Elsabé Brits oor Emily Hobhouse, geliefde verraaier

  • 23

Skrywers oor hul nuwe boeke: Elsabé Brits oor Emily Hobhouse, geliefde verraaier.

Hallo Elsabé! Geluk met die verskyning van Emily Hobhouse, geliefde verraaier. Hierdie boek oor haar: Hoekom sy? Hoekom nou?

Emily Hobhouse het ‘n boek verdien, in beide Afrikaans en Engels, wat net háár verhaal vertel – nie ander mense s’n of dié van die slagoffers wat sy in twee oorloë – die Anglo-Boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog – bygestaan het nie. Dit is ‘n boek oor ‘n briljante vrou – nie een oor die generaals nie; ‘n boek oor ‘n vrou wat teen haar Victoriaanse opvoeding gegaan het en nie net gedurf het om die status quo van die magtigste ryk op aarde uit te daag nie, maar dit sowaar verander het.

Boonop het Emily deur die jare so ‘n romantiese beeld gekry, en dit is so onregverdig teenoor haar – sy verdien soveel haar intellekteuele beeld, nie die tannie-beeld nie. Ek wou haar in ‘n meer gendersensitiewe, eietydse biografie uitbeeld vir die vrou wat sy was, nie die “hysterical spinster” nie.

Wie was Emily werklik en wat het in haar kop aangegaan? Wat het dit aan haar gedoen om op te staan teen die magtige Britse Ryk, en veral die mans in beheer, en wat het haar gemotiveer? Wat het dit aan haar gedoen as kinders letterlik voor haar sterf, maar sy nie regtig veel kon doen nie? Wat het sy gedink voor sy gaan slaap? Dit het vir my verlore gegaan.

Maak nie saak watter oorlog of konflik ter sprake is nie – wat doen besonderse mense in so ‘n situasie? En: sy het dit in twéé oorloë (ook die Eerste Wêreldoorlog) gaan doen. Haar verhaal en die ongelooflike oormag waarteen sy geveg het, resoneer vandag nog. Sy was ‘n vegter vir die stemreg vir vroue, ‘n ware fluitjieblaser, iemand wat 26 jaar van haar lewe vir menseregte baklei het – en die belangrikste van alles: sy was ‘n ware pasifis wat dit met woord en daad uitgeleef het.

Ek moet bieg: ek moes my geheue gaan verfris en gou weer op Wikipedia oor haar gaan oplees. Toe jy met die navorsing oor haar begin het, wat kon jý onthou? Wat het jy vooraf van Emily Hobhouse geweet?

Ek het eintlik net geweet van die ABO se konsentrasiekampe en so ‘n bietjie van die weefskole wat sy in 1905 begin het. En dit is so tragies dat ons net dit weet. Want dit – en die Wikipedia-blad – doen haar ‘n onreg aan. Die ABO was maar net die begin.

Emily het ná die oorlog met die mees ongelooflike plant- en ploegplan in Suid-Afrika begin wat derduisende mense in die land – swart en wit – van hongersnood gered het. Toe ek dit iewers raak lees, het ek in haar verdiep geraak en uiteindelik het dit tot die boek gelei. Ek het besef daar is soveel meer aan dié vrou.

Hoe dink jy is Emily Hobhouse se storie altyd aan die (wit) kinders in hierdie land vertel en hoe word dit nou vertel, indien hoegenaamd?

Haar storie is ongelukkig aan (wit) kinders vertel uit ‘n Christelik-Nasionale oogpunt. Sy is seker een van die figure in die geskiedenis wat die meeste deurgeloop het onder dié patriargale stelsel. Ja, sy was ‘n heldin – deur soveel mense te help. Máár dit is net ‘n piepklein deeltjie van die ware Emily.

Sy het gewaarsku teen seksisme en rassisme; sy het ook herhaaldelik versoek dat mense in swart konsentrasiekampe bygestaan word.

Sy was ‘n baie liberale demokraat, later ‘n vurige sosialis. Uiteindelik het sy gebots met die Suid-Afrikaanse leiers se nasionalisme – iets wat sy nie kon verdra nie.

