Die bekendstelling en oorhandiging van Deel XIV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (S tot Skooi) het op 18 Oktober 2013 by die Buro van die WAT op Stellenbosch plaasgevind. Adam Small, Hennie Aucamp en TT Cloete het elkeen 'n kopie van WAT XIV ontvang as erkenning vir hulle bydrae tot Afrikaans en hul besondere band met die WAT. Niël Rademan was die gaskunstenaar en dit is aangekondig dat Nataniël die ondersteunende kunstenaar van Borg ’n Woord vir 2013/2014 is. Die program was as volg:
|
Program
|
|
|---|---|
|
Seremoniemeester: Dr. Willem Botha: Hoofred. en Uitvoerende Dir., WAT |
|
| 12:45 – Verwelkoming en ligte verversings | Prof. Arnold Schoonwinkel: Voorsitter, WAT-direksie |
| 13:15 – Sang | Niël Rademan |
| 13:25 – Oorhandiging van Deel XIV |
Prof. Adam Small (mev. E. Meaker: voors., WAT Trust) |
|
Aankondiging van Ondersteunende Kunstenaar vir Borg 'n Woord 2013–2014 |
|
| 13:35 – Sang | Niël Rademan |
|
Wyn verskaf deur Rust en Vrede.
|
|
Verwelkoming deur prof. Arnold Schoonwinkel, voors. van die Direksie van die WAT, by die Bekendstelling en Oorhandiging van WAT XIV op 18 Oktober 2013
Goeiemiddag dames en here. Ek verwelkom u elkeen graag hartlik namens die Direksie van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal by die bekendstelling en oorhandiging van Deel XIV van die WAT. Dit is vir ons ‘n geweldige voorreg om ons drie eregaste, proff. Adam Small, Hennie Aucamp en T.T. Cloete. hier te hê. Die WAT het ‘n besondere band met elkeen van u en ons voel geëerd dat u ingewillig het, en inderdaad groot moeite gedoen het, om daardie band vandag te kom verstewig. Prof. Cloete het spesiaal vir hierdie geleentheid vanaf Potchefstroom na Stellenbosch gereis. Ons verwelkom ook graag al ons donateurs, medewerkers, trustees, ouddireksielede, oudpersoneellede en vriende wat vandag hier is.
Die verskyning van ‘n nuwe deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is ‘n gebeurtenis van groot belang vir Afrikaans. Daarmee word telkens nog ‘n gedeelte van die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang vasgelê. Nie net die standaardvariëteit van Afrikaans nie, maar ook die ander variëteite, soos Kaaps en Namakwalands, kom tereg in die WAT. Daarbenewens vind ook ons kleurvolle streektaal, ons geselstaal en ons rykdom van uitdrukkings ‘n tuiste in die WAT.
Deel XIV bevat 10 000 verklaarde woorde en uitdrukkings en 3 000 onverklaarde samestellings en afleidings. Die WAT verskyn ook in elektroniese formaat as ‘n CD en op die internet en die internetweergawe is ook vir selfoongebruik aangepas. Die woordeboek word op werklike taalgebruik gebaseer en daarvoor word die WAT se unieke en waardevolle materiaalversameling van vier miljoen indekskaartjies, asook elektroniese korpusse soos die Media 24-argief, benut. Danksy finansiële ondersteuning van die Nederlandse Taalunie, Sanlam en Die Dagbreek Trust word die vier miljoen indekskaartjies tans gedigitaliseer. Na voltooiing sal hierdie data by die Elektroniese WAT op die internet gevoeg word sodat gebruikers die materiaal kan sien waarop die huidige dele grootliks gebaseer is en waarop die volgende dele grootliks gebaseer sal word. Die materiaalversameling is byeengebring met die samewerking van Afrikaanssprekendes van oor die hele land en deur die digitalisering daarvan wil ons graag die eindproduk tot hulle almal se beskikking stel. Die eerste oorweging was egter om die versameling se kwesbaarheid ten opsigte van brand, waterskade en verwering te beëindig.
Die WAT is dus nie ‘n Sannie van die plaas nie ("jong dame wat redelik ongesofistikeerd en naïef is”), maar dit is nogal skanghagha ("heel goed of bevredigend"). WAT XIV los ook die raaisel op van wat skarumba ("niks" of "glad nie") beteken, en sitbokbiltong, en samowar, en sakaboela en sinchroonskakeling, en sitsewinkel,en sikofant. Na die voltooiing van Deel XIV was ons vir ‘n dag of twee sieletjies sonder sorg, maar ons kon nie vir te lank die sitbroek aanhê nie, toe moes ons weer op die sabander aan die werk spring.
Die WAT is ten spyte van ontoereikende staatsondersteuning steeds ‘n produktiewe en dinamiese maatskappy en daarvoor wil ek baie dankie sê aan ons donateurs. Elke donasie is waardevol, maar ek wil graag die volgende groot donateurs by die naam noem: Absa, Die Dagbreek Trust, Het Jan Marais Nationale Fonds, Sanlam, die Nancy Steyn Trust en die Nasionale Lotery. Vir die publikasie van WAT XIV wil ek spesifiek die bydrae van The Stonehage Charitable Trust noem.
Laastens wil ek die redaksie en die hele personeel van die WAT geluk wens met ‘n besondere spanpoging: WAT XIV is streng volgens beplanning op die ooreengekome dag en datum voltooi.

