Die ope arms van die wagtende vader

  • 0

Foto van Hennie Aucamp: Naomi Bruwer. Foto van Lina Spies: verskaf.

In ’n onlangse LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel word geskryf oor die uitbeelding van Jesus volgens die Evangelie van Judas.

Die uitbeelding van Jesus in die Evangelie van Judas

Hier skryf Lina Spies oor nog ’n Bybelse uitbeelding, naamlik dié van die verlore seun. Sy doen dit aan die hand van ’n kortverhaal van Hennie Aucamp.


“Die gelykenis van die verlore seun” en Hennie Aucamp se verhaal “Die terugkeer” as interteks 

  1. Inleiding

In my artikel “Van Calvinisme tot Romantiek: Die invloed van die Bybel op die skrywerskap van Hennie Aucamp” het ek hoofsaaklik ingegaan op die neerslag van die Bybel in die kortverhale van Aucamp.

Van Calvinisme tot Romantiek: Die invloed van die Bybel op die skrywerskap van Hennie Aucamp

Daarin het ek bewus “Die terugkeer” in sy bundel Dalk gaan niks verlore nie van 1992 nie betrek nie, omdat dit afwyk van die streng gekonstrueerde aard van die kortverhaal en ’n lang uitgebreide interteks van "die gelykenis van die verlore seun" in Lukas 15:11—32 word. "Die terugkeer" het nie gevra om ’n kort en bondige bespreking binne oeuvreverband nie, maar om ’n selfstandige artikel waarin die interteks van "die gelykenis van die verlore seun" bespreek word op grond van gesaghebbende beskouings van dié gelykenis. Met hierdie artikel doen ek nou dié voorneme gestand.

Die titel Dalk gaan niks verlore nie op die buiteblad van die bundel het op die titelblad ’n kwalifikasie: Dalk gaan niks verlore nie en ander tekste. Deur die inhoud van die bundel as tekste te identifiseer, impliseer Aucamp dat hy die aanvaarde literêre kenmerke van die kortverhaal bewus nie streng volg by die uitdrukking wat hy gee aan die onderskeie temas in die tekste nie. “Die terugkeer” is dan ook nie ’n streng gekonstrueerde kortverhaal nie, soos die subtitel reeds te kenne gee:”Variasies op ’n tema”. Aan dié variasies op "die gelykenis van die verlore seun" gee Aucamp ook op die titelblad uitdrukking in drie genommerde afdelings met titels; in volgorde onder mekaar afgedruk:

“1. Die verlore broer”; voorgestel deur ’n gravure wat die volle toneel van die gelykenis in aansyn roep: Op die voorgrond die vader wat sy arms om die knielende teruggekeerde jongste seun slaan en direk daaragter die danser en die vrou by die ingang van die huis en ver op die agtergrond die oudste seun op ’n perd onderweg na die huis.

“2. Die verlore vader”; sonder visuele voorstelling.

“3. Die verlore seun”; geïllustreer deur die olieverfdoek van Pier Francesco Mola van die knielende jongste seun in ’n pose van skuldbelydenis by ’n stroom in ’n bos.

So verbind Aucamp woord en beeld wat mekaar aanvul in sy oorvertelling van die “Gelykenis van die verlore seun”.

Onder die titel “1. Die verlore broer” haal Aucamp die slotparagraaf aan uit die bydrae van DJ Smit tot die bespreking van die tersaaklike gelykenis in Riglyne vir prediking oor die gelykenisse en wonderverhale (1987: 169): “Dink maar aan die sogenaamde gelykenis van die verlore seun. As storie eindig dit merkwaardig onaf … Ons moet self die res van die storie vertel, die res van die geskiedenis skryf met ons eie lewens.” Die besprekings van die gelykenisse in die bron wat Aucamp geraadpleeg het, is drieledig met opskrifte wat in elke geval verklaar uit watter gesigspunt die bepaalde skrywer die gelykenis bespreek: “1. Eksegeties”,

“2. Hermeneuties” en “3. Homilities”. Die woordeboekverklaring van homilitiek lui: “Wetenskap van die bediening van Gods woord aan die gemeente van God; preekkunde…” (HAT). Dit is veelbetekenend dat Aucamp uit Smit se homilitiese bespreking aanhaal en nie uit die eksegetiese bespreking van AB du Toit nie, waar “eksegese” as “teksverklaring — veral van die Bybel” (HAT) ook op die literêre teks van toepassing is.

