Emily Hobhouse en Olive Schreiner: Twee koppiges in die Karoo

  • 0

Elsabé Brits is genooi om op 27 Julie 2025 die slotrede van die Etienne van Heerden Veldsoirée bo-op Buffelskop, by die sarkofaag van Olive Schreiner, te voer.

Brits is baie kort voor die tyd daarvan weerhou om self die rede voor te dra, maar sy kon die geskrewe toespraak aan Anschen Conradie oorhandig, wat dit namens haar voorgelees het.

Die volledige slotrede uit Brits se pen verskyn hier.

*

Wanneer ’n mens Emily Hobhouse en Olive Schreiner saam in een pot sit, dan kry jy ’n unieke bredie.

Hulle was eiewillig.

By tye effe melodramaties.

Soms eensaam en verstote.

Vurige humaniste.

Taai, en dan weer skielik broos.

Onverskrokke pasifiste.

Feministe en internasionaliste.

Twee vroue wat nie geskroom het om teen die konvensies van die tyd die waarheid tot mag te spreek nie.

Mense wie se woorde vandag nog relevant is.

Enigmaties en eksentriek.

Twee koppige vroue inderdaad.

Beide is gebore in die Victoriaanse era. Olive was vyf jaar ouer as Emily, wat in 1860 gebore is.

Destyds is daar van vroue verwag om by die huis te bly, te borduur, klavier te speel en veral te trou en kinders te hê. Hulle moes uit die openbare oog bly én  stilbly.

Dit het nie gehelp dat een van die mees vooraanstaande wetenskaplikes van die tyd, Charles Darwin, vroue as intellektueel minderwaardig teenoor mans beskou het nie.

Hy het in sy boek The descent of man in 1871 tot die gevolgtrekking gekom dat mans  “uitnemendheid bereik, in alles wat hulle aanpak, vergeleke met vroue – of dit nou diep denke, rede of verbeelding vereis, of bloot die gebruik van die sintuie en hande.”

Emily Hobhouse het grootgeword in die dorpie St Ive (uitgespreek St Eve) naby Liskeard in Cornwall. Sy was die vyfde van ses kinders. Haar oupagrootjie, Henry II, het in die laat 1780’s die herehuis Hadspen en landgoed in Somerset gekoop. Dié kant van die familie kan tipies beskryf word as deel van die landed gentry.

Haar ma se familie, die Trelawny’s, was ’n bekende en welaf familie in Cornwall. Haar oupa, sir William Salisbury-Trelawny, was die 8ste baronet van sy lyn. Hulle herehuis en landgoed is reeds in 1600 van Elizabeth I gekoop.

Dus was Emily se ma, Caroline, se bruidskat baie groot, en ná haar pa se dood het sy nog geld geërf. Sy was ’n innemende en liefdevolle vrou wat ’n opvoeding by die huis ontvang het. Daarteenoor was Emily se pa ’n Anglikaanse priester wat erg konserwatief en knorrig was, en vol skete.

Emily en haar susters is by die huis in ’n skoolkamer onderrig deur verskeie goewernantes onderrig. Maar vir Emily was dit nie genoeg nie; sy wou meer leer en weet en was jaloers op haar broers, wat skool toe en daarna Oxford toe is.

Sy kon nie wag om weg te kom van die “shackles of St Ive” soos sy dit genoem het nie. En twee weke nadat haar pa oorlede is, is sy dadelik weg Londen toe na haar oom en tante, lord Arthur en lady Mary Hobhouse. Waarna haar avonture in Amerika gevolg het.

Sy was iemand wat ’n uitmuntende voorbeeld van selfonderrig was deur te lees en te leer, en met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was sy 39 jaar oud.

Sy was ryp vir aksie en het haar volle gewig agter die betoog teen die oorlog gegooi. Maar sy het natuurlik een groot stap verder gegaan en op voetsoolvlak betrokke geraak.

Dit was eers in 1903, toe Emily teruggekeer het na Suid-Afrika vir haar reise deur die destydse Transvaal en Vrystaat om die nagevolge van die Anglo-Boereoorlog op grondvlak te ervaar, dat dié twee vroue mekaar ontmoet het.

Olive het vir die eerste keer aan Emily geskryf pas nadat The burnt of the war verskyn het:

I consider you did more effective and useful work in the cause of humanity and justice in South Africa than any other individual has been able to do. You saved not hundreds but undoubtedly thousands of lives.

I fear your work must have told heavily and permanently on you. One does not pass through such a time of combat with injustice ever to be quite the same again.

Dit is waar op talle vlakke. Maar die ervaring wat Emily tydens die oorlog hier gehad het, en daarna, was ook die smeltkroes wat haar gevorm het.

Dit was in Junie 1903 dat Emily vir Olive op Beaufort-Wes gaan kuier het. In dié tyd was Betty Molteno en haar lewensmaat, Alice Greene, ook daar.

