
Die nalatenskap van Emily Hobhouse se lewe en werk tydens en ná die Tweede Anglo-Boereoorlog het ’n rusplek gevind – op die juiste plek waar sy byna 165 jaar gelede gebore is.
In haar laaste dae het Hobhouse in ’n brief aan haar vriendin Tibbie Steyn, vrou van die voormalige Vrystaatse president, geskryf:
“My work for the Camps in the South African War brought down upon my head the scorn and contumely of almost the entire country [England]. I was libelled in the press and held up as a rebel – a liar, unpatriotic, hysterical, and worse.”
Sy skryf verder hoe hartseer sy is dat haar eie mense haar verwerp het.
“Now I have told you this story and though it is the late hour and little of life remains in me, I do feel some sort of re-institution in the public mind of England and documentary evidence of it would do more than anything else to brighten the remaining time. Few know what a heavy burden it has been to carry for quarter of a century.”
Dalk is haar wens wat sy in 1926 kort voor haar dood uitgespreek het, vandag vervul.
Die Story of Emily is ’n nuwe historiese terrein, wel eintlik ’n ganse ervaring, wat uit 40 akker bestaan. Dit is geleë in die dorpie St Ive (uitgespreek Saint Eve) in Cornwall, naby Liskeard.
Dit bestaan uit verskeie dele: die ontvangs met ’n winkel vol eg Suid-Afrikaanse produkte en ’n vertrek waar gaste ’n kort inleidingsfilm kan sien. Daarna stap ’n mens deur die historiese tuine na die Victoriaanse Rectory.

Die Rectory wat jare lank geneem het om binne en buite te restoureer. (Foto: verskaf)
Dít is die oorspronklike erfenishuis met sy buitegeboue wat Reginald Hobhouse en sy vrou, Caroline Trelawny (Emily se ouers), tussen 1852–1854 in die Gotiese herlewingstyl laat bou het. Die restourasie van die huis het in 2017 begin en die laaste titseltjies dekor is nog vanjaar aangebring om die tuiste tot sy volle Victoriaanse glorie te herstel. Die verhaal in die huis – wat jy in oorfone hoor – speel af in 1875, toe Emily 15 jaar oud was.
’n Ete by die restaurant met sy glasvenster, wat uit één stuk glas bestaan – 20 meter lank en 3 meter hoog – onder topsjef, Karen Pretorius, is ’n móét. Haar spyskaart bestaan uit erfeniskos van Suid-Afrika uit die 19de eeu. Soos die gebruik was in die Victoriaanse era, is daar ook ’n kombuistuin. (Maar meer oor dié aspekte in ’n volgende artikel.)
........
Wie is die mense wat hulself Boere of Afrikaners genoem het? Waar kom hulle voorsate vandaan? Hoe het hulle geleef en oorleef, met hulle skape, Afrikanerbeeste, perde, vrugtebome en landerye – dít wat hulle binnekort in die verskroeide aarde sal verloor.
........
Die War Rooms is ’n afsonderlike, nuwe gebou. Dit is ’n ryk, meesleurende en visuele ervaring. ’n Moderne en sensoriese reis terug in tyd. Die gebou is ontwerp deur Stonewood Design en die res deur Kossmanndejong, saam met wie ek nou saamgewerk het.
Met jou hoëtegnologie oorfone sal jy installasies, animasies, video en virtuelerealiteit (VR) beleef, verryk met ou dekor, historiese foto’s en artefakte.
Dit is eintlik ’n baie individuele ervaring, al besoek jy dit saam met jou vriende of familie. Omdat die storie aan jou vertel word deur beide ’n neutrale verteller en “Emily”, voel dit asof hulle met jou praat.
Hier verheerlik ons nie die dade van generaals nie, maar tree terug en sien veral die vroue en kinders se ervarings raak, asook dié van Emily. Daar is juis klem op haar aktivisme, humanisme en feminisme.

Die ontvangs van die War Rooms – die oorlog het nog nie begin nie en daar is spanning tussen die Uitlanders en Transvalers oor die goud. Foto: verskaf
Die War Rooms is byna soos ’n film wat aan die hand van karakters se ervarings vertel word. Die dekor en artefakte – wat oorwegend uit Suid-Afrika kom – is ook nie lukraak geplaas nie, dit sluit aan by die storie.
Hoewel daar net twee stemme is, die verteller en Emily, word jy nog voor die oorlog begin voorgestel aan twee karakters: Peter Palmer, ’n jong Engelse man in ’n pub (die Suid-Afrikaanse akteur Cody Mountain), en ’n jong boervrou, Susanna (die Suid-Afrikaanse akteur Meghan Oberholzer) en haar gesin op die plaas.
Die gewone karakters is ook daar om die aanloop tot die oorlog te verduidelik: Cecil John Rhodes, Leander Starr Jameson, Alfred Milner, Paul Kruger, Marthinus Steyn en sy vrou Tibbie, Arthur Balfour, Joseph Chamberlain en Emily.
Maar die oorlog het nog nie uitgebreek nie, dit is 1897 en jy word verwelkom in die voorkamer, stoep, kombuis en tuin – laasgenoemde is ’n verrassing – op Elandsfontein in die Wes-Transvaal. Dit is die huis van Koos en Nonnie de la Rey.