Wat staan werklik in "die gelykenis van die verlore seun”? is vir my die kardinale vraag, waar ek die intertekstuele verband tussen Aucamp se herskrywing van die gelykenis in sy verband met die Bybelse teks wil belig. Dit gaan dus vir my oor die betekenis van "die gelykenis van die verlore seun” as verhaal buite konteks van die prediking en hoe dié verhaal in Aucamp se teks neerslag vind. Uiteraard is daar verskillende interpretasies van die gelykenis, maar ek het my bepaal by Kenneth E Baily se Poet and peasant and through peasant eyes: A literary-cultural approach to the parables of Luke (1976) as bron om die gelykenis te verstaan vir ’n adekwate bespreking van Aucanp se interteks. Ek gaan eers in op Baily se eksegese van die gelykenis en bespreek dan Hennie Aucamp se weergawe daarvan, binne die verband wat dit hou met Baily se interpretasie.

  1. Die vader en die twee verlore seuns

My opskrif is ’n letterlike vertaling van Baily se opskrif van sy literêre interpretasie van Lukas 15: 11—32 “The father and the two lost sons” waarop ek allermins kan verbeter, omdat dit die gebeure en die daaraan verbonde implikasies vir die verhouding van die vader en sy twee seuns presies saamvat. Uiteraard konsentreer ek hoofsaaklik op Baily se deurlopende betoog en nie op al die bronne waarop hy wys en dit óf verwerp óf mee eens is nie. Weens die groter poëtiese skoonheid van die 1957-vertaling van die Bybel in Afrikaans, waaraan die 1933-vertaling ten grondslag lê, haal ek hoofsaaklik daaruit aan, maar waar nodig, ook uit die nuwe vertaling van 1983 met die nodige erkenning.

Jesus begin sonder omhaal die verhaal vertel van die twee broers deur te sê “’n Man het twee seuns gehad. En die jongste het vir sy vader gesê: Vader gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En Hy het die goed tussen hulle verdeel” (Lukas 15: 11,12). Die verdeling van sy eiendom as voldoening aan die versoek van die jongste seun was ’n daad van ongehoorde en onvoorwaardelike liefde. Albei broers het dadelik sy helfte van die eiendom gekry; ook die oudste wat nie daarom gevra het nie. Die vader was regverdig teenoor albei seuns in sy voldoening aan sy jongste seun se versoek. Die eiendom van die vader moet verstaan word as land, waarby mens nie uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt vir jou ’n groot uitgestrekte plaas met ’n enkele woonhuis en arbeidershuisies (strooise) moet voorstel nie. Vir die Midde-Oosterse kleinboer beteken dit ’n lap grond wat aan ’n dorpie (village) grens. Dit bring my terug by wat die vader doen op versoek van die jongste seun om ’n deel van sy eiendom. “Die vader” is op dié tydstip nog ’n aardse vader en as sodanig geloofbaar. Terselfdertyd openbaar hy eienskappe van ’n liefde wat die grense ver oorskry wat in dié verband van ’n vader ervaar en verwag kan word” (Baily 1976: 166).