Oorhandiging
Prof. Small het in 1994 deelgeneem aan die WAT se Kongres vir die hantering van beledigende leksikale items in die leksikografie. Hier is die grondslag van ‘n revolusionêre beleid vir die hantering van veral rassismes en seksismes in die WAT gelê. Dié beleid maak voorsiening vir die wetenskaplike, maar sensitiewe opname van woorde en uitdrukkings wat aanstoot gee. Die literêre werk van prof. Small is belangrik vir die samestelling van die WAT omdat dit van die eerste bronne was waaruit ons voorbeelde van Kaaps kon aanhaal.
Prof. Hennie Aucamp het ‘n baie lang verbintenis met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. As vriend van die woordeboek het hy sy kosbare optekening van die streektaal en -uitdrukkings uit die Stormberge, asook sy persoonlike herinneringe aan sy gesin en familie, aan ons geskenk. In sy skryfwerk gebruik Hennie unieke Afrikaanse woorde wat baie van ons nooit geleer het om behoorlik te beheers nie, insgelyks woorde met fyn nuanseverskille wat deesdae by baie van ons verbygaan. Daarom kon ons dankbaar aanhaal uit sy werk – daar verskyn nagenoeg 770 Aucamp-aanhalings in die WAT met 72 daarvan in deel XIV.
Prof. Cloete maak geen geheim daarvan dat hy groot waardering het vir die wyse waarop die WAT die Afrikaanse woordeskat vir sy gebruikers aanbied nie. Ons haal dan ook graag 'n uitlating van hom op 8 September 2005 aan op ons webtuiste: Die WAT is een van die kosbaarste diamante van Afrikaans. Vir die Tydskrif vir Geesteswetenskappe se huldigingsuitgawe aan hom van Maart 2009 verskaf hy 'n voorbladfoto van hom met die WAT in sy hand. Ons het talle briewe met waardevolle bydraes van hom ontvang waarin hy ook telkemale op sy kenmerkende ouwêreldse beleefde wyse sy waardering uitspreek vir die werk van die redaksie. Alhoewel dit moeilik is om uit die poësie aan te haal in ‘n woordeboek, omdat die taalgebruik dikwels metafories is en in die groter verband verstaan moet word, kon ons tog gereeld uit sy werke aanhaal.
Borg 'n Woord: Nataniël as ondersteunende kunstenaar
"Taal en die goeie gebruik daarvan is dit wat 'n individu 'n stem gee en opwindend hou. Al is jy vyftien wêreldtale magtig maak Afrikaans jou uniek, 'n oop klank, 'n ontploffende ritme en 'n verfrissende, direkte trefkrag, vry of baklei, dit bly 'n groeiende, jong klankbord! Maak 'n woord jou eie, koop 'n klank, borg 'n gedagte, red 'n sêding, beskerm 'n skoonheid, vestig 'n vesting, beklemtoon 'n uitroep, noem dit wat jy wil, doen dit net nou!" – Nataniël
Interessante woorde wat tot dusver vanjaar geborg is
Hiermee 'n paar interessante borgskappe wat reeds ontvang is (Etienne oorweeg klimtol):
Reinet Nagtegaal borg nagtegaal vir R5 000
Marie Heese borg Vuurklip vir R5 000
Danie Wiese borg ondernemingsgees vir R5 000
ATKV borg die afkorting ATKV vir R5 000
Interessante ander borgskappe:
Petrovna Mettlerkamp – vergewe
Ilze Holtzhausen-De Beer – rinkink
Henno Myburgh – tandarts
Chantel Myburgh – idee
Helm van Zyl – wantroue
Marina van Zyl – vergenoegd
Fides Claassens – voetspoor
Sedric Taljaard – skitterend
Karin van Wyk – japsnoet, karmenaadjie
Danie van Wyk – kwaksalwer, holderstebolder
Heleen van der Poel – tonteldoos
Anton van Niekerk – bio-etiek, transhumanisme, onthuts
Reana Rossouw – plek-plek, elders, konsultant
Masson Joubert en die Graad 4A3 klas – Juffrou Mostert (betaal deur Niel Joubert)
Vereniging van Regslui vir Afrikaans – 20 woorde (prokureur, regter, landdros, regslui, regsgeleerde, regstudent, hof, landdroshof, hooggeregshof, regsfakulteit, regtersklerk, litigasie, dagvaarding, mosie, regskoste, griffier, regspersoon, uitspraak, grondwet)
Hetta Kisten – jolliepatrollie, gejoegel
Santa Hofmeyr-Joubert – warkop
Gerhard Esterhuizen – tans
CSV Construction – konstruksie, siviel, boukontrakteur, tender
Issie Starke se dogters – Beste Ma, Ouma, Oumagrootjie (betaal deur Isabel Pfaff)
PS Jooste-Coetsee – souskluitjies
Marietjie Koekemoer – kattermaai
Carin Marais – waterdig
Wessel Pieters – spektakel
Hoërskool Tygerberg – tier, tiere
Retha van den Berg – appelkoos
Randall Wicomb – prampoort (woord vir "cleavage")
Wanda Grunewald – aandpypie, boekwurm, kaneeltjie
Beatrix Kotzé – toetlantern
Lees nog oor borg 'n woord 2013/2014 en kyk wat is Nataniël se gunsteling woorde.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

