Nou in die verlede: Gedenk Auschwitz, Frans Fischer en Ferdinand aus der Fünten

  • 4

Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.

Maandag, 27 Januarie 2020

Gedurende hierdie week vergader wêreldleiers van oor die hele aardbol in Pole om op 27 Januarie die bevryding van gevangenes uit die Auschwitz-Birkenau-doodskamp 75 jaar gelede te gedenk. Die kamp is geleë in die suide van Pole en word beskou as die grootste Nazi-konsentrasiekamp, opgerig met die doel om slawearbeid te verskaf en vir die uitwissing van “ongewenstes”, alles in belang van die Duitse Nazi-staat. Gevolglik word die datum van die bevryding van gevangenes uit hierdie kamp deur die Sowjetse Rooi Leër gedurende die laaste dae van die Tweede Wêreldoorlog gevier as Internasionale Joodse-volksmoord-herdenkingsdag (International Holocaust Remembrance Day).

Toe die Sowjetmagte in Januarie 1945 by Auschwitz-Birkenau aankom, het die Duitsers alreeds weswaarts gevlug en duisende liggame van gevangenes agtergelaat wat hulle net voor hulle onttrek het, tereggestel het. Dié by wie hulle nie betyds kon uitkom om hulle tereg te stel nie, was in elk geval besig om van honger en ontbloting te sterf. Die Sowjetmagte het ook gaskamers en krematoria in die kamp gevind wat die Nazi’s voor hulle vertrek opgeblaas het in ’n poging om hulle volksmoord toe te smeer.

Die moorde was egter op so ’n groot skaal gepleeg dat dit onmoontlik was om dit weg te steek. Na skatting is minstens 1,3 miljoen gevangenes tussen 1940 en 1945 na Auschwitz-Birkenau gestuur, van wie ongeveer 1,1 miljoen, insluitend 960 000 Jode, daar gesterf het. Dié gevangenes wat nie in die gaskamers gesterf het nie, het gesterf van honger, blootstelling, uitputting, siekte, individuele teregstellings en aanrandings; nog ander het beswyk terwyl hulle aan uiters barbaarse mediese eksperimente onderwerp is.

Auschwitz-Birkenau het ’n belangrike setel vir die sogenaamde Finale Oplossing vir die Joodse Kwessie geword, waarmee bedoel is die totale uitwissing van alle Jode binne die Nazi’s se bereik, selfs ook buite die Europese kontinent. Die gevolg was die stelselmatige moord op ’n geskatte ses miljoen mense.

Soos wat ’n toenemende aantal van hierdie tipe kampe deur die oprukkende Geallieerde Magte ontdek is, het daar ’n al sterker oproep uitgegaan dat dié wat daarvoor verantwoordelik was, tot verantwoording geroep moet word. Uit die staanspoor is verskeie verdagte plegers van hierdie wandade aangekeer om verhoor te word vir oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom. Die Neurenberg-verhore (1945–1946) is van die bekendste van die gevolglike verhore. Maar daar is ook verskeie ander verhore gehou om die persone wat die gruweldade gepleeg het, aanspreeklik te hou. Die kampkommandant van Auschwitz-Birkenau, Rudolf Höss, is byvoorbeeld in Pole verhoor, en na sy skuldigbevinding ter dood veroordeel en op 16 April 1947 naby die gaskamers in Auschwitz-Birkenau deur middel van die galg tereggestel.

Soos die jare egter aanstap, vervaag baie van die gruweldade wat die Nazi’s gepleeg het tot net die annale van die geskiedenis. Vandag is die frase “Laat ons nie vergeet nie” daarop gerig om die afgryslikheid van oorlog en die Joodse volksmoord in die kollektiewe wêreldgeheue in te brand. Maar uiteindelik kom dit voor asof dit net ’n leë refrein is wat deur opeenvolgende generasies na mekaar oorgedra word omdat hulle verplig voel om dit te sê, sonder om te verstaan waarom dit gaan. Daar word op ’n goeie voorbeeld van hierdie apatiese houding gewys in ’n onlangse navorsingstuk deur die Conference on Jewish Material Claims Against Germany, waarin bevind is dat twee derdes van die jong Amerikaners wat in die huidige eeu gebore is, geen idee het wat Auschwitz is nie.

Sodanige gebrek aan belangstelling is egter niks nuuts nie. In 1989 het die Nederlandse parlement besluit om twee veroordeelde Nazi-oorlogsmisdadigers, Frans Fischer en Ferdinand Hugo aus der Fünten, kwytskelding te gee. Beide is in 1950 ter dood veroordeel vir die rol wat hulle gespeel het in die dood van ongeveer 10 000 Nederlandse Jode gedurende die Duitse besetting van daardie land. Fischer was betrokke in die opspoor en deportasie van Jode en dit was bekend dat sy “vernuwende” manier om bekentenisse uit sy gevangenes te dwing, was om hulle vir lang tydperke in ’n bad water onder te dompel. Hierdie vorm van marteling het hy spottend sy “U-Boot Spiel” (duikbootspeletjie) genoem. Dit, tesame met sy fanatiese vervolging van die Jode, het hom die bynaam Jude Fischer (Jode-visserman) besorg. Fünten weer was ’n SS-kaptein wat aan die hoof van die Sentrale Kantoor vir Joodse Emigrasie in Amsterdam gestaan het gedurende die oorlog. Hy was verantwoordelik vir die deportasie van alle Nederlandse Jode na konsentrasiekampe, insluitend Auschwitz-Birkenau. Beide hierdie manne se doodsvonnisse is later tot lewenslange gevangenisstraf versag.