In 1913 het sy in 'n ongelooflike toespraak byvoorbeeld gesê:

We in England are ourselves still dunces in the great world-school, our leaders still struggling with the unlearned lesson, that liberty is the equal right and heritage of every child of man, without distinction of race, colour or sex. A community that lacks the courage to found its citizenship on this broad base, becomes “a city divided against itself, which cannot stand”.

En dit:

Does not justice bid us remember to-day how many thousands of the dark race perished also in Concentration Camps in a quarrel that was not theirs? Did they not thus redeem the past? Was it not an instance of that community of interest, which binding all in one, roots out racial animosity?

In hierdie toespraak maak sy ook pertinent melding van vroueregte. Dit was Emily wat gesorg het dat Gandhi en die Boereleiers met mekaar gepraat het, maar sy het nie krediet daarvoor gekry nie, want vroue was nie veronderstel om leiers te wees of die status quo uit te daag nie, wat nog te verander.

Wat ons nie geweet of gehoor het nie: Emily was nie net een keer in Suid-Afrika nie, sy was vyf keer hier - vir lang periodes. Sy is selfs een keer in Kaapstad in hegtenis geneem vir vyf dae lank en toe gedeporteer - dit was 'n vreeslike bohaai. Daarna is daar van haar gesê: "She has the face of a madonna, but she fights like a devil."

Emily is nie wat mense dink is of was nie: Emily was 'n internasionalis, 'n sosialis, 'n feminis. Beslis nie pro die Boere se politiek nie. Sy was anti-oorlog, sy het dit verag. Sy is byna in 1916 van hoogverraad aangekla omdat sy sonder toestemming Duitsland toe is en "vredespropaganda" versprei het. Sy het selfs vir Lenin ontmoet.

'n Ongedateerde portretstudie van Emily. Olive Schreiner het Emily beskryf as "beautiful and strong and stately". Foto: Met vergunning van Jennifer Hobhouse, Balme-versameling

Vir wie in hierdie land maak Emily Hobhouse se storie saak, of wie kan daarby baat vind om haar te leer ken? Wat sal mense wat byvoorbeeld kampvegters is vir veldtogte soos #EndRapeCulture kan hoor as hulle Emily Hobhouse se storie lees?

Dit is so ‘n goeie vraag. Want Emily is nie ‘n vervelige ou “sosiale-werker-tannietjie uit die geskiedenis nie”. Sy het ‘n boodskap vandag in die hier en nou van almal, omdat sy so ver voor haar tyd was. Haar boodskap as onder meer as pasifis – want sy was nié polities aan die Boere se kant nie en sy sê dit herhaaldelik, sy is ‘n Britse patriot – is dat vroue en kinders die slagoffers is. Die mans aan beide kante veroorsaak die konflik en die vroue en kinders ly, en vreeslik ook. En dit is mans se verantwoordelikheid om geweld te stop. Om te onderhandel en beter besluite te neem.

Sy is ook ‘n inspirasie vir enigiemand wat al probeer opstaan het teen onreg.

In 1909 het sy, as deel van die stryd om stemreg vir vroue te verseker, gesê ‘n gemeenskap kan nie vry wees voor sy vroue nie vry is nie. Sy was, inderwaarheid, ‘n feminis. Sy het aan Jan Smuts geskryf oor die feit dat vroue nie inspraak in mag het nie:

That has been from the beginning of history the fault with men’s management of politics and public affairs – and I look above all to the entrance of women into politics to purify them and lift them to a higher level …

Oh! It makes me mad to think what great issues lie in the hands of a few stupid and obstinate men!

Elsabé Brits (foto: Liza van Deventer)

Emily Hobhouse word in die boektitel as 'n “geliefde verraaier” beskryf.

Vir wie het sy verraai? Want: maak nie juis saak hoe mens hierdie vraag beantwoord nie, het sy nie die een wat sy verraai het, aanhou versorg nie – ook deur in diens te bly van die Britte?

