Woordfees-onderhoud: Hennie Aucamp in gesprek met Margaret Bakkes

  • 0

Margaret Bakkes word op 7 Maart 2011 by die US Woordfees in ’n profielaanbieding gehuldig. Sy vier vanjaar haar 80ste lewensjaar. Hennie Aucamp het in 2006 by die US Woordfees met haar gesels. Hier volg ’n weergawe van hul gesprek, met ’n aanvulling daarvan in 2011.

Aucamp: MER en Elise Muller was in ’n stadium ál literêr betekenisvolle kortverhaalskryfsters in Afrikaans. Nou word die kortverhaaltoneel oorheers deur skryfsters: Henriette Grové, Margaret Bakkes, Petra Müller, E Kotzé (Sussie), Rachelle Greeff, Rita Gilfillan, Riana Scheepers en ander. ’n Paar van dié skryfsters keer telkens in hul verhale terug na hul kontrei: Grové na die Wes-Transvaal, Petra Müller na die Overberg en omstreke, Margaret Bakkes na die Stormberge, Scheepers na die tuinprovinsie, KwaZulu-Natal.

Aangesien dit om Margaret Bakkes handel, en spesifiek om haar Stormbergse verhale, wil ek Margaret vra om voor te lees uit die bundel Ontheemdes, en wel die slotgedeelte van haar teks “Grafskrifte”, waarin sy die Aucamp- en die Stormbergkonneksie in haar werk uiteensit:

Bakkes: Die Aucamps is lank in die land. Die eerste Aucamp had die mooi Franse naam Diderique. Wat natuurlik heel gou Diederik geword het. Daar was toe later twee groepe Aucamps, die Dopper-Aucamps en die Gatjiepônners. Die Aucamps wat egter vir mý saak maak, mý Aucamps, is die Stormberg-Aucamps: die Penhoek-Aucamps, die Klapkloof-Aucamps en die Allemanspoorters. Dit is die Penhoek-Aucamps wat met die moed van hul Franse voorvaders die veilige Kaap verlaat het en in die Noordooste die ontberings van die Stormberge getrotseer het: nie net plunderende, moordende Tamboekiehordes nie, maar bittere koue en winterkapok, droogtes en versengende hitte; daarby ’n boomlose, bleek, gestroopte landskap.

Aucamp: Sommige van Margaret Bakkes se Stormbergverhale is spesifiek Rus-mijn-ziel-verhale, waarvan ek twee wil uitsonder: “Die vuurdoop” in ’n Baksel in die môre (1973) en die titelverhaal in Wat op die middag verwoes (1977).

Ek probeer Margaret jare reeds gerusstel dat ek nie een van dié twee verhale sou kón geskryf het nie. “Die vuurdoop” het byvoorbeeld intieme agtergrondskennis van die Anglo-Boereoorlog nodig, iets wat ek eers op laat leeftyd verwerf het. Dis die verhaal van hoe my pa, toe nog ’n seuntjie, se waentjie deur die Kakies afgeneem is vir vuurmaakhout.

Margaret, hoe oud het jy die seuntjie Daantjie geskat? (My pa is in Junie 1896 gebore.) Was een van jou eie seuns die model?

Bakkes: Ek het die seuntjie op sewe jaar geskat. Op dié ouderdom sou ’n kind reeds die emosies wat hy ervaar, kon internaliseer en later terugroep, soos Hennie se pa, oom Pieter, dit kon doen en in sy ouderdom aan my kon oordra.

Aucamp: By die herlees van “Die vuurdoop” het dit my opnuut getref hoe goed jy inhoude geïntegreer het om ’n sterk narratiewe lyn te kry. Eers die seuntjie se bednatmaak-probleem, as gevolg van spanning oor die oorlog op koms; toe die behoefte aan ’n eie waentjie, iets wat sy aandag kon aftrek van sy bednatmaak-probleem; en dan die slottoneel waar die Kakies sy waentjie afneem. Wil jy vir ons die slot van “Die vuurdoop” lees, asseblief?

Bakkes: “Daantjie sien hoe sy wa op die vlamme gegooi word. Geen stomme woord kan hy uitkry nie. Hy staan totaal bestorwe, nie gebore in staat om homself te verroer nie. Die vlamme brand swart en rooi teen die geel buikplanke, lek inhalig aan die olierigheid van die hout. Dit voel vir Daantjie asof hy die hitte van die vuur van binne in sy kop kan voel, sodat sy kop al groter en groter swel. Dan ruk iets in hom los en soos ’n rasende storm hy agter die boom uit. Hy skiet op die dikgesig af en voor die verslae Tommies skop hy en skop na die boomstamkuite van die man.

