’n Vreemdeling op deurtog wys opnuut hoe Aucamp van Afrikaans ’n instrument met uitgebreide register maak

  • 0

Titel: 'n Vreemdeling op deurtog
Outeur: Hennie Aucamp
Uitgewer: Protea Boekehuis
ISBN: 9781869192020
Publikasiedatum: November 2007
Formaat: Sagteband
Aantal bladsye: 136

Klik op die boek se omslag om jou kopie by kalahari.net te bestel.

Lesers van die Afrikaanse letterkunde ken Hennie Aucamp as ’n uitsonderlik veelsydige skrywer wat met gemak tussen genres beweeg. Met ’n Vreemdeling op deurtog, wat vroeër vanjaar by Protea Boekhuis verskyn het, is hy terug by die genre waarmee hy sy skrywersloopbaan begin het, naamlik die kortverhaal. Na die verskyning van sy vorige kortverhaalbundel, Gewis is alles net ’n grap, in 1995 het die aksent in sy oeuvre verskuif in die rigting van bloemlesings, (outo-)biografiese tekste en die poësie. Met die verskyning van hierdie versameling lyk dit asof die kortverhaal weer die middelpuntsoekende krag in Aucamp se oeuvre is wat elemente uit verskillende van die ander genres wat hy al beoefen het (soos die kabaret, die poësie, die literêre essay, die outobiografiese vertelling) aantrek en opneem. Naas kortverhale in die "gewone" sin van die woord bevat hierdie versameling byvoorbeeld ook tekste wat beweeg in die rigting van akademiese besinnings oor kunsvorme, outobiografiese en biografiese nabetragtings, meditasies oor die aard van die lewe en selfs ’n gedig.

Sommige van die tekste in die versameling vertel doodgewoon ’n intrigerende storie, soos byvoorbeeld “Die onwillige Samaritaan”, “Padhipnose”, “Die klopgees” en “Oorskiet op die drumpel”. In “Padhipnose” het die verteller se besluit om doelbewus ’n verdagte ryloper op te laai, ’n grieselrige en bonatuurlike afloop. “Die klopgees” steek op selfs meer besliste wyse die grens tussen die reële en die bonatuurlike oor wanneer dit lyk asof iemand wat selfmoord gepleeg het, terugkeer om troos te gee of te soek by een van die verhaalkarakters. In beide hierdie gevalle suggereer Aucamp die moontlikheid dat die bonatuurlike gebeure se oorsprong in ’n oorspanne of versteurde psige mag lê.

By geleentheid word die verhaalgebeure ’n manier om bepaalde vraagstukke oor die kuns uit te werk, soos in die geval van “Die Wunderkind en Madame Clara”, “Life is a cabaret, old chum” en “Die manlike musiek van rots en see”. Aucamp se deurlopende bemoeienis met die verhouding tussen mentor en leerling, tussen meesterlike voorganger en geniale opvolger kom byvoorbeeld ter sprake in eersgenoemde verhaal, waarin ? jong pianis die geleentheid kry om vir Clara Schumann te speel en vir die res van haar kunstenaarslewe teer op die oomblik. Sy belangstelling in die Weimar-periode maak weer deel uit van “Life is a cabaret, old chum”, waarin die verteller in Johannesburg vir Madame Zichy ontmoet wat in haar jongdae figure soos George Grosz, Otto Dix en Bertolt Brecht geken het. Kunstenaarsvoorstelling en werklikheid dring mekaar wedersyds binne wanneer sy eie ervaring in ’n klub waar ’n manlike arties met ’n luislang dans, begin lyk asof dit uit die Weimar-periode sou kon kom en Madame Zichy se gesig in sy geheue vervang word met dié op ’n Otto Dix-tekening.

Sommige verhale het ’n meer openlik besinnende inslag. In “Soos lakens op die bleik” word daar vertel van ’n reis waartydens daar navorsing gedoen word oor die literêre kabaret en word akademiese verslag, reisindrukke en outobiografiese waarnemings versny om ’n geheel te vorm. In ander verhale volg die besinning weer die spoor van ’n bepaalde tema in ’n collage van tekste, wat uit die literatuur, visuele kunste, films en geskiedenis kom. In “Blinde vensters, blinde spieëls” is die leitmotief byvoorbeeld die simbiotiese naasmekaarbestaan van “die onmooie en skone”. In “Die ander hand” ondersoek die teks weer die tema van die kunstenaar wat op heroïese wyse besering, beroerte of amputasie oorkom om voort te gaan met sy loopbaan aan die hand van die enkelhandige pianis Paul Wittgenstein se lewensverhaal.

Omdat hierdie tekste dikwels op ander teer, het hulle ook die potensiaal om te lei tot nuwe tekste of ander kunsvorme. As voorbeeld hiervan kan ’n mens verwys na die verhaal “Middelpos”, waar die skrywer se eie ervaring van hierdie Karoo-nedersetting verbind word met ’n besinning oor romans van Anna M Louw en Antony Sher wat ook daar afspeel. Eie ervaring, besinning en fiksie vermeng met mekaar wanneer Aucamp ’n toneel versin waarin die Calvinistiese Afrikanervrou Anna Louw in gesprek tree met die Joodse Antony Sher. Ten slotte word die teks deur Aucamp “aangegee” na ’n volgende skrywer wanneer hy wonder of Fugard nie ’n drama sou kon maak van sy gegewe nie.

