Tot hiertoe

  • 0

’n Mens vra nie sommer vir ’n 78-jarige waarmee hy nou besig is nie, tensy hy ’n geseënde werker is, soos Abraham H de Vries, PG du Plessis en André P Brink. Ek het ’n antwoord wat min mense tevrede stel, en tog is dit die reine waarheid. Ek sê doodeenvoudig: Ek rond af. Na ’n terugslag, soos dié wat ek in Mei 2011 gehad het, is dit vir my gebiedend dat ek klaarmaak en afrond waarmee ek besig was voor my teenspoed.

Hier lê hulle nou: Ghoera, Lendetaal en Woerts in die hoekie, en daar kom nóg boeke. Op koms is Teen die lig, ’n laaste digbundel, waarvoor ek ’n gedig bygeskryf het, net om te bewys ek kán nog. Nee, dis ook nie waar nie, die gedig “Twee bome” het doodgewoon oor my pad gekom; nie so goed soos party van die ander verse nie, maar hy neem sy plek sonder skaamte tussen die Namibiese verse in.

En dan kom Koffer in Berlyn: stukke, party baie lank, oor die kabaret; korter stukke oor Nataniël, Amanda Strydom, Koos Kombuis en andere. Baie lank is byvoorbeeld die stuk oor die kabaret en die tango; lank ook die stuk oor die kabaretliedere van ’n eeu.

Is kabaret aan’t anders word? Kan wat vandag deurgaan as kabaret die toets met die verlede deurstaan? Veral in Suid-Afrika, waar soms baie slordig omgegaan word met die “kabaret”.

Kabaret, daardie intieme kultuuruiting, opgevoer voor ’n klein gehoor in ’n beperkte ruimte, is nie meer die reël nie. ’n Kabaretdiva soos Liesbeth List tree nou in stadions teen groot bedrae op. Ute Lemper skryf nou self kabaretliedere of borduur voort op wat ander voor haar geskryf het. Sy is besig om pop te verintellektualiseer en terselfdertyd te populariseer, ’n bra prekêre onderneming. Pop en kabaret gaan ’n verhouding aan wat my nie behaag nie, maar dit is waarskynlik die rigting waarin die kabaret gaan ontwikkel/afwikkel.

Liesbeth List

Die verklaring het met geld te maak. Reeds tien, vyftien jaar gelede het ek in Nederland en in Duitsland gesien hoe “geblikte” musiek lewende musikante verdring, wat reeds afbreuk doen aan die intimiteit van kabaret. Ook het ek gesien hoedat kunstenaars in al groter lokale optree, wat ’n ander soort konsert meebring as dié wat die egpaar Hovinks aand na aand in piepklein venues opgevoer het. Die Hovinks het self kaartjies verkoop en vir verversings gesorg om geld te bespaar, alles ter wille van die vak kabaret.

Die eietydse kabaretkunstenaar sien nie meer kans om teen ’n hongerloon te werk nie, waarvoor ’n mens uiteraard begrip het. Maar dit bring mee dat kabaret nie meer op sy ou niveau kan werk nie. Dit word populêr, al sorg die latere Ute Lemper vir ’n intellektuele inset.

Ute Lemper

Is ’n boek soos Koffer in Berlyn hoegenaamd nog nodig? Ja; driemaal ja.

Hoofrede is dat ons kan sien wat kabaret in sy hoogty was. Ek verstout my om te sê dat kabaret nooit weer die hoogtepunte van die vooroorlogse kabaret in Berlyn behaal het nie. Arnold Schoenberg het agt kabaretliedere geskryf wat tans weer deur beduidende sangeresse gesing word, onder andere Virginia Oosthuizen. Friedrich Hollaender het tekste vir Dietrich en talle ander sangers en sangeresse geskryf; Franz Wachsman het ’n weergalose chanson geskryf, “Allein,” waarin die eensaamheid van ’n enkeling in die grootstad gegee word. En dan het ons nog nie gepraat van individuele kabarette en venues nie.

