“Forgive for you can afford it”: Emily Hobhouse by die onthulling van die Vrouemonument

  • 0

“Forgive for you can afford it”: Emily Hobhouse by die onthulling van die Vrouemonument

P.J. Strauss, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 18(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Beskrywende name wat Afrikaners vir die Engelse Emily Hobhouse (1860–1926) gebruik het, dui daarop dat sy ’n gevestigde plek in die harte van hierdie mense verwerf het; name soos “die engel van liefde” en “heldin uit die vreemde”. Dit was ’n plek wat sy verwerf het deur die voorsiening van geestelike en materiële hulp ter leniging van die lyding en leed van duisende Boerevroue en -kinders in ontoereikende konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog (ABO) van 1899–1902. Sulke kampe het in die loop van 1900 ontstaan en moes die Britse militêre beleid van verskroeide aarde oftewel verwoesting van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) as Boererepublieke rugsteun.

Die voorsitter van die Kommissie van die Vrouemonument, oudpresident M.T. Steyn, versoek Hobhouse in 1913, sonder bevraagtekening uit eie geledere, om die onthulling van die monument op 16 Desember 1913 in Bloemfontein waar te neem. Benewens haar betrokkenheid by die ABO het Hobhouse baie nou met die oudpresident saamgewerk oor die uitleg van die monument. Hobhouse was vir die laaste deel van haar reis per trein op pad na Bloemfontein, maar moes op Beaufort-Wes omdraai weens haar verswakkende gesondheidstoestand. Gevolglik word Hobhouse se toespraak by die onthulling van die Vrouemonument deur Charles Fichardt voorgelees (Van Schoor 1993:11).

’n Opvallende stelling in haar rede maak ’n gevolgtrekking uit die oortuiging dat die Boere die ABO in geloof in God-Drie-enig aangepak het (vgl. president M.T. Steyn se motivering in Republiek van de Oranje-Vrijstaat 1899:10). Die gevolgtrekking is dat die Boere die Britte moet vergewe vir hulle wandade in die konsentrasiekampe en hulle verwoesting van die Boererepublieke tydens die ABO, al was die Britse optrede strydig met die bepalings vir beskaafde oorlogvoering van die Haagse Konvensie van 1899 – bepalings wat ook deur Brittanje onderskryf is.

In haar rede gee Hobhouse nie ’n beredenering hoekom die Boere die Britte behoort te vergewe nie. Vergifnis deur die Boere is noodsaaklik bloot omdat Christus dit vra. Haat maak die draer lelik en liefde is beter en mooier as haat. Volgens Hobhouse het die Boerevrou met haar volharding in lyding en swaarkry ’n morele krag geword wat kan “forgive for you can afford it …”.

In hierdie artikel word hierdie woorde van Hobhouse in ’n vergelykende literatuurstudie nagegaan én in historiese konteks geplaas. Haar oproep word deurgaans vanuit ’n Bybels-etiese perspektief belig. Die reaksie van Afrikaners op Hobhouse se oproep was ’n oorwegende stilswye eerder as ’n geformuleerde respons. ’n Gebrek aan bronne oor die redes vir hierdie stilswye dwing ons tot afleidings by wyse van assosiasie.

Trefwoorde: Anglo-Boereoorlog; Emily Hobhouse; konsentrasiekampe; Vrouemonument; Vrouemonumentinwyding; vergifnis

 

Abstract

“Forgive for you can afford it” – Emily Hobhouse at the unveiling of the Women’s Memorial

The descriptive names which Afrikaners gave to “that English woman” Emily Hobhouse (1860–1926) indicate that she had earned a special place in the hearts and minds of Afrikaner people – names such as “the angel of love” and “the heroine from abroad”. She earned this place because she did her utmost to improve the living conditions of the Boer women and children forced by the British forces to stay in concentration camps during the Anglo-Boer War of 1899–1902. These camps were erected in 1900 and remained in use until the end of the war in 1902. Emily organised physical assistance for the camp inhabitants and became a public advocate fighting against the shameful treatment of the Boer inhabitants and for the improvement of these camps. Initially these camps were not properly prepared and were not suitable as accommodation for these women and children. The camps were founded to support the British policy of “scorched earth”, which entailed destroying the two Boer republics: the South African Republic (Zuid-Afrikaansche Republiek or ZAR) and the Republic of the Orange Free State (OVS). The aim was to cut the support lines between the Boers on the battlefield and their wives or women on the farms or in towns.

