Vervaldatum-kompetisie: ’n Ou man wat wou weet

  • 12

Nou is my kans, dink die ou man toe die doodsengel by hom opdaag. Want die ou man wou nog altyd geweet het. Sy boeke was so vaag of dubbelsinnig oor die saak. 

Sjoe, sê die engel, die lugverkeer raak deesdae iets ysliks. Hy gaan sit langs die sterfbed presies soos ’n algemene praktisyn. Wat minder algemeen aandoen, is die manier waarop hy sy engelkleed tot bokant sy boude en knieë optrek voor hy gaan sit.

Wat ek wou weet, sê die ou man.

Maar vir die engel is ’n halwe woord genoeg. Hy neem die ou man se ontvleesde hand in syne en lei dit versigtig by sy vlerk verby onder sy kleed in.

Voel só, sê die engel, en buig die ou man se hand om sy steierende lul. Tevrede?

Die ou man sug.

Waar was jy my hele bestaan, vra hy verwytend.

Ek het geduldig gewag, lieg die engel vlot, jy het net verkeerd gesoek. Daardie motorfiets op die straathoek: hoekom het jy paniekerig geword?

Die ou man probeer orent kom.

Was dit dan jy? Met die prent op jou leerbaadjie?

Rustig nou, sê die engel, rustig. Hy plaas sy kragtige hand op die magtelose hand van die ou man. Op en af, op en af, in dieselfde kadens, beweeg hul hande om ’n pilaar van vlees en bloed.

’n Kreun en ’n snik en alles is verby.

Die engel vee hom af aan die ou man se beddegoed en kyk op sy Omega.

Oeps, sê hy, byna tyd vir my volgende afspraak.

  • 12

Kommentaar

  • My regte naam is Anna Ahllers van Oos-Londen en ek sê:

    SIES!!!

    Ek ken vir Aucamp, maar ek het darem nie gedink so 'n vieslike storie sou op LitNet WEN nie!  Dit maak my sommer woedend wanneer Afrikaanse literatuur so vervlak word net om reaksie te kry.  Sies, ek voel sommer vuil net omdat ek dit gelees het.  Sulke goed HOORT NIE op publieke  vertoon nie - as Aucamp - of enigiemand anders - sò wil skryf, gaan doen dit op HygNet of ander pronografiese plekke.  GA!!!!

  • Ek het ook deelgeneem aan die Vervaldatumkompetisie en het uit die aard van die saak al die inskrywings gelees om 'n gevoel te kry van waar myne min of meer inpas. Toe iemand my vertel dat Aucamp een van die wenners is, was ek nie verbaas nie want ek het verwag dit sou Die vrou op die Eiland wees. Groot was my ontsteltenis toe ek die teendeel uitvind. Een ding wat hierdie onsmaaklike affere my wel geleer het is dat ek (en sekerlik die meeste aspirantskrywers in hierdie land) se Vervaldatum bereik is; ons mors maar net ons tyd as hierdie die kriteria is waarteen ons gemeet word. Dankie Meneer Aucamp, en die LitNet-paneel, dat julle my oge oopgemaak het. Hannes Steyn

  • Avatar
    Bibi Slippers

    Hallo Anna en Hannes

    My regte naam is Bibi Slippers en ek is die redakteur van hierdie afdeling op LitNet.  Ek skryf egter hier in my eie hoedanigheid, as 'n leser en as 'n aspirantskrywer, en my mening is nie 'n amptelike LitNet-mening nie - ek reageer omdat ek dink julle reaksies vra kommentaar uit 'n ander hoek.

    Anna, ek dink glad nie "Die ou man wat wou weet" is 'n vieslike storie, soos jy dit noem nie.  Ek dink dit is 'n baie terurige klein verhaaltjie, en presies in die gees van die kompetisie. Ek lees hier 'n verhaal van seksuele ontwaking (of eerder die erkenning van 'n spesifieke seksualiteit) wat te laat in iemand se lewe gebeur ... en ek vermoed dis die ware verhaal van baie mense se lewens. Ek dink nie 'n mens moet te letterlik aan die verhaal lees nie - maar indien jy jou oopstel en jou vooroordele vir 'n paar minute agter jou laat, sal die verhaal jou dalk ook aanraak. Miskien ook nie, en dit is nou maar eenmaal so: smaak bly subjektief en (gelukkig!) hou almal nie van dieselfde tipes stories/kuns/films/sjokolade nie.  Hier was die beoordelaar een leser met een stel smake en voorkeure.  Reney het haar keuse gemaak en ek dink ons moet dit respekteer. (Hierdie is natuurlik ook nie die enigste wenner in die kompetisie nie ... Riekus van der Westhuizen is 'n aspirant-skrywer wat 'n heeltemal ander tipe verhaal as Hennie geskryf het, en dit is as die tweede wenner aangewys.)