Wat die jongste seun met sy besit wou doen, blyk onmiddellik ná die ontvangs daarvan: “En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaar gemaak en weggereis na ’n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe” (Lukas 15:13). Die weergawe van wat die seun met sy deel van die eiendom gemaak het, is onverstaanbaar in dié vertaling; hoe en wat kon hy “bymekaar gemaak het”? Die nuwe vertaling sê presies wat hy gedoen het, nl dat hy “alles tot geld gemaak het”. Die Nederlandse nuwe vertaling van 2004 stem woordeliks ooreen met die aangehaalde Afrikaanse vertaling van die teksvers, maar lees veel vlotter en idiomatieser: “Na enkele dagen verzilverde de jongste zoon zijn bezit en reisde af naar een ver land, waar hij een losbandige leven leidde en zijn vermogen verkwiste” (2004: 2019). Die mees presiese weergawe van die teksvers is in The New English Bible: “A few days later the younger son turned the whole of his share into cash and left home for a distant country, where he squandered it in reckless living” (1982:797). Die weergawe wat Baily aanhaal, stel dit kort en bondig: “Not many days later the younger son sold all he had, journeyed into a far country and wasted his property” (1976:159). Vir die volle begrip van die verdere verloop van die jongste seun se verhaal is dit belangrik om in gedagte te hou dat die dorpelinge noodwendig kennis geneem het dat hy sy eiendom verkoop het voor sy vertrek uit hulle midde.

Wat die aard van die losbandige lewe wat die jongste seun in die ver land gelei het was, word nie in die teks gespesifiseer nie. Uiteraard moes hy soos enigiemand in ’n vreemde land vriende maak en het hy kennelik in slegte geselskap tereg gekom en sy geld verkwis. Langsamerhand het hy al dieper weggesak in ellende. Toe daar ’n groot hongersnood in die land kom en hy gebrek begin ly, het hy hom “gevoeg” by een van die “landbesitters”, die direkte vertaling van die Engelse “landowners” (1982:797) wat sin maak binne die konteks van die verhaal. Baily wys daarop dat hy met geld in die gemeenskap gearriveer het sodat verwag kon word dat hy nog oor ’n mate van selfrespek beskik het (1976:170). Die landheer verwag dus dat die jongste seun die werk wat hy hom aanbied om sy varke in sy veld op te pas, sal weier, maar die teenoorgestelde gebeur: “However, the pride of the prodigal is not yet completely broken and, to the amazement of the listener/reader, the citizen’s attempt to get rid of the younger son fails” (1976:170 —1). Die jongste seun aanvaar die werk in sy poging om te oorlewe en sy menswaardigheid terug te wen.

Deur die vervreemding van Jesus van sy Ou Testamentiese en Joodse wortels kan die mate van vernedering wat vir die seun verbonde was aan die voer van varke as onrein diere aan die leser verbygaan. Boonop het hy so honger gely dat hy “verlang het om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie” (Lukas 15:16). Baily gaan in op die betekenis van die “peule” as ’n gewas waarvan daar ’n eetbare en oneetbare soort bestaan, maar al wat belangrik is vir my betoog, is dat die jongste seun besig was om ’n hongerdood te sterf, terwyl niemand hom enigiets te ete gee nie: “And he would gladly have eaten the pods which the pigs ate and no one gave him anything” (Baily 1976:159). Dit is toe dat hy inkeer op homself en aan sy vader dink: “Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan en ek sal vir hom sê: ‘Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie, maak my soos een van u huurlinge” (Lukas 15:17—19). Sy besef dat sy vader anders is as die vreemdelinge onder wie hy hom bevind en sy enigste toevlug in sy nood, spreek ook van sy onbetwyfelbare geloof in die liefde van sy vader.

Die sinoniem vir “huurling” is kneg en het die ongunstige assosiasie van onderhorigheid. Tereg word die woord “huurlinge” in die nuwe vertaling vervang met “werksmense”, maar die Nederlandse woord “dagloners” gee die oorspronklike betekenis van die woord binne die konteks van die gelykenis die beste weer. Die jongste seun gaan nie onbesonne terug na sy vader nie, maar met ’n oplossing vir die toekomstige verhoudings in die vaderhuis. As ’n dagloner kan hy onafhanklik wees en geld verdien in die plek van die geld wat hy verkwis het en dit bestee aan die sorg van sy vader wat hy aan hom in sy ouderdom verskuldig is. Baily haal Joseph H. Heinemann aan: “‘As a ‘hired servant’ he will be a free man with his own income living independently in the local village.’ His social status will not be inferior to that of his father and his brother. He can maintain his pride and his independence” (1976:177).