Koos de la Rey se skryftafel, met onder meer briewe, boeke, ’n koppie nagemaakte koffie en nagemaakte droë perskes (Foto: verskaf)
Wie is die mense wat hulself Boere of Afrikaners genoem het? Waar kom hulle voorsate vandaan? Hoe het hulle geleef en oorleef, met hulle skape, Afrikanerbeeste, perde, vrugtebome en landerye – dít wat hulle binnekort in die verskroeide aarde sal verloor.
In die kombuis, vol dekor van die era, word jy genooi om aan tafel te sit saam met die familie en hoor jy stories van die kos en gewoontes van die tyd. Die gesin sing ’n ou Psalm in Hollands; die opname is gemaak onder leiding van Gisela de Villiers – een van Suid-Afrika se bekendste musiekverwerkers en koorbeoordelaars.

Die boerekombuis met kappies, voorskote en dekor (Foto: verskaf)

Die boerekombuis met ’n werkstafel en rak (Foto: verskaf)
Dan breek die oorlog uit! Aanvanklik is Boer en Brit heel geneë om mekaar dood te maak. Daar is kleur, lig, klanke, musiek, geweerskote, beleëring van dorpe. Perde en oorwinnings. Die oorlog sal teen Kersfees (1899) verby wees. Historiese foto’s en talle artefakte is te sien.
Dit word gevolg deur die guerrilla-oorlog tussen die koppies. Vuil water en siekte begin die Britte kniehalter, asook die verlies van honderd-duisende perde. Sabotasie, blokhuise, hakiesdraad en ongedissiplineerde Boere – dis alles daar, saam met nog items om te besigtig.
Maar die oorlog raak duur en daar is geen einde nie. Stapsgewys word die verskroeide aarde-beleid ingestel. Totdat Herbert Kitchener oorneem en daar voor die voet verwoes word. Huise, skure, bome, landerye, plaasdiere – alles.

Een van die groot doeke in die groter kamptoneel (Foto: verskaf)
In ’n vertrek met ’n verdorde, verbrande aarde speel daar ’n film (geskiet in Suid-Afrika) waar Susanna en haar kinders op die plaas deur Peter Palmer en ander soldate gekonfronteer word.
Binne die installasie speel die film af op die drie skerms, elk 3,5 meter hoog. Jy kan nie van Susanna ontsnap terwyl sy jou in die gesig kyk of na jou aangehardloop kom nie. Vlugtend.
In die volgende vertrek arriveer Emily Hobhouse in die land. Wat hier gebeur en hoe jy saam met haar “reis”, wil ek ook nie graag verklap nie.
Daarna betree jy ’n konsentrasiekamp met Emily aan die woord en hoor en sien jy wat sy ervaar het, in haar eie woorde. Daar is artefakte – uit die kampe wat ek versamel het met behulp van Daniël Jacobs – asook historiese dekor, foto’s en klere. Hier is ook ’n verrassing om jou die gevoel te gee jy ís in ’n kamp.

Van die artefakte in die War Rooms – in die vertrek wat die guerrilla-oorlog uitbeeld (Foto: verskaf)
Deur die opening van ’n kloktent betree jy nog ’n tent. Met ’n gesofistikeerde VR-bril gaan jy terug in tyd. Dit speel af in ’n konsentrasiekamp – ’n stel wat in 2022 op die koue vlaktes op ’n plaas buite Heidelberg gebou is.
Hiervoor was ek die projekleier, die bekroonde Nicola Hanekom die regisseur en draaiboekskrywer, en Joost Meijer en sy Nederlandse maatskappy, Public Agency, het die VR verfilm.
In die VR vervolg die storie van Susanna, die boervrou, en haar kinders. Peter, die Engelse soldaat, is ook daar. Nog meer van Suid-Afrika se voorste akteurs, soos Amalia Uys, Grant Swanby, Gerben Kamper, Dorothy Ann Gould en Joanie Combrink, twee bekende kinderakteurs, Méla Swanepoel en Johannes Jordaan, asook tientalle ekstras is te sien.

