Tydens die koue Bloemfonteinse Vryfees (15–20 Julie 2014) was dit veral Amanda Strydom se eenvrouvertoning, ’n Vuur gevang in glas, wat haar gehoor in hart en siel verwarm het. Strydom se sensuele stem en professionele uitvoering van liedere en monoloë het telkens verbyster met die vlak van emosionele deurwinterdheid en ’n meesleurende effek wat die gehoor saamneem vir ’n onvergeetlike ervaring.
Daar is stilte op die verhoog wanneer die vertoning begin, en die afwagting in die lug getuig van die gehoor se wete dat daar in die volgende uur iets besonders gaan afspeel. Dan begin die begeleiding van enkele note op ’n klavier en stap Amanda Strydom, soos altyd in swart geklee, op die verhoog. Wanneer sy begin sing, dring haar stem tot in elke hoekie van die teater op bedwelmende golwe van nuanses en klank, en is elkeen in die teenwoordigheid van wêreldklas talent in ’n wêreldklas kabaret.
’n Vuur gevang in glas is reeds vanaf 1985 aan die vorm en is deur die jare verfyn en vervolmaak met die hulp van onder meer Hennie Aucamp, Lize Beekman en Janine Neethling. Aucamp se liedtekste is getoonset vir hierdie kabaret en verskeie van sy monoloë, uit onder meer Met permissie gesê: ’n kabaret, word met moeitelose grasie, humor en deernis deur Strydom vertolk.
Aucamp se woorde laat die gehoor lag, wonder, filosofeer, droom én trane afvee. Die kombinasie van sy skryftalent en Strydom se vermoë om sy woorde tot lewe te roep, is soos die uittreksel uit Met permissie gesê, ’n ware spel van Kabaret!:
Om die een nie te laat nie en die ander te doen:
hoe kry ons, my vriende, dié pole versoen?
Om die lyf te verwen
maar ook gees te erken?
Om ná liefdesverraad
te bly soek na ’n maat?
Om te keer as dit moet
sonder blouoog of bloed?
Om polities te strewe
én moreel te wil lewe?
Om pyn te verduur
selfs te seën as ’n kuur?
Om die dood te sien nader
as sorgsame vader?Die antwoord, my vrinne, ken u beter as ek:
wag onder die bed, tot die vyand vertrek;
want raad en verlossing, so waar soos die wet,
bestaan bloot kuns-aardig: in ons spel – Kabaret!
’n Vuur gevang in glas is Amanda Strydom se eerbetoon aan die een wat sy Meester noem, Hennie Aucamp, die vader van Afrikaanse kabaret. Aucamp en Strydom het intiem saamgewerk met die samestelling van dié produksie se inhoud en nou, na Aucamp se dood in Maart 2014, het Strydom se eerbetoon ’n nuwe vlak van briljantheid bereik.