Hobhouse’s visits to the camps were limited by the British military to one period during the war: January to May 1901. During this period she was allowed to visit camps only in the south, as far north as Bloemfontein. It nevertheless enabled her to analyse the camp conditions in Bloemfontein to her own satisfaction and to come up with serious misgivings about these camps. She was prohibited from visiting the Kroonstad camp with its bad image among Afrikaners as well as the camps in the ZAR. A second attempted visit by Hobhouse in October 1901 came to nothing. She arrived by ship in the harbour of Cape Town but was prohibited under military law from disembarking and was deported back to England. The British forces were unwilling to allow an outspoken woman like Emily Hobhouse to witness in person the conditions in the camps and make these public. Recent research indicates that 34 051 Boer women and children died in these concentration camps and in other war-related circumstances. However, when the Women’s Memorial (Vrouemonument) was unveiled on 16 December 1913, the generally accepted number was 26 370.

Emily Hobhouse used a Biblical approach to stress an important matter at the unveiling of the Memorial, an approach which indicated her independent but Christian thinking on war-related issues. She called on the crowd present at the ceremony – approximately 20 000 Boers, or Afrikaners – to forgive the imperialist English for their misdeeds in the war, “for you can afford it”. These misdeeds entailed, among others, the destruction of the Boer Republics and the erection of the deadly concentration camps. A call was made by Hobhouse at the Women’s Memorial which honours the spiritual strength and boldness of the captive Boer women in these camps. She asked the Boers for unconditional forgiveness of their enemies since forgiving your enemies is a command of Jesus Christ. In 1903, at the Cape Synod of the Dutch Reformed Church, she asked for an acknowledgement of guilt by the three Englishmen whom she blamed as being the driving forces behind the war: Milner, Brodrick and Kitchener. She deemed an acknowledgement of guilt from these individuals a necessary precondition for the Afrikaners to forgive the British. However, at the time of the inauguration of the Women’s Memorial in 1913 she asked for unconditional forgiveness – because this would complete the efforts of fighting during the war following the teachings and help of God.

Hobhouse was supported in this point of view by former President M.T. Steyn. In his speech as the spiritual father of the Women’s Memorial and the main force behind the text of the engravings on it he referred to it as a monument of love. According to him it had not been erected to remind visitors of the tragic consequences of the Anglo-Boer War, but to honour the women and children named on the memorial: a monument with the overriding message of “Thy will be done”.

Because whatever Steyn and Hobhouse said about the Women’s Memorial was accepted unconditionally by Afrikaners, there was no public reaction against or a noticeable response to Emily’s call for forgiveness. Neither did it ever become a point of discussion in the history of the Afrikaners. With the exception of M.T. Steyn’s response, her call for forgiveness, “Forgive for you can afford it”, went unanswered, although the inscription on the Women’s Memorial contains the prayer of Christ: “Thy will be done”.

Keywords: Anglo-Boer war; concentration camps; Emily Hobhouse; forgiveness; Women’s Memorial; unveiling of Women’s Memorial

 

1. Inleiding en probleemstelling

In Emanoel Lee (1985) se weergawe van “daardie onbeskaamde Engelse vrou”,1 Emily Hobhouse (1860–1926, De Kock en Kruger 1972:308), se rol in die Anglo-Boereoorlog (ABO), kom hy tot die slotsom dat haar beeld in verband met konsentrasiekampe vir Boerevroue en -kinders meer as dié van ’n welsynswerkster was. Haar hulp in die versagting van die lyding, leed en nood van duisende vroue en kinders was dié van simpatie én voelbare geestelike en materiële hulp. Deur haar optrede het sy ’n belangrike plek in die harte en denke van die stryders vir die saak van die twee Boererepublieke in die ABO ingeneem, te wete die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR, 1852–1902) en die Vrystaatse Republiek (OVS, 1854–1902; sien Van Schoor en Van Rooyen 1960:120). Met haar herbegrafnis in 1926 is sy saam met Boereleiers soos president M.T. Steyn (1857–1916; sien De Kock en Kruger 1972:727) en generaal C.R. de Wet (1854–1922; sien Scholtz 2008:229) van die eertydse Republiek van die Oranje-Vrystaat wat reeds daar begrawe was, by die Vrouemonument ter ruste gelê. “No greater honour can be given by the Afrikaans nation,” aldus Lee (1985:190).2