By die nadering van die ouerlike woning moes die jongste seun hom noodwendig steeds dringender afgevra het wat die reaksie van sy vader op sy tuiskoms sal wees. Dit is ook die vraag van die toekykende dorpelinge en van die leser/luisteraar. Die verteller kom ná sy konstatering dat die jongste seun sonder versuim vertrek het, onmiddellik tot die punt: “En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen” (Lukas 15:20). Dit is nie die tyd vir woorde nie, soos wat Baily tereg sê: “The father’s acts replace speech” (1976:182). Wat essensieel is in die vader se optrede, is dat hy na sy seun hardloop aan die grens van die dorp ten aanskoue van die dorpelinge. Die seun kan die dorp dus ingaan onder die openbare beskerming van sy vader se aanvaarding. Die vuurdoop waarvoor hy hom noodwendig moes staal, het sy vader vir hom deurloop (Baily 1976:182). Die vader het die ondenkbare gedoen deur letterlik na sy seun te hardloop wat totaal benede die waardigheid van ’n Midde-Oosterse vader is: “An Oriental nobleman with flowing robes never runs anywhere. To do so is humilating” (Baily 1976:181). ’n Groter demonstrasie van sy vader se aanvaarding is onvoorstelbaar en hy laat sy verlore seun dan ook nie verder kom met sy voorbereide belydenis as die eerste sin nie: “En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie” (Lukas 15:21).

Die vader gee geen antwoord op hierdie woorde nie, maar beveel sy diensknegte om hom die beste kleed aan te trek en ’n ring vir sy vinger en skoene (“sandalen” in Nederlandse vertaling) vir sy voete te gee. Hy beveel ook dat die vetgemaakte kalf geslag moet word sodat ’n feesmaal kan plaasvind omdat sy jongste seun dood was, maar lewe en verlore was, maar gevind is (Lukas 15:22—4). Wat is die implikasies van die vader se besluit vir die seun? Baily vat dit treffend saam: “As we have seen, the prodigal comes home with a rabbinic understanding of repentance. He is shattered by his father’s demonstration of love in humilation. In his state of apprehension and fear he will naturally experience this unexpected deliverence as an utterly overwhelming event. Now he knows he cannot offer any solution to their ongoing relationship which he cannot heal. Now he understands that any new relationship must be a pure gift from the father” (1976:183).

Daarmee kom die vraag na die toekomstige onderlinge verhouding tussen die twee broers en hulle verhouding met die vader aan die orde. Volgens Midde-Oosterse tradisie begin ’n feesmaal met sang en dans, want die maaltyd kan nie begin voordat die mans van die veld af terug is nie. Dit is dan ook die tyd wat die oudste broer op die toneel verskyn: “En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader aan die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange” (Lukas 15:25). ’n Mens sou verwag dat hy sonder meer sou ingaan en hom by die gaste sou aansluit, maar dit gebeur nie: “True to his character, the older son is initially suspicious. A son with a normal relationship to his family would enter immediately, eager to join the joy, whatever its source” (Baily 1976:193). Ons het egter nie te doen met ’n gesin met normale verhoudings nie en die oudste seun roep ’n dienskneg nader om te vra wat aangaan. Hy kry ’n uitvoerige antwoord: “U broer het gekom en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het” (Lukas 15:27). Op dié tydstip is die oudste seun se reaksie te wagte: Hy word kwaad en weier om in te gaan en soos sy vader uitgegaan het na sy jongste seun, gaan hy uit na die oudste en “smeek hom”. Die Nederlandse vertaling vat die hele situasie die duidelikste en treffendste saam: “Hij werd woedend en wilde niet naar binnen gaan, maar zijn vader kwam naar buiten en trachten hem te bedaren” (2004:2020).

Tereg beweer Baily dat die gaste sal aanneem dat die oudste seun hom sou verbly oor sy broer se terugkeer en dat hy kon voorgee dat dit die geval is en sy dispuut met die vader later kon voer as die gaste vertrek het. Maar hy verkies inteendeel om die familierusie onder openbare aandag te bring en sy vader te verneder. In die lig van Midde-Oosterse respek vir die gesag van die vader is die optredes van die oudste seun uiters beledigend (1976:195). By die oudste seun se weiering om deel te neem aan die feesmaal, voer die vader en seun buite die huis ’n gesprek wat van deurslaggewende belang is vir die verstaan van die gelykenis. Van dié gesprek sê Baily dat die moeilik is om enigeen in die geskiedenis van die literatuur te vind wat homself in sy eie woorde so veroordeel as die oudste seun: “It is surely hard to find in the history of literature any man who so completely condemns himself with his own words as this older son” (1976:196).

