling in teater nie. Eerder áfwikkeling.” (Onderhoud met Susanne Beyers, 26 Maart 2006, Die Burger)

In die meer as twaalf jaar waarin Hennie aktief met die skryf van kabarettekste gemoeid was, verskyn drie kabarettekste en ’n aantal aanverwante bundels lirieke, toneeltekste en opstelle: Die lewe is ’n grenshotel (1977), Met permissie gesê (1980; die eerste volwaardige kabaretteks in Afrikaans), Papawerwyn en ander verbeeldings vir die verhoog (1980), Woorde wat wond: geleentheidstukke oor randkultuur (1984), Slegs vir almal: ’n kabaret oor selfsug (1986), Die blou uur: 50 cocktail-kwatryne (1984), Punt in die wind (1989), Brommer in die boord(1990), Oudisie! (1991), Dubbeldop: kabarettekste en opstelle (1994), en die moraliteitspel Van hoogmoed tot traagheid of Die sewe doodsondes (1996).

Met Hennie se amptelike afskeid van kabaret in 1993 het hy aan Dorothea van Zyl in Die Burger gesê dat hy op ’n laat leeftyd besef het dat hy eintlik ’n verloopte romatikus is, “of meer presies gestel: ’n Dekadent”.

Volgens Hennie moes hy vroeër nog aandring op die hoofletter by die substantief Dekadensie. Van Zyl wys daarop dat die breë publiek begin besef dat “dié term uit die kunskringe nie morele verval aandui nie, maar eerder ’n kultuurfenomeen benoem”. “Simon Wilson tipeer die skeppinge van Dekadente kunstenaars as ‘always bitter-sweet, always aware of reality, and pervaded by a sense of tragedy, an awareness of mortality and of vanitas’.”

Sy affiniteite met die fin-de-siècle-gees het vir Hennie in die kabaretrigting gelei, aangesien kabaret vir hom ’n lewensgevoel is. Hy het besef dat bepaalde strominge en rigtings in die kunste van hulp kan wees om nader aan jou eie wese te kom. Hennie het twaalf jaar aan kabaret bestee, alhoewel hy aanvanklik geglo het dat dit ’n minder belangrike belangstelling in sy lewe was. Hy vertel aan Van Zyl dat sy kabaret-chansons dié deel van sy kabaret-arbeid is wat hom die naaste aan die hart lê.

Om sy uittrede uit die kabaretwêreld te beklink, het Hennie ’n selfironiserende chanson geskryf met die titel “Buurman digteby” en dit gedeeltelik opgeneem in die verhaal “Die Benefiet-voorstelling”. Dit handel oor ’n ou kabaretsanger wat afskeid neem van sy publiek en sy vak. Hy skryf self die woorde vir sy laaste chanson, maar kan die aand nie ’n stomme woord onthou van sy lied en van die musiek wat iemand anders daarvoor geskryf het nie.

Die kabaret Lyflied is ’n keur uit Hennie se meer dekadente verse. Dit is getoonset deur die komponis André Strijdom en sluit ook stout verse van Strijdom, Elize Cawood, Ronnie Belcher, Peter Blum, Lina Spies, Breyten Breytenbach en Antjie Krog in. Dit het deel gevorm van Kabaretmania wat in 2008 op Stellenbosch op die planke gebring is.

Hennie beskryf kabaret as “muse van die modder” en “beskaafde protes”. En “As jou hart minstens drie maal in jou lyf omgedraai het, dan weet jy jy was by kabaret,” het Hennie die Nederlandse kabarettis Martie Verdenius aangehaal tydens ’n gesprek met Dorothea van Zyl.

“Kabaret is woordkuns. Dit werk met patos en etos, maar moet die intelligensie aanspreek. Die grense tussen opperkultuur en laerkultuur word opgehef en enigiets kan gebruik of verbruik word om die boodskap oor te dra. ’n Kabarettis is ’n moralis met ’n narrekop. Daar moet altyd ’n morele onderbou wees, anders word dit goedkoop uitlokking. As daar aan die ander kant weer te veel pret is, is dit nie meer kabaret nie.

“Seks en kabaret is nie van ­mekaar te skei nie. Van die begin af was daar maar altyd ’n hoererige element in kabaret. Daar moet ’n sentrale gedagte wees. Aanvegbare kwessies moet aangespreek word. Die ­kabarettis is die kritikus van die maatskappy. Hoflikheid is nie ’n deug in kabaret nie. Daar moet vervreemdingsmeganismes in­gebring word sodat die gehoor ­afstand kan behou.”  (Die Burger, 6 November 2008)

Erkenning van Hennie se geboortekontrei bly ook nie agterweë nie. In 1989 ontvang hy saam met Margaret Bakkes (’n nooi Aucamp) en wyle Jan Aucamp van De Aar ’n erepenning van die Sterkstroomse Rapportryerskorps in samewerking met die Direktoraat Kultuursake.

Intussen ontvang Hennie in 1982 die Hertzogprys vir al sy prosawerk, en hoewel Elise Muller die prys in 1957 vir haar bundel Die vrou op die skuit ontvang het, is dit die eerste keer dat die Hertzogprys vir volgehoue produksie van kortprosatekste toegeken word.

 

In 1989 word Kommerkrale: ’n AB-jap vir akoeliete gepubliseer. Hierin word die kortverhaal volgens die uitgewersnota op die agterblad teruggesnoei tot sy oervorme: die anekdote, die grap en die gelykenis. Kommerkrale kan ’n “preekbundel” genoem word. Volgens Lina Spies se resensie van die bundel word daar gepreek teen “hoogmoed, selfsug, gebrek aan deernis en begrip vir die medemens, ydelikheid.” Sy skryf verder: “Waar hy ontmasker, pleit hy terselfdertyd - op die subtiele wyse van die gelykenis - vir mededoë, menslikheid, naasteliefde, nederigheid.”

Dalk gaan niks verlore nie en ander tekste (1992) se titel is ontleen aan die sterftoneel in NP Van Wyk Louw se Germanicus, en is ’n versameling van verskillende soorte kort tekste; oorwegend prosa, gekenmerk deur omvattende intertekstualiteit. Die stukke is vir seker nie van dieselfde suiwer gehalte soos soos dié in byvoorbeeld Die hartseerwals of ’n Bruidsbed vir tant Nonnie  nie, want ’n verhaal of vertelling spoel dikwels oor in ’n outobiografie, reisbeskrywing of besinning oor die literatuur en die lewe. Nog nooit tevore het Aucamp op so ’n wyse “faction” en “fiction”, outobiografie en verdigsel, presisie van waarneming en mymering of verbeelding met mekaar verbind nie, skryf JC Kannemeyer in sy resensie in Beeld van 24 Augustus 1992.

Oor Gewis is alles net ’n grap (1994) skryf Abraham H de Vries (Die Burger, 22 Februarie 1995): “In Hennie Aucamp se verhaal ‘Vaslav in die sneeu’ uit Volmink wasem Nijinski dié reël teen die ruit, terwyl hy uitkyk oor die sneeu van St Moritz: ‘As mense net meer genade het met mekaar, sal die lewe langer duur.’ Ondanks die wrang stelligheid van Gewis is alles net ’n grap, die bekende ‘Skoppensboer’ alinea wat Aucamp gebruik as titel vir sy pasverskene bundel, speel dié Nijinski woorde nóg in byna elke verhaal mee, lig, skaars meer versugting. Is daar nog ’n oeuvre in Afrikaans waarin diegene aan die skadukant van die lewe met soveel genadelose deernis geteken word as in Aucamp se laaste drie bundels? Laat ek dit uitspel: Wat bly oor van soene?Dalk gaan niks verlore nie en Gewis is alles net ’n grap moet  saamgelees word. Dán word dit duidelik: As die Hertzogprys komitee skryfwerk wil bekroon van deurgaans uitmuntende gehalte, nie wil meedoen aan die óórbeprysing van soms net één werk nie, kan Aucamp baie moeilik oor die hoof gesien word.”

In 1994 word die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou Universiteit van Johannesburg) se jaarlikse simposium oor aspekte van die populêre kultuur in sy geheel aan die woordkuns van Hennie Aucamp gewy, en ook in 1994 ontvang Aucamp erelidmaatskap van die Afrikaanse Skrywerskring op Stellenbosch. In Augustus 1998 bied die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch ’n Aucamp-fees aan – soortgelyk aan die een wat vroeër die jaar tydens die Leipoldt Letterkundefees op Clanwilliam aangebied is. In die program word verskillende aspekte van Aucamp se werk deur bekende literatore bekendgestel. Aucamp se eie bydrae se titel is Die dagboek en die flaneur.

Hennie hou al dagboek vandat hy 14 jaar oud was, en dit was ’n logiese stap dat hierdie dagboeke een of ander tyd in boekvorm sou verskyn. Gekaapte tyd: ’n kladboek, wat in 1996 uitgegee is, bevat ’n beeld van ’n skrywersdagboek van laat 1994 tot vroeg 1995. Dié dagboek is in sy “belydenis”-karakter nóú verwant aan die outobiografie, skryf PA du Toit in Perspektief en profiel, met dieselfde vooronderstellings van seleksie (verswyging?), ordening, fiksionalisering, perspektief ens. Aucamp self sien die dagboek as vennoot om die tyd teen te hou en te intensiveer; om twee maal per dag te leef: die ek wat ervaar en die ek wat opteken.

