Auschwitz-Birkenau: 75 jaar ná die bevryding

  • 0
 

Hongaarse Jode, vroue en kinders, stap na hulle dood in Auschwitz-Birkenau. Die foto kom uit die Auschwitz-album met sy 193 foto’s wat ’n rekord is van wat in die kamp plaasgevind het in die oorlog. Foto: Wiki Commons.

Op 27 Januarie 2020 is dit 75 jaar nadat die reuse-konsentrasiekamp Auschwitz-Birkenau deur troepe van die Rooi Leër bevry is. ’n Doodskamp waarvan wêreldleiers baie bewus was en niks aan gedoen het nie. Maar voor dié bevryding en daarna het vele ander gebeure afgespeel waarvan daar eers later gehoor is, skryf Elsabé Brits.

’n Vrou wat die Joodse volksmoord oorleef het, het byna op die dag en datum 15 jaar gelede vir my vertel van dit wat haar agtervolg. Nie die honger, dors, koue, vrees of verlies val ál haar familielede nie, maar van oorlewing.

Sy was maar 17 jaar oud en ’n gevangene in Treblinka, noordoos van Warskou – een van die Nazi’s se ses uitwissingskampe. ’n Vrou met wie sy daar bevriend geraak het, het vir haar gesê sy het gesien haar naam is op die doodslys vir die volgende dag. Sy het die lys self getik waar sy in die kantoor onder dwang vir die SS gewerk het.

Dit was die lys met name vir die gaskamer. Almal het daarvan geweet. Daar was nie meer gevoel in haar oor nie. Nie juis nie. Of dan nie wat sy kon beskryf nie. Sy het net die vreeslike dors onthou.

Die volgende oggend toe hulle moes aantree, toe almal getel moes word en die lys name uitgeroep word, is haar naam nie geroep nie.

’n Graf waarin die laaste slagoffers van Auschwitz-Birkenau ter ruste gelê is. Foto: Met vergunning van Auschwitz-Birkenau-gedenkmuseum.

Haar naam is met iemand anders s’n omgeruil. Sy het nooit die vrou daaroor uitgevra nie. Hulle het nooit, ooit daaroor gepraat nie. Wat sê ’n mens tog?

Kort daarna is sy oorgeplaas na Auschwitz-Birkenau. Sy was net ’n paar maande daar toe die Nazi’s op 20 Januarie die krematoria  en gaskamers begin opblaas het om hulle misdade te probeer wegsteek, hoewel sy nie dié datum geweet het nie. Van die store met die mense se besitting wat hulle gesteel het, is aan die brand gesteek, maar daar was so baie, nie naastenby alles kon verwoes word nie.

Toe begin hulle die mense wegneem. Weswaarts. Sowat 56 000 mense is in treine en te voet aangejaag. Diegene wat in die bitter koue kon loop, duisende na Loslau 63 km ver,  en ander na Gleiwitz 55 km ver. Vandag weet kenners die temperatuur was tot –20° C. Ander kampe is ook so ontruim. Dit staan bekend as die Doodsmars.

Tussen 9 000 en 15 000 is doodgeskiet of het net ineengesak. Liggame het langs die pad gestrooi gelê.

Sy het dit gemaak en is uiteindelik deur die Russe na die Rooikruis geneem, waar sy later weer dié vrou in ’n tentedorp gesien het. Die een wat gegee en geneem het.

Dit was daardie hunkering om te lewe, en die kontras van skuld waarmee sy uiteindelik moes saamleef.

’n Lugfoto van die Nazi-doodskamp Auschwitz II-Birkenau. Daar is nog oorblyfsels van die houthutte waarin mense gebly het, met net een wat staan vir besoekers om te sien. Foto: Met vergunning van Auschwitz-Birkenau-gedenkmuseum.

Op 27 Januarie 1945 toe die Rooi Leër by Auschwitz-Birkenau aankom, was daar nog 9 000 mense in die kamp oor, mense wat nie op die Doodsmars geneem is nie en wat van 21 Januarie af aan hulself oorgelaat was. Duisende is net voor die vertrek van die SS doodgemaak.