Aucamp se aangetrokkenheid tot kunsrigtings soos die Estetisisme en Dekadentisme, wat meen dat die skoonheid ook gevind kan word in die grillige, perverse of makabere, is deurgaans in die versameling merkbaar, maar kan veral goed geïllustreer word aan die verhaal “Bengelende pype”. Die verhaal begin met die beeld van twee ouer mans wat in ’n gay-klub oor die musiek van die Tweede Weense Skool sit en gesels voor ’n televisiestel waarop daar pornografie vertoon word. Die subtiliteit waarmee die skakels tussen elemente soos die swart roos, die blouswart voet en die swart pop gekombineer word met die verhaal se fokus op die hallusinasies wat siekte en pyn veroorsaak, is ’n goeie voorbeeld van die wyse waarop Aucamp aansluit by bogenoemde tradisie se geraffineerde opvattings van skoonheid.

Ten spyte van die feit dat hierdie versameling tekste van uiteenlopende aard bevat, is daar ook aanduidings dat die geheel sorgvuldig "saamgedink" is. Dit blyk byvoorbeeld uit die wyse waarop die titelmotief van die “vreemdeling op deurtog” die begin- en slot-gedeeltes van die bundel na mekaar toe buig. Dit kom vir die eerste keer voor in die tweede verhaal in die bundel, waar die frase “’n vreemdeling op deurtog” die towerformule is waarmee ’n jong seun wat saam met sy weduwee-moeder van een dorp na ’n ander trek, toegang verkry tot die geselskap van vreemdes. Saam met die formule vertel hy by geleentheid ook stories om homself aanvaar te kry in sy nuwe omgewings: “Ek storie my in situasies in en weer daaruit; meestal sonder skade en skande,” sê die jong seun. In hierdie verhaal vertel hy as volwassene van een van hierdie geleenthede, waarby hy twee broers en hulle suster ontmoet het. Die motief van die “vreemdeling op deurtog” word in hierdie verhaal neergelê as ’n matrys vir heelwat van die ander vertellers in die bundel: hulle deel die vreemdelingskap van die waarnemersposisie, is dikwels op deurtogte of reise wat belangrike insigte oplewer, en is voortdurend op soek na begrip vir die vreemdelingskap van die self sowel as ander.

Hierdie tema word weer opgeneem in een van die verhale naby die einde van die versameling, waar dit verbind word met die Stormbergse wêreld waar Aucamp grootgeword het en waaroor hy dikwels skryf. “Neem dié beker, drink dié bloed” handel oor ’n man en vrou wat deur die land swerf, gedrewe deur hulle skuldgevoel oor ’n liefdesmoord. Die verteller het die verhaal gehoor by sy Stormbergse ouma en voel dat hy heelwat geleer het omtrent Boeremense uit hulle reaksie op hierdie swerwerspaar: volgens hom het hulle die man en vrou sonder afgryse, leedvermaak of minagting ontvang omdat hulle as “vreemdelinge in hul poorte” ’n beeld was van die “vreemdeling in eie hart”. Hierdie slot sinspeel ook op die wyse waarop die swerwende vertellers van Aucamp se bundel ten slotte terugkeer na, en "ontvang" word deur, die mense en wêreld waaruit hy self stam.

Naas hierdie afbind van die bundel se titelmotief word daar met die verloop van die bundel steeds meer gefokus op afsluiting en op sterwe, op die “deurtog” wat uiteindelik “oortog” moet word. Die motto van die bundel, wat gehaal word by John Banville, berei ’n mens hierop voor: “Perhaps all of life is no more than a long preparation of the leaving of it.” Dit is veral in die laaste verhale “Die troos van laaste testamente” en “Oorskiet op die drumpel” dat daar gefokus word op sterwe, op sterwensbegeleiding en rouberaad voordat die gedig oor New Orleans waarmee die bundel afsluit, “Blues vir ’n verdronke stad”, die moontlikheid van herlewing in die vooruitsig stel.

Antjie Krog het by geleentheid gesê dat ’n skrywer wat in sy of haar moedertaal skryf, ’n orrel bespeel, terwyl die een wat in ’n tweede taal skryf, tevrede moet wees met ’n popklaviertjie. By die lees van hierdie bundel besef die leser dat Aucamp inderdaad van sy moedertaal ’n instrument met ’n uitgebreide register gemaak het. Dit word onder andere bevestig deur die omvang van die woordeskat wat hy gebruik. Vir ? verhaal soos “Die Wunderkind en Madame Clara”, wat afspeel in die laat negentiende eeu, herroep hy argaïese woorde soos “sagryn” en “bombasyn”; vir die gesprekke tussen Erwee en Miss de Wee in “Die klopgees” gebruik hy ’n praat-Afrikaans met allerlei sleng-woorde; en vir besinnende verhale soos “Soos lakens op die bleik” ’n Afrikaans wat ál die nuanses van gesofistikeerde kultuurverskynsels kan oordra. Daar is ook mooi nuutskeppings soos “Veldschmerz” vir ’n Londenaar se verlange na die veld wat hy as kind in Suid-Afrika het leer ken het.

Met hierdie versameling bewys Aucamp nogmaals sy meesterskap in die genre van die kortverhaal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top