Daarna volg Allersiele: ’n dagboek Mei 1995 – Februarie 1996 in 1997 en Skuinslig: ’n dagboek Maart 1996 – April 1997 in 2003. Resensente het dié boeke net lof toegeswaai.

Petra Müller (Die Burger, 22 Julie 1998) het oor Hennie in die algemeen en oor Beeltenis verbode (1998) in die besonder geskryf: “Die literêre gesprek rondom Afrikaanse boeke is op sterwe na dood. Ek praat nie van die ewige geklaag oor die sogenaamd sterwende Afrikaans nie, maar oor die oorwoë gesprek gevoer deur liefhebbende en ingeligte lesers oor daardie metgesel van ons mooiste jare: die duursame boek. Daarom juis moet ’n slanke boek vol oorwoë boekgesprek soos Beeltenis Verbode van Hennie Aucamp dubbeld verwelkom word. (...)

“Hier is ’n skrywer wat in sy besinnings verantwoording doen net aan homself. Vandaar die rustige gang van sy sinne, waarin ambagskennis, filosofie en tydoorsig ineenvloei. Hier vind jy selfs sulke woorde soos gewete, moraliteit, instink, betekenis en humaan. Wat ’n gevaarlike optog! Hy betrek die hele skryfproses, van asemhaal tot by verassing en dis altyd die lewende ding wat vir hom sentraal staan in die dokument. Mag ek hom ’n behouer en ’n bewaarder van ons letterkunde noem, nou dat ons dit so nodig het? Dit is goed om te weet hy sit daar laat in die aand, en bekyk die skryf-oes van die dag. Hy sit en skryf daar met die hand, en die lig flits in sy brilglase. Refleksie volg op refleksie, en elke woord moet aantree op sy plek. Daar is ’n belangrike gesprek aan die gang. Ons bestendige engelbewaarder!”

Ander publikasies wat ook onder die boeg van egodokumente of biografiese publikasies genoem kan word, is In die ruigte: herinneringe en refleksies wat in 2003 verskyn het en Bly te kenne: ’n bundel portrette wat in 2001 uitgegee is.

Na die publikasie van Die blou uur: 50 cocktail-kwatryne in 1984 en Koerier: 69 opdrag- en ander kwatryne in 1999 word daar vanaf 2002 drie digbundels van Hennie gepubliseer, naamlik Hittegolf: wulpse sonnette met ’n nawoord (2002), Dryfhout: 40 verse (2005) en Vlamsalmander (2008).

In Rapport  (25 Augustus 2002) skryf Daniel Hugo oor die sonnette van Hittegolf: “Hennie Aucamp is een van die veelsydigste skrywers in Afrikaans. Hy is nie net ’n grootmeester van die kortverhaal nie, hy het sy hand al met groot sukses gewaag aan verhoog- en kabarettekste, liedtekste, dagboeke, kreatiewe handleidings, aforismes, essays, kwatryne - en nou ook sonnette. Die oorgang van kwatryn na sonnet is eintlik ’n logiese ontwikkeling. Die Engelse sonnet - die soort wat Aucamp in Hittegolf skryf - bestaan naamlik uit drie kwatryne plus ’n rymende koeplet wat die voorafgaande op ’n aforistiese wyse beklink. (...)

“Hennie Aucamp is al ’n dekadente skrywer genoem. ’n Woordeboekdefinisie van dekadent is: ‘baie verfynd en gekultiveerd, maar sonder innerlike en morele krag’ (Van Dale). Vir Aucamp geld slegs die eerste deel, aangesien die leermeester en moralis tog soms vermanend tussen die reëls deur praat. Ek dink byvoorbeeld aan die sonnet ‘Stad op hitte’ (een van die bestes in die bundel):

Rook peul om die berg; rol na die baai 
- die Kaap stig brand: sy somersport - 
en sou vandag sedoos kom waai 
kan Kaapstad weer 'n ashoop word.
Ook binnevuur verteer sy mense: 
met hoere driediep langs die paaie; 
etnies geld opnuut weer grense: 
die swart verdryf die bleker naaie.
Seks raak ontdaan van romantiek 
- dis instoot sonder voorbehoud - 
word ’n genoot noodlottig siek 
laat dit sy laksman salig koud. 
O, waar sal ons vlug uit die stad wat brand, 
die hittigste stad in ’n hittige land?”

Oor Hennie se sukses as digter skryf Louise Viljoen (Die Burger, 3 April 2006): “Alhoewel Hennie Aucamp veral bekend is as kortverhaalskrywer, het hy reeds sedert die sewen­tigerjare gedigte opgeneem in sy verhaal- en kabarettekste. Hy het self by geleentheid na hierdie gedigte verwys as lirieke of liedtekste wat nie noodwendig aspireer om goeie of groot poësie te wees nie. (...)

“Dit is veral in die bundels Koerier (1999) en Hittegolf (2002) dat Aucamp se gedigte hulle begin ­losmaak het van ’n verhaal- of kabaretkonteks en op hul eie aangebied word. Hierdie ontwikkeling word voortgesit in die bundel Dryfhout wat ­onlangs verskyn het en gesien kan word as ’n ­aanvulling by Hittegolf omdat Aucamp in albei bundels uitsluitlik die Shakespeariaanse sonnet as digvorm gebruik.

“Aucamp sê self dat sy sonnette vir hom ’n ‘same­vatting’ is van verskillende vorme wat hy al in sy skrywersloopbaan beoefen het: ‘Vir my kom alles saam in “my” sonnet: kortverhaal, essay, kwatryn, aforisme.’ (...) Soos in al Aucamp se werk word die leser in hierdie gedigte getref deur sy uitsonderlike ­beheer oor Afrikaans, onder meer sy vermoë om die ingeslape woordeskat van Afrikaans weer te aktiveer.”

Oor die ontstaan van Dryfhout het Hennie Aucamp op LitNet geskryf dat daar ’n sielkundige rede is waarom hy oor Dryfhout wou praat. “Op 8 Maart 2004 het ek op Stellenbosch voor mev Marina le Roux se Poësiekring gepraat oor my bundel Hittegolf. Dit was ’n dapper gebaar van mev Le Roux om my te nooi, want Hittegolf is uitgesproke homoëroties van inslag; en dit was ’n doldapper, selfs onbesuisde gebaar van my om dié uitnodiging te aanvaar. Nou ja, die leeskring het die totale aanslag deurstaan, selfs beter as ek. Nooit, het ek my voorgeneem, gaan ek weer op kort afstand oor gay-aangeleenthede praat nie. Ek is in wese ’n akademikus wat ook ’n fisieke afstand nodig het tot my gehoor, met verder die beveiliging van buffers, soos ’n lessenaar en ’n kateder, en ’n deur naby my waarby ek kan uithardloop as dinge vir my te benoud raak. (...)

“Maar voordat ek by tematiese raakpunte tussen Hittegolf en Dryfhout kom, wil ek op enkele oorkoepelende tegniese sake wys. Ek praat aarselend van my ‘sonnette’, want nie alle veertienreëlige poëtiese mededelings is noodwendig sonnette nie. Om ’n situasie te ontlont noem ek Dryfhout doodgewoon ‘veertig verse’, want nou hoef resensente en kritici nie hul spreekbeurt te verkwis op die steriele probleem of die gedigte in Dryfhout sonnette is al dan nie.”

Hennie se oermodel vir sy sonnette is die Shakespeare-sonnet, maar ander invloede het sy pad gekruis soos die “wufte invloed” van die “wulpse sonnette” van Aretino en die “pornografiese” liefdesonnette van Bertolt Brecht. Dit was veral die robuustheid na inhoud van taal van Vrecht se liefdesonnette wat Hennie aangetrek het. “Daar is nou maar eenmaal mededelings wat nie gekorsetteerd en hoofs aangebied wil wees nie. JC Bloem is neerhalend oor die drie kwatryne van ’n Shakespeare-sonnet, gevolg deur ’n klinkdig, dikwels aforisties van aard. Vir my weer is dié patroon ’n persoonlike wins. (...) In my sonnette benut ek my kennis van beide die kwatryn en die aforisme om ’n storie - dikwels ’n essayverwante storie - te vertel. Vir my kom alles saam in ‘my’ sonnet: kortverhaal, essay, kwatryn, aforisme.

“So dankbaar voel ek na die kant van die Shakespeare-sonnet dat ek dit as tema vir ’n vers gekies het. Op ’n vae manier is dit aangestig deur afbeeldings van monnike in pye met ’n kap, maar ook deur Rodin se beroemde beeld van die kolos Honoré de Balzac, omswagtel in ’n japon; ’n beeld wat al meermale met ’n fallus vergelyk is. Hier volg my gedig:

Shakespeare-sonnet

Toegewikkel soos ’n Broeder:
syig, rekbaar is die huik;
die kap, met pienk gevoer, skuif soos ’n luik:
bloothoofdigheid behoef ’n hoeder -

so net, sonet, sonnet
in gips gegiet of blote vlees
kan jy rigied of soepel wees:
jou vorm wil jou niks belet -

O stoer kolom! O kortsteelspies!
Jy het jou basis goed gekies
en op die koop toe slim verpak:
genaat, beaard, jou rimpelsak

waarin, soos goue bye van die lus,
twee klotters immer polsend rus.”

