So onthou ek Hennie Aucamp

  • 3


omhennieaucampteonthou_300Om Hennie Aucamp te onthou

Samesteller: Danie Botha
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485304746

Om Hennie Aucamp te onthou, saamgestel deur Danie Botha, het onlangs by Protea Boekhuis verskyn. Hieronder deel Jacques Smuts sy jeugherinneringe aan die mens Hennie Aucamp.

***

Die jare 1955 en 1956 was in meer as een opsig die gelukkigste jare van my studentelewe op Stellenbosch. Ek was reeds ‘n senior student wat rigting gehad het en kon inskakel  by studenteaktiwiteite soos kore en ook die BTK, waar ek geen uitstappies wou misloop nie.

In my koshuis, Helderberg, was ek gelukkig om ‘n elitekamer in Seksie 3 te beset en dit te kon deel met Hennie Aucamp. Presies hoe ons by mekaar uitgekom het, kan ek vandag nie onthou nie. Moontlik omdat hy reeds in vorige jare in een van die kamers langsaan gebly het en ons plaasjapies mekaar al kon opgesom het, ook met ons gemeenskaplike belangstelling in buitelug-aktiwiteite soos wat die BTK ons kon bied. 

Hennie Aucamp in die Drakensberge, Julie 1959. Hier loop die stappers in die Mnweni-vallei (Hennie dra 'n rooi hemp op die foto).

Met sy innemende persoonlikheid was dit vir my nie moeilik om hom begin 1955 as my kamermaat te verwelkom nie. Ons kon ondervindings deel van ons plekke van herkoms as plaaskinders – Hennie van Rust Mijn Ziel in die Stormberge, waar hulle op ’n keer ‘n “Wit Kersfees” beleef het, en ek van die Kammanassie, waar ons ook al sneeuvalle beleef het.  

In die kamer sien ek hom nog as die student wat sit en skrywe by sy lessenaar. Toe ek hom op ’n keer vra wat hy gaan doen as hy nou klaar is met sy formele studie, was sy antwoord: “Ek wil skryf.” Hoewel hy nooit vir my ‘n voorbeeld of manuskrip van enige aard gewys het nie, vermoed ek dat hy reeds manuskripte van sy kortverhale neergepen het. Hy het wel ook laat blyk dat hy sy oog op ‘n lektorspos by die Department Opvoedkunde gehad het, dié wat Ernst van Heerden in daardie stadium beklee het. Sover ek kan onthou, het hy dit wel gekry nadat ons in 1956 gegradueer het.

Bo-op die eskarp, Mnweni-pas

In “werkstyd” het ons nie veel van mekaar gesien nie aangesien ek bedags voltyds in die Fisika-departement besig was. Die letterkundestudente het meer vrye tyd tot hul beskikking gehad en Hennie het dan seker dikwels bedags besoek gehad van sy medestudente, oa Abraham de Vries, wat ook soms in die aand of oor naweke daar ingewals het. Oor die letterkunde kon ek nou nie met intelligente insette met hom gesels nie. Ek kon maar net luister terwyl hy gesels van skrywers soos MER en WA de Klerk.

Hennie het ‘n smaak gehad vir eksotiese items en het om ‘n kleurryke kombers aangeskaf wat hy ook op BTK-toere saamgeneem en as drapering by kampvure gedra het. Vir ons gesamentlike koffiedrinkery in die kamer het ons ook mooi kleurvolle koppies by Binnehuis gekoop.

Hennie Aucamp en Piet Conradie teen die Mbundini-pas

Hennie het natuurlik ook ‘n groot geesgenoot gevind in Con de Villiers. Ek het dan ook dikwels die voorreg gehad om op ’n Sondagmiddag saam met hom by prof Con besoek af te lê om musiek te luister en natuurlik te deel in sy kennis van groot musieksterre.

Ek kon dit altyd maar net as luisteraar geniet en het dit deel gemaak van my opvoeding buite my vakgebied. Met ons gemeenskaplike belangstelling in musiek het ons saam ook die voorreg gehad om simfoniekonserte deur die Kaapstadse Stadsorkes in die Stellenbosch-stadsaal by te woon en dan ook uitvoerings in die konservatoriumsaal deur gevierde soliste soos  Andres Segovia (kitaar) en Pierre Fournier (tjello).