Titels van biografieë oor Emily Hobhouse verwoord reaksies op haar rol en optrede afkomstig van sowel Boer as Brit.3 In 1970 publiseer Rykie van Reenen haar Heldin uit die vreemde uit ’n gangbare Boere-oogpunt (Van Reenen 1970). ’n Jaar later publiseer John Fischer sy That Miss Hobhouse en sluit die gevoel van wrewel van Britse militêre leiers teenoor haar by sy titel in (Fischer 1971). Op haar beurt probeer Elsabé Brits in 2016 die verskeie perspektiewe balanseer met die biografie Emily Hobhouse – beloved traitor (Brits 2016).

As deel van die groep wat Hobhouse soos ’n heldin vereer, vat die Boeregeneraal Jan Smuts sy gevoelsbelewenis saam as hy verklaar dat haar vriende en bewonderaars Emily Hobhouse soos ’n prinses begrawe het (Brits 2016:298). Later voeg M.C.E. van Schoor by: “’n Nissie aan die voet van die naald bevat die as van die Britse weldoenster, die engel van liefde, Emily Hobhouse (Van Schoor 1993:4).

N.J. van der Merwe, ’n skoonseun van president Steyn (1888–1940; sien Botha 2008:1122), vind dit “heel natuurlik” dat Steyn as die “vader” van die Nasionale Vrouemonument en eerste voorsitter van die kommissie daarvan (Schoeman 1983:121) hom tot Hobhouse sou wend om die monument op 16 Desember 1913 te onthul. Sy versoek bevestig die belangrike plek wat sy onder destydse Afrikaners ingeneem het. Steyn het haar sonder enige moontlikheid van omstredenheid gevra om ’n boodskap by die geleentheid te bring en die onthulling waar te neem. Daardeur sou sy ’n sentrale figuur by die gebeure word (Van der Merwe s.j.:48; Van Schoor 1993:9) – iets waartoe sy vanweë haar statuur en na die oordeel van Steyn én toonaangewende Bittereinder-Afrikaners in staat was.

Hobhouse het haar lewe lank nie gehuiwer om haar oortuigings en besorgdheid oor die jammerlike wêreld om haar uit te spreek nie. Die amptelike Britse verontwaardiging oor haar kritiek op hulle ABO-konsentrasiekampe word korrek opgesom in Fischer se That Miss Hobhouse. Ernstige ongesteldheid het Hobhouse verhoed om in Oktober 1913 in die somerhitte van die Karoo verder as Beaufort-Wes – per trein – te reis nadat sy slegs matig gesond in die Kaapse hawe aan wal gestap het. Sy moes omdraai. Charles Fichardt sou haar boodskap voorlees en Tibbie Steyn die onthulling waarneem (Van Schoor 1993:11).

Die kern van Hobhouse se geskrewe boodskap was op die man af: vir Boer én Brit. Haar kritiek teen imperialisme en materialisme in Britse regeringskringe en onder ondersteunende maghebbers in Brittanje was ontledend en snydend. Daarteenoor was haar simpatie vir die Boere en die Boeresaak wyd bekend. Sy is immers versoek om die kosbare Vrouemonument te onthul, net meer as ’n dekade na afloop van die ABO.4 Afrikaners verspreid oor suidelike Afrika kon hul emosioneel identifiseer met die saak van die Boererepublieke in die ABO en die oprigting van die Vrouemonument.5 Hierdie gevoelens was nog vars. Daarby het die wrewel teenoor die “Kakies” nog diep by hulle gelê. Tog het Emily die aanwesiges – ongeveer 20 000 Afrikaners (Van Schoor 1993:10) – óók opgeroep en aangespreek. ’n Kernpunt in haar toespraak was die volgende stelling: “Alongside of the honour we pay the Sainted Dead,6 forgiveness must find a place [...] forgive for you can afford it (aangehaal in Van Schoor 1993:31).