Hulle sit buite in die wintersonnetjie en praat. Of eintlik is dit Olive wat sonder ophou praat, en hulle drie luister. Sy praat so baie dat sy lateraan na haar asem snak weens die asma, maar sy stoom voort.

So skryf Emily later jare: 

I find the Karoo as attractive as ever. It is hard for my unskilled pen to find words to describe your South African Olive.

One gained breadth and grandeur from her. She gave me the illimitable feeling of the veld. She gathered time and space into herself and absorbed them.

In dié tyd het hulle ook in die dorp rondgeloop en weeshuise besoek – ’n nadraai van die Anglo-Boereoorlog waar in talle dorpe dié nood ontstaan.

Olive het egter aan haar broer Will ook jare later geskryf dat sy ’n funny little story het oor die besoek. Sy skryf:

I could tell you a funny little story of her driving off in state in our private carriage with two spanking greys & leaving me & Mrs Van Heerden to plod through a mile & a quarter of Beaufort West sand on a burning hot day!

She doesn’t do these things intentionally; she is quite unconscious that she shouldn’t do them.

In 1905 het Emily vir drie jaar teruggekeer na Suid-Afrika om haar Boer Home Industries op die been te kry. Om die 29 spin-en-weef-skole en die kantskole te stig.

In dié tyd, in 1907, het sy weer vir Olive gaan kuier, dié keer op De Aar. Die mak meerkatte wat Olive aangehou het, was ’n plesier, en hulle speel met dié diere, stap in die veld en sit op die koppies.

Emily het ’n besonderse vermoë gehad om situasies en ander mense op te som en te beskryf.

Dié besoek was ’n week lank en Emily skryf:

Her large mind and fertile imagination seemed inexhaustible. … But there was Olive, hidden from the world, like a diamond in the desert cut off from her intellectual peers. Her very gifts oppressing her by their fulness.

Olive was a child of the veld, and few understood her who had not seen her in that peculiar setting. To me she herself has always seemed greater than anything she wrote.

Daar was nog geskenke en briewe wat tussen die twee verwissel is in die komende jare. Veral ook oor beide se betrokkenheid by die suffrage-beweging en ander aspekte van feminisme.

Olive skryf in 1908 aan haar:

I think you will find a large field of work opening in England in aiding our women there. Let me hear from you sometimes & know how the world opens before you. We shall have an uphill fight here to rouse & educate our women to their public duties.

Maar toe, aan die einde van  1913, het iets skeefgeloop. Nou, ek dink dit was nie soseer  tussen dié twee nie, maar die politieke situasie in die land het dinge versuur.

...
Interessant is dié Boer-Dutch soos sy dit genoem het, veral die geskrewe deel daarvan, binne die konteks van die 100-jarige vieringe van Afrikaans as amptelike taal vanjaar.
...

Dit het vermoedelik oor die inwyding van die Vrouemonument gegaan waarvoor Emily uitgenooi is om die hoofrede te lewer.

Terwyl Emily in ’n brief vir Tibbie Steyn vra waarom Olive nie na die opening uitgenooi is nie, skryf Olive die redelik lelike briewe oor Emily aan haar broer – net tien dae uit mekaar.

Emily noem aan Tibbie dat Olive die een vrou is in Suid-Afrika is wat wêreldwye roem geniet en dat sy saam met die Boere gely het gedurende die oorlog. “Gee haar tog ’n plek van eer by die openig,” vra sy.

Emily wil nie hê Olive moet weet dat sy opkom vir haar nie en vra Tibbie om die brief te verbrand. Wat sy nie gedoen het nie.

Intussen het Emily reeds op eie inisiatief geld begin insamel sodat Olive mediese behandeling in Europa kon kry vir haar swak hart.

Op haar beurt skryf Olive weer ’n brief aan haar broer, Will, waarin sy lostrek oor Emily en vertel hoe onmoontlik Emily is om mee saam te leef. Net ’n paar maande tevore het Olive nog na Emily as “my dear friend” verwys; nou was daar ’n skroef los teen Oktober 1913.

She is one of those masterful women who quietly crushes every one who comes near her. I’d rather stay in Africa than have to go about with her. I haven’t the strength

Sy sal dit nooit oorleef met Emily nie – dié is ’n “dear good woman but quite impossible to live with”.

En Emily wil via Madeira reis, en sy wat Olive is, wil nie. Sy verwerp Emily se hulp om vir haar behandeling te help betaal, nadat Emily al £350 ingesamel het daarvoor, waarskynlik omdat sy te trots was.

Haar broer moedig haar aan om te wag en later saam met Emily terug te keer ná die opening van die Vrouemonument, maar sy weier. En daar gaan sy alleen Europa toe, nog voor die opening. Natuurlik seker seergemaak omdat sy nie uitgenooi is nie.

