Die waarheid is 'n konsentraat

  • 0

To quote a queer: a compendium of wit, wisdom, and devastating remarks
John Lessard (red)
Sagteband
479 bladsye
Philadelphia: Quirk Books
ISBN: 978-1-59474-223-1

Klik op die omslag van die boek om jou kopie by kalahari.net te bestel.

'n Bloemlesing met lewensbeskoulike uitsprake en aforismes kan die leser maklik oorrompel as hy nie 'n leesstrategie het nie. Hierdie leser lees net 'n paar bladsye op 'n slag, potlood in die hand. Wanneer hy klaar is met 'n dergelike kompendium, begin hy die aangestreepte uitsprake sif, en dra die bruikbaarstes oor na sy dagboek of sy molvel-aantekeningboek.

Die woord bruikbaarste hier bo is nie onnadenkend gekies nie. Aforisme-boeke ís nutsboeke, en talle uitsprake word gou deel van 'n leser se lewens- en wêreldbeskouing. Wat To quote a queer leservriendelik maak, is dat uitsprake na tema aangebied word. Hier volg enkele rubriektitels:

• Age and aging
• Crime
• Art and Artists
• Feelings
• Gender bending
• Outsiders.

Ongelukkig het To quote a queer nie 'n register nie, iets wat nagenoeg onontbeerlik is by 'n boek van dié aard.

To quote a queer is 'n mooi allitererende titel, maar dit kan verkeerde persepsies by die publiek skep. Hierdie leser wil dit nadruklik stel dat die boek nie 'n glam-and-glitter-kavalkade of fratssirkus is nie. Dit stel die menings van vooraanstaande denkers, skrywers, politici, sportlui en ander, en sekerlik kry gay-aangeleenthede soos gayhuwelike, gaypolitiek en transgenderisme gehalte-aandag, maar To quote a queer is in die eerste plek 'n verkenning van die algemeen menslike kondisie, en die meeste uitsprake is net so wys en gekonsentreerd as dié in enige ander aforisme-boek. Dit kan 'n mens dan ook verwag, met deurlugtige seniors soos Plato (427-347 vC) en Michelangelo Buonarroti (1475-1564) as eregaste.

Die besadigde wyshede van Michelangelo bly 'n mens by, waarskynlik omdat hulle so eenvoudig is. Ek haal een uitspraak aan, omdat daar 'n interessante storie daaraan geheg kan word:

When one has a good reputation, one shouldn't tempt fortune; it is better to be silent than to fall from a height.

Dit het naamlik gebeur dat Michelangelo se waaksaamheid 'n keer verslap het. Op ouderdom 66 het hy 'n jong vriendjie gehad, 13 jaar oud, genaamd Francesco (Cecohino) de Zanobi Bracci. Cecohino is nog vóór sy veertiende jaar oorlede, oorsaak van dood onbekend, en Michelangelo het 'n tombe vir sy vriend ontwerp met dié grafskrif:

Buried here is that Bracccio with whose face
God wishes to correct Nature.

'n Jaar lank het Michelangelo vierreëlige grafskrifte vir Cecohino geskryf. Een van die digste kwatryne, geskryf vanuit die perspektief van die oorledene, laat geen twyfel oor die homoërotiese inslag van die vriendskap tussen Michelangelo en Cecohino nie:

I was only alive; but dead, I grew
Dearer to him who lost me when I died.
He loves me more than when I lay beside him;
Then good is death if love, for it, grows too.

Cecohino se oom Luigi het Michelangelo ryklik beloon met kosgeskenke soos forel, vyebrood en tortelduif, maar toe Luigi die vyftigtal kwatryne aan Cecohino wou publiseer, het Michelangelo gepleit dat hy dit nie doen nie, want dié publikasie sou 'n openbare skandaal ontketen het. Luigi het toegegee, maar dit was die einde van sy vriendskap met Michelangelo.

My uitgebreide staaltjie omtrent Michelangelo wil ook iets anders demonstreer, en dit is dat aforismes 'n vorm van egodokumentasie kan wees, verwant aan die memoir en die outobiografie. Al wat by die aforisme gebeur, is dat die werklikheid en waarheid van 'n lewe ingeëng word tot 'n gekonsentreerde reël.

Die leser van To quote a queer hoef nie bevrees te wees dat hy die heeltyd in die geselskap van groot geeste uit die verlede gaan wees nie. Dié bloemlesing is baie eietyds en laat ruim speling vir die meningsbepalers van nou: Almodovar, Martina Navratilova, Billie Jean King, Elton John, Boy George, Alan Cumming, Jeanette Winterson, Stephen Sondheim, Keith Haring, Franco Zeffirelli, Edward Albee, KD Lang, Andrew Holleran, David Hockney en Gore Vidal, om net enkele name te noem.

Dis verblydend dat Susan Sontag en Camille Paglia goed verteenwoordig word, en veral Sontag, omdat beide die gaykwessies van die oomblik aanspreek. Sontag se seminale essay "Notes on Camp" word nog altyd aangehaal, asook AIDS and Its Metaphors.

Baie van die uitsprake in To quote a queer klink anargisties, en ís dit soms ook, wat in orde is, want die buiteblad beloof immers "devastating remarks". Arthur Rimbaud (1854-1891) sê byvoorbeeld: "Morality is a weakness of the brain"; en Camille Paglia (1947-) verklaar: "I don't seek sanitization and normalization: I stand with the prostitutes, boy lovers, drag queens, and transgendered." En Nijinsky het in sy dagboek geskryf: "Intelligence prevents people from developing."

Talle van die bydraers tot die boek is radikale denkers, Susan Sontag vooraan, met boeke soos Death Kit en Against Interpretation, wat in die teken van neoradikalisme staan. In 1969 verskyn Sontag se tweede bundel essays, Styles of Radical Will. Dit is natuurlik belangrik om te onthou dat radikaal na wortel verwys: "van die wortel af, grondig, geheel en al".

Laat radikale denke speling vir "Camp"?

Beslis; dink maar aan "Notes on Camp" van Susan Sontag wat aforistiese uitsprake van Oscar Wilde as steunpunte gebruik in haar betoog.

Ook van Oscar Wilde is daar spitsvondige wyshede in hierdie boek. (Nie alle spitsvondighede is noodwendig ingebed in wysheid nie.) Oor mode het hy onder meer gesê: "If I am occasionally a little overdressed, I make up for it by being always immensely overeducated."

Elke leser van 'n bloemlesing bring sy eie behoeftes na 'n kompendium. Hierdie leser is uiteraard geïnteresseerd in uitsprake oor die skryfkuns. Ek is byvoorbeeld hoogs geïrriteerd wanneer swak poësie met prosa vergelyk word. Goeie prosa het net soveel interne spanning as poësie, en daarom sekondeer ek die volgende uitspraak van die Amerikaanse skryfster Dorothy Allison: "You have to write a lof of bad poetry to get a good line of prose."

Wat die Amerikaanse skrywer en komponis Stephen Sondheim oor tegniek sê, lê my ook ná aan die hart: "Without craft, I think art is nonsense - it's a sort of masturbation. Whereas, with craft, it's a form of teaching."

John Lessard, die samesteller van To quote a queer, het talle byna vergete gays, lesbiërs en biseksueel-georiënteerdes teruggebring na die kraal, soos Djuna Barnes (1892-1982), 'n Amerikaanse skryfster wat die hoofse Parys van voor die Tweede Wêreldoorlog intiem geken het, en byvoorbeeld gesê het: "Paris gave everyone permission to get a character." Barnes kan haar plek met grasie en styl inneem langs Sontag en Paglia. Ook was Lessard besonder gulhartig teenoor Hart Crane, 'n klassieke "verdoemde digter" wat uiteindelik selfmoord gepleeg het.

Daar is egter ook onverklaarbare weglatings. Michelangelo is goed verteenwoordig, maar waar is Leonardo da Vinci wat soveel wonderlike dinge in sy aantekeninge gesê het, soos byvoorbeeld: "Groot liefde vir 'n onderwerp word gebore uit groot kennis van die onderwerp" (na gedagte aangehaal)?

En waar is Willa Cather en Ned Rorem? Daar sou 'n hele boek gevul kon word met die aforismes van Rorem, die gevierde Amerikaanse komponis, dagboekskrywer en essayis.

Teleurstellings is daar ook; in die besonder Federico Garcia Lorca (1898-1936). Soms slaag een van sy aforismes, soos byvoorbeeld die volgende: "Spain is the only country where death is the national spectacle." Maar dit lyk nie of die Iberiese temperament hom leen tot gekonsentreerde wyshede nie, en waar dit om ouderdom handel, is Lorca harteloos en wreed: "I cannot stand old people. It is not that I hate them or fear them; they just make me uneasy. I cannot talk to them ..."

To quote a queer bring "geselschap goed ende fijn", urbaan, gevat, soms snaaks, dikwels diepsinnig, maar altyd prikkelend.

Moet 'n mens ál die aforismes in To quote a queer ewe ernstig bejeën? Natuurlik nie, en daarom sluit ek af met 'n uitspraak van Djuna Barnes:

"Do not put too much value on the words of the dying - they also lie."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top