Emily Hobhouse sou opoffer vir die Boeresaak, maar Bybels-Christelike oortuigings het deurgaans haar ingesteldheid en optrede bepaal. Hierdie oortuigings dring haar om die boodskap by die onthulling van die Vrouemonument op 16 Desember 1913 as ’n opdrag aan Afrikaners oor te dra dat hulle die Britte hulle lafhartige stryd teen die swakkes – vrouens en kinders – moet vergewe. Dit was ’n boodskap wat aandui dat vergifnis deel van ’n Christelike verwerking van die smart en ellende van die ABO is én inpas by die sentrale sin op die monument: “Uw wil geschiede”.

Die oogmerk van hierdie artikel is om hierdie oproep van Emily Hobhouse te ontleed en in konteks te plaas met ander standpunte van en oor haar, die simboliek van die Vrouemonument en Afrikaners se belewenis van die ABO. Wat was die omstandighede waarbinne sy die oproep gedoen het, sowel onder haar gashere as onder die ongeveer 20 000 Afrikaners wat die onthulling sou bywoon? Watter effek sou haar oproep onder Afrikaners in die breë hê?

 

2. Britse konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog

Die verskynsel van “vlugtelingkampe” vir die “plaaslike bevolkings” van die ZAR en OVS, kampe wat in die ABO mettertyd konsentrasiekampe genoem is (Van Reenen 1984:53; Grobler 2004:111), het in die loop van 1900 ontstaan (Pretorius 2001:18). Die aanvanklike doel was om wapenafleggers onder die Boere én hulle gesinne in vlugtelingkampe te huisves om hulle te verhoed om weer die wapen teen Brittanje op te neem. Na die oorname van lord Kitchener as Britse bevelvoerder in die ABO in November 1900, volg ’n intensivering van die Britse beleid van verskroeide aarde om die guerrillaoorlogvoering van die Boererepublieke hok te slaan. Na afloop van die deur die Britte oorheerste konvensionele fase van die ABO stel die Boere hulle guerrillataktiek in Maart–Augustus 1900 in werking (Pretorius 2001:19–23).7

Die strategie van verskroeide aarde wat op die verwoesting van die Boererepublieke en hulle gevegsbronne gerig was (McLeod 2001:199), het dorpe en plase beskadig of verwoes en Boerevroue en -kinders en ou mans haweloos gelaat. Teen die einde van die ABO in Mei 1902 was sowat 30 000 (80%) van die plaashuise in die ZAR en OVS afgebrand of vernietig, en talle eiendomme in dorpe, waaronder kerkgeboue, verwoes. Die skade net aan gereformeerde kerke in die Boererepublieke alleen het, in terme van destydse geldwaardes, R150 000 beloop.8 Onder militêre beheer was die kampe aanvanklik swak voorberei en onderhou. Die siviele Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, lord Alfred Milner, neem in November 1901 die beheer van die kampe van die Britse militêre owerhede oor (Grobler 2004:125; Pretorius 2012:246).

Aanvanklik was beheer, vervoer, huisvesting, water, voedsel, sanitêre en mediese dienste geheel en al ontoereikend. ’n Opeenhoping van mense, die ongesonde ligging van sommige kampe, gebrekkige en bedorwe rantsoene en ’n gebrek aan die regte medisyne het tot epidemies soos ingewandskoors, masels en skarlakenkoors gelei (Grobler 2004:123–7). Daar was kampe vir Boerevroue en -kinders – aan die einde van die ABO was daar meer as 40 sulke kampe met ’n inwonertal van ongeveer 110 000 teen September 1901 – en swart kampe, hoofsaaklik vir plaaswerkers. Behalwe die 34 051 Afrikanervroue en -kinders het ongeveer 20 000 swart mense in kampe omgekom (Pretorius 2001:21; Raath 2012:13; Reynolds 2013:122). Die verskroeide-aarde-beleid sou die Boererepublieke as gemeenskappe in hulle geheel tref.