Hy spreek sy vader aan met verontagsaming van enige titel en begin onmiddellik met ’n verwyt as die rede waarom hy die feesmaal nie saam sal vier nie: “Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ’n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag” (Lukas15:29, 30). Die vader laat sowel die seun se gebrek aan eerbied in die wyse waarop hy hom aanspreek as die reeks ongestaafde beskuldigings aan sy broer by hom verbygaan: “The father bypasses the ommision of a title, the bitterness, the arrogance, the insult, the distortion of fact, and the unjust accusations” (Baily 1976:200). By die oudste seun bestaan daar geen besef van eie tekortkominge en skuld nie, maar gevoellose arrogansie in teenstelling tot die verlore seun se belydenis (Baily:200). Die ouer broer het geen grond om sy broer se verkwisting van sy erfenis toe te skryf aan sy omgang met “hoere” nie. Die pejoratiewe woord “hoere”, wat dieselfde is in die Nederlandse vertaling, gee myns insiens die volle lading aan sy belediging van sy broer in teenstelling met die versagtende woord “prostitute” in die nuwe Afrikaanse vertaling en “his women” in die Engelse vertaling.

Die vader wat geharloop het om die jongste seun te ontmoet toe hy hom van ver af sien aankom het, doen presies dieselfde as hy buitentoe gaan om die oudste seun oor te haal om saam fees te vier. Hy reik na hom uit in ’n poging om die gebroke verhouding tussen die twee broers te herstel: “Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joune. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind” (Lukas 15:31—2). In teenstelling met sy seun wat hom sonder sy titel aangespreek het, beklemtoon die vader hulle vader-seun-verhouding deur hom liefdevol aan te spreek soos veral in die Engels en Nederlandse vertaling blyk: “My boy…” (1982:797) en “Mijn jongen…” (2004:2020). Die aangrypendse kontras tussen wat die oudste seun sê en wat die vader antwoord, is vervat in die woorde “hierdie seun van u” wat die vader omkeer in “hierdie broer van jou”. Hier eindig die gelykenis. Dié oop einde laat dit aan die leser oor om die verhaal klaar te vertel. Baily (1976:191) skryf sy eie einde: “And he came and entered the house and joined in the music and dancing and he began to make merry. And the two sons were reconciled to their father)”. Dit is die gewenste einde, maar Baily plaas daarna ’n hele aantal vraagtekens “(???????)” met tussen hakies die kwalifikasie “(Missing)”. Die vader het die jongste seun reeds in sy arms gesluit, maar voordat hy ook sy oudste seun kan omhels, bly hy die vader van twee verlore seuns. Die blydskap bly uit.

  1. “Die terugkeer”: Hennie Aucamp se interteks van die gelykenis

Hennie Aucamp keer die orde om waarin hy die gelykenis oorvertel deur te begin by die oudste seun, alhoewel die titel van die eerste gedeelte, “Die verlore broer”, die leser onder die indruk kan bring dat dit oor die jongste seun gaan op grond van die Bybelse teks waarin hy die “verlore seun” is. Die inleidende sin is in hoofletters gedruk wat dié indruk onmiddellik korrigeer: “DIE OUER BROER VAN DIE DEURBRINGER-SEUN kom die gravure van regs binnegery; nie op die voorgrond nie, hemel nee, maar op die middelplan, so klein dat jy hom met ’n vergrootglas moet lees” (1992:14). Die skrywer Aucamp is hier aan die woord wat die oudste broer as die miskende wil voorstel en vanuit sy perspektief, vir die vader wil aantoon wat die aanleiding is om die vader met minagting te bejeën en aan te spreek. Hy weet wat gaande is en hoor “op die agtergrond sy jonger broer lag, daardie hoë, vals laggie waardeur die outoppie al male sonder tal ingeloop is. (Voorwaar, voorwaar no fool like an old fool.)” (1992:14). Nogtans vra hy aan die kneg wat gebeur en sy woede styg as hy sien dat die jongste seun die “spesiale kleed” aan het en dit spoor die kneg aan om die antipatie van die oudste seun vir sy broer nog hoër op te jaag deur verder te vertel: “Toiinggat het hier aangekom, en sy pluiïngs het so na vark gestink, ons het dit op die plek verbrand. En al daardie sere op sy lyf, toe ons hom moes was: ag, sies” (1992:14). Op dié wyse word die vader en sy jongste seun aan die begin van die verhaal reeds grootliks van hul statuur en menswaardigheid ontneem.