Dit is oop vir interpretasie: Sy was geliefd deur sommige in Suid-Afrika, maar ook nie. En in Duitsland was sy geliefd. Maar in haar eie land, hoewel sommige haar liefgehad het, het hulle haar as verraaier geag gedurende die ABO én tydens die Eerste Wêreldoorlog.

Wat was vir jou die lekkerste en die moeilikste van die navorsing of die skryf van hierdie boek?

Die navorsing was heerlik – om stukkies nuwe inligting te ontdek, primêre bronne soos haar plakboeke wat nog nooit voorheen gesien of gepubliseer is nie, asook vyf van haar dagboeke. Dit was soos ‘n dwelm. Dit was ‘n uitdaging om alles bymekaar te trek in ‘n lekkerlees-boek in stede van ‘n swaar akademiese werk wat niemand wil lees nie.

Sy het gegee, sy het versorg. Gedurende 'n tyd toe humanitêre oorwegings dalk nie so swaar geweeg het soos vandag nie, het sy menslikheid getoon. Waarom het sy dit gedoen?

Sy was een van daardie unieke mense, en daar is min van hulle wat by die moed van hulle oortuiging staan. Wanneer duisende mense aan die een kant staan en jy alleen aan die ander kant. Dít is iemand met moed. Sy het gedoen wat sy gedoen het omdat sy geglo het sy is reg en sy het daarby gebly.

Emily Hobhouse het liefde bewys. Het iemand aan haar liefde bewys? Was sy in 'n verhouding, was daar kinders, of enigiemand wat naby aan haar was, wat jy kon ontdek?

Sy was verloof, maar nouja … Sy het uit die Engelse hoër klas gekom; daar is nie sprake van kinders sonder om getroud te wees nie, hoewel sy baie lief vir hulle was. Ek dink sy sou graag wou getrou het en kinders wou gehad het, maar sy het absoluut geen respek gehad vir mans wat in magsposisies was en onbevoeg was nie. In wese was sy eintlik ‘n alleenloper wat gehou het van afsondering. Sy het redelik baie vriendinne gehad en wyd gekorrespondeer. Haar tante, lady Mary, was baie na aan haar, en so ook Tibbie Steyn, presidentsvrou van die Vrystaat, en ook Caroline Murray, Caroline Fichardt, Margaret Clark en Johanna Osborne.

Jy het omvangryk navorsing omtrent Emily Hobhouse gedoen deur baie te reis. Wat het mense in die buiteland van haar geweet?

Sy is vergete, buiten in haar geboortedorp, St Ive. Maar my reise was nie om mense te soek wat haar ken nie. Ek wou bepaalde plekke, biblioteke en argiewe besoek.

Van alles wat jou van hierdie navorsings- en ontdekkingsreise bybly, wat staan vir jou die meeste uit? Om aan te sluit by vraag 2: Wat weet jy nou van Emily Hobhouse?

Ek het meer as twee jaar lank aan Emily gewerk. Daar is ‘n heel ander Emily in my kop – ‘n fenomenale mens, iemand wat sewe tale kon praat. ‘n Intellektueel, ‘n skrywer wat in die mooiste eietydse Engels gekommunikeer het. Sy het matelose optimisme, moed en dapperheid gehad, en ook hope kreatiwiteit, organisasie- en deursettingsvermoë, die kundigheid om met geld – en mense – te werk, terwyl sy voortdurend deur ’n mynveld van politiekery en morele kwessies beweeg het. Sy het wêreldleiers beïnvloed. Sy was ook moeilik, taktloos en sonder ‘n wag voor haar mond.

Wat seker die meeste uitstaan, is dat sy nie aan die Boere se kant was nie, beslis nie. Sy was teen oorlog gekant. Daar is ‘n groot verskil.

Iets anders wat vir my baie uitstaan van Emily is dat sy een van daardie unieke mense is wat onlooflik baie moed gehad het. Ware moed. In 'n wêreld van lafaards is dit 'n unieke eienskap.

  • 23

Kommentaar

    • Beste Sarie, die liewe Emily was baie oopkop, en sy was goed bevriend met twee vroue wat in 'n verhouding was: Alice Greene en Elizabeth "Betty" Molteno, maar nee, sy was beslis nie in 'n verhouding met 'n vrou nie.