“‘Verdomp!’ skreeu hy, heeltemal buite weste. ‘Verdomp! Vark!’ Dit neem Dikgesig ’n rukkie om tot homself te kom, maar as sy groot hand uitskiet om Daantjie te gryp, spring dié om en hardloop huis toe asof die Satan en al sy trawante agter hom sit. Daar is ’n blinde besetenheid in hom, ’n woeste woede soos hy nog nooit tevore gevoel het nie. Alle vrees is uit hom uit, alle onsekerheid. As hy om die huis storm, staan sy ma en pa op die stoep met die twee Tommies wat vooruit gery het. Hy merk nie dat hulle albei bleek en strak is nie. Sien nie hoe sy ma se oë groot word as sy die wildheid in hom sien nie.

“Die woorde wat hy wil uitskree, slaan vas as hy die twee vreemdes sien. Hy spring om en sy ma hoor hoe sy kamerdeur agter hom toeklap. Later hoor hy hoe die twee kakies met hul perde van die werf af ry. Eers dan kom Daantjie uit. Hy kry sy ouers in die gang. As hulle na hom kyk, sien hulle dat sy gesig anders is, asof iets die kinderlikheid daarvan afgevee het. Om sy mond lê ’n wit kring en sy lippe byt hard opmekaar.

“‘Pa moet gaan.’ En sy stem pas nie by sy jare nie. ‘Pa moet dadelik gaan. Ons sal regkom hier op Ruspoort. Ek en Ma en Finias.’”

Aucamp: “Die vuurdoop” is vir my een van die beste inisiasieverhale in Afrikaans, dws verhale waarin iemand, dikwels ’n kind, van ’n staat van onkunde oorgaan tot ’n staat van kennis, meestal op dramatiese wyse, en “sadder but wiser” anderkant uitkom. Die drie sinne in die gedeelte wat jy so pas gelees het, spel die inisiasie-proses uit:

“Hy kry sy ouers in die gang. As hulle na hom kyk, sien hulle dat sy gesig anders is, asof iets die kinderlikheid daarvan afgevee het. Om sy mond lê ’n wit kring en sy lippe byt hard opmekaar.”

Die tweede Rust-mijn-ziel-verhaal heet “Wat op die middag verwoes”. Die Sterkstroom-Aucamps praat tot vandag toe nog van Allemanspoort of Almanspoort, maar Almanspoort is eintlik ’n oorkoepelende naam wat onder andere Rust-mijn-ziel, Steynsrust en Rooihoogte insluit, plase wat in vroeër tye inderdaad één plaas was.

Nou is dit juis die plase Rust-mijn-ziel en Steynsrust wat deur die builepes (bubonic plague) getref is in 1937 of 1938. My suster kan ook nie mooi onthou nie, al is sy ouer as ek. Ons was nog voorskools en ek kan nie onderskei tussen wat ek onthou en wat my ouers, veral my ma, vir my vertel het nie. Al wat ek helder onthou, is dat Rust-mijn-ziel, asook Steynsrust, my oom Jan se plaas, vir drie maande lank onder kwarantyn geplaas is en dat al ons werfdiere, ook ons perd Midnight, doodgeskiet moes word, aangesien diere ook pesdraers is.

Margaret, jy gebruik die woorde “luiskoors” en “swartkoors” in jou verhaal “Wat op die middag verwoes”. Ek is beïndruk deur jou kennis, ook van voorsorg- en noodmaatreëls omtrent builepes.

Ons, dis nou die Aucamps van bo-op Die Berg, het net van Die Pes gepraat, na die voorbeeld van die dominee en die dokter. Die agtergrond van die pes was soos volg: Een aand teen skemer het een van ons werkers kom vra of ’n vreemde vrou wat by hul stroois aangekom het, mag oorslaap. Daardie nag laat is daar aan Pa-hulle se venster geklop; dieselfde werker het kom vertel dat die vrou dood is. Die distriksgeneesheer is laat kom, en het builepes gediagnoseer. Twaalf werkers altesaam is op Rust-mijn-ziel en Steynsrust oorlede. Pa en ma het elke aand met die huisgodsdiens Psalm 91:3 gesing, nog in Nederlands. Ek haal aan uit ’n Nederlandse sangbundel uit 1916, ál een waarop ek my hand kon lê. Pa-hulle se weergawe sou heelwat eenvoudiger gewees het as:

De pest, met welk een’ snellen spoed
Zij moog’ in t’ duistre waren,
Noch ’t streng verderf, dat’s middags woedt,
Zul uwe ziel vervaren.