Dan verbreek Aucamp die illusie van ’n derdepersoonsvertelling deur homself as skrywer weer aan die woord te stel: “En nou verskyn daar ’n dialoogblasie op die gravure, en ek moet vinnig lees, voor die oudste seun se gedagtes vir my Grieks word:…” (1992:14). As skrywer wil Aucamp aan die Grieks waarin die gelykenis geskryf is sy eie interpretasie gee, maar spreekwoordelik beteken die idioom dat as jy iets nie verstaan nie, dit vir jou Grieks is. Aucamp wil die gelykenis op sy manier lees en met sy insig weergee. Die gedagtes word wel vir hom “Grieks” in soverre as wat hy die gedeelte wat ná die dubbelpunt kom hoofsaaklik uit die Lukas-teks aanhaal, maar onderbreek met gedagtes van die oudste seun wat hoegenaamd niks met die gelykenis te doen het nie:

“Daar kom hy aan arms uitgestrek, of hy my ook liefhet; val-val kom hy aan van haastigheid of hy bang is hy raak sy cliché’s langs die pad kwyt: ‘Wat myne is, is joune’ en ‘Jou had ek mos altyd by my.’…” (1992:14). Die skrywer neem oor by die verteller met die volgende woorde: “ Maar vanaand is die keerpunt. Vanaand gaan ek inboor in die stilte ná Lukas 15:32 ”. Dit doen hy egter nie. Hy voltooi nie die gelykenis ná Lukas 15:32 nie, maar vertel sy eie storie soos wat dit in die res van die verhaal voltrek word, maar wat die leser by voorbaat ken. Onmiddellik ná die uitspreek van sy voorneme om in die “stilte in te boor ná Lukas 15:32”, maak hy sy voorneme bekend om nie “terug te praat met sy vader nie” maar om te “doen”: “ ‘As almal voos gesuip is, en op ’n hoop lê en slaap, meneertjie stellig by die nuwe diensmeisie, gaan ek die miedens afbrand, en ook die skuur, maar eers ná ek my perde uitgejaag het. (Baas se perde, mooi ou perde.) Nie te veel skade nie, want wat syne is, is ook myne. En dan sal ek hom tegemoetsnel, vuil van die roet, en met ’n groot stem roep: Vergewe my, vader, ek het teen die hemel gesondig en teen u. En as hy vader is, soos hy glo hy is, sal hy my vergewe. En ek Hom. Uiteindelik.’” (1992:14—5).

In die tweede gedeelte “Die verlore vader”, roep Aucamp die vader op volgens die gesprek wat hy met die oudste broer voer waarmee die gelykenis eindig. Die fokus is vanaf die eerste sin op die vader: “Die verlore vader het moeite om sy woede te bedwing. Sy stem het ’n ondertoon van histerie wanneer hy sê: ’nou wat is die probleem nou eintlik? Wat joune is, is myne en wat myne is, is joune. Wat verstaan jy nie?’ ” (1992:15). Die vader herken die wyse waarop die seun “sy onderlip verfrommel tussen wysvinger en duim” as sy kenmerkende gewoonte “wanneer hy iemand van oneerlikheid verdink … en bloos” (1992:15). Die verteller stel die vader dus dadelik in ’n slegte lig as hy hom laat “bloos” van skaamte weens sy gewaande oneerlikheid ten opsigte van sy bewering dat hulle “vennote in die boerdery is” (1992:15). Dan kom die oudste seun vorendag met die beskuldiging dat sy vader nie, soos dit sy plig was, hom vooraf ingelig het oor die feesmaal vir sy broer nie.