In Die Burger (16 Oktober 2008) beskou Daniel Hugo Vlamsalmander (2008) verstegnies en tematies as Hennie Aucamp se veelsydigste digbundel tot dusver. Dieselfde tema wat in Hittegolf en Dryfhout te kry was, naamlik die erotiese, mitologiese en artisitieke, is weer in Vlamsalmander te sien, maar in ’n variëteit van versvorme wat aangevul word met lied- en kabarettekste en ’n prosagedig (“Blues vir ’n verdronke stad”) sou kon noem. “Wat die bundel verloor aan konsentrasie,” skryf Hugo, “wen dit aan verskeidenheid.”

Volgens Hugo word die pragtige natuurverse in Dryfhout voortgesit in die derde en vierde afdelings van Vlamsalmander. “In afdeling drie word die see én die mense van Seepunt beskryf, en afdeling vier getuig van Aucamp se ekologiese besorgdheid.”

Hugo beskou Hennie Aucamp as ’n meester van die vierreëlige vers, soos wat reeds geblyk het uit sy kwatrynbundels Die Blou Uur (1984) en Koerier (1999), asook uit sy liedtekste. “In Vlamsalmander pak hy ook die driereëlige, 17-lettergrepige haikoe aan. Die een oor die gefotografeerde witgatwortelboom lui so:

boom in die woestyn
span sy tentseil teen die son
eerste bedoeïen.”

Hugo wys daarop dat hoewel ’n Japannese haikoe nie uiterlik rym nie, Aucamp dié illusie skep deur die n-klank waarop al drie reëls eindig. “Vir die Westerse oor en oog is dit onbewustelik besonder bevredigend.”

Hugo sluit af: “Vlamsalmander is ’n omvangryke bundel wat getuig van Aucamp se intense belangstelling in die skeppende mens en sy omgewing. My enigste beswaar is juis dat die bundel té omvangryk is. Daar is te veel gedigte van mindere allooi opgeneem wat liewer in die laai moes bly lê het.”

In 2003 is Hennie Aucamp die onderwerp van ’n landwye vasvrawedstryd wat deur Akpol, die Afrikaanse kultuurarm van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, en die ATKV aangebied word.

Die jaar van sy 70ste verjaardag, 2004, was een van baie toekennings vir Hennie. Hy ontvang die ATKV-Prestigetoekenning, die Fleur du Cap-teaterprys vir lewenswerk en bydrae tot teater, en die Afrikaans Onbeperk Kanna vir Lewensbydrae. By die KKNK bied Juanita Swanepoel ’n samestelling uit verhale deur Hennie Aucamp, Want kyk, die bruidegom is hier, aan met Susanne Beyers, Johann Nel en Joanie Combrink. Hennie is ook die wenner van LitNet se Mont du Toit Kelder-wyngedigtekompetisie met sy gedig “Die roemer, die wyn, die karaf”. Sun Press publiseer ’n bundel opstelle getiteld ’n Skrywer by sonsopkoms: Hennie Aucamp 70, saamgestel deur Lina Spies en Lucas Malan. Hennie sê self toe hy 70 word in ’n onderhoud met Francois Smith: “Die besef van eie onvolkomenheid is dalk die sterkste aansporing in enige skrywer se lewe.” (Die Burger, 20 Januarie 2004)

Hennie wend hom in 2010 en 2011 tot ’n nuwe genre, naamlik die kindervers, met die publikasie van Woerts in die hoekie en Ghoera: Afrika-verse vir kinders. Toeval en geluk het hierin ’n rol gespeel. Riana Scheepers het skrywers van kinderverse uitgenooi om verse aan haar te stuur, en Hennie het twee in ’n vergeelde lêer gehad. “Verdere verse het spontaan gekom,”  vertel Hennie aan Beeld, “opwellings uit wat die filosowe die unused self noem. Albei bundels het gedeeltelik ’n terugreis in die tyd beteken: terug na die diere, die natuur, die folklore van my kindertyd.”

“Ghoera is byvoorbeeld ’n oorvertel van ‘etniese’ verhale. Baie kom uit my vroeë herinneringe, toe Afrikaanse tydskrifte gereeld verhale uit swart kulture geplaas het; ander het ek as volkekunde-student ontdek; nog ander het ek onlangs met my navorsing oor die vertelkuns van die Boesman, die Khoi en die Koranna aangeteken.

“Twee uitsprake van my groot mentor in die Lae Lande, dr Gerrit Komrij, het my deur die kop gespeel terwyl ek my kinderverse geskryf het. Die een is dat die kind groot plesier aan woorde en klanke het. Die ander is dat kinderpoësie ’n sterk Dadaïstiese streep het. Dis die raad wat ek aan ander kinderversskrywers wil deurgee; dít, en dat jy die kind in jouself moet koester. Hy is goeie geselskap in die ouderdom.” (Beeld, 27 Oktober 2010)

Hennie het aan Amanda Botha vertel (Die Burger, 22 Augustus 2011) dat hy sedert sy kinderdae in James­town die woord Ghoera geken het, as ’n ­Boesmannaam, maar ook as ’n naam vir ’n booginstrument wat ’n mens by baie inheemse volke gekry het. Hierdie woord het bly vassteek, veral in die koestering van kleintydse herinneringe toe hy en sy suster elkeen ’n eie ghoeratjie as speelding gehad het. 

Met die byeenbring van ’n ­versameling Afrika-verse vir kinders onder die bundeltitel Ghoera verduidelik hy aan Botha: “Vir my doel was ‘Ghoera’ oorkoepelend genoeg, want by die Boesman, die Khoi-Khoi en die Koranna, kom ­‘ghoera’ voor. In die bundel dek ek die stories van dié groepe wat ek in Afrikaans omgesit het.” Hennie wil met hierdie bundel ’n nuwe geslag lewers bekendstel aan die stories van GR von Wielligh.    Volgens hom ken sy geslag reeds van die oorspronklike Jakkals en Wolf-stories van die Khoi-Khoi uit die strokiesverhale van TO Honiball.

Sy beryming van Afrika-stories was aanvanklik vir kinders bedoel, maar hy wou ook dat die berymings tot volwassenes moes spreek. Hy het op vierreëlige strofes besluit wat van toeka digters se strategie was wat ’n storie wou vertel. 

Die stories in Ghoera is “oënskynlik eenvoudig, maar het dikwels ernstige ondertone. Dit is hoog tyd dat daar ’n wetenskaplike diskoers op dreef kom oor die invloed van inheemse stories op Afrikaans en op die verbeelding van geslagte kinders wat hieraan bloot gestel was,” verduidelik hy aan Botha.

Die afgelope vyf jaar het daar ook twee nuwe bundels kortverhale uit Hennie se pen verskyn, naamlik ’n Vreemdeling op deurtog (2007) en Die huis van die digter en ander liefdesverhale (2009). Oor die besonderse voorblad deur Philip de Vos het Hennie op LitNet aan Melt Myburgh vertel: “Philip de Vos het foto-omslae vir die volgende bundels geskep: Verdwaal van Herman Wasserman, Drie Riviere van Jaco Botha, Voss van Anna M Louw. En so pas vir ’n Vreemdeling op deurtog. Philip is ongelooflik kreatief met sy digitale kamera. Hy laat weg, hy skandeer in.

“Die murasie op die omslag van ’n Vreemdeling op deurtog is in Nieu-Bethesda afgeneem, maar die venstergat kyk uit op die Joodse begraafplaas in Praag. Soos die geluk dit wou hê, was dit lente in Praag, en die bome in die begraafplaas stralend groen. Hiermee word die resurreksie-gedagte, die opstandingsgedagte, in my bundel onderskryf, want my slotteks, ‘Blues vir ’n verdronke stad’, eindig met ‘that great gettin’ up morning’, soos dit in ’nNegro spiritual staan.

“Geluk speel dikwels saam in die skryfbedryf. Of noem dit toeval, of noem dit genade. Genade het bestem dat dit lente was toe Philip Praag besoek het. Toeval het dit so bestem dat die omslag van Vreemdeling die murasie-foto van Obie Oberholzer op die omslag van Dalk gaan niks verlore nie herhaal, maar met die elegiese toon veel navranter by De Vos.”

Oor die spel tussen werklikheid en fiksie in ’n Vreemdeling op deurtog verduidelik Hennie dat ook wanneer hy niefiksie skryf – soos resensies/artikels – is die fiksionele verbeelding werksaam. “Jy kies jou hoek, en hieruit volg ’n bepaalde struktuur. Vir ’n deurwinterde skrywer kom ordening so natuurlik soos asemhaling. Hy vra hom af: Hoe kan ek my materiaal ten beste laat vertoon, sonder om die leser te vermoei of te verveel? (...)

“Ek wil kategories sê: die oomblik dat die skeppende mens verslag lewer, by wyse van ’n storie, ’n essay, ’n artikel, begin jy outomaties lieg. Die heel eerste sin in Petra Müller se verhaal ‘Die luiperd’ kan die credo van alle skrywers wees: ‘Sover ek weet, het ek nog nooit by waarheid gehou in enigiets wat ek geskryf het nie. Ek is ’n verteller van verhale: iewers neem ’n verhaal sy eie loop en glip onder jou uit, op sy eie koerse.’