Bakkes: Nee Hennie, jy het dit mis. Ek was my nie bewus van die builepes op Rust-mijn-ziel nie. Die gebeurtenis waarna ek verwys, het plaasgevind na die Tweede Wêreldoorlog toe soldate uit die Noorde begin terugkeer. Die uitbreek van tifus (nie typhoid/maagkoors nie) is in die wandel toegeskryf aan hierdie terugkeer en het in die volksmond luiskoors geheet omdat die oordrag toegeskryf is aan luise. Daar is ook van swartkoors gepraat. Kommentaar oor my kennis van voorsorgmaatreëls om die gebeurtenis: ek het dit immers beleef. My beleefnis uit die aard van die saak ook gefiksionaliseer.

Aucamp: Ek besef nou dat daar verwarring is. Jy het die “pes” op Klapkloof beleef. Wil jy nie vir ons uit jou verhaal voorlees nie?

Bakkes: “Teen die late, wanneer die son reeds aan die sak is, hoor sy dit. Die klaagsang van die vroue. En sy weet dat hulle Nohaitutu graf toe dra. Haar ma se verbod is vergete. Sy pyl tussen die doringbome deur, verby die windpomp en die gronddam; verby die ouhuis; skuins verby die verlate hutte. In die middagson se gloed sien sy hulle: ’n yl streep al met die voet van die koppie langs. Sy draai terug en koers agter die ouhuis tussen die klippe deur, die koppie op. Sy kom eers weer tot stilstand wanneer sy oorkant die begraafplaas is. Sy kan alles duidelik sien: die rou gat in die grond, die mans wat die lykie van Nohaitutu op ’n plank bokant hul skouers dra. Dis in ’n rooi kombers toegedraai, ’n klein, donker hopie. Agter die mans loop die kermende vroue. Teen die gloed van die ondergaande son wat die vaal veld aan die brand steek, is die begrafnisgangers swart en hoekig afgeteken. Hul sang klink eindeloos droef in die stil middag en dam teen Gerda se ore op sodat sy heeltemal verswelg word. Sy sit teen die klipkoppie totdat almal na die hutte teruggekeer het. Behalwe Nohaitutu se pa en haar broers, wat in die indonkerende skemer ritmies en stadig die graf toegooi. Dan spring sy op en hardloop deur die donker huis toe.”

Aucamp: Margaret, ek identifiseer vier bestendige temas in jou verhale: jong kinders, dood, verminking, verlies.Het jou eie vier kinders jou verhale oor kinders aangestig, en in welke mate? En nog ’n vraag: Staan jy by wat jy jare gelede aan my gesê het: “Dis sinvol om kinders te hê”?

Bakkes: Tog wel. Ek verwys na een van die min gedigte wat ek geskryf het, waarin ek na al vier my kinders en die lewensmaats verwys.

Moedersdag

Sou ek met voorbegrip dit so wou hê
die terminale toestand wat oor jare lê?
As ek geweet het dat na vyftig jaar,
die na-nag wakkerlê nog sorge baar;
dat ’n kind se smarte oor sy kind
mý vaster as ’n ysterboei sou bind?
Hoe kon ek weet die naelstring het geen afsnypunt,
dat ek in logika geen rus sou vind?
Die antwoord kom so onbetwisbaar en sekuur.
Geen argument kan hierdie sekerheid verduur:

                                1
Uit Kanada ’n vlamrooi tulp
En daarmee ’n gedig van Antjie Krog geleen:
“Mamma ek skryf vir jou ...”

                         2
’n Vrou in vroeë middeljare, nie uit my lyf,
maar onlosmaakbaar deel van my, wat skryf:
Dankie Ma, want sonder Ma
sou ek nie oor die jare heen die vrag kon dra.

                              3
’n Pasgetroude seun, lank nie meer kind,
wat vreugdevol ’n vrou wat vir hom lief is vind;
’n Vrou wat vir haar nuwe ma
’n geel gerf sonneblomme huis toe dra.