Emily het ook haar toespraak aan Olive gestuur vir insette, en dié was baie gefrustreerd en het gesê sy het daaraan gewerk en het dit aan haar teruggestuur. 

Hierdie oorspronklike brief aan Emily is een van die vele wat verlore is in Olive se versameling weens die skade wat haar man, Cron, aangerig het.

Die toespraak het Emily ook aan John Merriman en haar broer Leonard gestuur vir insae. Daar is ’n paar Engelse navorsers – buitelandse kritici van Emily wat meen dat sy in geheel nie self die toespraak geskryf het nie, maar dat Olive dit geskryf het.

Nou dit is onmoontlik, omdat Emily 16 bladsye aan Olive gestuur het. Dit is moontlik dat Olive insette gelewer het, maar uit die styl en taal is dit deurgaans Emily se tipiese Victoriaanse Engels, sou jy haar ganse versameling bestudeer. Dit is beslis Emily.

Dit was ook in dié tyd dat die twee vasgesit het, en gegewe die redelik geniepsige aanmerkings wat Olive in Oktober en November 1913 oor Emily gemaak het, kan die reaksie oordrewe wees. Veral indien ’n mens die hartlike briewe voor en na 1913 in ag neem.

Emily reis twee weke voor die geleentheid na Bloemfontein, maar word siek, weens haar hart. Sy moet op Beaufort-Wes afklim. Sy reël egter dat die toespraak in beide Engels en “Boer-Dutch”, of “Afrikaner”, gedruk word, om onder die mense versprei te word. Die toespraak word deur Charlie Fichardt voorgelees in beide tale.

Interessant is dié Boer-Dutch soos sy dit genoem het, veral die geskrewe deel daarvan, binne die konteks van die 100-jarige vieringe van Afrikaans as amptelike taal vanjaar.

Die vertaling is gedoen deur die joernalis Sanni Metelerkamp van die Argus. In ’n brief aan haar skryf Emily: “With regards to the Dutch – which I hope it will be more Afrikander than High Dutch.”

Sy vra ook om die proewe te sien, veral die Boer-Dutch-teks.

Hoewel dit 16 Desember is, verklaar Emily dat dié dag Vrouwen-Dag moet wees – los eerder die Dingaansdag-vieringe, vra sy. Ongelukkig het dit toe nie gebeur nie.

Haar kragtige toespraak word gelewer voor ’n baie konserwatiewe en nasionalistiese gehoor, en sy gaan so ver as wat sy moontlik kan met vier temas: vroueregte, vergifnis, misbruik van mag en humanisme.

Emily lewer ’n treffende boodskap in ’n tyd wanneer patriargie wêreldwyd dominant is. In struktuur weerspieël haar toespraak die beroemde Atheense generaal Perikles. Maar anders as hy, eer sy nie mans – krygers – nie, maar vroue.

Hier is ’n paar van haar woorde:

They – the women – have shown the world that never again can it be said that a woman deserves no rights as Citizen because she takes no part in war. This statue stands as a denial of that assertion.

Do not open your gates to those worst foes of freedom – tyranny and selfishness.

Liberty is the equal right and heritage of every child of man, without distinction of race, colour or sex.

Nie lank hierna nie het Olive weer na Emily verneem, en toe die Eerste Wêreldoorlog minder as ’n jaar later uitbreek, het hulle gedeelde radikale pasifisme hulle weer baie na aan mekaar gebring. Hulle het ook tyd saam spandeer.

Na Olive se dood het  Emily aan Tibbie Steyn geskryf:

Few understood the enigmatic character of her genius. Perhaps it was not understandable.

English critics have attempted to compress her into the European mould and judge her so, forgetting she was South African born and bred and belonged to the vast spaces and simple life of the veld, and was subject to its strange influences.

South Africans, I think, try to judge her by their standards alone, forgetting that her mind and spirit had burst all frontiers and racial bonds and embraced the world.

Baie dankie; dit was ’n groot voorreg om vandag dié rede te lewer.

Bronne

*

Elsabé Brits is ’n bekroonde wetenskap- en mediese joernalis. Sy het ook die lewe van Emily Hobhouse nagevors en ’n biografie oor haar geskryf. As skrywer, kurator en inhoudsnavorser het sy The Story of Emily, ’n besienswaardigheid in Cornwall, help ontwikkel.

Lees ook:

Emily Hobhouse se storie nou ’n nuwe, moderne toeriste-attraksie in Engeland

The story of Emily: ’n gesprek oor Emily Hobhouse se huis as besienswaardigheid in Engeland

Op dees aarde: Emily Hobhouse is nou by haar mense

Wat Hobhouse ons van Oekraïne kan leer

“Forgive for you can afford it”: Emily Hobhouse by die onthulling van die Vrouemonument

Book review: Emily Hobhouse – Beloved Traitor by Elsabé Brits

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Die Tuishuise en Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Afrikaans Amptelik 100

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top