Die mense is dadelik uit die kamp en na ’n veldhospitaal van die Rooikruis geneem. Onder hulle was 700 kinders. Net 700 was oor van die 230 000 kinders wat soontoe gestuur was.

Die Nazi’s het minstens 1,3 miljoen mense van sowat 20 nasionaliteite na dié kamp gestuur. Van dié is 400 000 geregistreer en in die kamp opgeneem. Altesame 900 000 is vermoor binne ure nadat hulle daar aangekom het. 90% van dié wat vermoor is, was Joodse mense – totaal is sowat ses miljoen.

Een ding wat ’n mens van die Nazi’s moet verstaan, is dat hulle konsentrasiekampe én spesifieke uitwissingskampe gehad het. Hulle het kampe vir almal gehad: miljoene mense, van wie die groot meerderheid Joodse mense was – Pole, Serwiërs, Russe, gay mense, enige gestremdes al was hulle Duits, politieke vyande, intellektuele, kriminele, priesters en Roemeniërs, en enigeen wat hulle as “antisosiaal” geag het.

’n Lugfoto van die reuse-Nazi-doodskamp Auschwitz II-Birkenau met die treinspoor in die voorgrond, wat ’n mens ’n idee gee van hoe groot die plek is. Met vergunning van Auschwitz-Birkenau-gedenkmuseum.

Daar word geraam dat daar teen die einde van die oorlog 1 200 kampe was – meestal is mense onder haglike omstandighede vir dwangarbeid gebruik. Hulle is dood van die honger, siekte, uitputting, koue – alles wat met dwangarbeid saamgaan. Mense is ook baie keer by dié kampe doodgeskiet as hulle te swak geraak het.

Nog voor van die Joodse mense weggestuur is na die kamp, is honderde duisende van hulle dood in die ghetto’s waar hulle geforseer is om te woon, en jare lank al nie meer kon werk vir ’n inkomste nie. Volgens die Jewish Virtual Library word daar geraam dat 1,3 miljoen Jode deur die Nazi’s doodgeskiet in gebiede wat hulle in die Sowjetunie beset het.

Die spesifieke uitwissingskampe met die uitsluitlike doel om dood te maak was: Chelmno (Kulmhof), Belzec, Sobibór, Treblinka, Majdanek, en Auschwitz-Birkenau. Die kampe het weer verskeie subkampe gehad.

Nog voor Auschwitz-Birkenau bevry is, is ook Majdanek net buite Lublin deur die Russe gevind. Hulle het op 23 Julie 1944 as’t ware daarop afgekom. Daar was ’n paar honderd uitgeteerde en siek oorlewendes, maar genoeg bewyse van oorlogsmisdade. Soos die 800 000 paar skoene, dokumente en hope en hope klere. En die alomteenwoordige krematoria en gaskamers.

Hulle het ’n kommissie van ondersoek aangestel en selfs Westerse media na die afgryslike toneel geneem.  Foto’s en films is geneem. Klein beriggies het in koerante verskyn. Daar is geskryf van gaskamers, nadat sogenaamde bewerings toe baie lank reeds oral genoem is.

Maar geen opslae is gemaak nie. Niks nie.

’n Oorspronklike bord wat nog te sien is by Auschwitz-Birkenau. Foto: Met vergunning van Auschwitz-Birkenau-gedenkmuseum.

Wou die gewone mense dit nie glo nie? Of wou hulle nie die Sowjetunie glo nie? Of het hulle nie omgegee nie? Die leiers van die Geallieerde Magte het beslis van die bestaan van die kampe geweet, as die gewone mense dit dan nie geweet het nie, of nie wou glo nie.