                              4
’n Telefoongesprek op Moedersdag:
“Ek vat nie grond nie, Ma
Sodra ek kan, kom haal ek Ma,
dan eet ons saam, net ek en Ma.
Maar groete ook van Reinie af tot anderdag.

                              5
En hy wat vyftig word, reeds grys, wat sê:
Nou weet ek eintlik tog wat Ma wou wys:
Hoe hul my lewe en my wete vul,
dié twee van my en dat ek nou begryp!

                              6
Dan is daar hy wat ek van jongtyd ken, wat toe reeds al, my dogter graag wou wen.
En steeds deur meer as dertig jaar
’n pad van sorg en liefde loop met haar.
En ook met my, sy tweede ma,
wat elke dag met veel plesier
’n ou Sjinese skinkbord, warmrooi van kleur,
wat hý vir my gekoop het, streel.
*
En eindelik die seker wete:
As ek die winterjare moet betree
uitgesluit van hierdie ryke gee –
na alkant toe – osmose met die wingerdlote
wat met geile weelde om my stoel,
sou ek soos gras die wrede aanslag voel,   van ryp wat ysig koud sy doodskleed sprei;
sou ek verskrompel tot steriele niks.

Aucamp: Wat verminking betref, wil ek twee verhale noem: “Geen sagte troos” uit Die reise van Olga Dolsjikowa, wat oor mastektomie handel en ’n prosa-ekwivalent word van Eybers se gedig “Mastektomie”, en jou verhaal “Benedicta”, eweneens uit Die reise van Olga Dolsjikowa.

Jou verhaal “Benedicta” het byna oornag klassieke status verwerf. Dit handel oor jou reaksie op die skoknuus dat jou seun Christiaan sy een arm, en byna ook die ander, verloor het in ’n epiese stryd teen twee krokodille.

Jou jongste bundel, Littekens, konsentreer veral op geestelike verliese, op “afskeid en vertrek”, om met Catullus (via Karel Schoeman) te praat. Ek hou van prof Pieter Kapp se benadering omtrent verliesliteratuur. Hy skat Braam de Vries se bundel Tot verhaal kom en my memorie In die vroegte histories in. Jou bundel Littekens het later verskyn, maar hoort ook in die historiese kader, want dit handel eweneens oor ’n wêreld wat was. Al drie, Aucamp, De Vries, Bakkes, behoort aan die 70+-geslag.

Vir ’n gekonsentreerde inleiding tot Littekens moet ek teruggryp na ’n brief wat ek in Oktober 2005, of daar rond, aan jou geskryf het:

Miskien is alle toegewyde skryfwerk – dit wil sê skryfwerk wat uit innerlike oortuiging ontstaan het – die resultaat van ’n helingsproses. Die skrywer probeer tot ’n vergelyk kom met pynlike ervarings, of dié hom van buite af getref het, en of hulle nou uit selfverraad en ontoereikendheid kom.

’n Skrywer se littekens, soos in jou gelyknamige bundel, word op die ou end medaljes, soos dié wat oudstryders dra, minder of meer glansend, soos die geval ook mag wees.

Ek, jy, Braam de Vries, is leeftydgenote, en kan al drie soos Karen Blixen sug: “I had a farm in Africa.” Ons terugdink aan daardie plase is lank nie meer suiwer nostalgies nie, dit het ’n desperate ondertoon, soos in jou pragtige fantasie “Ingesneeu”.

Tot sover my aanhaling. Ek wil uitbrei daarop en beklemtoon dat hierdie nostalgie nie van suiwer allooi is nie, of ooit weer sal kan wees nie. Dis versny met skuld, maar ook met woede, oor onder meer vrugbare en produktiewe plase wat nou aan die verwaarlosing oorgelewer is.

Jou verhaal “Ingesneeu” begin só: “Sy sou nooit later begryp wat haar gedryf het om terug te gaan nie”, maar later in dieselfde paragraaf is daar al die skemering van begrip: “Was dit ’n poging om die verlede te besweer? Om vrede te maak met onopgeloste aggressie wat sy deur die jare met haar saamgedra het.”