Hennie Aucamp en Piet Conradie bo-op die Mbundini-pas

Met ons belangstelling in buiteaktiwiteite het ons soms die tyd kon vind om die omgewing per fiets saam met ander studente in ons seksie te verken. In hierdie verband onthou ek ‘n besoek aan Papegaaiberg en ook ‘n rit na Macassarstrand. Ons grootste ondervindings saam was natuurlik die BTK-uitstappies na omliggende berge soos die Tweelingpieke, Helderberg, Duiwelskloof  en andere. Dan natuurlik die BTK-toere gedurende kortvakansies en Galaweek-toere voor die jaareinde se gradeplegtighede.

Een van die toere het ons Hel toe geneem voor die pad daarheen gemaak is. Ná ons laaste galaweektoer en gradeplegtigheid het ons weë geskei. Ná die Kersseisoen moes ek my na die arbeidsomgewing in die noorde begewe en Hennie is terug na Stellenbosch om sy lektorspos op te neem.

Ons het nie gereeld kontak gemaak nie totdat ons albei in 1959 besluit het om die jaarlikse Juliekamp van die Natal-afdeling van die Bergklub van SA by te woon. Hoedat ons kontak gemaak het om ons reëlings te tref, kan ek nie onthou nie. Nietemin, ons het saamgery na Natal en ons na die basiskamp in die Mnweni-vallei begewe waar ons, en ook Piet Conradie, saam in ‘n stapgroep onder leiding van Doyle Liebenberg ingedeel is.

In die eerste paar dae van ons staptog het ons die eskarp bo die Mnweni-pas bereik en daarna weer onder gaan kamp in ‘n skuiling in die pragtige Mbundini-vallei. Daardie nag het ons ‘n sneeustorm beleef. Die weer het in die oggend mooi opgeklaar en ons drie jonges, Hennie, Piet en Jacques, het weer die eskarp aangedurf om die sneeulandskap te gaan ervaar. Dit was vir ons almal ‘n hoogtepunt van die kamp.

Jacques Smuts en Hennie Aucamp op pad na die basiskamp in die Mnweni-vallei

Gedurende die kamp het ons ook berig gekry dat die lyk van Peter Christensen gevind is. Peter het op 29 April op die eskarp naby die Tugela-waterval in ‘n sneeustorm verdwyn toe hy ander lede van sy studentegroep probeer red het. ‘n Ander lid van sy groep, Keith Erasmus, het ook in die storm verkluim.(Sien: Dragons Wrath – R O Pearse en James Byron, Macmillan Publishers, 1986). Peter se lyk is ‘n dag of wat later voor nog 'n sneeustorm gevind, dieselfde een wat ons ongeveer 20 km weg in die Mbundini ervaar het. Hierdie storm sou waarskynlik weer die lyk van Peter Christensen ‘n tyd lank bedek het as dit nie toe gevind is nie.

Ná afloop van die Juliekamp het ons weë weer geskei en so ook ons kontak met mekaar. My kontak met hom in die jare daarna het net bestaan uit die lees van sy kortverhale en ‘n gelukwensing met die toekenning van die Hertzogprys . Ek het wel op ‘n reis na die Suid-Kaap by Rust Mijn Ziel ingery om ‘n beter prentjie van sy geboortegrond in die Stormberge te kry. Dit het my baie gehelp om ‘n beeld te vorm vir ‘n agtergrond van sommige van sy kortverhale wat ek mettertyd aangeskaf het en wat moontlik na Stormbergkarakters kon verwys het, al was hulle veronderstel om fiktief te wees.

Al kan ek nie daarop aanspraak maak dat ek enige invloed op Hennie se vorming as jong skrywer gehad het nie, voel ek tog geëerd  dat ek hom geken en as kamermaat kon gehad het. 


Foto's is geneem deur Jacques Smuts, kamermaat van Hennie Aucamp vanaf 1955 tot 1956 in die Helderbergkoshuis van die US. Die foto's is gedigitaliseer vanaf kleurskyfies en is dus nie van sulke hoë kwaliteit as die hedendaagse digitale foto;s nie. Die fotos is geneem tydens ‘n Juliekamp van die Natalafdeling van die Bergklub van SA in 1959.

  • Jacques Smuts het gematrikuleer aan die hoërskool op Uniondale waar hy onder meer ’n leerder was by die  geskiedkundige  dr JA Heese. Hy gradueer in fisika op Stellenbosch waarna hy navorsingswerk  by SASOL, WNNR en YSKOR doen. Ná sy aftrede reis hy en eggenote Elzine baie, en vertrek hulle onder andere op voëlkyktoere.
  • 3

Kommentaar

  • Naskrif.

    Van sy vele skrywes, het ek veral die kortverhaal "La Divina en die Cowboy" vanuit Volmink geniet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top