In ’n verslag aan president Paul Kruger in Desember 1901 sê generaal Koos de la Rey dat niks aan die Engelse verwoester ontkom nie:

Die eiendomme van neutrale sowel as van gesneuwelde burgers, van krygsgevangenes sowel as van weduwees en wese – alles is vernietig. Kerke, nóg pastorieë, nóg skole is gespaar geword. In my afdeling is die dorpe Wolmaransstad, Bloemhof, Schweizer-Reneke en Hartebeestfontein, wat nie deur die vyand beset word nie, totaal afgebrand. (Aangehaal in Hobhouse 1923:141–2)

In die beginfase van die ABO beveel die Britse bevelhebber, lord Roberts, in ’n proklamasie dat die troepe wat iets van die “siviele bevolking” van die Boere neem of beskadig, kwitansies daarvoor moet verskaf vir die latere vereffening van hulle skuld. Hierdie bevolking se huise moes nie betree word nie en hulle moes nie gemolesteer word nie (Hobhouse 1923:3). Op daardie stadium is die Boererepublieke egter al bewus van die betreding van plaashuise en molestering van Boerevroue en -kinders deur Britse soldate in die Suid-Vrystaat. Hobhouse publiseer ’n afdruk van Roberts se proklamasie en voorbeelde van Britse soldate wat dit verontagsaam (Hobhouse 1923:4–5). Die proklamasie verdwyn klaarblyklik ná die implementering van die beleid van verskroeide aarde.

 

3. Hobhouse se besoeke aan konsentrasiekampe in Februarie tot April 1901

Na die uitbreek van die ABO word Emily Hobhouse in Brittanje die eresekretaresse van die vrouetak van die South African Conciliation Council (SACC). Nuus oor die vernietiging van die opstalle op Boereplase wat Brittanje teen die middel van 1900 bereik, ontstel haar.9 Later skryf sy hieroor aan haar vriendin, Tibbie Steyn, in die Vrystaat:

As now this destructive policy proceeded, soldiers’ letters in the Press constantly described the horrible scenes which, to their honour, they for the most part evidently found most distressing. Thus the constantly renewed picture of women and children homeless, desperate and distressed, formed and fixed itself in my mind and never once left me. It became my abiding thought. The thought deepened to torture and by a kind of second-sight such as had often visited me in my life the whole became a vision of vivid reality wherein I saw myself amongst the sufferers bearing relief. I never doubted then that I should go and that, be the obstacles what they might, they would be surmounted …. (Brief aangehaal in Van Reenen 1984:25–6; McLeod 2001:201)

In September 1900 begin Hobhouse steun werf om hulp aan hierdie hawelose vroue en kinders te verleen. Deur haar bemiddeling word die South African Women and Children Distress Fund (hierna Distress Fund) gestig. Sy klop aan by kerkleiers, adellikes en politici om steun en is daarvan oortuig dat sy na Suid-Afrika moet gaan om hulp aan hierdie slagoffers van die Britse leër te verleen.

Op 7 Desember 1900 vertrek sy met ingesamelde fondse van 300 pond (McLeod 2001:201). In Kaapstad hoor sy vir die eerste keer van die swak-ingerigte kampe waarin plaaslike inwoners “saamgebondel” word (Scholtz 2013:43). Sy vra Milner vir toestemming om die kampe te besoek, maar hy verwys haar na Kitchener as militêre hoof. Milner erken dat die afbrand van plaashuise ’n fout is. Kitchener laat haar egter nie toe om kampe noord van Bloemfontein te besoek nie – sy vra tevergeefs om die Kroonstadse konsentrasiekamp met sy donker reputasie te mag besoek – en beveel haar om alleen te reis. Skynbaar wil hy haar afskrik. Hierdie besoek is haar enigste aan die kampe in Suid-Afrika en duur van Februarie tot April 1901 (McLeod 2001:202–4).

