
’n Ouer Emily Hobhouse (met vergunning deur Elsabé Brits en soos wat dit verskyn in Elsabé se boek, Geliefde verraaier - https://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780624075745)
The war is crushing helpless millions. These are mostly women and children … Relief, however colossal, can but touch the fringe of the want.
If the war continues, die they must.
We ask: Must it continue? Can any good come by further bloodshed to weigh against such evil which could not be better attained by agreement and goodwill?
A hundred years ago men proclaimed they fought, as each country asserts it is fighting to-day, “to secure the rights, the freedoms and the independence of all nations”.
War failed to secure those objects then, can we reasonably suppose it will do so now? For militarism cannot kill militarism, nor war end war. Will you not plead on their children’s behalf ere it be too late?
Dié ope brief is vier maande ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog deur Emily Hobhouse aan die “Vroue van Europa” gestuur. Dit is wyd in linksgesinde en werkerskoerante gepubliseer. Teen dié tyd was sy reeds liberaal-sosialisties in haar denke en deur talle afgemaak as ’n “peace crank”, omdat sy teen oorlog gekant was.
..........
Dié ope brief is vier maande ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog deur Emily Hobhouse aan die “Vroue van Europa” gestuur. Dit is wyd in linksgesinde en werkerskoerante gepubliseer. Teen dié tyd was sy reeds liberaal-sosialisties in haar denke en deur talle afgemaak as ’n “peace crank”, omdat sy teen oorlog gekant was.
..........
Minder as twee jaar later sou sy die Tweede Zimmerwald-konferensie in Switserland in die dorpie Kiental bywoon waar sosialiste vir ’n week lank vergader het. Hier het sy onder andere vir Wladimir Lenin ontmoet, saam met al die ander teenwoordiges wat ook teen die oorlog gekant was.
Tóé was dit ’n onpopulêre keuse om ’n uitgesproke pasifis te wees as jy nie ’n Kwaker was nie. Hobhouse was nie ’n Kwaker nie. Jou naam word beswadder en jy word uit die geskiedenis geskryf deur oorlogmakers en dié wat oorlogshelde se verhale opteken.
Van die byna drie miljoen vlugtelinge uit die Oekraïne is die meeste vroue en kinders. Soos in alle konflik is hulle die mees kwesbares. Uiteindelik dra hulle die swaarste, soos Hobhouse in 1902 in haar eerste boek, getiteld The brunt of the war and where it fell, geskryf het. Die konflik begin by dié wat mag het, en stop by dié daarsonder.
Sedert Rusland die Oekraïne ingeval het, het 4 800 vroue al in die oorloggeteisterde gebiede geboorte geskenk en in die volgende vier maande moet nog 80 000 vroue geboorte skenk, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).
Hulporganisasies sukkel reeds om lewensnoodsaaklike mediese voorraad soos suurstof, narkosemiddels, insulien, bloed en kragopwekkers te lewer. Aan byna alle mediese voorraad is daar ’n tekort. Die kinderinentingsprogram het tot ’n halt gekom.
Mense sterf in aanvalle op ambulanse en hospitale. Dit is ’n oorlogsmisdaad om mediese fasiliteite en gesondheidswerkers aan te val. Rusland het dit in Sirië ook gedoen. En in Tsjetsjnja.
Daar is vreesbevange mense by oorvol stasies. ’n Hondjie in ’n kind se arms. ’n Laaste druk. ’n Grootoog kat in ’n wasgoedmandjie. ’n Woonstelblok in vlamme gehul. ’n Bebloede verband om ’n stukkende gesig. Honger. Dors. Rook. Brandende bome en stukke metaal. Sopkombuise. Winterjasse. Woonbuurte wat forte word. Sandsakke en ’n probeerslag van petrolbomme teen tenks. Trane, maar ook veerkragtigheid.
Wanneer ’n mens ander sien ly, waar en hoe ook al, veral deur na die roerende foto’s en filmmateriaal te kyk, moet dit jou noodwendig emosioneel raak. Ons almal sal ons nie net in so wrede en magtelose situasie indink nie, maar ook in die byna toekomslose vooruitsigte. Daar is nie ’n “maar” wat jy bylas nie. Jy het óf diep empatie en medelye, óf nie.