“Wat moet bykom by Petra se credo, is ’n titel van ’n TT Cloete-bundel: Die waarheid gelieg.”

Na aanleiding van die bundel Die huis van die digter en ander liefdesverhale (2009)  skryf Riana Scheepers op LitNet oor Hennie se kortverhaalkuns: “Altyd as ek ’n leeskring moet toespreek of ’n lesing of praatjie moet gee oor die kortverhaal as genre, dan raak ek vooraf in vervoering oor dié uitdagende, verbluffende genre. Die kortverhaal, by uitstek, leen hom tot veelkantigheid en diversiteit. ’n Kortverhaal kan kort, kórt wees, en dit kan lank, lánk wees. Die kortverhaal kan verkleurmannetjie speel en enigiets wees: poësie en joernalistiek, New Journalism en sci fi; dit kan wasig romanties en stuitig volks wees; dit kan kliphard realisties en outobiografies, of eteries en fantasties wees. Dit kan geskiedenis wees of fiksie. Daar waar die skrywer se vlugte hom of haar maar wil neem, daar is die kortverhaal ’n gewillige en plooibare meedoener aan die vreugde.

“En soos dit nou maar gaan tydens ’n lesing of ’n praatjie, moet daar toepaslike voorbeelde gegee word. En taks en tyd gebeur dit dat die Ou Grote van die kortverhaal, Hennie Aucamp, as demonstrasiemodel moet dien. Want ja, daar is sekerlik nie ’n enkele nuanse van die kortverhaal wat hy nog nie ingespan het nie. Liefdesverhaal, spookstorie, ruige volksverhaal, outobiografiese vertelling, verblindende literêre verhaal, dit is alles daar. Nog altyd. Steeds. En al die netjiese reëls wat soms so gerieflik aan ’n nuwe kortverhaalskrywer voorgehou word as synde die ABC van die kortkuns te wees, dit is van toepassing, ja, maar ook dié ondermyn hy met groot stelligheid en sukses. Ek is altyd mateloos verwonderd as ek Hennie Aucamp se kortverhale lees. Hoe krý hy dit skynbaar so moeiteloos reg om al die flambojante eienskappe van die kortverhaal te gebruik, uit te stal, te flaneer ... en hoe kry hy dit reg om na al die jare van betowerende kortverhale nog steeds ’n leser te ontroer en te onthuts? Nog altyd. Steeds.”

“Die tema van Hennie Aucamp se jongste bundel kortverhale is die liefde – aweregse en/of onwaarskynlike liefde,” skryf Charl-Pierre Naudé in Rapport (16 Februarie 2010).  Volgens hom het elk van die liefdestories ’n ongewone aard wat hetero- sowel as homoseksuele verhale verbeeld. Hy beskryf die tweede bindende tema as: “Vergete tye oor ’n kleindorpse Afrikaanse bestaan, of ’n trekboergeselskappie, liefde in ’n aftree-oord; die herontdekking van ’n vergete digter op die platteland, “gesteelde” liefde op ’n Keniaanse plaas in die tyd toe Afrikaners nog daar geboer het, of ’n jeugherinnering van die outeur.”

Volgens Naudé is daar nie baie skrywers wat ’n hele tydsgewrig met ’n enkele sinsnede of woord voor die gees en oog kan roep soos Aucamp nie. Aucamp skryf in “kostelike, bodemvaste Afrikaans”. “Dit beeld die paradoks van die verfynde verbeeldingswêreld van ’n ruwe pionierskultuur uit met ’n sekure fokus wat ongerep voordoen. Aucamp is by uitstek die Suid-Afrikaanse prosaïs wat my aan Anton Tsjechof laat dink,” skryf Naudé.

Hennie het in ’n onderhoud met LitNet gesê dat die leser egter nie gewone liefdesverhale met ’n gelukkig einde in hierdie bundel moet verwag nie.

In Beeld van 4 November 2009 wou Abraham de Vries by Hennie weet of Die huis van die digter in gesprek tree met Die huis van die dowe van Breyten Breytenbach, waarop Hennie geantwoord het: “In werklikheid is daar geen verband tussen my bundel en Breyten se Huis van die dowe nie; veel eerder is daar ’n verband tussen Die huis van die digter en ’n verhaal van Margaret Atwood, wat handel oor ’n man en ’n meisie wat Dylan Thomas se huis in Wallis besoek, alles haarfyn beskryf, maar sonder om Dylan Thomas by die naam te noem. Wel twis die man en die meisie deurentyd, soos Dylan en sy Caitlin gedoen het. Ook is daar ’n verhaal van Muriel Spark, getitel ‘The House of the Famous Poet’, wat dalk ’n vae invloed kon gewees het, maar van die Spark-verhaal het niks in my geheue bly vassteek nie, behalwe die titel.”

De Vries het opgemerk dat die stories in hierdie nuwe bundel ryk en oersterk is en die fiksie spring­lewendig. Hoe gebeur stories met Hennie? “Ek het ’n rolprent oor die boek Ester gesien en dit het ’n reeks herinneringe aan my kindertyd losgemaak, toe my ouma en tant Nan Lübbe my oortuig het dat Ester die mooiste roman is wat ooit geskryf is. Die gevolg was ‘Aletta van die oewererwe’, en daarna het die een liefdesverhaal ná die ander hom by my kom aanmeld. Hoe ’n bundel in my geval gebeur, is byna altyd dieselfde. Eers is daar ’n sterk prikkel wat die verbeelding as’t ware brandstoot, en hierop volg ’n kettingreaksie. En skielik hoor jy die geruis van ’n rok in die gang af: Die muse het vertrek.”

In die pragtige titelverhaal is daar ’n digter, Andries Rörich. De Vries wou weet of hy regtig bestaan het en of dit – soos al in “Die laaste huisgerief” – ’n spel met die erotiese en pornografiese, selfs outobiografiese is? Hierop het Hennie as volg gereageer: “Andries Rörich in die titelverhaal is volkome fiktief, maar as ’n karakter genoeg van sy omgewing absorbeer, raak hy vir jou werklik. Andries se omgewing, ’n tipiese Karoodorpie met tamariske en turksvye, met kliphuise en rooibaksteen-kleinhuisies, het hom help vorm, en ja, my herinneringe aan soldate in die Tweede Wêreldoorlog. Jy is 100% reg wanneer jy van ’n spel met die erotiese en pornografiese praat. Waar eindig pornografie en waar begin erotiek? Of is erotiek pornografie wat deur ál fyner siwwe gestuur word?”

Aucamp se bydrae tot die literatuurwetenskap en letterkundige kritiek in Afrikaans, en in Suid-Afrika in die breë, kan nooit geringgeskat word nie. In 2006 bekroon die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met die Gustav Preller-prys – ’n bekroning wat hom na aan die hart lê, want die eerste resensie wat hy vir Eikestad-Nuus geskryf het, was oor ’n boek van Preller en hy het groot ontsag vir Preller se kritiese vermoëns. By die Woordfees in 2010 verower Hennie die eerste prys as woordkunstenaar. Ook in 2010 ontvang hy ’n Sala-toekenning vir sy lewensbydrae tot die letterkunde.

Hennie was tot en met sy uittrede as resensent in 2006 een van die langslewende resensente in die Suid-Afrikaanse boekbedryf en joernalistiek – vyftig jaar. Vir hom hang resensiewerk ten nouste saam met sy liefde vir lees en skryf, vertel hy aan Francois Smith in Die Burger van 20 Januarie 2004. “Ek probeer twee dinge nastreef met my resensies: Ek wil ’n eerbare tussenganger tussen ’n teks en die publiek wees, maar wil terselfdertyd ook my geesdrif vir ’n bepaalde teks deel. Ek kies dus my tekste met oorleg, en hier wil ek ’n kennis aanhaal wat onlangs vir my gesê het dat hy nou nét na klassieke musiek luister: ‘Ek het te min lewe oor om na k-k te luister.’ Op sewentig het ek waaragtig óók te min lewe oor om besoedelende en nikswerd boeke te lees.”

Oor die skryf van die sogenaamde “volmaakte” resensie sê Hennie dat Eugène Marais die “volmaakte” resensie oor MER se Kinders van die Voortrek geskryf het, en toe dié boek jare later as Die tweeling trek saam herdruk is, is die resensie tereg as ’n nawoord daarby ingesluit. Hennie stel dit aan Smith dat ’n resensent homself slegs kan oortref “deur nóg meer respek vir ’n teks te hê en nóg meer respek vir die publiek vir wie hy skryf. Solank hy ’n resensie as uitstalkas vir sy eie hongerige ego sien, of as ’n geleentheid vir verdagmaking en literêre politiekery, volg hy die verkeerde pad na die ’volmaakte’ resensie.”

In Oor en weer, wat in 2010 deur Protea Boekhuis uitgegee is, verskyn 16 onderhoude wat vanaf 1972 tot 2008 met Aucamp gevoer is en in onderhoudbundels, publikasies vir die vroeëre opvoedkundige mark, koerante en tydskrifte en op die internet verskyn het. Leti Kleyn (Beeld, 7 Junie 2010) skryf oor hierdie bundel: “Hoewel enkeles ver in die verlede terugstrek, is die menings wat (Aucamp) uitspreek, die waardevolle riglyne wat hy gee en die gesprekke soms so boeiend jy moet terugblaai om seker te maak dat dit nie tog ’n onderhoud is wat nou die dag nog met hom gevoer is nie. (...)