Bakkes: Inderdaad. ’n Lang lewe het my geleer dat onopgeloste aggressie, woede, verwyt, ook teen gestorwenes wat jy nie meer kan konfronteer nie, op jou geestestoestand inwerk en jou immuunstelsel ondermyn sodat jy jou gesondheidstoestand in gevaar stel. Maar jy besweer nie met die verstand jou verlede nie. Vergifnis is nie ’n wilsbesluit nie. Dis ’n wonderwerk. En soms kom die wonderwerk deur ’n storie, onbedink, onbeplan – ’n onverdiende gawe.

Aucamp: In jou verhaal “Ingesneeu” keer jy terug na Klapkloof, soos ek in ’n droom teruggekeer het na Rust-mijn-ziel. My droom was kort, maar dringend, en het hom so dikwels in die tyd herhaal dat ek dit neergeskryf het:

Rust-mijn-ziel

Altyd weer dieselfde droom:

Dis nag, en winter op die Stormberge; en ek is oud en
verlate, en kom te voet op Rust-mijn-ziel aan.

Van die opstal het net ’n murasie oorgebly. Ook hier is
geen skuiling nie. Maar wanneer ek om die hoek van die bouval
stap, sien ek dat een vertrek bly staan het, en dat daar ’n lig in
dié kamer brand.

Ma sit vir my en wag voor die swart stofie met sy krom pote.
Die tafel staan gedek, en by my ou eetplek is daar ’n netjiese
stapeltjie pos met buitelandse seëls.

Ek gaan sit by Ma en streel haar hande soos ek nooit gedoen het
toe sy nog gelewe het nie.

Anders as ek op Rust-mijn-ziel, kom jy op ’n Klapkloof aan wat versorg en behoue is, met werkers uit jou kindertyd, onder andere jou speelmaat Nohaitutu; daar is kaggelvure en sop teen koue; daar is geborgenheid. Maar wat reddeloos verklap dat “Ingesneeu” ’n fantasie is, is die naam Nohaitutu. Jy het haar laat sterf in jou verhaal “wat op die middag verwoes”, en nou:

           “gewek uit die sonde, herleef uit die dode”

is Nohaitutu wéér daar. Nohaitutu was ’n werklikheid wat mite geword het.

Wat het van jou kleinseun Jacques geword? Vul die gehoor eers ’n bietjie in oor Jacques.

Bakkes: Jacques het nie teruggekeer nie. En dit was reg so. Hy lei ’n vervulde lewe in sy nuwe land Kanada, besig met sy studies as medikus en in die geborgenheid van sy gesin wat na veertien jaar Kanadese burgers is, met steeds ’n blywende Afrika-liefde.


Verdere vrae aan Margaret Bakkes ter aanvulling van ’n gesprek wat in 2011 plaasgevind het

Aucamp: Margaret, jy het binne ’n boekkultuur grootgeword. Ek onthou dat jou vader – oom Hendrik – ’n verbete leser was. Het jy en jou man Cassie bewustelik ’n boekkultuur in julle huis geskep, of het jou skrywer-seuns, Johannes, Marius, Christiaan en jou dogter Mathilde, sommer net vanself begin lees en skryf?

Bakkes: Inderdaad. My pa, Hendrik Aucamp, nooit ’n toegewyde boer nie, het selfs skelm op handdoeke in die bad, agter geslote deur, lê en lees aan Shakespeare, en dies meer sy! In die Bakkes-huis was dit ’n gegewe – lees en skryf. Die rite was kleintyd bad, bedtydstorie, Bybelstorie, bid. Johannes beweer dat ek hom fisies met my voet op die mat vasgetrap het en beveel het: “Lees!” Pa Cas het oor 60 jaar dagboek geskryf, skripsies, artikels – sonder ophou – en Ma Margaret het eerder as om te gaan skoolhou, sonder ophou, dag en nag tydskrifkortverhale en vervolgverhale op ’n ou Remington uitgetik – tikfoute met xxxx doodgetik. Met die pogings kon ek karavaan koop en reis. Later het die ander kant van my skryfwerk beurt gekry – tot vandag toe in my tagtigste jaar. Vir 56 jaar dus – van 1954 tot 2011.

Hoe kan dit dan anders met die kinders? Johannes, Christiaan, Marius, die joernalis en draaiboekskrywer. En ja, Mathilde, wat ek vermoed skelm skryf. Want ja, ook sý kan, van gedigte in haar eerste jaar, wat eintlik ook genooi moes gewees het om by te wees met ’n Bakkes in die môre!

