Emily100: met ’n Emily-bril

  • 0

Op 31 Oktober 2026, presies om 11:00, word die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein Suid-Afrika se grootste verhoog. ’n Skare van meer as 4 000 mense sal ’n geskiedkundige massaproduksie aanskou.

Geen fluweelgordyn nie; geen sagte teaterstoele nie. Net die ope lug, die 4 kilometer promenade vanaf die historiese Tweetoringkerk tot by die Vrouemonument en ’n skare teen die Vrystaatse koppies.

Emily100 is ’n eeufeesviering wat afskop met hierdie geskiedkundige heruitbeelding van Emily Hobhouse se aangrypende staatsbegrafnis, presies 100 jaar gelede. Die produksie sal die oorspronklike begrafnisprogram volg, insluitend die stoet van naastenby 700 vroue – meeste van hulle dogters uit Eunice High School en Meisieskool Oranje, met eietydse klere wat spesiaal vir die produksie deur die bekroonde Sylvia van Heerden ontwerp is.

Kinders wat na Emily vernoem is en ’n Emile lei die stoet. Die 200 meisies – 100 van Eunice High School en 100 van Meisieskool Oranje volg ná die draagbaar. Die twee skole sal soos in 1926 weer deelneem. Foto: © The Story of Emily Collection

Die program eggo die gebeure presies soos ’n eeu gelede: die loslaat van duiwe, die skriflesing en psalms, die bykans 400 perde met ruiters in 1926-kostuum en die oorspronklike toespraak van Jan Smuts, gedramatiseer deur Dirk Vorster. Duisende toeskouers sal, soos destyds, op die koppies sitplek inneem.

Die kissie met die as is deur ses meisies gedra. © Foto: The Story of Emily Collection

’n Deel van die begrafnisgangers op die koppie agter die Vrouemonument. © Foto: The Story of Emily Collection

Kan jy dit in jou geestesoog sien?

Die groot skaal en geskiedkundige gewig van die gebeurtenis gee my hoendervleis. Weet my kinders ooit wie Emily Hobhouse was?

Die Emily100-eeufees

Ek sit by die mediabekendstelling van Emily100 – ’n eeufees. Daar is ’n bordjie Hertzoggies en roosterkoek met biltong op my skoot. Die sameroeper van die fees Elsabé Brits en vervaardiger van die massaproduksie Karen Meiring begin die bekendstelling met ’n video van die 1926-staatsbegrafnis. Die swart en wit, klanklose beeldmateriaal herinner aan ’n Fellini-fliek. Die optog van die vroue in sagte, vloeiende, wit rokke lyk soos Pina Bausch se choreografie.

Die beduidenis kom lê op die krop van my maag.

Emily Hobhouse was ’n humanis, ’n fluitjieblaser en ’n voorloper van verandering. Om te sê dat sy braaf was om ’n magtige imperiale mag soos die Britse Ryk aan te vat, is ’n wrede onderskatting. Die impak van haar lewe en nalatenskap is enorm. 20 000 roubeklaers en hooggeplaastes het haar staatsbegrafnis bygewoon. Die eerste staatsbegrafnis vir ’n vrou in Suid-Afrika, ooit.

Emily Hobhouse. Foto: © The Story of Emily Collection

In ’n era waarin vroue geen stem gehad het nie, het sy berge versit om ongeregtigheid reg te stel.

Wie is ons Emily vandag? Wie is die brawe mense wat teen alle verwagting en dekorum opstaan en stem dik maak? Wie is die dwarses? Die moedswilliges?

Op pad huis toe ry ek verby ’n groepie betogers in swart wat saamdrom by die verkeersirkel in my buurt. Die plakkate in hulle hande pleit teen geslagsgeweld.

Is dit hoe ons in 2026 ons vuiste bal? Is dit genoeg?

Verandering vra vir ongemak. Kapsie maak beteken dat jy onpopulêr gaan wees. Ek vermoed ons is dalk te gemaklik agter ons hashtags en @handles om ’n Emily te wees.