Ironies genoeg is beide Fischer en Fünten op 27 Januarie 1989, presies 44 jaar nadat die gevangenes uit Auschwitz-Birkenau ontset is, vrygelaat. Hulle is terug na Duitsland gedeporteer, waar hulle die res van hul dae as bejaardes kon slyt.

’n Apatiese houding teenoor ’n situasie kom gewoonlik makliker voor waar daar nie direkte of nabye betrokkenheid is nie. Suid-Afrikaners moet egter ook teen wil en dank, hetsy as oortreders of slagoffers of albei, ’n lang en bloedige geskiedenis van misdade teen die mensdom in die gesig staar wat lank voor die begin van die vorige eeu ’n aanvang geneem het. Dit het deur die Tweede Vryheidsoorlog tussen Boer en Brit voortgeduur, en het selfs daarna veral op ’n rassegrondslag inslag gevind totdat dit uiteindelik in die Waarheid-en-versoeningskommissie ’n katarsis bereik het. Desnieteenstaande hang die mate van afsku of simpatie wat Suid-Afrikaners vir hierdie oortreders het, steeds tot ’n groot mate af van watter kant van die rasseskeidslyn daarna gekyk word. ’n Goeie voorbeeld hiervan is hoe Suid-Afrikaners na die sluipmoord op Chris Hani, en die plegers daarvan, Clive Derby-Lewis en Janusz Walus, kyk. Derby-Lewis en Walus (toevallig ’n Poolse burger) is beide skuldig bevind aan die moord en, net soos Fischer en Fünten, ter dood veroordeel. Maar met die aanbreek van demokrasie en na die afskaffing van die doodstraf in Suid-Afrika is beide se vonnisse gewysig tot lewenslange gevangenisstraf. Ten spyte van verskeie aansoeke is beide herhaaldelik parool geweier op ’n stadium toe dit normaalweg aan gevangenes met soortgelyke vonnisse toegestaan sou word. Uiteindelik is Derby-Lewis in 2015 op parool vrygelaat nadat hy terminale longkanker ontwikkel het. Hy is dan ook ’n bietjie meer as ’n jaar later oorlede.

Walus is steeds in die gevangenis. Sy mees onlangse aansoek om parool is op 7 Oktober 2019 geweier. Hy is nou alreeds byna 26 jaar agter tralies. Hoewel die meerderheid Suid-Afrikaners waarskynlik sal saamstem dat hy nooit op parool vrygelaat moet word nie, is daar ook ’n groep Suid-Afrikaners wat die mening toegedaan is dat hy net die sondebok gemaak word vir ’n groter sameswering wat die regerende party weier om te erken. Nie een van die twee groepe is bereid om na die ander te luister nie. Solank dit voortduur, staan dit vas dat die foute van die verlede in die toekoms herhaal sal word.

Soos regter Robert H Jackson, hoofaanklaer in die Neurenberg-verhore, tydens sy slotbetoog aangevoer het: “As u van hierdie manne sou sê dat hulle onskuldig is, sal dit net so waar wees as om te sê dat daar geen oorlog was nie, dat niemand vermoor is nie, dat daar geen misdaad was nie.”

Daarom moet alle Suid-Afrikaners op 27 Januarie nadink oor hulle eie bevooroordeeldheid, hulle eie vooroordele, en hulle verlede met moed en eerlikheid in die oë kyk. Want dit is die kernrede waarom Auschwitz-Birkenau onthou moet word: Gedenk die onreg. Gedenk die slagoffers. Gedenk die lyding. Maar gedenk ook die helde, die onverskrokke heldedade. Gedenk dit oor rassegrense heen. Dan sal ware versoening volg. Suid-Afrikaners skuld dit aan hulself.

* Jako Bezuidenhout is 'n Afrikaner en Suid-Afrikaner wat daagliks met die spoke van ons verlede wroeg. Hy het pas sy doktorale tesis in geskiedenis aan Rhodes-universiteit ingedien. Hy was tot onlangs aan die Geskiedenisdepartement daar verbonde en is tans 'n vryskutnavorser.

Lees ook:

Auschwitz-Birkenau: 75 jaar ná die bevryding

  • 4

Kommentaar

  • Wonder partykeer of die sterftesyfers van babas in hospitale, misdaad wat handuit ruk,staatskaping en aanstellings van onbevoegde persone wat net in posisies sit omdat hulle aan ‘n sekere rasgroep behoort nie ook ‘n misdaad teen die mensdom is nie en die wêreld hul moet beywer om hierdie skyndemokrasie te beëndig in SA nie.

  • Fia van Schaik, Nederland

    Lees Clarissa Jacobi se boek Een echte Kavalsky. Een Joodse vrouw op de kraamafdeling van een Kaaps hospitaal. De oorlog is in 1968 nog springlevend. Dick Bruna D/1968/0939/190. Voor mij een mooi boek, dank je Clarissa.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top