Titel: Skulp
Skrywer: Hennie Aucamp
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485300694
Hennie Aucamp het taamlik laat in sy literêre loopbaan as ’n konvensionele digter ontluik. Hy het in 1963 as ’n kortverhaalskrywer gedebuteer, terwyl sy eerste bundel kwatryne eers in 1984 die lig gesien het. Sy poëtiese begaafdheid het egter reeds vroeër geblyk uit sy eerste versameling liedtekste van 1977, Die lewe is ’n grenshotel.
Dit is opmerklik dat hy sy poëtiese tekste telkens volgens stilistiese en vormkenmerke saamgestel het. Hennie Aucamp se digterlike oeuvre behels naamlik drie bundels kwatryne (Die blou uur, Koerier en Skulp), twee bundels sonnette (Hittegolf en Dryfhout), twee bundels “gemengde” verse (Vlamsalmander en Teen die lig), drie bundels (kabaret-)liedtekste (Die lewe is ’n grenshotel, Teen latenstyd en Lyflied), twee bundels kinderverse (Ghoera en Woerts in die hoekie), en ’n bundel “aforismes en ander puntighede”, wat ook kwatryne, limerieke en ander ryme insluit (Pluk die dag).
Aucamp sluit sy poëtiese oeuvre af, soos wat hy begin het, met ’n bundel kwatryne: Skulp. Die skulp kan gelees word as ’n metafoor vir die kwatryn – ’n vierreëlige versvorm, kompak en gelaai met versweë betekenis wat fyn luister verg:
Hou ’n groot skulp dig teen jou oor
en jy word deur ’n veraf branding bekoor
van seë waar jy op aarde nooit was nie:
nou binne jou, en net jy kan dit hoor.
Die bywoord “dig” aktiveer op ’n subtiele wyse die poëtikale lesing van die vers. In “Nautilus pompilius” word die ontledende lees beklemtoon wat hierdie versvorm vereis:
Dié skulp, soos ’n S op homself ingekrul,
berg binne hom, ongesiens, ’n wenteltrap
wat matematies klim, stap vir stap;
en net die fynste deursnit kan dit onthul.
Maar nie al die kwatryne in hierdie versameling is ewe “dig” nie. Sommiges is “oop” en humoristies, soos “Boervrou”:
Groenbone spat in stukke
onder Tante haar fel rapier,
en spoedig het sy ’n kooksel
wat sy met ’n voordop gaan vier.
Die argaïese “Tante haar …” vir “Tante se …” pas by die ouwêreldse, plattelandse sfeer wat Aucamp ook so goed in sy kortverhale kon oproep.
In teenstelling met die aardse Tante beskryf hy ’n kunssinnige, geheimsinnige vrou in “In Fairy Lands forlorn”:
Sy maak haar lippe lieflik rond
en ’n ronde klank kry sy;
dit was in die geseënde tyd,
die eerste week in Mei.
Hennie Aucamp was ’n besonder veelsydige kwatryndigter, nie net wat die wisselende stemmings en inhoude betref nie, maar ook ten opsigte van die versvorm. Hy beoefen die klassieke Persiese kwatryn met sy aaba-rymskema, soos die aangehaalde titelgedig, maar ook elke ander moontlike variasie: abba, abab, aabb, abcb en aaaa. Sy rymvernuf blyk onder meer uit sy afparing van ongewone woorde, soos “urinoir” en “ghwar” in “Ouwe poefter”:
Hy staan by ’n pishok in ’n ouderwetse urinoir,
opgetert tot die soveelste mag, maar die ghwar
loer uit sy oë, uit sy afskuwelike lag,
uit die lul wat, nét sigbaar, onder blou veloer wag.
In hierdie kwatryn is Aucamp die uitdagende gay kabarettis aan die woord, wat die Nederlandse woord “lul” (penis) gebruikswaarde in Afrikaans gegee het. Inderwaarheid is Skulp ’n kortbegrip van die essensiële Aucamp, die tradisiegedrenkte boerseun en die dekadente stedeling wat spanningloos saam bestaan.
Dit is opvallend dat die kwatryne in die bundel ook paarsgewys gerangskik kan word. Meestal staan die “paartjies” langs mekaar (soos die tweeluik “What a lovely way to go”), maar soms moet die leser self die koppelaar speel. Op bladsy 13 byvoorbeeld staan die vers “ Roman Africa – by ’n skildery van Judith Mason”:
Aan Afrika-kant, in harde lig, ’n suil;
maar toe het die woestyn gekom en holtes gedek,
die hawe toegeslik, en mense het weggetrek;
net soms, teen dusketyd, steun daar ’n uil.
(Terloops, die uitdrukking “teen dusketyd” vir “teen skemeraand” is Aucamp se laaste huldeblyk aan Boerneef – eweneens ’n gesofistikeerde stedeling én ongebreidelde plaasmens – vir wie hy groot waardering gehad het.) Die “Roman Africa”-kwatryn word vyf bladsye later gekomplementeer met “Op die oop veld”:
Onder die stink veldkombers lê die reste
van ’n veldheer, op sy dag ’n gedugte Romein;
en nou volg die slegste, of dalk beste:
Die maaiers krioel om hul domein.
Elke kwatryn in Skulp resoneer minder of meer opvallend met die res van Hennie Aucamp se skryfwerk. In sy bundel kortprosas, Kommerkrale (1989), staan daar die volgende inskrywing, waarvan die titel ontleen is aan die naam van die plaas in die Oos-Kaap waar hy grootgeword het, Rust-mijn-ziel:
Altyd weer dieselfde droom: Dis nag, en winter op die Stormberge; en ek is oud en verlate, en kom te voet op Rust-mijn-ziel aan.
Van die opstal het net ’n murasie oorgebly. Ook hier is geen skuiling nie. Maar wanneer ek om die hoek van die bouval stap, sien ek dat een vertrek bly staan het, en dat daar lig in dié kamer brand.
Ma sit vir my en wag voor die swart stofie met sy krom pote. Die tafel staan gedek, en by my ou eetplek is daar ’n netjiese stapeltjie pos met buitelandse seëls.
Ek gaan sit by Ma en streel haar hande soos ek nooit gedoen het toe sy nog gelewe het nie.
In sy laaste gepubliseerde boek verdig Aucamp hierdie gegewe tot vier reëls:
Teen digte skemer bereik ek die plek;
werf en huis verlate, geen rokie wat trek
en lig agter die ruite nie; ongetwyfeld
is ek tuis: ’n leë dop vir my leë ek.
Met Skulp neem Hennie Aucamp afskeid van die lewe, en hy doen dit beheersd en gestileerd soos wat ons hom die afgelope vyftig jaar as skrywer en as mens leer ken het:
Gesél
Deur die nag hoor ek my wekker tik –
wat verwag ek ook vir vyftig rand?
Ek sal my na sy swart humore skik;
my Charon na die Ander kant.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.