Dit is ’n gemotiveerde aanklag en Baily haal Linneman aan wat dit ’n “ verhoogtruuk” (stage-managed effect)” noem wat vir die luisteraar aanvaarbaar sal wees:“ ‘if the story as a whole seems credible, he will not be worried by small divergences from what is customary in real life’ ” (1976:192). Baily voeg by dat daar egter goeie redes bestaan waarom die vader die oudste seun nie op hoogte gestel het van die feesmaal nie: “Doubtless the father knows that the older brother will be upset and, if notified, may even try to prevent the banquet. In any case, the parable has him appear when he does in order to heighten the comparison between the two sons” (1976:192). Die oudste seun demonstreer sy vervreemding van sy gesin deur sy verwyt dat sy vader vir hom “nooit ’n bokkie gegee het, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie” (Lukas 15:29). Sy vriende sluit nòg sy broer nòg sy vader in: “Emotionally the older brother’s community is somewhere else, and he says so” (Baily 1976:199).

By die derde gedeelte “Die verlore seun”, is Aucamp se vertrekpunt die afgedrukte skildery van Pier Francesco Mola wat Aucamp se siening van die verlore seun perfek visualiseer. Hy sê tereg: “Dié skildery kan ook ’n oomblik uit ’n Italiaanse opera wees, met Il Figlio prodigo oorgehaal vir sy melancholiese aria wat só begin: ‘Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood…’ “( 1992:17). Veelbetekenend is die res van die sin weggelaat “en ek vergaan van honger!”, want van die uitgehongerde jongste seun is in Molo se knielende seun by ’n waterstroom en bosse inderwaarheid niks anders te sien as ’n skone jongman in ’n pose van skuldbelydenis nie. So stel Aucamp dan ook die jongste seun voor wat die skuldbelydenis, wat hy by sy vader wil aflê, uit die hoof leer: “Nou begin hy sy teks hardop praat, en later begin hy dit speel voor die varke, en as die sog met die rooi oë en een vertoiingde oor snork, buig die verlore seun en prewel: ‘Mille grazie’ “ (92:18).

Ná Aucamp se lang uitgebreide beskrywing van hoe die verlore seun sy teks oefen, beskryf hy die wyse waarop die verlore seun vertrek: “Dan neem hy sy kierie op, en sonder om afskeid te neem van die bereidwillige sog, kry hy koers, oor berge en dale en grense, terug na sy vaderland” (1992:18). Die suggestie dat die verlore seun hom skuldig gemaak het aan bestaliteit en dit boonop as Jood met ’n varksog is die ergste denkbare ontluistering van die jongste broer. Dit skrei ten hemel na aanleiding van Levitikus 18:23: “En jy mag met géén dier vleeslike gemeenskap hê om jou daarmee te verontreinig nie. ’n Vrou mag ook nie voor ’n dier gaan staan om daarmee te doen te hê nie. Dit is ’n gruwelike vermenging”. In Aucamp se teks word geïmpliseer dat die jongste broer inderwaarheid tot die skokkende uiterste verword het.

Die verhaal sluit af met die voorspelde brandstigting wat die feesmaal totaal bederf en noodwendig be-eindig: “Waarop niemand bedag was nie, is dat daar midde-in die viering ’n brand sou uitbreek. Die perde runnik en steier in die stal en ’n mied staan in ligte laaie. Figure snel verby die vlamme na die put toe. Die verlore seun gooi sy volle gewig in by die brandbestryding, want hy wil nie meer in armoede lewe nie” (1992:19). Aan die slot word die moeder ten tonele gevoer wat die jongste seun se brandwonde versorg. Op haar vraag waar die vader is, antwoord hy dat hy hom laas saam met sy broer by die put gesien het waar hulle kennelik “woorde gehad het”. Dan strompel die vader verfomfaai die huis binne en sê: “ ‘Ek het teen die hemel gesondig en is nie meer werd om vader genoem te word nie’ ” (1992:20). Die moeder vra die bediende om hom kamer toe te neem, omdat sy nie wil hê sy jongste seun moet hom in so ’n toestand sien nie. Die moeder het die laaste woord: “‘Jou vader yl. Ek wil nie hê jy moet hom in dié toestand sien nie. Môre praat ons weer’” (1992:20).