Foto van hand geverf met kleure van Oekraïnse vlag: https://pixabay.com/illustrations/flag-hand-symbol-ukraine-kiev-7040688/; foto van Emily Hobhouse - met vergunning deur Elsabé Brits en soos wat dit verskyn in Elsabé se boek, Geliefde verraaier - https://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780624075745
Helaas voel almal nie so nie. Sommige mense baai in die sop van Poetin (en Trump). Poetin is glo ’n “sterk en slim” leier, en boodskappe van steun vir hom verskyn veral op sosiale media. Wat gebeur, word nie gesien as ’n tragedie nie, maar ’n geweldsfantasie wat iewers in ’n brein afspeel. En die aanvalle op burgerlikes is leuens wat “die media” vertel, natuurlik.
Daar is ’n voorliefde, steeds, vir die “sterkmanboelie”. Die verstommende charisma wat ’n diktator se arrogansie vir sommige soos motte na die vlam trek. Die morele kompas brand in die vuur.

Emily Hobhouse sit by ’n tafel en skryf (foto: met vergunning deur Elsabé Brits en soos wat dit verskyn in Elsabé se boek, Geliefde verraaier - https://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780624075745 )
Oor oorlog se effek skryf Hobhouse in 1901:
You can no longer be an individual, you are one of a herd – and that herd preserves itself by the reversal of the principle of virtue. Untruth, lies, hatred, inhumanity, destructiveness, spying, treachery, meanness innumerable, suspicion, contempt, unfair dealing, illegality of every kind flourish and become as it were the “virtues of war”. The atmosphere thus created is a moral miasma.
Dit is hierdie morele smet van oorlog waarvan baie bloot weggedraai en wat Hobhouse woedend gemaak het. Sy haal in haar boek onder meer John Ruskin aan: “[T]hey shut out the death cries, and are happy to talk wittily among themselves ... only at intervals by a half-hearted cry and a murmur as of the wind’s sighing when myriads of souls expire.”
Druk jou ore en oë toe, as jy kan.
.........
In haar individuele pogings om vroue en kinders in die Anglo-Boereoorlog by te staan, het Hobhouse later besef om tonne kos en klere te verskaf, is soos om lappe in ’n lekkende dak te druk. Daarom het sy die land verlaat en op die skip reeds haar verslag van 40 bladsye geskryf.
..........
In haar individuele pogings om vroue en kinders in die Anglo-Boereoorlog by te staan, het Hobhouse later besef om tonne kos en klere te verskaf, is soos om lappe in ’n lekkende dak te druk. Daarom het sy die land verlaat en op die skip reeds haar verslag van 40 bladsye geskryf. Vir iemand wat gesmag het om soos haar broers Oxford-universiteit toe te gaan, en hoogs ontevrede was met die skoolopleiding wat sy by ’n goewernante ontvang het, was Hobhouse se verslag so wetenskaplik as moontlik vir 1901. Sy het mense in die kampe dieselfde tien vrae gevra, en die ervarings kon dus onder meer met mekaar vergelyk word. En, sy het met beide die Britte en die Boere gepraat.
Die verslag het uiteindelik ook gelei tot ’n lywige dokument vol praktiese aanbevelings om die toestande in die kampe te verbeter. Dié het sy voordat die verslag gepubliseer en in die Britse Laerhuis bespreek is, eers persoonlik aan St John Brodrick, Britse oorlogsminister, oorhandig terwyl sy met hom vergader het. Sy is nie dadelik na die pers nie, maar het probeer om met kommunikasie ’n oplossing te kry.
Byna al die aanbevelings is maande later geïmplementeer, hoewel Hobhouse nie die erkenning daarvoor gekry het nie. Dit is bloot herhaal deur Millicent Fawcett se afvaardiging na Suid-Afrika.