“Ná hierdie leeservaring sal jy saamstem as Aucamp in die inleiding – ‘Onderhoud as genre’ – meen dat die ‘interview’ een van die belangrikste bydraes is tot sowel die joernalistiek as die letterkunde. Verder meen hy dat daar nie genoeg gehalte-aandag aan dié ‘essay geskryf deur twee’ as navorsingsterrein gegee word nie. Oor en weer is ’n moet-lees vir dié wat in die letterkunde belangstel.”

In 2011 verskyn Lendetaal: homoërotiek in die kunste en in die letterkunde, wat 25 essays bevat wat in vier afdelings verdeel is. In “Kuns”, die eerste afdeling, word gekyk na die manlike naakfiguur in fotografie. Volgens Riana Scheepers fokus dit op die metodes waarmee begenadigde fotograwe die clichés van naakfigure omseil. “Dit is ’n fassinerende essay, een van die bestes in die boek, ook omdat die skrywer hier die toon van die res van die hoofstukke aangee.” (Beeld, 21 November 2011)

Die tweede en grootste afdeling, ‘Skrywers en individuele werke’, lees vir Scheepers so opwindend soos ’n eietydse speurverhaal. Sy som dit op as “’n beknopte historiese oorsig van die hantering van homoseksualiteit in die literatuur, van Bom-Crioulo van Adolfo Ca­minha van 1895, tot Annie Proulx se kortverhaal ‘Brokeback Mountain’ en die gelyknamige rolprentweergawe daarvan van 2005.”

In die afdeling “Bloemlesings” kyk Hennie krities na gay-bloemlesings. Hy wys op leemtes in dié area, byvoorbeeld verhale oor die getroude gay, humor en fantasie. ’n Hipotetiese keur van gay-verhale in wêreldletterkunde word by die afdeling ingesluit. “Egodokumente”, die laaste afdeling, is saamgestel uit ’n essays oor die aforisme as egodokument, dagboeke, ’n bespreking van Hittegolf, ironie as skans teen die ouderdom en dood, en ’n huldeblyk aan digter Lucas Malan.

“Aucamp deel sy verbluffende, deurleefde, ingeleefde kennis met die leser, en hy doen dit op ’n prikkelende dog sober manier,” gaan Scheepers voort. “Lendetaal is egter nie ’n boek vir lesers van enige bepaalde seksuele oriëntasie nie; dis ’n gids vir elkeen wat immer verwonderd is deur skoonheid. Kuns.”

Hennie het nog altyd openlik erken dat hy gay is. In ’n onderhoud met Theunis Engelbrecht (Beeld, 12 September 1997) stel hy dit dat die seksuele oriëntasie van ’n mens nie vir hom belangrik nie, aangesien hy geïnteresseerd is in die gehalte van die persoon se menslikheid en hulle vermoëns en talente. Vir hom moet so ’n verdraagsame verhouding verwerf word. Dit is nog nie “wyd verbreid” nie en dus kom homofobie nog voor veral wanneer dit by werkbevordering kom. Hennie meen dat mens nie vandag gemakliker is met homoseksuele kwessies as ini die verlede nie, aangesien die mens nou eenmaal daarop ingestel is om stereotiep in hulle denke te wees.

Op Engelbrecht se vraag oor die standaard van gay-skryfwerk in Afrikaans, in vergelyking met wat in ander literature op hierdie gebied geproduseer word, het Hennie hom as volg uitgelaat: “Vir my is tema onverskillig; wat saak maak, is of skryfwerk professioneel is of nie. Liefde in al sy vorme is ’n tema; ’n tema soos vele ander. Terloops, het jy al ooit ’n roman aangekondig gesien as ‘’n roman oor heteroseksuele liefde’? Klassieke werke soos Der Tod in Venedig en Edward II, hierteenoor, word nooit as werke oor homoseksuele liefdes aangekondig nie.

“Daar is al uitstekende verhale oor die gay lewensinstelling in Afrikaans geskryf, en nie altyd deur gay skrywers nie. Ja, ’n tematiese vergelyking tussen letterkundes is verrykend en opskerpend mits dit op kwalitatiewe grondslag gebeur. Johann de Lange doen ’n verstandige ding in sy bloemlesing Soort soek soort. Hy sluit ’n klassieke verhaal uit die wêreldletterkunde in wat sy status aan sy intrinsieke literêre kwaliteit dank, en nie in die eerste plek aan sy gay tema nie. Dis die verhaal ‘Vader, moeder, seun’ van die Nederlandse skryfster Anna Blaman. ’n Voorbeeldverhaal vir alle skrywers, wat hul seksoriëntasie ook al is.”

Oor die gebruik van suiwer Afrikaans het Hennie hom as volg teenoor Hanlie Retief (Rapport, 2 Mei 2004) verduidelik: “Dis nie dat ek preuts is nie, en ek gebruik nooit die woord suiwer nie, want daar is nooit iets soos suiwer taal nie. ’n Taal is reg vir die situasie of nie. In ’n kabaret van my is daar die Lied van die Security Boys . Mense was verbaas dat ek dit kon skryf, maar jy het daar tog die taal nodig wat die mense praat. Dis anders as ’n geleerde siel wat nou doelbewus van garlic praat terwyl dit nog sy hele lewe lank vir hom knoffel was.

“Engfrikaans is ’n ideologiese ding, ’n pretensieuse ding, dit dui op ’n soort vertraagde adolessensie. Maar dalk sal dit verbygaan, miskien moet ons nie so verskriklik daaroor te kere gaan nie.”

Wat hom méér hinder, is die krimpende woordeskat van Afrikaanssprekendes. “Die woorde is daar, boekdele vol. Maar ’n woord leef net solank hy gebruik word. Dié wat ná ons kom, wat in Afrikaans wil skryf, gaan mos eendag ontsteld wees omdat ons toegelaat het dat ’n waardevolle medium tot niet gegaan het. Eendag sal daar weer ’n Van Wyk Louw gebore word, en sal hy maar in Engels moet skryf? Daar is ’n toenemende taal-ongeërgdheid. Jy skakeer nie meer wat jy sê nie, jy nuanseer nie meer so fyn nie, of later glad nie.
“Ek moet ’n vreeslike ding beken, ek lees nie meer so baie Afrikaans nie. Dis ’n verskriklike ironie dat ek Afrikaans verdedig, maar my intensste prikkels kry ek al hoe meer uit Engels en Nederlands en vertalings uit Frans of Duits of wat ook al. Baie van my ‘modelle’ is skrywers wat neig tot die filosofiese kant sonder om formele filosowe te wees, en hulle is mý soort skrywers.”

Om ’n boek per jaar te publiseer, verg nie net talent nie, maar ook harde, konstante werk. Ná sy koppie tee soggens gaan sit Hennie agter die lessenaar, en nie agter ’n rekenaar nie. “Almal is verbaas dat ek so produktief is, maar dis juis omdat ek nié ’n rekenaar het nie. As ek voor ’n skerm moes gesit het, sou ek die helfte minder gedoen het. Ek skryf vinnig. Skryf is 'n vorm van teken, byna,” aan Hanlie Retief in Rapport. “Ek skryf áltyd met ’n swart pen, want swart verweer die stadigste. Ek kan letterlik aan my ou dagboeke sien hoe die blou verskiet.”

 “Skryf,” sê hy, “is eintlik ’n manier om dinge vir myself te verduidelik. As iets jou op ’n besondere manier geraak het, maar jy het dit nie heeltemal verstaan nie, dan skryf jy. En jy hou aan skryf om dinge te wil weet, en jou verhouding tot die medemens of tot die omgewing telkens opnuut te bepaal.”

As hy terugkyk op sy lewe: “Laat ek die Bybelreël aanhaal: die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval. Dwarsdeur my lewe. Ek was gelukkig dat ek presies die regte mense geken het op die regte tye. Daar wag altyd iemand op die volgende hoek om jou verder te neem, word gesê. Daar was altyd ’n gids, en dit verander nie as jy ouer word nie, maar dié wat jou inwag, is nou jonger. Die pryse het gekom, die toekennings, die eerbetoon. Daarvoor is ek dankbaar. Maar ’n prys sê nie noodwendig dat ek iemand bereik het nie."
Hoe wil hy hê dat mense hom moet onthou? “Ek het gekry van gewers, en ek hoop ek het by hulle geleer om ook te gee en aan te gee, soos MER ons altyd so mooi geleer het. As ’n enkele mens my só onthou, sal ek dankbaar wees.”

Oor sy geliefde Stormberg-kontrei skryf Hennie op LitNet (“Waar die wolke middag maak): “Is daar nog ’n kontrei waar die wolke so monumentaal aanswel op somermiddae as op die Stormberge? Ag, ja, seker in die Karoo; maar mý Karoo was die Stormberge.

“Een van my lieflikste herinneringe aan wolke op Rust-mijn-ziel gaan terug na ’n dag toe die reën my vasgekeer het teen die Bakenberg. Ek wou waaibesems vir my ma gaan pluk, daardie elegante blomme (familie Dierama) wat lyk of hulle soos fonteine opspring uit splete in die kranse; lang, soepel stele wat buig van die gewig – veerligte gewig – van ligpers klokkies; soms, maar seer selde, ook wynpers.

“Ek het verlangend na waaibesems teen die agtergrond van wolke opgekyk, en my toe na die beperkte skuiling van ’n bakkransie gehaas; die een waar ’n San-kunstenaar ’n pruimswart bokkie geskilder het, met ’n onherkenbare plant daarnaas.

“En toe kom die reën, ook lieflik, en hang sy stippelgordyn tussen my en die droë veld.”

In In een kraal merk Elize Botha (samesteller) op dat die liefde vir sy karakters by Aucamp ’n verwikkelde deernis is. Satire as ontmaskering is ’n soort suiweringsproses waardeur die deernis gevestig raak. Dit is veral Hennie se voortreflike taal- en stylbeheer wat vir hom ’n voorste plek onder Afrikaanse prosaskrywers verwerf het.

Lucas Malan het op Hennie se 75-jarige verjaardag sy huldeblyk só afgesluit (Beeld, 20 Januarie 2009) : “In sy bundel essays oor ego-dokumente en biografieë, Beeltenis verbode (1998), skryf Aucamp oor Oscar Wilde die volgende: ‘Hy is ’n verdigting van ’n periode, maar in ’n sin is hy ook ’n medebepaler van ’n periode.’

“Soos ek Aucamp en sy werk leer ken het, wil ek dit waag om dié treffende formulering vandag soos volg aan te pas: Hennie Aucamp is ’n verdigting van ’n komplekse periode in die Afrikaanse kultuurlewe, maar ook ’n medebepaler van die gehalte daarvan wat enige taalgemeenskap sal koester.”

In Oktober 2013 is Deel XIV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) op Stellenbosch bekendgestel. Hennie, asook Adam Small en TT Cloete, was eregaste by die geleentheid op Stellenbosch. Hulle het elkeen ’n leergebinde ­eksemplaar ontvang.

Hennie het aan Willem de Vries (Die Burger, 13 Maart 2014) gesê: “Oneindig meer as ’n geskenk; ’n bevestiging dat Afrikaans ondanks moeilike tye voortgaan en dat Afrikaans ’n magtige taal was en is met ’n indrukwekkende woordeskat.”

Al drie eregaste het jare lange bande met die WAT. Van Hennie Aucamp is nagenoeg 770 aanhalings uit sy werk opgeneem in die WAT, met 72 daarvan in Deel XIV. Die kabaretkunstenaar Niël ­Rademan het eie en Aucamp-liedtekste by die geleentheid gesing.

Hennie het in April 2011 ’n beroerte gekry en “moes sy liggaam noodgedwonge begin om sy luike toe te maak”, skryf Willemien Brümmer in By (19 Oktober 2013). Jare lank was Hennie een van die produktiefste skrywers in Afrikaans, maar ná die beroerte kon hy nie meer altyd die regte woorde onthou nie. “Ek het vreeslik gou herstel van die beroerte. Ek het net vreeslik gesukkel om woorde te kry. Dis wóórde wat my ontglip.”

Sy digbundel Teen die lig was ten tye van die beroerte grootliks voltooi en is in 2012 by Protea Boekhuis gepubliseer. In 2013 verskyn Mits dese wil ek vir jou sê, ‘n briewebundel by Petrovna Metelerkamp se Hemel-en-see-uitgewers.  Hennie beskryf hierdie publikasie aan Willemien Brümmer as “’n lank gekoesterde droom, maar tog ’n vermoeiende proses.”

Hennie Aucamp se tiende en laaste digbundel, Skulp, verskyn in 2014 by Protea Boekhuis. Hy beskryf dit aan Brummer as ’n “voorlopige afsluitingsgebaar”. “Behalwe hierdie gedigte, voel ek ek het niks meer te sê nie. Ek het vreeslik baie geskryf en ek voel nou dis genoeg. Ek voel nou ek is (amper) 80, ek het ’n mooi paadjie geloop en dis die einde.”

In ’n essay op LitNet (11 April 2012) bevraagteken Hennie die stand van kabaret:

 Is kabaret aan’t anders word? Kan wat vandag deurgaan as kabaret die toets met die verlede deurstaan? Veral in Suid-Afrika, waar soms baie slordig omgegaan word met die woord “kabaret”. Kabaret, daardie intieme kultuuruiting, opgevoer voor ’n klein gehoor in ’n beperkte ruimte, is nie meer die reël nie. 

Na aanleiding van hierdie vrae het Hennie sy bundel essays oor die kabaret, Koffer in Berlyn saamgestel. In Koffer in Berlyn ontleed hy die vele gesigte van kabaret: die integrasie tussen beeld, musiek en woord – met ’n tema en struktuur waarin ironie sentraal staan. Lesings, resensies, koerant- en tydskrifartikels en ander letterkundige bydraes, sowel as uittreksels van sommige van Aucamp se kabarette word in Koffer in Berlyn byeengebring. Dit verskyn in 2013 by Protea Boekhuis.

Op 21 Maart 2014 is Hennie Aucamp in sy woonstel in Kaapstad in sy slaap oorlede. Hy was 80 jaar oud en laat sy suster, Rina Gouws, en haar twee dogters, Mari Naudé en Anneke Lipsanen, agter.

Fakir Abrahams, ’n vriend van Hennie, het die aand van 20 Maart geen antwoord gekry toe hy Hennie wou besoek nie. Vrydagoggend 21 Maart het Christo de Jongh, ’n buurman van Hennie, die woonstel oopgesluit en hulle het Hennie daar aangetref. “Dit lyk net of hy aan die slaap geraak het, rustig; dit lyk of hy in sy slaap oorlede is,” het De Jongh aan Die Burger gesê.

Huldeblyke:

  • Joan Hambidge (Die Burger, 22 Maart 2014): “Hy is waarskynlik die skrywer met die meeste fasette: kortverhaalskrywer, aforis, boemleser, digter, dagboekhouer, liriekskrywer, resensent, kabarettis, Boesmankenner, kunstenaar. Hy het skrywers, veral gay-skrywers, geleer om sonder skroom oor hul ervarings te skryf. In sy kortverhaalbundel Die blote storie (1986) leer hy jou veel van die tegnieke van skryf. Die belangrikste raad wat ek ooit van hom ontvang het: Jy moet eers ’n ervaring emosioneel verwerk alvorens dit “werk” as verhaal of gedig. Sy verlies binne ons letterkunde is enorm (...).”
  • Eloïse Wessels, uitvoerende hoof: NB-uitgewers (Die Burger, 22 Maart 2014): “Die drukname Tafelberg en Human & Rousseau het sedert die sestigerjare die meeste van Hennie Aucamp se werke gepubliseer.  (...) Ons neem afskeid van ’n geliefde en geëerde skrywer, ’n meester van die Afrikaanse kortverhaal.”
  • Petra Müller (Die Burger, 22 Maart 2014): “Hennie Aucamp het paaie vir ons almal oopgemaak in die letterkunde en in die lewe. As ’n mens net moes dink as hy nie daar sou gewees het nie, wat sou alles nié in die letterkunde geskryf gewees het nie? Waar groot leegtes sou wees, is nou lewensbegrip. Sy tekste het uit die letterkunde in die lewe gerank en dit vir ons almal groter gemaak.”
  • Johann de Lange (Die Burger, 22 Maart 2014): “Ek het Hennie Aucamp in die laat sewentigs ontmoet, en met ons eerste kennismaking het hy al opgedaag geskenk in die hand. In sy laaste weke het hy vriende laat kom en besittings aangegee, want dit was nie wéggee nie. Elke geskenk was ’n stuk van sy leef- en denkwêreld waarmee die ontvanger kon en móés voortwoeker. Hennie het bitter weinig vlakke van die letterkunde onaangeraak gelaat, en op alles wat hy aangepak het, het hy sy stempel afgedruk (...). Met sy besonderse aanslag het hy die kwatryn en sonnet vir hom toegeëien sodat ’n mens dadelik ’n vers in sy hand as sýne kan herken. Hy laat ons ’n groot en boeiende skat van skryfwerk na. Dit gebeur maar selde in ’n letterkunde dat jy ’n uitgeronde, veelsydige talent kry en ons sal nie gou weer Hennie se gelyke sien nie. Hy was hartstogtelik betrokke by die lewe, en uit daardie hartstog en passie en nuuskierigheid het sy skeppende lewe geput.  Hy was ’n natuurlike opvoeder en daarom is sy aangetrokkenheid tot die kabaret, tot die skryf van wonderlike essays en briewe te wagte.”
  • Daniel Hugo (Die Burger, 22 Maart 2014): “Die mens, skrywer en opvoeder Hennie Aucamp was ’n onlosmaaklike drie-eenheid. Hy het integriteit help gee aan ons menswees in ’n tyd toe Afrikaans en sy gebruikers met  minagting en agterdog bejeën is. Sonder hom (as skrywer en mens) sou ons veel minder gewees het.”
  • Marthinus Basson (Die Burger, 22 Maart 2014): “Hennie Aucamp was ’n enorme invloed op my as jong mens. Sy kortverhale was vir my, en vele van my geslag, identiteitvormend. Sy gesprekke, toe ek hom later leer ken het omdat hy ’n kranige teaterondersteuner was, was opwindend, intimiderend en elkeen ’n lesing in die keurigste en ryksye Afrikaans oor onderwerpe van die mees verhewe tot die smertigste. En altyd ’n plesier. Hennie het man-alleen in die giftige jare van protes en optog ’n tradisie van koffiehuiskonsert omvorm tot kabaret en geboorte gegee aan ’n handvol uitsonderlike tekste, wat weer geboorte gegee het aan kunstenaars wat vandag nog diep spore in die vermaaklikheidswêreld trap. Mag hy, met ’n onuitputbare buidel, volgestop, vreugdevol, ronddwaal op die Hartstog-boulevard vir sy ewigheid.”
  • Coenie de Villiers (Die Burger, 22 Maart 2014): “Liewe Hennie, Jy is toe verlede nag stil-stil weg. Ek dink dis soos jy dit sou wou hê: beskeie en sonder fanfare. Dit beteken ook jy hoef nie jou geliefde blyplek te verlaat nie; ons het baie daaroor gepraat, en dis soos dit hoort. Dankie vir jou vriendskap wat oor soveel dekades strek. Dankie vir jou ondersteuning en aanmoediging. Dankie veral vir die wonderlike voorreg om met jou woorde te kon werk. Jou liriek sal altyd vir almal van ons wat poog om liriek te pleeg, ’n voorbeeld bly; ’n onbereikbare plek van letterkundige  volmaaktheid. En dan het jy dit altyd so bleddie eenvoudig laat lyk! Dit was ’n gawe dat jy my toegelaat het om musiek by te roer. Reis veilig en lig, en boekstaaf elke tree.”
  • Juanita Swanepoel (Die Burger, 22 Maart 2014) (By Woordfees 2014 het sy die produksie Mits dese wil ek vir jou sê saamgestel uit sy werke): “Ek het Hennie ontmoet toe ek nog ’n student was. Dit was in die Klein Libertas-teater en ek het saam met Johan van Heerden sy eenbedryf Tussen 2 treine opgevoer. Hy het my beïnvloed en laat besef dat prosa ook in teater omgesit kan word. As mens het ek ongelooflike respek vir hom gehad. As skrywer het hy deurgaans met my gepraat en ek is dol op sy werk. Sy vakmanskap is onberispelik. Daar is niks lukraak aan sy werk nie. Hy het gelukkig vir ons wat lief is vir die letterkunde, baie nagelaat om nog jare uit te put.”
  • Amanda Strydom (Die Burger, 22 Maart 2014): “Ek het Hennie Aucamp altyd meester genoem. Hy was my mentor, vriend, leermeester en ook ’n vaderfiguur. Ek beskou hom as die vader van die Afrikaanse literêre kabaret. Sy omgang met Afrikaans en die dekadente was fenomenaal. Dis hy way my inspireer om my loopbaan te volg. Hy het vir my gesê kabaret is my forte. En hy het my geïnspireer om self tekste en lirieke te skryf. Hy het vir my strukture gegee van hoe om te skryf. Ons was ywerige korrespondente voordat hy siek geword het. Hy het dapper probeer om vrede te maak met sy hand wat nie meer wou skryf nie. Ek hoor nog sy stem. Sy ouwêreldse mooi woorde wat hy vir ons nagelaat het, spook vandag by my.”
  • Lina Spies (Rapport, 25 Maart 2014): “My vriendskap met Hennie het in die Molenvliet (woonstel)-jare (op Stellenbosch) tot volle wasdom gekom. Dit strek van 1967 oor 47 jaar en verskillende tydperke. Ons het in ons vriendskap die onderling uitsluitende grense gerespekteer, daarom kon ons vriendskap oor byna ’n halfeeu strek. Soos vir baie was Hennie vir my ’n gewer en ’n mentor. Hy het my tot baie van beste gedigte geïnspireer, veral deur boeke en gesprekke oor visuele kunstenaars. (...) Vir so baie kan ek Hennie bedank. Ons vriendskap oorspan sy hele prosa-oeuvre: sy kortverhale en egodokumente. Nooit kan ek ons liefde vir Afrikaans vergeet nie. Nie net was sy prosa van die mooiste, lewenskragtigste, spankelendste en senistiefste in Afrikaans nie; hy het Afrikaans suiwer gepraat met die regte aksentuering en beklemtonings sonder dat dit ooit geaffekteerd aangedoen het. Pretensie was in elk geval lewensvreemd vir Hennie Aucamp. Hy het ’n onfeilbare sin gehad vir wat by ’n geleentheid pas. (...) Op Woensdagmiddag 5  Maart is my en Hennie se gebinde versamelings op ’n gesamentlike geselligheid in die universiteitsbiblioteek se dokumentesentrum aan ons oorhandig. Dit was iets waarna hy lank uitgesien het. Ek is dankbaar dat hy dit kon beleef, maar ook dat dit ons by mekaar uitgebring het deur wat ons oor soveel geseënde jare tot die Afrikaanse letterkunde kon  bydra en vir mekaar beteken het. Die sirkel is voltooi, rus sag, liewe Hennie.”
  • Rina, suster (in memoriam Die Burger): “My liewe broer, Hennie, Mafutha, Boetie. Ek dink voortdurend, sedert jou weggaan net aan ons kinderdae op Rust-mijn-ziel. Dankie vir die wonderlike en avontuurlustige speelmaat wat jy was. Die veld en grotte met boesmantekeninge, veral die Holkrans was ons heimat en woorde was maar altyd deel van ons – jy het hulle egter vervolmaak. Die aande saam met Pappie en Mammie om die koolstofie al lesend, elkeen met ’n leesbeurt. Lesse was daar ook – dat jy vir jou geld moet werk, soos die keer, toe ons ’n klein sprinkaanplaag vir pa moes help uitroei en ’n tiekie vir elke 100 sprinkane gekry het. Rus sag my broer tot ons weer ontmoet.”
  • Mari en Anneke (in memoriam Die Burger): “Ek en Anneke skater by ’n meer in Finland. Ons huil soos ons lag, want ons sê “Huppelkind” woord vir woord op, net soos op die plaat wat jy, “uncle”, kleintyd vir ons plaas toe, Oos-Kaap toe, gestuur het. Die wonderlike motor van Barnabas Bombas, vele boeke en ’n inskrywing op Die Jongspan het gevolg – ons was ekstaties! Jy het ons liefgemaak vir woorde en vir reis, en jy het ons laat verstaan dat ondervindinge jou rykdom is en die kunste elke dag jou geselskap. Tot verlede week, was jy deurgaans ons mentor en vriend en vrygewige oom. Dit sou selfsugtig wees om jou hier te wou hou; ons weet hoe swaar die laaste drie jaar vir jou was, maar soos alles wat jy aangepak het, was jou totsiens reg, net soos jy dit wou hê.”
  • Danie Botha (LitNet): “In Januarie, met Hennie se tagtigste verjaardag, kon ons hom loof vir sy uitgebreide, geskakeerde en voortreflike oeuvre, getuig hoe hy ons geïnspireer het, mentor was op verskeie lewensterreine. Het dit nou aan ’n einde gekom? In ander vorme sal dit voortbestaan. Vir my in sy boeke, in my argief en dan veral in my geheue. Dit blyk nou dat hy hom ‘liewer klaar(ge)maak (het) vir sterwe’ (NP Van Wyk Louw). Hy was haastig dat sy brieweboek, Mits dese wil ek vir jou sê, verlede jaar al verskyn by Hemel en See. Toe reeds het twee ander groot erudiete boeke by Protea Boekhuis verskyn: Lendetaal: homoërotiek in die kunste en letterkunde (2011) en Koffer in Berlyn (kabaret) (2013), asook ander publikasies. Seker so drie weke gelede was hy in groot afwagting om sy bundel kwatryne, Skulp, van sy redakteur by Protea, Martjie Bosman, te ontvang. Ek vertel hom dat ek ‘met boek’ is, dat dit moontlik in Augustus sal verskyn. Toe sê hy iets wat helaas waar geword het: ‘Ek sal dan nie meer hier wees nie.’”
  • Louise Viljoen (met Hennie se 80ste verjaardag in Januarie 2014; Die Burger, 20 Januarie 2014): “Hennie Aucamp se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde en geesteslewe kan nie maklik oorskat word nie. Vir my is die belangrikste kenmerk van sy werk die kombinasie van ’n spesifiek Suid-Afrikaanse sensibiliteit met ’n verfynde kosmopolitiese bewussyn. Dit het gesorg vir besonderse hoogtepunte in sy kortverhale, kabarettekste en poësie. Dit is ook deel van sy (outo-) biografiese tekste waaronder dagboeke, portrette van ander en briewe waarin hy die persoonlike kombineer met skerpsinnige kommentaar oor verskillende aspekte van die publieke lewe.”
  • Danie van Niekerk, hoof van Tafelberg-Uitgewers (1974 tot 1992) (met Hennie se 80ste verjaardag in Januarie 2014; Die Burger, 20 Januarie 2014) : “Om ’n manuskrip van Hennie Aucamp te kry, net die ontvangs daarvan, was telkens ’n belewenis, selfs nog voordat ek ’n woord gelees het. Netjies, ordelik, geen foute nie, keurig en in die mooiste handskrif, letterlik ’n manu scriptum, ’n met die hand geskrewe stuk. Daarby moet ek voeg: ’n Meer onderhoudende tafelgenoot kry ’n mens nie. As gebore leermeester en natuurlik skrywer delf Hennie in talle kennisvelde, en sy kennis dra hy terloops, interessant en geestig aan sy gespreksgenote oor.”
  • Helize van Vuuren (Beeld, 25 Maart 2014): “Aucamp se dood is ’n groot verlies – so ’n kennis van argaïese en vergete woorde, van inheemse kennis, so ’n fyn woordstilis, is enig in sy soort. Hy was tegelykertyd verfynde kunssinnige maar het ook die merktekens gedra van ’n feitlik uitgestorwe boereadel vir wie nederigheid, hartlikheid en mededeelsaamheid natuurlike kenmerke was. Iemand ook met ’n besondere humorsin, dikwels ontlok deur rare seggingswyses of menslike gedrag. In dié sin was hy draer van daardie ou tradisie wat via ’n vorige geslag skrywers soos MER, met haar tekenende nederigheid, en dr Con de Villiers, met sy kosmopolitiese kennis maar eenvoudige, streeksgewortelde Rûens-agtergrond, aan ons deurgegee is.