In ’n brief aan ’n familielid skets Hobhouse haar waarnemings van die Bloemfonteinse kamp. Volgens haar lê hierdie kamp wes van Bloemfontein in die oop veld onder die brandende somerson. Die inwoners leef onder die dun tentseile sonder die skadu van bome. Boonop is alles om hulle swart van die vlieë. Daar is nie genoeg drink- en waswater nie en die besmette water van die Modderrivier moet voor gebruik gekook word. Tifus of maagkoors, masels en longsiektes is aan die orde van die dag. Matrasse vir slaap asook waswater is volgens die Britse militêre owerhede ’n luukse. Wan- en ondervoeding breek die inwoners van hierdie kamp se natuurlike weerstand teen siektes af. Boonop word Boerehensoppers en hulle gesinne beter versorg as die gesinne van Boere wat in die veld volhard (sien brief van Hobhouse aan lady Hobhouse, aangehaal in Van Reenen 1984:206; vgl. Hobhouse 1902:319–53 oor kamptoestande in die algemeen). Hobhouse wil nie ’n spesifieke persoon blameer nie, maar die “smarte van hulle wat magteloos en weerloos is, met waarheid en gematigdheid” oordra. Sy haal sir Henry Campbell-Bannerman, die leier van die Britse Liberale Party, aan wat die kampe as “barbaars” bestempel (Hobhouse 1923:xvi–xvii). Hobhouse sit saam met die Boere-inwoners op warm kakiekomberse in die bedompige tente en probeer “Dutch” (Hollands) leer. Sy kan hulle verhale van lyding uit hulle eie mond verneem en probeer om hulle lot deur middel van die Distress Fund te versag. Vir sommige is sy ’n verpleegster, vir ander ’n raadgewer by die naamgewing van ’n kind en vir nog ander die Goeie Samaritaan (Lee 1985:190).

Onderweg huis toe sien sy op 1 Mei 1901 op die Springfonteinstasie ’n aantal Boerevroue en -kinders wat in ’n kamp geplaas moet word. Onder ’n ruwe, ontoereikende skuiling sit ’n vrou met ’n sterwende kind op haar skoot. Emily laat ’n bietjie brandewyn by die kampbevelvoerder haal, maar dit is te laat.

The mother neither moved nor wept […] Dry-eyed but deathly white she sat there motionless looking […] far far away into depths of grief beyond all tears. A friend stood behind her who called upon Heaven to witness this tragedy … (Aangehaal in Van Reenen 1984:123)

Hierdie verhaal van Hobhouse word vir die beeldhouer Anton van Wouw die inspirasie vir sy beeldegroep aan die voet van die naald van die Vrouemonument: die ma wat die niet instaar met die onuitgesproke woorde op haar lippe dat haar kind op haar skoot sterwe, maar dat haar volk nie sal sterf nie, en die jong vrou wat agter haar staan en opkyk na waar die son opkom vir die aanbreek van ’n nuwe dag (Van Schoor 1993:4; Grobler 2004:115).

’n Tweede besoek van Hobhouse uit Engeland aan die konsentrasiekampe word verhinder. Op 27 Oktober 1901 vaar sy met ’n skip die Kaapstadse hawe binne kort nadat die Britte krygswet ingestel het. Ingevolge hierdie wetgewing word sy gearresteer en verbied om in Suid-Afrika aan wal te gaan. Sy keer onverrigtersake huis toe. Haar derde besoek aan Suid-Afrika vind plaas in 1903, byna ’n jaar na afloop van die ABO. Tydens hierdie besoek konsentreer sy op die benarde maatskaplike posisie van die Boere in die eertydse Boererepublieke. In Julie woon sy ’n vergadering van Afrikaners op Heidelberg (in die ou Transvaal) by wat haar visie op Suid-Afrika verdiep. Sy bemoei haar met die vertraging van die betaling van die ontoereikende drie miljoen pond wat die Britse regering vir die ekonomiese herstel van die republieke beskikbaar stel en gee hulp uit die Distress Fund vir die stig van spin- en weefskole vir Boeremeisies. Later bring sy verdere besoeke aan die land (De Kock 1972:310–1).

Emily Hobhouse se plek in Afrikanerharte was gevestig.

