Mits dese wil ek vir jou sê

  • 0

Titel: Mits dese wil ek vir jou sê
Skrywer: Hennie Aucamp
Uitgewer: Hemel & See Uitgewers
ISBN: 9780992174347

 

Koop Mits dese wil ek vir jou sê by Kalahari.com

 

Mits dese wil ek vir jou sê bevat ‘n keuse uit die briewe van Hennie Aucamp. In twee briewe, geskryf aan Johann de Lange, opper die skrywer self ‘n aantal insiggewende punte oor die bundeling van sy briewe wat as sleutel kan dien tot die begrip van hierdie boek. Hy noem dat daar ‘n simbiose tussen sy dagboeke en sy briewe is, dat hulle saam gelees moet word en dat die briewe sowel as die dagboeke “nie net ‘n lewensgang bring nie, maar ook ‘n groot stuk sosioliterêre geskiedenis” (152). Verder noem hy dat die herlees en bewaring van sy briewe vir hom “nie net ‘n soektog na verlore tyd [is] nie, dis ook ‘n soektog na ‘n verlore self” (152) – hy is met ander woorde nuuskierig om deur die terugblik uit te vind watter soort persoon hy op bepaalde tye was. Hy motiveer die insluiting van sy briewe aan koerante só: “Vir iemand wat teen wil en dank as die apostel van die “private ache” gebrandmerk is, het ek meer as my deel op openbare terrein verrig [...] Ek is dus gesteld daarop dat ‘n briewebundel ook afreken met die vals beeld wat daar van my geskep is – moedswilliglik en ook kwaadwilliglik – as esteet van die ivore toring” (153). Verder beklemtoon Aucamp dat “die egodokumente van ‘n skrywer – sy dagboeke, memoires en briewe – integraal deel is van sy oeuvre” (153).

Die titel is ‘n aanhaling uit ‘n bekende Boerneef-gedig wat so eindig:

Mits dese wil ek vir jou sê
Hoe diep my liefde vir jou lê.

Daarmee suggereer die skrywer moontlik dat hierdie briewe in wese liefdesbriewe is, geskryf aan mense aan wie hy geheg is en wat hy waardeer. Herhaalde ontvangers van sy briewe is onder andere Elize Botha, Audrey Blignault, Margaret en Marius Bakkes, MC Botha, Amanda Strydom en Helize van Vuuren.

Die bundel bevat ‘n paar vroeëre briewe, maar die meeste daarvan is geskryf tussen 1984 en 2011. Dit is dus “millennium-briewe”, soos Aucamp dit self noem (268), geskryf by die oorgang van tye; en die oorgang van een millennium na ‘n volgende versterk die gevoel van nostalgie waarvan die bundel vervul is.

Die briewebundel is in vele opsigte ‘n waardevolle publikasie. Vir my was dit ‘n hernude openbaring van die groot en veelsydige bydrae wat Aucamp tot die Afrikaanse kultuurlewe gelewer het, bydraes wat uit sy briewe blyk. Hy is die skrywer van voortreflike kortverhale, kabarette en lirieke, en ook van besinnings oor die kortverhaal en die kabaret. Verder is daar ook vele resensies en egopublikasies (briewe, dagboeke en biografiese sketse) van hom gepubliseer. Baie van sy geskrifte is egter nie gepubliseer nie, en dit is gerusstellend om te verneem dat hulle in die Dokumentasiesentrum van die Universiteit Stellenbosch bewaar word.

Uit die briewe kom ‘n persoon na vore wat groot deernis sowel as bewondering by die leser wek. Deernis: want dit word duidelik dat Aucamp dit nie altyd maklik het met die lewe nie. Hy noem homself ‘n “siniese romantikus” (229) – vir hom is onvervuldheid deel van die menslike kondisie (103); die enigste bolwerk daarteen is kreatiewe werk (104). Met instemming verwys hy na Mardelene Grobbelaar se siening van hom as “dekadent” (102). Die woord dekadent kom van die Latyn decare, wat beteken “om te val”, en die bewussyn van verval deurtrek die bundel. Die verval van die liggaam, ouderdom en die dood is prominente temas – hy word diep geraak deur die aftakeling van sy eie liggaam, en ook deur die sterwe van mense wat na aan hom was. Die byna gelyktydige sterwe van twee van sy groot vriende dompel hom vir ‘n lang tyd in ‘n sware depressie. Die ouderdom versterk sy gevoel dat hy ‘n buitestander is, en hy identifiseer hom met die gevoelens van Monica Breed:

Al voel ek soms soos ‘n afgeleefde treintrok wat op ‘n geroeste syspoor staan en wag om na die skrootwerf weggesleep te word, hoop ek om met ‘n vrolike gesig by daardie eindbestemming aan te kom. (242)

Vir ‘n kreatiewe gees is dit nie altyd maklik om met die burokratiese aspekte van sy werk saam te leef nie:

Wanneer gaan iemand daarbo besef dat die toenemende burokratisering van onderwys die vreugde-in-arbeid versmoor? Toe ek jonger was, het ek gedink dat “kreatiwiteit” net ‘n estetiese begrip is; nou besef ek dat dit lewegewend is, op elke vlak. (49)

Die veranderde tye vervul hom met onbehae:

Ons moet inbeweeg op die tegnologiese terrein en probeer gereed kom vir die Derde Wêreld – en ek het geen behae in die tegnologie of die 3e W. nie. Ek is ‘n Ouwêreldmens, en sien Dekadensie as bolwerk teen die filistynisme en verstikkende burgerlikheid, hier te lande opgedis onder ‘n goorryk sous van Calvinisme. (70)

Die tyd waarin hy leef, is vir hom ‘n tyd van verval. Meer dan eens haal hy Vondel aan wat praat van die “beroerelijke tijden” wat die land getref het.