      • Avatar
        sarie sitkamer

        Ah. Maar as sy sou wou, dan sou ons haar 'n lisensie gegee het. 😉 Dankie vir die antwoord.

  • Avatar
    Eileen Anne Pearse

    Interessant - my oupa was 'n Osborne - getroud met a boeremeisie wat brood in the Vrystaatse miershope gebak het - sy was Van Niekerk. Oupa het uit die Britse leer gedros om by haar te wees en is St Helena-eiland toe gestuur ... Hulle is later getroud en het in Winburg gewoon. Ek is tweetalig maar my huistaal is Engels. By UKOFS, my alma mater, was daar 'n koshuis met die naam: Emily Hobhuis ...

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Tyd en navorsing bring meesal nugterheid. Soos Carl van der Merwe met sy boek "Donkerstroom oor Eugene Marais, doen Elsabe Brits almal 'n guns met hierdie boek. Dit werk met feite en nie "mites" nie. En al is dit ietwat van 'n ontnugtering vir baie (veral ouer garde) wat haar maar net as 'n goeie "tannie" gesien het wat haar oor die boere ontferm het behoort hierdie inligting eintlik 'n mens se bewondering vir die vrou te versterk.

    Ek wonder wat die implikasie van die nuwe feite op ou geskiedenisboeke en dalk nuwe leerplanne sal hê ...

  • Avatar
    Naòmi Morgan

    Goeie vrae en uitstekende antwoorde, net betyds voordat die boek Dinsdag op Vrouedag by die Vrouemonument in Bloemfontein vrygestel word. Ons sien almal baie uit; dis seker geografies die naaste wat 'n mens aan Emily in Suid-Afrika kan kom.

  • Baie insiggewend. Vir my het die vrou, vanaf die vroegste tye 'n baie belangrike rol gespeel in die opheffing van die mensdom. Vroue is die juwele van die mensdom. Hoe dan anders? Dit is juis die vrou wat die mensdom onder haar hart gedra het vir nege maande. Vroue is uniek!

    • Avatar
      francois verster

      Vroue is vroue, mans is mans, maar almal is individue. Ons moet elke lewende wese respekteer. Maar At, hoe de joos kan jy beweer vroue is uniek? Die feit dat jy die meervoudvorm gebruik ... oukei, jy bedoel seker elke vrou is uniek. Reg genoeg. Maar beteken dit dan elke man is nie ook uniek nie? Die hele gender-gestoei verstaan ek nie, dis mos nodeloos, want kom ons veronderstel alle mans is dieselfde, dan beteken dit as 'n vrou as 'n man gebore was, sou sy ook soos alle ander mans gewees het. Daar is dan geen eie wil nie, siestog, so dan kan jy mans verkwalik dat hulle nie sus of so is nie. Dog, ons weet tog dis nie die geval nie! Daisy de Melcker, Moeder Teresa, Jan Smuts en Mike Schutte was almal individue.

  • Avatar
    Juliana de Beer

    Wat 'n skreiende neersien op maatskaplike werkers. Let wel die korrekte benaming is "maatskaplike werker" en nie die anglisitiese "sosiale werker" nie.

  • Beste Elsabe, baie dankie vir hierdie boek, ek sal dit verseker kry! Maar veral dankie vir die harde en goeie werk wat jy onderneem het om by die werklikhede uit te kom. So ken ek jou, geluk! Alhoewel ek moet erken dat ek bietjie antiBrits is en nog ietwat onafgehandel voel tov die ABO wraak, is dit tog vir my maklik om bloot die individu se uniekheid (al is dit 'n Brit) te waardeer - veral wanneer dit by lewenskwaliteite soos regverdigheid, gelykheid, integriteit, moed, dapperheid, ens kom.