Susanna (Meghan Oberholzer), Cornelia (Amalia Uys), bejaarde man (Gerben Kamper) en Daniël (Johannes Jordaan) tydens die verfilming van die virtuelerealiteit (Foto: verskaf)
Historiese kostuums was onder leiding van Sylvia van Heerden en die hare en grimering is gedoen deur Laura Wood en haar span, wat moes omsien dat geen ekstras lang rooi naels of pienk hare het nie.
Dié ervaring was om die minste te sê ’n wonderlike leerervaring en ’n klein bietjie hel. Maar dit het my twee goed geleer: Niks is te veel gevra vir ons eie land se akteurs (en andere) nie; hulle was ongelooflik. Van voor 05:00 tot ná 18:00 het ons beurtkrag, bye, stof, koue, hitte, te min water (een keer) en baie trane getrotseer met emosionele tonele wat oor en oor gedoen moes word.
Van ’n baba wat baie gehuil het (al was die ma ook daar as ’n ekstra) – wat Joanie Combrink soos ’n veteraan vir drie op haar skoot moes hou – tot kleuters vir wie Nicola geduldig vinnig dramalesse gegee het, tot die oudste was almal professioneel.

Van die dekor in die konsentrasiekamp: Daar is ook artefakte van veral vroue en kinders in die area. (Foto: verskaf)
Die tweede wat uitgestaan het: Die snerpende koue 05:00 in die oggend op die oop vlakte, net soos dit destyds was vir die vroue en kinders in die konsentrasiekampe. En die verstikkende hitte later in die dag in dieselfde tente. En daar is geen manier dat jy skoon kan bly nie – die stof klim tot in jou ore.
Soos Emily uitgewys het, dat die kritiek onregverdig was dat dié mense “vuil is”. Dit is onmoontlik om skoon te wees wanneer daar nie water en seep is nie.
Om konteks te gee aan presies wat die gevolge was van die konsentrasiekampe is die volgende vertrek een waar daar projeksies is oor hoekom mense dood is en waaraan.
Celeste Naude van die Universiteit Stellenbosch het onder meer die karige rantsoene vergelyk met die ware voedingsbehoeftes; die gebrek aan skoon drinkwater, die talle siektes en die sterftesyfers van al die vroue en kinders word in konteks gesit, saam met replikas en artefakte.
........
“I feel paralysed in the face of it. I feel money is of little avail and there are moments when I feel it would be wise to stop trying and hasten home to state plain facts and beg that a stop may be put to it all,” het Emily geskryf.
........
“I feel paralysed in the face of it. I feel money is of little avail and there are moments when I feel it would be wise to stop trying and hasten home to state plain facts and beg that a stop may be put to it all,” het Emily geskryf.
Sy verlaat die konsentrasiekampe en saam met haar stap jy Londen binne. Haar stryd met die politici, publiek en pers word uitgebeeld deur agt vensters.
Dit was seker naïef van haar om te glo Engeland sou geskok wees, maar in oorlogstyd dink die meeste mense anders, wanneer patriotisme en nasionalisme voorkeur geniet.
Haar werk het egter ’n enorme verskil gemaak. Hoewel sy nooit amptelik of op papier erkenning gekry het in Brittanje nie, is daar na haar geluister.
Die einde van die oorlog breek aan, ook vir Susanna en Peter, maar vir Emily is dit nie klaar nie. Sy keer terug na die gevolge vir die verskroeide aarde en in dié vertrek sien jy meer van wat sy gedoen het in uitstallings en drie animasies binne ’n uitgebrande huis.
Daar is ook replikas van oorspronklike items – ses kantstukke gemaak uit Emily se tyd, deur vroue van die Witwatersrandse Kantgilde, en twee komberse, deur Lotte Venter en haar span. (Met dank aan die Oorlogsmuseum in Bloemfontein en die Emily Hobhouse Aftreeoord in Koppies.)

Binne die afgebrande huis ná die oorlog, met ’n spinwiel uit die era (Foto: verskaf)
’n Oorlog is juis nie verby wanneer die wapens neergelê is nie. Dit is hier waar Emily se invloed en bydrae vir jare nog van waarde was. Dit was asof Suid-Afrika en haar vroue haar bly terugroep het, of sy nooit hier kon “klaarmaak” nie.
Hoe haar familie haar as vir Suid-Afrika aangebied het en dit dadelik aanvaar is. Sy is op ’n staatsbegrafnis aan die voet van die Vrouemonument ter ruste gelê – ’n ervaring wat jy op ’n grootskerm kan beleef.
Dit was die einste monument se beeldegroep wat sy self oor insae gegee het, nadat ’n toneel wat sy op Springfonteinstasie gesien het, haar in haar gedagtes bly teister het. Dié toneel het ons weer in ’n studio geskiet, met akteurs Ilse van Niekerk en Kenley Swart, en klein Caru Nelson, afgeneem deur fotograaf Liza van Deventer.