    “Ons treur oor ’n groot ou eik wat in die bos geval het. Maar gelukkig het ons die talle “werke van (sy) hande”, en soos Openbaring sê: “Salig is die dode (…) sodat hulle kan rus van hul arbeid…”.? In “Aandlied” (slotgedig in Teen die lig, 2012) beskryf Hennie Aucamp die dood as ’n bejaarde man-in-velkombers wat oor die bult aankom, en hoe hy moet ophou skryf om ete vir die laaste reis bymekaar te skraap:

    Dood kom oor die bulte,

    ’n ou man in ’n kros,
    en is hy in die leegte
    moet ek my pen laat los
    en eers ons padkos regkry
    – die ou sal honger wees, gewis –
    twee flessies duineheuning,
    ’n broodjie en ’n vis.

  • Leon van Nierop (Beeld, 26 Maart 2014): “Ek het as jong, ontvanklike student Hennie Aucamp se Want kyk, die bruidegom is hier in die Stellenbosse Klein Libertas-teater voorgedra en het, as blyke van waardering, die oorspronklike handgeskrewe manuskrip van hom ontvang met sy korreksies en paragrawe wat verskuif en oorgeskryf is. Ook, in sy kenmerkende mooi handskrif met ’n swart pen, ’n brief waarin hy my bedank het vir my interpretasie van sy werk. Ek het ook saam met ’n paar ander akteurs in dieselfde teater opgetree in Wolf, Wolf, hoe laat is dit en het jare later sy Die hartseerwals as TV-drama verwerk. In elke geval het Hennie vir my persoonlik geskryf om te bedank vir die baie klein bydrae wat ek gelewer het. Ek het gister weer deur daardie briewe en manuskripte, van die kosbaarste in my besit, gegaan en met groot waardering teruggedink aan ’n meester van die woord by wie ons almal net met ontsag kon leer. En by wie ons altyd van ons eie tekortkominge en onbekwaamheid as probeer-skrywers bewus geraak het. As mense my vra waar ek my mooi Afrikaans geleer het, is my antwoord onomwonde: Hennie Aucamp.”
    Ek sal nooit vergeet watter onwerklike invloed hy op my as student, skrywer en mens gemaak het nie.
  • Martie Preller (LitNet): “Die storiebok van skrywers en drome”

 

Publikasies:

Publikasie

Die poësie van Ernst van Heerden

Publikasiedatum

1959

ISBN

Geen

Uitgewer

Stellenbosch: HCL Aucamp

Literêre vorm

MA-tesis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Een somermiddag: landelike sketse en verhale

Publikasiedatum

1963

ISBN

Geen

Uitgewer

Pretoria: HAUM

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die hartseerwals: verhale en sketse

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1972
  • 1973
  • 1974
  • 1975
  • 1976
  • 1979
  • 1980
  • 1984
  • 1986
  • 1989

ISBN

0628000839 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Spitsuur

Publikasiedatum

  • 1967
  • 1973

ISBN

0869660721 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: John Malherbe

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Bruidsbed vir Tant Nonnie : Kortkuns

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1978

ISBN

0624012255 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Tafelbergprys 1970

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Baksel in die more: boerestories uit die Stormberge. Saam met Margaret Bakkes

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1976

ISBN

0624004368 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wolwedans: ’n soort revue

Publikasiedatum

1973

ISBN

0624004619 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kabaret

Pryse toegeken

WA Hofmeyrprys 1974

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dooierus

Publikasiedatum

1976

ISBN

0624008800 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die lewe is ’n grenshotel . Ryme vir pop en kabaret

Publikasiedatum

1977

ISBN

0624010651 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

  • Poësie
  • Kabaretteks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kort voor lank : Opstelle oor kortprosatekste

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1980

ISBN

0624010686 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kritiese opstelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Papawerwyn en ander verbeeldings vir die verhoog

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014533 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

ATKV-prys vir Drama 1980

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Volmink

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1987

ISBN

  • 0624016765 (hb)
  • 0624025675 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings
beskikbaar op die internet

 

Publikasie

House visits: a collection of short stories. Vertaal deur Ian Ferguson

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624018776 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die blou uur: 50 cocktail-kwatryne

Publikasiedatum

1984

ISBN

0624022544 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings
beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die blote storie : ’n Werkboek vir kortverhaalskrywers

Publikasiedatum

1986

ISBN

06240123559 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kritiese werk

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings
beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Slegs vir almal : ’n Kabaret oor selfsug

Publikasiedatum

1986

ISBN

1798621494 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kabaretteks en musiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Teen latenstyd: verdere lirieke 1980-1986

Publikasiedatum

1987

ISBN

0624025586 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dagblad

Publikasiedatum

1987

ISBN

07986229700798622970 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kritiese werk

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Punt in die wind: ’n komedie met drie bedrywe en ’n nadraai

Publikasiedatum

1989

ISBN

07986291180798629118 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings
beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brommer in die boord

Publikasiedatum

1990

ISBN

07981253060798125306 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dalk gaan niks verlore nie en ander tekste

Publikasiedatum

1992

ISBN

0624031357 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dubbeldop: kabarettekste en –opstelle

Publikasiedatum

1994

ISBN

07981330900798133090 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kabaretteks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die blote storie 2 : ’n Werkboek vir kortverhaalskrywers

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032787 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kritiese werk

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pluk die dag: aforismes en ander puntighede

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032639 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Spreuke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gekaapte tyd: ’n kladboek September 1994 – Maart 1995

Publikasiedatum

1996

ISBN

062403447X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Dagboek

Pryse toegeken

Recht Malan-prys 1997

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings
beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Allersiele: ’n dagboek Mei 1995 – Februarie 1996

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624035441 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Dagboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Koerier: 69 opdrag- en ander kwatryne

Publikasiedatum

1999

ISBN

07981389120798138912 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ook skaduwees laat spore: ’n keuse uit die populêre verhale van Hennie Aucamp

Publikasiedatum

2000

ISBN

0624038424 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In lande ver vandaan: China – Tibet – Nepal: ’n toerjoernaal

Publikasiedatum

2001

ISBN

07993286690799328669 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bly te kenne: ’n bundel portrette

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2003

ISBN

0624040453 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

  • Essays
  • Biografiese sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In die vroegte: herinneringe en refleksies

Publikasiedatum

2003

ISBN

062404159X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

  • Essays
  • Egodokumente

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dryfhout: 40 verse

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624043622 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vlamsalmander

Publikasiedatum

2008

ISBN

978189192464 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasie

Die huis van die digter en ander liefdesverhale

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781869193393 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Woerts in die hoekie: nuwe kinderverse

Publikasiedatum

2010

ISBN

9781869194697 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kinderverse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasie

Oor en weer

Publikasiedatum

2010

ISBN

9781869193386 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Onderhoude

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ghoera: Afrika-verse vir kinders

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781869194536 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kinderverse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasie

Lendetaal: homoërotiek in die kunste en in die letterkunde

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781869194628 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Homoërotiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasie

Teen die lig

Publikasiedatum

2012

ISBN

9781869197643 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasie

Koffer in Berlyn . Essays oor kabaret

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781869198305 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kabaret

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasie

Mits dese wil ek vir jou sê: Briewe van Hennie Aucamp . Saamgestel deur Petrovna Metelerkamp .

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780992174347 (sb)

Uitgewer

Hermanus: Hemel en See

Literêre vorm

Brieweboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skulp

Publikasiedatum

2014

ISBN

9781485300694 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kwatryne

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Hennie Aucamp as samesteller

Hennie Aucamp as redakteur

  • Op die Stormberge: ’n vertolking van ’n streek . Kaapstad: Tafelberg, 1971

Vertalings deur Hennie Aucamp

  • Schaefer, Jack: Ou Ramon. Kaapstad: John Malherbe, 1963

Artikels oor Hennie Aucamp beskikbaar op die internet

Gedigte deur Hennie Aucamp op die internet beskikbaar

Artikels deur Hennie Aucamp op die internet beskikbaar

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • Kannemeyer, JC: 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Deel II. Pretoria: Academica.
  • Van Coller, HP (red). 1998. Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. Pretoria: Van Schaik.

 • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-04-29
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top