  • Ek self het nog nie die boek gelees nie maar my vriendin, 'n Engelse Suid-Afrikaner wat Afrikaans soos ek kan praat, is besig daarmee. Sy het nie veel van die Anglo-Boere oorlog geweet nie en het glad nie besef hoe swaar ons mense gekry het nie ... sy is soms oorstelp as sy my daarvan vertel. My ouma was juis in die een of ander kamp in die Oos-Transvaal toe sy so dertien jaar oud was en het altyd vertel van die ellende en dat haar klein boetie in die kamp dood is. Tragiese geskiedenis van ons mense.
    Ek het net een kritiek en dit is dat dit moeilik is om die boek te lees. Die donker agtergrond van party dele maak dit so moeilik om te lees. Die manier waarop die foto’s en dokumente geplaas is waar 'n mens besig is om te lees is wonderlik. Dit is net die donker kleure met min kontras met die letters wat dit moeilik maak vir sewentigjarige oge. Dit is ook 'n bietjie moeilik om die boek oop te rek om binne in naby die rug te lees.
    Maar dit bly 'n mooie boek !

  • Avatar
    Joline Russouw

    Elsabe
    Waar kan ek die boek "Kyk my in die oë" kry? Ek werk in 'n aftree-oord en stel belang in bipolêre depressie. Sal bly wees as jy vir my kan sê, baie dankie.

    • @Joline Russouw, "Kyk my in die oë" is uit druk, maar kan nog as e-boek gekoop word.
      @Pieter, ek het nie oorspronklike koeverte nie, net foto's daarvan.

  • Hallo Elsabe
    Ek is 'n filatelis en het reeds twee baie suksesvolle filatelie-uitstallings aangebied by die SA Filatelie Nas Uitstallings nl, Die plakboek van 'n Krygsgevangene (Michiel Eloff) en daarna Cecil John Rhodes - "A Good story to be Told". Ek sal dit graag op die volgende filatelie-uitstalling wil aanbied. Ek het al die seëls en materiaal vir so-iets, maar kort so 10 koeverte van briewe wat sy geskryf en/of ontvang het. (Nie die briewe nie, maar wel die koeverte.) Is dit dalk moontlik dat jy my hiermee kan help?

  • Avatar
    Annette Richter

    Dankie Elsabé vir 'n skitterende boek oor 'n vrou wat 'n wêreldfiguur was en nie die erkenning gekry het wat sy verdien het nie. Sy is totaal misverstaan en wou so graag teen die einde net haar naam in ere laat herstel.
    Hoe gepas dat haar as aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein rus! Hier is sy ons heldin uit die vreemde.
    Ons behandel Geliefde Verraaier by ons Groot Brak Leeskring in Augustus. Wil jy nie kom kuier nie?

  • Elsabe,
    Ons beplan om volgende jaar jou Geliefde Verraaier by ons boekklub in Hermanus te bespreek. Is dit dalk moontlik dat jy dit sal kan bywoon? Ons sal jou baie graag wil ontmoet.

  • Avatar
    Susan Wilsenach

    Hallo Elsabe, ek is die sekretaresse van die Kemptonparkse Leeskring en ons lees op die oomblik jou boek en bespreek dit volgende jaar in Februarie. Ek vind die boek absoluut fassinerend maar baie moeilik om te lees! Ek is die jongste lid van die leeskring en as ek so sukkel om dit te lees weet ek nie wat die ander lede gaan doen nie! Behalwe dat dit 'n besonderse swaar boek is, is die baie donker dele baie moeilik. As 'n mens so 'n donker agtergrond soos groen of rooi of blou of pers het en die skrif is swart is dit amper onmoontlik om te lees, veral saans! Selfs die okergeel is moeilik. Die boek is visueel baie mooi maar die belangrikste is tog om dit te lees! Maar wel gedaan met die inhoud en navorsing!

    • Vra daarvoor by enige goeie boekwinkel. As hulle dit nie in voorraad het nie, bestel hulle. Of by takealot, enige van die aanlynboekwinkels.

  • Avatar
    Marie Van Graan

    Dink die boek is uiters interessant en ek sou graag oor die sterk vrou sou lees. Na vele en vele jare onthou almal nog hierdie formidabele vrou. Wens ek kon 'n dag saam met haar spandeer!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top