Emily Hobhouse (Foto: verskaf)
Dit was juis die profetiese toespraak van Emily in 1913 wat dalk een van die hoogtepunte in die War Rooms geïnspireer het. ’n Dag waarop vroue deur haar vereer is en wat sy ook “Vrouwen-dag” gedoop het, eerder as Dingaansdag.
Waar sy gepleit het vir menseregte, vroueregte en vergifnis en opgestaan het teen politieke vergrype.
“Liberty is the equal right and heritage of every child of man, without distinction of race, colour or sex [...] Be merciful towards the weak, the downtrodden, the stranger [...] Do not open your gates to those worst foes of freedom – tyranny and selfishness. Are not these the withholding from others in your control, the very liberties and rights which you have valued and won for yourselves?”
In dié vertrek wat afspeel voor Emily se begrafnis, is daar baie spesiale brons opdragwerke. Vir 10 maande lank het talle kunstenaars van Dionysus Sculpture Works van Angus Taylor in Suid-Afrika hieraan gewerk.
Voor Emily se begrafnis is daar ’n warm, persoonlike vertrek vir haar, ’n eie spasie waar sy sou geskryf het, met boeke wat ons weet sy gelees het en items wat sy besit het.

Emily Hobhouse se skryftafel in haar laaste dae (Foto: verskaf)
’n Laaste totsiens en haar laaste woorde.
Stap uit met die sang van die Tygerbergse kinderkoor wat twee verse van ’n lied uit die ABO in Hollands sing, gelei deur Karina Erasmus en verwerk deur Braam du Toit.
Houdt moed, houdt moed; mijn zusters,
In ons geliefde land;
Wij voelen diep uw lijden
Wij aan dit verre strand
Volgende keer skryf ek meer oor die gerestoureerde Victoriaanse pastorie (Rectory) waar Emily gebore is en gebly het tot sy 34 jaar oud was, die tuine en die restaurant.
Brits doen al die afgelope 11 jaar navorsing oor Hobhouse en die biografie Emily Hobhouse geliefde verraaier en Beloved traitor het in 2016 verskyn. Die Britse uitgawes Emily Hobhouse: Pacifist, feminist, traitor en Emily Hobhouse: Rebel Englishwoman het onderskeidelik in 2018 en 2019 verskyn.
- Lees meer by die webtuiste. Daar is ook ’n blog, genaamd Stories of Emily: https://thestoryofemily.com/
- Die Instagram-rekening is: https://www.instagram.com/thestoryofemilycornwall


Kommentaar
Dit klink goed. Uit die baie beelde wat ek daarvan gesien het, blyk dit 'n ervaring te wees wat mens sal móét beleef. Dankie, Elsabé!
Roerend! Veels geluk met die meesterlike uitbeelding van hierdie uiters belangrik deel van ons (Afrikaner-)geskiedenis .
Elsabé Brits is myns insiens ons heel beste skrywer. Haar werk laat lesers nie in mure vasloop nie, maar sy neem ons bo-oor hulle en om hulle.
Elsabé het puik geskryf. Ek wens ek kon hierdie skrywe druk met die foto's. Marthinus Steyn is my voorsate en Emily Hobhouse 'n voorbeeld vir ons almal. Ek kan net dink hoe wonderlik dit moet wees om self dit te kan ervaar.
Ek het 'n Franse porseleinpoppie (circa) 1870 wat glo aan Emily behoort het.
Magda ek sal dit graag vir jou stuur. En sal ook van jou voorsate wil hoor. Kontak my gerus via LitNet.
Innige waardering Elsabe vir hierdie geweldige taak wat jy op jou geneem het. Ek het "Emily Hobhouse geliefde verraaier" stuk-stuk gelees, by tye so aangedaan dat ek die boek net moes neersit en eers emosioneel tot verhaal kom. Die moeite wat jy gedoen het om ver plekke en persone te ontmoet vir jou navorsing en rare geskrifte te bekom wat nog nooit geboekstaaf is nie ... en nou hierdie nalatenskap aan hierdie kosbare vrou wat so geveg het vir ons mense - baie dankie. My ouma en oupa aan moederskant is oorlewendes van konsentrasiekampe, so ook my oorlede skoonmoeder - daarom was die boek des te meer van waarde vir my. Ek sien uit daarna om opvolgartikels te lees!
This is a brilliant review of an incredible author - all making great stories.
I reviewed Elsabé's book on LitNet.
Ek beaam almal se waardering. Brava, Elsabé.