Miskien moet na een van die eerste Exil-kabarette verwys word. Dit is Die Pfeffermühle van Erika Mann, oudste dogter van Thomas Mann, saam met die beroemde aktrise Thérèse Giehse. Die opvoering is verbied in Duitsland, maar is daarna internasionaal opgevoer, onder meer in Switserland. Een toneel uit daardie kabaret bly in die geheue vassteek: ’n verwaarlooste, vadsige Thérèse Gichse sit met ’n aardbol op haar skoot en druk dit met maniese wellus teen haar bors, asof sy die wêreld uitdaag om haar aardbol af te neem.

Thérèse Giehse

Talle kabarette van destyds had ’n dringendheid van segging wat voelbaar is in menige nommer. Kabaret wou waarsku teen die Nazi-gevaar; al hoe intenser, al hoe meer desperaat. Franz Wachsman was op pad na ’n oefensessie van die Syncopaters toe daar op hom gespoeg is omdat hy ’n Jood is. Hy het op sy hakke omgedraai, sy koffer gaan pak, en Amerika toe vertrek. In Amerika het hy ’n beroemde filmkomponis geword, en sy van verander na Waxman. In later jare het hy ontroerende musiek geskryf vir die oorlede kinders van Theresienstadt, asook ander ernstige musiek, vir kleiner ensembles, maar waarvoor hy onthou sal word, en ook vereer is, was sy skitterende rolprentmusiek, soos byvoorbeeld vir The Paradine Case  (1947).

Die bestes, die allerbestes, van die Duitsland van toe het meegedoen aan die kabaret; komponiste, sangers, regisseurs. Hulle wou waarsku; hulle wou red. En dat hulle nie daarin geslaag het nie, maak hulle pogings nie minder waardevol nie. Dis tydsdokumente wat die tyd skitterend oorleef het.

Koffer in Berlyn is die oudste van my manuskripte en moes eintlik voor Lendetaal verskyn het, maar onvermydelike vertragings het meegebring dat dit nou eers die lig sien.

Lendetaal is oorwegend gay en word aan die wêreldletterkunde gewy, maar ook hier moet versigtig gelees word. Die drie opstelle oor die kunste word al drie vanuit ’n ander gender-hoek benader.

Die eerste opstel is heteroseksueel, en is ’n viering van die liggaam, deurgaans toegelig vanuit die lieflike poësie van Sheila Cussons. Die opstel “Mad about the boy” is ’n aanhaling van Noël Coward, en word vanuit die hoek van die vrygevogte vrou benader, die vrou wat haar nou vry voel om met minderjarige seuns te verkeer en in al die strikke trap waarin die “male chauvinist pig” getrap het. Eers die derde opstel is onomwonde gay, en drie eietydse kunstenaars wat aan bod kom, is David Hockney, Andy Warhol en Jean Cocteau, omdat hulle die uitdagendste is op gay-gebied.

En dan is daar die onvoltooide roman van EM Foster, Arctic Summer, wat gay-merkers het, maar in sy huidige vorm geensins as gay kwalifiseer nie.

My kinderverse, Ghoera en Woerts in die hoekie, word elders bespreek, en daaroor dus net iets bondigs. Terugskouend kan ek sien dat hulle ’n terugkeer na Rust-mijn-ziel is; bowenal Woerts in die hoekie. As die son sak, het die oumense gesê, soek die voëls hul neste op, en só ook die mens …

Ten laaste, Petrovna Metelerkamp se keuse uit my briewe. Dit sou nadoods verskyn het, maar toe Petrovna die briewe begin transkribeer, het dit gou geblyk dat sy hulp met verwysings en insidente nodig gaan hê. Ek help haar nou met verklarings so goed ek kan, maar ek weet ook nie aldag so mooi nie. Daar is mense wat die revue passeer wat ek nie herken nie; daar is insidente uit die verlede wat wegraak in die mis. Maar die meeste name en dinge kom darem na my terug.

En dan is daar verrassings. “Nuwe” briewe aan Elize Botha en aan Johann de Lange kom te voorskyn, asook verlore gewaande briewe aan Cas Bakkes en Riet de Jong Goossens.

So word my “beseringstyd” dan tog ’n genadetyd: tyd om af te rond, klaar te maak, op te pak.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top