Waarom ek Hennie Aucamp die Vervaldatum-skryfkompetisie laat wen het

  • 0

Die Suid-Afrikaanse film Skoonheid het my fisies naar gemaak. Die suksesvolle roman, Triomf, kon ek net halfpad lees. Die fotoboek, Platteland, se uitbeelding van wit Suid-Afrikaners het my die wetter in gemaak. Tog het ek eindelose respek vir die talent van regisseur Oliver Hermanus, skrywer Marlene van Niekerk en fotograaf Roger Ballen. Ek hou nie altyd van wat ek kyk of lees nie, maar ek onderskei tussen my eie smaak en ? (kuns-)werk wat meriete het.

Hoekom het ek ’n Ou man wat wou weet gekies as wenner? Dit was die beste inskrywing en het verdien om te wen. Dit was die kortste kortverhaal met die meeste om te sê. Dit het ? leeftyd se spyt en hartseer in ‘n paar kragtige sinne vasgevat. Nie een sin in die verhaal was oortollig nie. Die dubbelsinnigheid van die verhaal het al gelei tot vele interpretasies en vurige debat. Ja, die verhaal is eksplisiet, maar tog ook so intiem, so beautiful.

So, Hannes en Anna, as ek julle kommentaar reg lees lewer julle nie kommentaar op die struktuur van die verhaal nie. Julle vind nie fout met die meriete van die skryfstyl, die taalgebruik of die begin-middel-einde-resep nie. Julle ongelukkigheid wat uitspreek word as ‘sies’ en ‘onsmaaklike affêre’ is dus oor die onderwerp. Natuurlik het julle die reg om nie van die onderwerp te hou nie, en ook julle opinie daaroor in die publiek uit te spreek. Doen dit dan egter onder die vaandel van onderwerp/persoonlike voorkeur en vermy stellings dat sulke verhale Afrikaanse literatuur vervlak (Anna) en dat aspirantskrywers nie ‘n kans staan as hulle gemeet word teen verhale soos die nie (Hannes).

Aangesien julle beide deelgeneem het aan die kompetisie neem ek aan julle hou van lees, skryf en sal graag meer wil publiseer? As iemand wat nou net haar debuutroman gepubliseer het, kan ek uit ervaring sê enige Afrikaanse skrywer, aspirant, debuut of ou hand, het alle aanmoediging nodig. Dit is harde werk, jy maak nie geld daaruit nie en sommige kritici resenseer sommer tonele wat nie in jou boek is nie. Die laaste ding wat ‘n skrywer (en Afrikaanse literatuur) dus nodig het, is kritiek vanuit enige oord gebaseer op persoonlike voorkeure/vooroordele en nie op die meriete van die werk nie.

Reney Warrington

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top