Bianca du Plessis, wat die bemarkingsveldtog vir die Emily100-eeufeesviering op sosiale media dryf, spot juis dat jongmense op TikTok moontlik slegs met Emily Hobhouse sal identifiseer as hulle besef dat sy reeds in 1901 ge-cancel is.

Die spesiale fokus op ’n sosialemedia-bewusmakingsveldtog rakende Emily Hobhouse se nalatenskap getuig van ’n doelbewuste mikpunt om veral die jeug by die eeufeesvieringe te betrek. Gaan volg gerus die nuwe @Emily100-profiele op Facebook, Instagram en TikTok, asook die nuwe webtuiste emily100.com.

’n Musiekblyspel oor Emily Hobhouse

Ná die mediabekendstelling gesels ek met regisseur Nico Scheepers en ’n paar akteurs wat die musiekblyspel The story of Emily by die San du Plessis-teater op die planke bring. Hierdie verhoogstuk, geskryf deur Deon Opperman met musiek deur Janine Neethling, is ook spesiaal vir die eeufeesviering geskep en sal van 28 tot 31 Oktober aangebied word.

“Sy was ’n unicorn,” sê Nico. “Dit wat sy gedoen het, maak nie sin nie. Die punt van die verhoogstuk is nie om ’n dokumentêr te wees nie. Dis ’n viering van haar menswees. Daarom het ons ’n musiekblyspel gekies. Musiek dra die emosie, die tragedie en die hoop. Die San du Plessis-teater is ook so groot en majestueus. Emily is ’n alleenfiguur op die verhoog. Die idee is dat die gehoor voel hulle kyk na ’n oop wond. Die aanbieding speel ook in op die diskoers van vandag: Wat gebeur as ’n mens weerstand bied teen ’n sisteem op die regte manier?”

Die aktrise Kate Normington, wat die rol van Emily Hobhouse vertolk, beaam dat ons elkeen ’n bête noire in ons eie lewe kan identifiseer om teen op te staan.

Tog is dit aktrise Daneel van der Walt se emosionele opmerking wat my bybly. As deel van haar vertolking in The story of Emily verteenwoordig sy die Afrikanervrou.

“Soms stop ek in die middel van die repetisie en dink: ‘Ek kan nie, dis te hartverskeurend.’ Hierdie storie herinner my aan wat deur waagmoed vermag kan word.”

Hoe sal die wêreld lyk as ons almal met ’n Emily-bril daarna kyk?

Ek vermoed dat ek op 31 Oktober ’n paar vroue in my kombi gaan laai. Ons sal wit aantrek en biltong pak vir die langpad Bloemfontein toe. Met elke tree van die prosessie sal ons stil-stil ons eie oorlog voer en met die loslaat van die duiwe elkeen haar eie opstand van stapel stuur.

Jy kan jou kaartjie vir die feesvieringe vir R15 by Webtickets koop.

Bring jou dogter en jou ma. Kom sit op ’n Vrystaatse koppie en wees deel van ’n een-keer-in-’n-leeftyd-gebeurtenis.

Klik hier vir meer inligting oor bogenoemde geleenthede.

Klik hier om bogenoemde grafika te vergroot.

Lees meer oor Emily Hobhouse:

The story of Emily: ’n gesprek oor Emily Hobhouse se huis as besienswaardigheid in Engeland

Emily Hobhouse se storie nou ’n nuwe, moderne toeriste-attraksie in Engeland

Op dees aarde: Emily Hobhouse is nou by haar mense

Emily Hobhouse en Olive Schreiner: Twee koppiges in die Karoo

Elsabé Brits oor Emily Hobhouse, geliefde verraaier

Book review: Emily Hobhouse – Beloved Traitor by Elsabé Brits

Emily Hobhouse (1860–1926) en haar biograwe: US Woordfees 2017

“Forgive for you can afford it”: Emily Hobhouse by die onthulling van die Vrouemonument

Emily Hobhouse: Onthou ons steeds net die “Madonna”?

A letter from Emily Hobhouse to Mr Rees-Mogg

Die Lasarus-effek: Emily Hobhouse

Wat Hobhouse ons van Oekraïne kan leer

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top