    Wat my hartseer maak van jou betoog is dat dit sensuur wil toepas op die temas waaroor skrywers mag skryf. Ek dink dit is eerder hierdie tipe houding wat ons letterkunde vervlak, en nie anders om nie. Volgens my is dit juis een van die verantwoordelikhede van skrywers om daardie grys areas te ondersoek wat moeilik is om gewoon te verduidelik, waaroor daar dikwels nie gepraat word nie weens allerhande stigmas en wat vir baie mense baie pyn veroorsaak. Om verhale te beoordeel (en te veroordeel) bloot op die onderwerpe of temas wat in die skryfwerk aangeraak word, plaas ons maklik 50 terug in die verlede. Dit is erg genoeg dat hierdie tipe houding nou weer begin kop uitsteek onder ons regering ... dat dit ook uit die geledere van aspirant-skrywers kom maak my baie benoud.

    Hannes, ek is bly om te hoor dat jy van die ander verhaal (" 'n Vrou op 'n eiland") gehou het en dat jy die kwaliteit van die skryfwerk kon raaksien. As jy die beoordelaar was was daar sekerlik ander wenners en ek respekteer dit en waardeer dit. Ek dink egter nie dis regverdig om hierdie verhaal af te skryf bloot omdat die inhoud jou nie aanstaan nie. Die kwaliteit van die skryfwerk hier is volgens my steeds heelwat hoe"r as meeste van die ander inskrywings, maar dit is te verstane: Aucamp is immers 'n ou hand wat sy storie baie goed ken. Juis daarom het ons ook 'n wenner uit die groep aspirant-skrywers gekies, en jy sou jou eie verhaal dus eerder met "my Engel" kon vergelyk om te sien waarteen jy gemeet is. Ek beklemtoon weer dat skryfkompetisies maar altyd 'n tammeletjie is omdat 15 verskillende beoordelaar waarskynlik 15 verskillende wenners sou kon aanwys. Maar ek dink nie daar steek waarheid in jou stelling dat aspirant-skrywers in SA se vervaldatum bereik is nie. Briljante skrywers soos Nicole Strauss en SJ Naude wat albei die kortverhaal beoefen is bekroon vir hul debuutwerke.

    Om te groei as skrywer moet mens ook bereid wees om te groei as leser. Om te groei as leser moet mens bereid wees om verby jou vooropgestelde idees te lees en dieper as die oppervlak van 'n verhaal te kyk.

    Ek hoop dat beide van julle sal aanhou skryf en aanhou lees, selfs as julle nie van elke verhaal hou wat hier verskyn nie.

    Lank lewe diversiteit, vryheid van spraak en ernstig gesprekke oor skryfkuns. En mag die doodsengel eers by almal verby hou wat nog iets het wat hulle altyd wou ervaar maar om een of ander rede gevrees het.

    Groete
    Bibi 

  • Hallo Bibi, Ek wil verhinder dat hierdie in 'n debat ontwikkel maar sal graag wil reageer op jou skrywe.Ek het 'n probleem met jou stelling aan Anna waar die 'regering' sommer uit die bloute ingebring word bloot (lyk dit vir my) om Anna se gevoelens onder 'n wadem van negatiewe politiek te verdun. Ongevraagd sou ek se maar nou ja, dis my reaksie. 

    Ek wil net graag verskoning aan mede-aspirantskrywers maak deur na hulle te verwys het; dit was simpel van my. Ek het my rede verstrek hoekom ek AL die verhale gelees het, verduidelik en het absoluut geen begeerte om ooit weer soortgelyke verhale te lees nie. As 'n individu met my eie norme (en dit het niks met christelike oortuigings te doen nie) sal ek my nie laat oorreed met stellings soos 'Om te groei as leser moet mens bereid wees om verby jou vooropgestelde idees te lees' 

    En ja, Riekus se verhaal was puik en verdien 2de plek-net na die Vrou op die Eiland!
  • Baie dankie vir almal se kommentaar, julle het 'n lekker gesprek aan die gang gesit. Ons hoor dat daar mense is wat meen hierdie is nie die storie wat hulle wil hê moes wen nie. Vertel vir ons wanneer kwalifiseer 'n storie wél in julle opinie as 'n goeie storie. Of skryf self vir ons 'n skrywe en ek plaas dit as brief. Julle kan 'n CD wen daarby. Nou dis wat ek 'n lekker stukkie skryfwerk noem ... Groete, Naomi Meyer, LitNet inhoudsbestuurder

