vry na Ovidius
'n Vis het sy skubbe
en is daardeur vis
maar 'n postmodernis
vul al sy hiate
met vermomde sitate
en reken hy is
die uiteindelike vis.
'n Parodis paradeer
met ander se klere:
'n vaalvalk wat smous
met loerie se vere.
Rare avis
plagiaris
die postmodernis.
Ironies, op die koop toe
die postmodernis:
op die keper beskou
'n aartskonformis;
plunder ander se oeuvres
van Barthes tot Vasalis
op jag na kapok
vir sy eie nis
(versteek met collages
die feit dat hy kaal is).
“Wat bly duur,”
profeteer
die beroepsmodernis,
“is mý Literatuur:
ek vis uit die waat’re
die kolos Moby Dick;
ek skaak alle roofvoëls
uit die Hoogromantiek.
"Ek is 'n menigte
ek bevat miljoene.
Weerspreek ek myself?
Verdomp, dis my reg!
Ek wat die Woord
en visioene besleg.”
Só babbel Zarathustra
in waanwysheid voort
verskans op sy krans
agter rieme papier.