Die Geallieerdes was bewus van die vreeslike omvang van die Joodse volksmoord meer as twee jaar voordat die geskiedenisboeke sê hulle het geweet. Nuwe materiaal wat in 2019 deur die Verenigde Nasies bekend gemaak is, wys leiers in Amerika, Brittanje en die Sowjetunie het minstens reeds in Desember 1942 geweet dat twee miljoen Joodse mense reeds vermoor is, en nog vyf miljoen se lewe is in gevaar.

Dié materiaal, wat vir byna 75 jaar nie gesien is nie, was iewers in ’n sogenaamd vergete argief. Kyk http://www.unwcc.org/2019/09/17/early-public-diplomacy-on-the-holocaust-the-united-nations-review. Ten spyte daarvan is baie min deur leiers gedoen om mense te red.

Daar is ’n verslag van ses bladsye wat ontelbare insidente vermeld. Syfers, plekke, alles. “The Germans have, in fact transformed Poland into a vast centre for murdering Jews, not only those of Polish Nationality, but those of other European nationalities too.”

Op 10 Desember het die ministers van buitelandse sake van 26 lande ook ’n dokument, “The mass extermination of Jews in German occupied Poland”, van die Poolse regering wat in ballingskap was, is ontvang.

Dit het die bevryding van Bergen-Belsen deur die Britte geverg om die wêreld uiteindelik aandag te laat skenk. Al was dit te laat. So lank ná die tyd. Op 15 April 1945. Daar was 60 000 sterwende mense wat hulle begroet het.

Buite die hutte was daar hope en hope liggame. Soldate was so desperaat om die mense te help dat hulle hulle dadelik rantsoene begin gee het, wat die mense nog siekter gemaak het. Sommige het daarvan gesterf. Die primêre taak was om lewens te red.

Die bevryding van Bergen-Belsen is een van die mees aangrypende verhale in die geskiedenis van die oorlog. Die tragiese deel is dat 14 000 mense dood is selfs ná die bevryding, ten spyte van groot pogings om te help.

Majoor Dick Williams was een van die eerstes wat daar aangekom het en hy beskryf die hele kamp met 60 000 mense as doodstil. Daar was geen geluid nie. Die son het geskyn, maar daar was net stilte. Sommige mense het op die plek heengegaan toe hulle opstaan.

Ek het nie die vermoë om die verhaal van Bergen-Belse te vertel nie. Luister eerder beide uitsendings van Richard Dimbleby van die BBC. Maak jou oë toe en luister net. Dít is hoe dit regtig was.

Waarom, vra sommige mense, moet ons 75 jaar ná die tyd steeds onthou en herdenk? Of selfs die Tweede Wêreldoorlog. Oortuig my eerder hoekom nie. Veral omdat die leiers van die tyd, mense wat ’n mens sou meen respek moet verdien – figure soos Franklin Roosevelt en Winston Churchill – niks gedoen het nie. Daar is selfs lugfoto’s geneem van sommige van dié kampe. Baie regerings het bloot hulle grense vir mense wat vir hulle lewe probeer vlug het, gesluit.

Dalk is ’n apologie in orde? Al was dit nie my of jou skuld nie.

Jy wis nie geskiedenis uit of vergeet dit nie. Eenvoudig omdat dit die storie van elkeen van ons is. Dit is die storie van mense, van ons almal.

Ons, en ons kinders en hulle kinders, moet juis hiervan weet. Nie net oor die afgryslike wreedheid en diskriminasie nie, maar ook omdat baie mense met baie mag niks gedoen het nie. En omdat daar gewone mense was, behoorlike rolmodelle, wat wel baie gedoen het.

 

Bronne

http://auschwitz.org/en/;  https://theconversation.com/the-forgotten-concentration-camp-left-off-the-holocaust-tourism-circuit-29432 http://www.majdanek.eu/en#; https://www.jewishvirtuallibrary.org https://www.iwm.org.uk/history/the-liberation-of-bergen-belsen http://www.unwcc.org/unwcc-archives

 

Lees ook:

Nou in die verlede: Gedenk Auschwitz, Frans Fischer en Ferdinand aus der Fünten

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top