Soms is hy vir my gevoel darem te negatief, en gelukkig het die tyd geleer dat sy somber voorspellings nie altyd bewaarheid is nie, soos die volgende een:

Die Kaapse teater is afgeskaal, en spoedig sal opera en ballet aan die beurt kom, en hierop sal volg, soos die nag die dag volg, die total opdoeking van teater, opera en ballet. (115)

Die toekoms van Afrikaans is vir hom ‘n groot bron van kommer – hy vrees dat dit wat oor baie jare met moeite opgebou is, verlore kan gaan, en skryf aan Audrey Blignault:

Jy is vir my in toenemende mate een van “die kleine bende” – mense wat omgee. Mense wat omgee vir mense, en die waardes waarby mense bestaan; mense wat omgee vir Afrikaans, daardie ding wat met soveel pyn en opoffering en liefde en toewyding gesmee is, en nou deur verval en uitroeiing bedreig word. Op die Engelse verhoog, ja, van Fugard af, begin Afrikaans weer aangewend word soos in Kaatje Kekkelbek: vir komiese afleiding. (67–8)

Teenoor die oorheersing van Engels in die samelewing formuleer hy oortuigend sy ideaal van veeltaligheid:

Dis die geboortereg van elke moedertaalspreker, of hy nou Tswana-, Sotho- of Afrikaanssprekend is, om minstens tot sy st 4-jaar toe in sy moedertaal onderrig te word. (109)

Hy stel hom voor watter heerlike moontlikhede daar vir ‘n veeltalige teater in Suid-Afrika bestaan:

Ek kan my Griekse tragedies, Wole Soyinke en ja, ook Shakespeare voorstel in ‘n swart taal, met projeksies van die dialoog in die taal wat deur almal binne ‘n bepaalde “kanton” verstaan word. Ondertitels word reeds op TV gebruik: hoekom terugskram van “bowetitels” in die teater? (110)

Vir hom is “taal nie nét ‘n kommunikasiemiddel nie: dis ook ‘n medium vir respekbetoon – respek vir die taal, kultuur en persoon van ‘n ander” (110).

Bolwerk teen die verval wat hy oral waarneem, is kreatiwiteit, en ook die blywende wysheid van “die Titane onder die mensekinders” (243). Onder die Afrikaanse skrywers is dit veral MER, Van Wyk Louw en Elisabeth Eybers wat vir hom uitstaan as bronne van skoonheid en wysheid. Daaraan voeg hy in die briewe sy eie wysheid en lering toe, want hy is in sy diepste wese ‘n opvoedkundige – soos Lina Spies tereg opgemerk het in haar commendatio by die toekenning van ‘n eredoktorsgraad aan hom deur die Universiteit Stellenbosch.

Aucamp verset hom sterk teen die verlaging van standaarde. Hy waarsku teen mense wat te maklik opgewonde raak oor alles wat nuut is in Afrikaans, en meen dat vergelykende letterkunde die redding vir Afrikaans kan wees: “Vir my is dit die waarmerk van ‘n ‘provincial culture’: dat hy vergelyking met die beste van elders vermy” (64).

As ouer man bring hy in musiek en letterkunde ‘n onderskeid aan wat hy vroeër nie geken het nie: die onderskeid tussen helende en skadelike kuns. Tot helende kuns hoort vir hom die hemelse musiek van Haydn en die “sielsverkwikkende” prosa van Camus en Sebald (377).

Daar is nie ruimte om reg te laat geskied aan al die boeiende aspekte van hierdie ryk briewebundel nie. Ten slotte moet nog genoem word dat ons ook in sy briewe vir Aucamp leer ken as uitmuntende stilis, as iemand wat die Afrikaanse taal soos min ander kan hanteer.

Hier en daar kom foute voor wat die redigering van die bundel betref. Andreas van Wyk was nie die kanselier van die Universiteit Stellenbosch nie, maar die visekanselier (175); en die titel van Marlene van Niekerk se boek is nie Testament nie, maar Memorandum. Die foutiewe koppelteken is hinderlik by “Ge-zelle” (286) en “Vreemde-ling” (353). In enkele gevalle vra die teks vir ‘n verhelderende voetnoot, byvoorbeeld oor die bloemlesing wat Hans Ester beplan het (293).

Dit is egter klein hinderlikhede in hierdie bundel briewe van ‘n sensitiewe en wyse kultuurmens.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top