Kritiek tydens ’n oorlog word selde goed ontvang, veral indien dit die waarheid is. Nog minder indien ’n vrou leuens wat in ’n parlement vertel word, en vir ewig vasgevang word in Hansard, uitwys soos Hobhouse gedoen het. Die tragedie is dat dit die verhale van die slagoffer en die weldoener negeer. Uiteindelik was die ervaring ten koste van Hobhouse, en sy sou vir die res van haar lewe treur oor die skade aan haar naam en reputasie in haar eie land.
Vandag is dit veel makliker om ’n oorlogsmisdaad of leuen te bewys. Kameras is oral. Beelde kan in ’n oogwink versend word. Tog glo soveel mense dit nie, net soos daar steeds mense is wat weier om die wandade wat in talle oorloë gepleeg is, af te maak. Hoekom, sal ’n mens nooit verstaan nie.
Maar wense van mense wat van regerings verwag “om die regte ding te doen” is meestal onvervuld. Hobhouse het gesê:
I have survived […] and lived to tell the tale! Lived also to sum up governments as poor things more careful of their own prestige than of justice and right. And always when the Conduct of War is in question devoid of Conscience. That is, I think one of the worst features of war […] the rotting away (jeopardy) of Justice, Truth and Humanity.
Hobhouse se bydrae was veel, veel meer as kos, klere en ’n bemoedigende teenwoordigheid. Sy was nie ’n verpleegster nie, maar ’n belese intellektueel wat dit durf waag het om die salon en borduurwerk te verlaat. Sy het ’n politieke fokus op mense se lyding tydens ’n oorlog gebring en die magtige koloniale Empire gedwing – al wou hy nie – om na homself te kyk en skewebek reg te stel. Maar sonder enige krediet.
Die besondersheid daarvan lê daarin dat sy ’n alleenloper Victoriaanse vrou was, ’n fluitjieblaser, pasifis en mens wat vir die regte van vroue en kinders tydens ’n oorlog geveg het – reeds 120 jaar gelede.
Uiteindelik is dit unieke mense en groepe wat in oorlog en in die lyding daarna ’n verskil maak in ander se lewe. Dis “radikale mense” soos Hobhouse. Vroue soos Jane Addams, ’n vriendin van Hobhouse wat tydens die Eerste Wêreldoorlog die grootste byeenkoms nog vir vroue gehou het om hulself vir vrede te beywer.
Die International Committee of Women for Permanent Peace wat later die Women’s International League for Peace and Freedom geword het, bestaan vandag steeds en is die oudste vroue-organisasie wat vir vrede werk. Mense soos Addams, Hobhouse, Aletta Jacobs, die eerste vrouedokter in Nederland, en Emmeline Pethick-Lawrence, ’n suffrajet, was van die eerste lede. Addams het later die tweede vrou geword wat die Nobel-Vredesprys gewen het.
Die mense wat ons te hulp kom, is daardie besonderse siele wat hulle gemaksone verlaat en teen die stroom op beur: Florence Nightingale wat met ’n span van 34 verpleegsters na die Krimoorlog vertrek het, so pynlik naby aan waar die geweld nou is. Mary Seacole, ook ’n verpleegster in die Krimoorlog, wat ’n hotel aan die front geopen het vir soldate om te herstel. Sy het siek en gewonde soldate versorg, en selfs op die slagveld gehelp. Clara Barton het die Amerikaanse Rooikruis gestig, ná haar ervaring tydens die burgeroorlog.
Dit is humanitêre organisasies – mense wat vir mense (en diere) omgegee – waar die hoop vandaan kom. En alledaagse mense wat die hand uitreik om te help.
By die dood van ’n vrou wat ses weeskinders agtergelaat het, het Hobhouse in haar latere boek War without glamour geskryf:
Who is responsible for the death of this woman? We, in England, ought to answer it also, each according to our lights.
No doubt many were in part responsible from the Minister of War downwards. But in war it would seem impossible to fix the blame upon any one individual excepting the Commander-in-Chief himself. It is the system which is responsible. Once a government has abandoned itself to the arbitrament of war its members would almost seem by that fatal act to have lost responsibility for them and all authority are caught up and whirled along by the iron law of military necessity.
Lees ook: