’n Vonds: Hennie Aucamp skryf oor die Visrivier-canyon

  • 2

Foto verskaf

Heinrich Matthee skryf:

In die 1970’s het lede van die Universiteit Stellenbosch se Berg- en Toerklub (BTK) periodiek in die Visrivier-canyon of Sederberge gaan stap. Die toerleier van die groepe van mans en vrouens was meermale CA (Tjaain) Smith van die Departement Rekeningkunde.

My pa, Johan Matthee, was een van Smith se kollegas en ’n BTK-lid. Hulle het toevallig beide destyds ook ’n rol gespeel om Afrikaans se posisie in die ekonomiese en bestuurswetenskappe te handhaaf en te bou. My pa is in Julie 2018 oorlede.

Onlangs het ek deur sy dokumente gegaan en onder meer ’n getikte nuusbrief van die BTK gevind. Dit is ongedateer en vergeel. Die eerste deel, getiteld “Visrivier Canyons”, is ’n humoristiese oorsig oor ’n week lange staptog. My pa, Tjaain Smith en etlike ander mans en vrouens het aan daardie tog deelgeneem.

Foto verskaf

Hennie Aucamp, die stilis uit die Stormberge, was destyds ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het dieselfde staptog meegemaak en verskyn ook op die enkele groepfoto’s. Die tweede deel van die nuusbrief verskyn onder Hennie Aucamp se naam. Die titel daarvan is “Klippe en sand: Enkele herinnerings aan die Visrivierafgronde”.

Dit lyk asof “Klippe en sand” nie voorheen gepubliseer is nie. Die digter Johann de Lange, die eksekuteur van Aucamp se literêre erfenis, het toestemming gegee dat dit eenmalig op LitNet gepubliseer word. Die ou BTK-nuusbrief sal aan die Universiteit Stellenbosch geskenk word. Die universiteit bewaar reeds ’n versameling briewe van Hennie Aucamp.

Foto: verskaf

Klippe en sand: Enkele herinnerings aan die Visrivierafgronde

…’n wond in die aarde…

– Olga Levinson

Voorwaar geen maklike skoonheid, niks fyns en vrouliks daarin nie, net ru en groot soos Afrika maar is.

– WA de Klerk

As jy aan ruimtevrees ly, is die
Canyon geen plek vir jou nie.
Die plek is songebak en
Demonies. Dis die Natuur wat
’n spier saambol.

– Jon Manchip White

By Ai-Ais kom gesels oom De Waal by ’n klompie van ons.

“Van Stellenbosch, nè?” Hy kyk ons aandagtig deur, soos ’n boer wat sy vee inspekteer. “En julle gaan deur die Canyon stap?” Hy dink skielik aan sy knieë; loer misprysend oor die rand van sy maag na hulle. “Dié goed het mos op 60 begin ingee,” kla hy. “Ja, ja,” sê oom De Waal, “ek het ook op my dag deur die Canyon gestap. Weet nie wat julle daar gaan soek nie – ’n ongeskikte stuk wêreld: As jy nie op klippe is nie, is jy op sand.”

Sand en klippe: sleutelwoorde wat die Canyon betref. Maar klippe en sand van so ’n verskeidenheid dat beide die geoloog en die digter geïnspireerd kan raak.

Foto verskaf

Van die sand onthou jy naas die kleur – elandvaal en rooibruin en witterig – die tekstuur: mulle sand waarin jy wegsak, of glystort teen die hellings af; sand met ’n harde kors waarop jy gemaklik stap; sand, veral langs die rivier, met ’n bedrieglike kors, skaars skildiep, ’n glibberige kleiblad onder.

Boweal onthou jy die klippe, en die rotse teen die luglyn.

Daar is veldspaat, rooierig en wit; en die skroeimerke van dolerietgange tussen kleirooi en -bruin rotse; daar is rivierklippe, glad en reptilies groen; vuurklip en nabank; daar is snuifbruin klippe en blokke swart klip, soos hope antrasiet, en skittering van valsgoudvlekkies en mika; daar is wit are tussen leiklipblou, en wit are tussen rooi.

En onder jou hand telkens ’n ander klipoppervlakte, nou skubberig en bros, dan weer seepglad.

Teen die Suidwes-blou van die hemel, massiewe bastions en kantele wat oor ondenkbare ver tye deur wind en weer gebeeldhou is, en soms gepoleer is, soos die litterige, blink vierde vinger van die Vier Vingers-formasie; rotse wat hul eie, byna barbaarse skoonheid verkondig, telkens in ’n ander toonaard, afhangende van die tyd van die dag: liries in die skaam lig van die oggend, dramaties teen die aand, met die wisselende spel tussen ligroos- en ametisvlakke; en voorwêreldlik geheimsinnig in die maanlig, met die sterre oneindig hoog en helder bo die kranse.

Van die Canyon geld wat Robinson Jeffers van ’n ruwe kuslyn gesê het:

This coast crying out for tragedy like all beautiful places: and
like the passionate spirit of humanity
Pain for its bread: God's, many victims', the painful deaths, the
horrible transfigurements: I said in my heart,
“Better invent than suffer: imagine victims
Lest your own flesh be chosen the agonist, or you
Martyr some creature to the beauty of the place.”

Wat is die verhaal van Thilo von Trotha (1877–1905)? Was hy, dié Duitser met ’n eensame veldgraf, ’n martelaar, of noem dit offer, aan die verskriklike skoonheid van die Canyon? Seker nie; tog kry ’n mens die gevoel dat die Canyon wel lewens geëis het – dié van vlugtelinge, wie weet, voor die gereg uit; avonturiers, smokkelaars.

Die folklore van die Canyon wag op boekstawing.

Foto verskaf

Tragies, groots, oeroud: dis die Canyon.

Die likkewaan is miskien die mees gepaste embleem van dié geweldige bars in die aarde. Sy sleepsels lê oor die rooi sand waarop die duwweltjiesdoring rank en liggeel blom; moeisaam waggel hy oor klippe, sand en lae bossies, sy vel – ’n maliepak – glinster in die son. As jy te na aan hom kom, versteen hy, sy pofferpote krom na buite; skielik – angswekkende oomblik – val sy bek oop in sy swart kop, ’n oumensmond in ’n oumenskop.

Waar lewe is, is water. Hiervan het oom De Waal ons nie vertel nie, van die water in die Canyon, die grysgroen Visrivier wat deurentyd metgesel is, en rigtinggewer; en in sy brakkerige water, soos Levaillant reeds teen die einde van die 18de eeu geweet het, ’n rykdom visse.

Aan die oewers van die Visrivier wat plek-plek sout ruik, nes die see, kom drink die diere van Die Groot Kloof, soos die Boeremense die Canyon noem; groot diere en kleintjies, slange, muise, watervoëls. Die veldkinders in ons geselskap buk oor spore en wy ons in in geheimenisse: Hier was ’n bobbejaan, kyk net sy duimmerk; en dié ding – straks ’n muskeljaatkat? – het iets gesleep; en hier was ’n otter, en hier ’n luiperd; en dis nou die spore van ’n rooikat dié, en dié spore en dié kuttels is van sebras. Hartmann se bergsebra, na alle waarskynlikheid, ’n fris dier, baie soos ’n perd gebou. Van die bergsebras het wilde-esel-merries gedek, en ’n basterproduk verwek wat só baie na die bergkwagga lyk dat ’n legende ontstaan het dat die bergkwagga nie uitgestorwe is nie …

Van al die diere het ons maar min in lewende lywe gesien: ’n bergganspaar wat klaend uit riete opvlieg en verder aan, hoër op, ’n stil poel gaan soek, tot ons weer dáár pla; ’n bloureier, ’n lammervanger, dassies.

Foto verskaf

Hurk op ’n stukkie klippiesaarde en wag, want jou geduld sal beloon word. Een van die klippies gaan beweeg: die ritseling van ’n vet sprinkaan, volmaak met sy omgewing versmelt, of die skielike flikkering van ’n akkedis.

Plante is daar ook in die Canyon. Toe ons in die laatmiddag van die Uitkykpunt af afsak in Die Skeur, ruik ons ’n soet, byna wufte geur, dié van ’n soort saliebos. Selfs op die barste plekke, tussen ysterklippe, is daar nog plantlewe, al is dit die stoïsynse noorsdoring. Teen die oewer groei wildegranaat; hier en daar ’n kameeldoring; en by Die Swawelbron is daar – eggo’s van Omar Khayyam! – drie palmbome wat glo deur ’n Duitser geplant is terwyl hy in afsondering in die Canyon geleef het met die hoop dat die warm swaelwater hom van kanker gaan genees.

Na Ai-Ais se kant begin die Canyon oopmaak en mak word: donkies tussen doringbome, ’n kampie en ’n dam; Ai-Ais kom nader, en die Canyon is verby.

Die Canyon sal gou van ons vergeet. Die wind sal die duine kam en die kuile van ons spore met sand vul, en ons as oor klip en sand verstuif, want die Canyon bestaan buite die tyd; ’n watervloed wat bome krom druk en opdrifsels teen bosse aanstoot, dié sal hy vir ’n rukkie onthou, maar onverskillig, want ook vloede is net ty-de-lik.

Ons, óns sal die Canyon vir die res van ons dae onthou, en nie net as ’n mooi herinnering nie, maar ook as ’n angswekkende herinnering, want ons het skoonheid ervaar wat magtig is.

Hennie Aucamp

Foto: verskaf

  • 2

Kommentaar

  • Baie dankie vir die deel, Heinrich. Dit bring bring beslis aangename herinneringe van jou pa, Oom Tjaain en Hennie terug.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top