  • Avatar
    soekende wese

    Ek voel verplig om aan te haal uit 'n onlangse ontwaking "Klap"

    strofe 1 & 2 Lui as volg:
     
    skeur vuishou deur leuen-lip
    onaanvaarbaar buite-boks begrip
    konserwatief vlug-veilig na fout bekend
    alom beperk; kop by kop, ent by ent
     
    Reelmaat nader jou einde eentoon
    herhaal gramefoon onder denk' kloon
    en Leë-blik bulder hul een-dimensioneel
    oor ons wat lekker nuut-spel speel
  • Liewe Bibi,

    My betoog is glad nie bedoel om sensuur toe te pas nie - hemele behoed!!! Waarteen ek dit wel het is die blatante kruheid van hedendaagse skrywers/digters/sangers/toneel om reaksie uit te lok:  Om die volgende ou ene voor te wees en so aandag te trek.  Mens sien en hoor dit heeldag om jou en dit wil voorkom asof  hierdie onbeskaafdheid die norm word. 

    Die 'treurige klein verhaaltjie' soos jy dit noem klink vir my eerder na die vergrype van 'n spulse ou engel wat mense se swakhede misbruik vir sy eie genot.  Deur sy optrede GEBRUIK hy net die ou man en die ou man gaan steeds gefrustreerd die ewigheid in.  Vir hom was daar geen sekerheid of openbaring nie, net 'n snik en die engel kry die room.  Wat wou die ou man weet?  Of dit in die haak is om te masturbeer; of gay te wees?    

    Om die kruheid en selfsug van die engel nog verder te onderstreep, wys hy sy minagting vir die ou man se soeke en hartseer deur die ou man se beddegoed te bemors!

    Bibi, skrywers en diesulkes, kan enige onderwerp takel;  enige styl, maar nooit kan hulle hul sienswyses op ander afforseer nie.  En, jammer mense; maar myns insiens het Hennie Aucamp liederlik in hierdie skeppingspoging gefaal!

    Ek stel voor dat skryfkompetisies voortaan anoniem beoordeel word;  dan sal ons sien of die 'ou hande' regtig hul 'storie so goed ken'!!

    Dankie Hannes, Naomi en Soekende Wese vir jul kommentaar.  Lekker skryf - ons KAN tog nie ophou nie!!!!!!!!!!!!

  • Jong ja, kyk ek is vreeslik chuffed met my wen (of nie dan nou) in hierdie kompetisie. Vir my om as groentjie nou 'n ou hand in die bedryf te gaan afskiet in vlamme, sal seker literêre selfmoord wees. Ek moet noem dat tannie Anna se vervaldatumstorie vir my die wenner was. Respek.

     

    Nou, ek kan seker nie op die draad sit nie. Ek kan Hennie Aucamp se storie net een kompliment gee ... dit was wragtag anders. Dis dit! Ek is 'n realis. Ek skryf wat ek verstaan. Ek lees wat ek verstaan. Een dimensioneel? Dalk ja, maar ek ken stront en ek ken modder en ek klassifiseer Hennie se storie nie onder tjoklits nie. Ons Suid-Afrikaners val al jare in dieselfde strik. As jy nie kan oordonder met fancy woorde wat niemand uit die blokke en sonder 'n verklarende woordeboek kan verstaan nie, klap jou gehoor oophand met iets wat skok. My rolmodel, Deon Meyer, het ek gehoop verander hierdie sienswyse. Daar is 'n man wat KAN skryf.

     

    Bibi se antwoord hier bo laat my besef dat ek natuurlik miljoene mense slimmer as ek in my eendimensionele ou hokkie wil indruk. Ek stem heelhartig saam met Hannes se sienswyse hier bo ook. Lang storie kort, Hennie se storie klap dalk 'n paar breinselle raak, maar dit is nie 'n wenner nie. Daarvoor was sy teiken gehoor heeltemal te verdeeld.   

  • Avatar
    Johann P. Boshoff

    Hennie Aucamp hou mense steeds aan die praat, wonder en gis.  Een ongelukkige ding wat in die kommentaar op sy verhaal uitkom, Bibi, is dat daar slegs een beoordelaar was.  Foutjie, nè?  ’n Paneel van minstens 3, 5, 7 (enige ander ongelyke getal as 1) sou ’n meer gebalanseerde – want kollektief minder subjektiewe – uitslag opgelewer het.  Wat Aucamp se skryfsel betref – dis nie in alle opsigte "vintage" Aucamp nie.  Dit sê ek as letterkundige.  Lieflike groete. Johann

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top