  1. Besluit

Die slot van Aucamp se interteks oor "die gelykenis van die verlore seun" eindig by die ontluisterde vader vir wie daar geen toekoms kan wees saam met sy twee seuns nie. Die invoer van die moeder wat die voortsetting van die familiegesprek die dag ná die verlore seun se terugkeer veronderstel, is onoortuigend. “Die terugkeer” is in laaste instansie ’n uitsiglose verhaal omdat die vader die skuld opgelê word vir sy twee seuns se vervreemding van mekaar en nie daartoe in staat is om hulle versoening met hom en mekaar te bewerkstellig nie. Daar is geen versoening in sig nie. Die bybelse gelykenis gaan ook nie oor vergifnis, wat in Hennie Aucamp se weergawe die sentrale tema is nie.

“Die terugkeer” is eerder ’n parodie op "die gelykenis van die verlore seun" as ’n interteks. Dit is ten diepste ’n belydenis van vaderhaat, waarin Hennie Aucamp hom die sterkste identifiseer met die oudste seun en deur sy intieme verhouding met die moeder aan die slot, met die jongste seun. Die slot hou geen verband meer met die gelykenis in Lukas 15:11—32 nie en vir my as leser ewenaar dit op geen manier die hoë peil van Aucamp se kortkunsoeuvre nie. Dit lei by my as bybelgeoriënteerde leser en liefhebber van Aucamp se kortkuns tot die slotsom dat “Die terugkeer” bly steek in die persoonlike en afbreek doen aan Aucamp se woordmeesterskap. Deur sy herskepping van die personasies van die vader en sy twee seuns deur hulle gedagtes, woorde en dade in “Die terugkeer”, verskerp Aucamp die leser se begrip van wie en wat hulle is in die oorspronklike gelykenis. Die soberheid van die evangelis Lukas se taalgebruik en die begrip en subtiele uitdrukking wat hy gee aan die menslike aard van sy personasies, deur hulle dialoog en handelinge, is verantwoordelik vir die literêre skoonheid van die "gelykenis van die verlore seun".

Wat die Christologiese betekenis van die gelykenis betref, is die ope arms van die aardse vader ’n metafoor vir die onvoorwaardelike inklusiwiteit van God. In aansluiting daarby is daar geen aanleiding in die gelykenis vir ’n literêre lesing wat die vader van die twee verlore seuns ontluister nie. Dit is ’n paradoks dat die waarde van Hennie Aucamp se “Die terugkeer” ten slotte daarin lê dat dit “die gelykenis van die verlore seun” naas sy Christologiese betekenis bevestig as ’n volmaakte kortverhaal.

Bibliografie  

Aucamp, Hennie. 1992. Dalk gaan niks verlore nie. Kaapstad: Tafelberg.
Baily, Kenneth. 1976. Poet & Peasant and Through Peasent Eyes. Grand Rapids: William B. Eerdemans Publishing Company.
Die Bybel. 1957. Kaapstad: Britse en Buitelandse Bybelgenootskap.
Die Bybel. Nuwe Vertaling. 1983. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
De Bijbel. 2004. Haarlem: Nederlandse Bijbelgenootschap.
Heinemann, Joseph H. 1954. The status of the Labaror in Jewish Law and Society in the Tennaitic Period. HUCA 25. 263—325.
Linnemann, E. 1966. Jesus of the Parables. Translated from the German by John Sturdy. New York: Harper.
Smit, D. J. 1987. Riglyne vir die prediking oor die gelykenisse en wonderverhale. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers
The New English Bible. 1982. The British and Foreign Bible Society: Oxford University Press.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top