Amanda Strydom vertel van 'n Vuur gevang in glas

  • 0

'n Vuur gevang in glas word op 28 Mei by Die Boer-teater in Durbanville opgevoer en op 29 Mei by Aan de Braak-teater in Stellenbosch. Amanda Strydom vertel Naomi Meyer van dié vertoning, wat opgedra is aan haar mentor.

Hallo Amanda, dankie dat jy tyd maak om te gesels. Ons weet jy het jou mentor verloor en ons voel meelewing met jou verlies. Vertel ons van jou heel eerste ontmoeting en heel eerste indruk van Hennie Aucamp.

Ek het Meester in 1979 by Oude Libertas, Stellenbosch ontmoet tydens ’n simposium oor die Afrikaanse luisterlied. Ek, Koos du Plessis, Jan de Wet en Jannie Hofmeyr het nuwe toonsettings in Afrikaans gesing. Dit was ’n opwindende tyd, die Musiek-en-Liriekbeweging was op sy kruin en Afrikaans is van haar borsrok bevry, soos Meester sou sê. Die manier waarop Hennie gepraat het, het my eerste opgeval. Dit was ’n ouwêreldse, suiwer Afrikaans, sonder om hoogdrawend te klink. Ons het onmiddellik gekliek – ek weet nie mooi hoe om dit te beskryf nie. Toe ek ’n jaar later in sy kabaret Met permissie gesê opgetree het, het ek besef dat kabaret my soos ’n handskoen pas en Hennie het geen moeite ontsien om my insig in hierdie vakgebied uit te brei en te poets nie. Hy het gereeld vir my boeke gepos oor die Berlynse kabaret-era en ook kassette van Lotte Lenya, Gisela May, Marlene Dietrich en Zarah Leander aangestuur. Dit was altyd so opwindend om ’n nuwe bundel of boek uit sy pen in my posbus te kry. So ook sy briewe en fakse – hy het alles pynlik netjies met die hand geskryf. Na sy beroerte het hy moeilik geskryf en die briewe en fakse het opgedroog. Ons kon egter heerlik telefonies kuier, en hy het my altyd die dag voor my verjaarsdag gebel om my geluk te wens.

Ek het altyd my lirieke vir hom gestuur voor ek dit begin komponeer het en hy het deeglike terugvoering gegee. Hy het soveel moeite gedoen om opbouende, eerlike kritiek te lewer en het my geesdriftig deur die skeppingsproses ondersteun. Sy vreugde om die finale produk te ontvang en daarna te luister, was so opreg en inspirerend.

Hoe het hierdie produksie ontstaan? Oor jare, of was daar 'n spesifieke dag toe die saadjie geplant is?

Hennie het in 1985 vir my ’n eenvrouvertoning getiteld ’n Vuur gevang in glas gepos. Die lewe het baie draaie met my geloop daarna. Eers in 1996 het ek weer na die teks gekyk en daaraan begin werk. Met Hennie se toestemming het ek sekere dele gesny en van sy nuwe kwatryne en monoloë bygevoeg. Hy het ook toestemming verleen dat ek van sy reeds bestaande liedjies mag herkomponeer, en ek het lirieke wat hy deur die jare vir my gestuur het, saam met Lize Beekman getoonset. Lize was ook musikale regisseur van die eerste opvoerings van ’n Vuur gevang in glas, asook die CD-opname van die gelyknamige album. Angerie van Wyk het viool gespeel en Hennie het ’n voorwoord vir die boekie geskryf. Die kabaret het in 1997 by die KKNK gedebuteer met my, Lize Beekman en Angerie van Wyk. Om dit prakties te maak vir toere, het ek die kabaret met slegs klavierbegeleiding begin doen en Janine Neethling het in 1998 my vaste begeleier geword. Ek het Hennie se “Straatbank, Esplanade” met Graeme Currie in 2003 getoonset en dit is nou ook deel van die repertoire van Vuur. Ek en Janine het Vuur in November 2013 voor ’n radioateljeegehoor opgevoer en dit is regstreeks deur RSG uitgesaai as deel van hul eerste radio-kunstefees – Aucamp het geskiedenis gemaak – so iets was nog nooit voorheen gedoen nie.

Die produksie het ontstaan voordat Hennie oorlede is, en hy het wel insette gelewer. Hoe het hy gereageer toe hy die produksie die eerste keer sien?

Ja, ek en Hennie het inderdaad baie nou saamgewerk aan die samestelling van die inhoud en saam besluit wat moet in of uit. Ek het byvoorbeeld een van sy fabels in die eerste opvoerings vertel, maar toe besef dit is te lank en pas nie eintlik in die kabaret milieu nie. Meester het gesê: “Sny.” En ons het. Hy het Vuur twee keer gesien – die eerste keer was by Artscape net na sy knievervanging. Hy was in ’n rolstoel op vloervlak en ek onthou dat hy die gehoor meer dopgehou het as die kabaret! Die tweede keer was jare later by die Woordfees in Stellenbosch. Vuur was toe geslyp tot die kabaret wat dit vandag is, met van sy nuwe gedigte en kwatryne as bindingsteks. Hy was in vervoering.

Deborah Steinmair het as volg daaroor in Die Burger geskryf: “My absolute gunsteling was Amanda Strydom se Vuur gevang in glas. Sy gee vlerke aan die woorde van haar briljante mentor, Hennie Aucamp. Dis die ware Jakob: kabaret wat ou Berlyn sou laat regop sit en luister. Sy het ’n wrang slag met ironie, sy is vol ’troebel pret’ en haar teerheid is ’n vlinder, ’n ’papillon d’amour’. Ná die vertoning stem ek saam met Meester Aucamp se uitspraak in die foyer: Beter sal jy nie kry in die Lae Lande of enige plek ter wêreld nie.”

Nou leef hy nie meer nie, maar sy woorde leef vir altyd. Of is ek naïef? Hoe lyk "altyd" in vandag se wêreld, waar alles onmiddelliker en vinniger gebeur? Voordat 'n nuwe Facebook-prent oor die skerm skuif en mense aan iets anders dink? Hoe beskou julle sy nalatenskap?

Jy is beslis nie naïef nie, Naomi. Soos alle grootse skrywers, sal Hennie se skatkis van woorde altyd daar wees. Die omvang van sy werk is enorm, hy is volksbesit. Ek leen by Aucamp:

Wie digter was die sal nooit sterwe,
die duine sal sy liedjies erwe,
want biesies aan hul ente
blom goudgeel in die lente
die winde waai geen spore dood
bewaar hul bloot
’n saad in nood.

 

'n Vuur gevang in glas word aangebied by Die Boer-teater in Durbanville op Woensdag 28 Mei om 20:30. Kaartjies R140.

Ook by Die Boer-teater op Sondag 1 Junie om 13:30. Kaartjies R100.

Om te bespreek skakel 021 979 1911 of bespreek aanlyn by www.dieboer.com.

Lees Amanda Strydom se huldeblyk aan Hennie Aucamp.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top