Aucamp: Die argivale gewete by my het laat begin, eers rondom die kontreiboek Op die Stormberge (1971). By jou was dit al baie vroeg daar, dalk omdat jy met ’n historikus getroud is. Wil jy iets sê oor die rol wat geskiedenis in jou werk speel?

Bakkes: Ongetwyfeld kom die rol wat geskiedenis in my lewe gespeel het, van vroeg af: my rebelle-oupa, Christiaan Aucamp, wat my kleintyd vertel het van sy Rebelle-geskiedenis en sy verblyf as voëlvrye in Nederland, van my pa, van my man. Hoe anders?

Aucamp: Hoe voel jy oor die Afrikaanse letterkunde vorentoe? Ek praat nou nie van die kommersiële produk nie, want dié sorg altyd vir homself, maar van daardie soort boeke, bellettrie, herinneringskuns, egodokumente, waarin die siel van ’n groep opgevang word. ’n Groep sonder siel het volgens my geen bestaansreg nie. Die be-siel-ders in my lewe was MER, Gustav Preller, Con de Villiers, NP Van Wyk Louw, Petronella van Heerden. Sonder hulle was ek skaars mens. Hulle het my gevorm, leer dink, respek vir kontinuïteit bygebring. Wat dokter Con my veral geleer het, was veragting vir wat hy genoem het “die maklik verkreë”.

Bakkes: Vra jy nog? Hartseer, benoud, teleurgesteld, ontman, uitgesluit – ook na eie ervaring onlangs. En na wat met NALN gebeur het – magteloos.

Aucamp: Reis was ’n groot aanstigter in jou skryfwerk, binnelands en buitelands. Meer hieroor, asseblief. En kan jy iets lees oor daardie huisie in Rhodes waar ek ook meermale as Marius se gas gebly het?

Bakkes: Nie verniet snags stories geskryf om te kon reis nie – gereeld op die spreekwoordelike “shoestring”. Eers met kinders en karavaan in Suid-Afrika en Namibië en later oorsee. En nou is dit verby, maar steeds reis ek en Cas in ons koppe. En deur ons kinders wat landvol en landuit is!

Aucamp: Wat laat jou telkens weer terugkeer na die kortverhaalvorm?

Bakkes: Die impak! Wat jy net in ’n kortverhaal kan verwoord. Die wow! van die gegewe wat jou tref.

Aucamp: Ons sou ure kon gesels, maar die tyd haal ons in. Wil jy jou gedig “Skisofreen” vir ons lees, asseblief?

Bakkes: Hierdie gedig is deur ’n intense brief van my aan jou afgevuur, net nadat jou bloemlesing Wys my waar is Timboektoe verskyn het; maar die gedig het jare later eers ontstaan. Die basiese spanning in my brief en in my gedig is die Europa versus Afrika-spanning:

Skisofreen

Hierdie Afrika, hierdie gedoemde Kontinent
Maak my tot skisofreen.
Bedreig my, skeur uiteen:
my hart, my kinders, tot aan die einders toe.
Sodat ek weerloos en verward
wil weet: wat nóú my hart?

Ek reis oor vreemde Kontinente heen
om vas te stel of hul daar aard.
Of ek dalk sélf, vervreem van huis en haard
vervreem van son en see en sand,
vervreem van oerbekende bodem van my land
in dié verre, onbekende uithoek
geborge in die skrale warmte van ’n kind,
in dié wit land van ys ’n plek kan vind.

Aucamp: Wanneer gaan Afrika erken hoeveel hy van Europa gekry het wat ook positief is – Engels, byvoorbeeld, wat vinnig besig is om die omgangstaal van die kontinent te word? En wie is dit wat Afrika-kultuur probeer red en bestendig? Dikwels juis die indringers; die kolonialiste.

 

Uit die Woordfees-program:

MARGARET BAKKES 80
Die gewilde prosaskrywer Margaret Bakkes vier vanjaar haar tagtigste verjaarsdag. Liesbeth Botha en Dorothea van Zyl kom stel ’n heildronk in op die lewe en werk van dié gevierde immer jong woordkunstenaar. Margaret wys waarom die talent so dik loop in die Bakkesfamilie se are. Seun Johann Bakkes kom loer in en neef Hennie Aucamp knik tevrede!
7 Maart 19:00 | Boektent | 80min | R40

Klik hier om die volledige program te sien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top