 

4. “Forgive for you can afford it”

Emily Hobhouse was egter ook oortuig van die noodsaak van vergifnis vir verwerplike optrede. By die onthulling van die Vrouemonument in 1913 vra sy vir ’n Christelike liefdesgesindheid by Afrikaners waardeur hulle die Britse wandade vergewe; ’n gesindheid wat meer is as bloot ’n formele reaksie op ’n erkenning van skuld. In haar voorgelese toespraak staan dit so geskryf:

Alongside the honour we pay to the Sainted Dead, forgiveness must find a place […] love is more beautiful than hate […]

As your tribute to the dead, bury unforgiveness and bitterness at the foot of this monument forever […] forgive for you can afford it, the rich who were greedy for more riches, the statesmen who could not guide affairs, the bad generalship that warred on weaklings and babies – forgive – because so only you can rise to full nobility of character and a broad and national life.

For what really matters is character […]. (Aanhaling uit Van Schoor 1993:31)10

Vir Hobhouse is die onthulling van die Vrouemonument – soos ’n begrafnis11 – ’n simboliese afskeid of groet van hierdie gebeure in die ABO, en sy vra: “[B]ury unforgiveness and bitterness at the foot of this monument forever.” Sy doen hierdie oproep omdat dit is wat Christus vra. Christus, wat ons sondaars vergewe, doen dit uit liefde, al is sy kant van die saak skoon en is Hy aan niks skuldig nie. Voortslepende haat strem verhoudinge én verwring die persoonlikhede van die haters. Hobhouse glo dat Christus se opdrag dat ’n mens jou vyande moet vergewe, nie net ter wille van die vyande gegee is nie. Eerbare karakters vorm ’n groot nasie (Van Schoor 1993:31; Brits 2016:210).

Hobhouse se rede getuig van insig in die gang van mens en gemeenskap. Sy begin deur na die geestelike ingesteldheid van Boerevroue en -kinders in die Britse konsentrasiekampe te verwys. Sy kon hulle houding eerstehands waarneem omdat sy dit met haar eie oë gesien en met haar eie ore gehoor het.

Hierdie mense is uit hulle eenvoudige gesinslewens geruk, in nood en siekte van feitlik alles gestroop en voor die oë van vreemdes van hulle eie ontneem. Ten spyte hiervan “they possessed their souls” – hulle het hulself en hul lewenswaardes nie verloor nie. Met die eerste oogopslag vra die prentjie vir medelye en simpatie, maar dit is nie dominant nie. Groter medelye was elders nodig. Christus het simpatie gehad vir die armes en lydendes, maar nog meer simpatie vir die geestelik-arm rykes wat slawe van hulle besittings was en soos konings geleef het. “To Him riches and pleasures seemed greater tragedies than poverty and sorrow.” Dit is nie die gedwonge bewoners van die konsentrasiekampe wat jammer gekry moet word nie, maar die rykes en magtiges van Brittanje: Geldmagnate wat oorlog gesoek het, onbevoegde staatsmanne wat op oorlog besluit het, en fouterende politici wat nie opgewasse was nie vir die “terrible conditions they themselves had brought about – these people needed and still need our deeper pity […] what really matters is character” (aangehaal in Van Schoor 1993:31; sien ook Brits 2016:212).

Hobhouse vra: Wat het tot die Vrouemonument gelei?

Dit was nie medelye nie, maar verering – verering en agting vir die Afrikanervrou en -kind wat sigbaar word in die onthulling van hierdie – vir hulle – kosbare monument. Patriotisme in Suid-Afrika lê immers in die eenheid van hulle “who live in her and love her as opposed to those who live on her, but out of her. The Patriots and Parasites …” (aangehaal in Van Schoor 1993:31). Staatslui vergeet dat materiële voorspoed as ’n doel op sigself te dikwels lei tot die agteruitgang van die nasionale karakter en geestelike gehalte van ’n nasie. Die belangrikste mense in die gemeenskap, of die eintlike volk, is hulle wat eenvoudig lewe – soos die bykans 20 000 Afrikaners wat hierdie onthulling bywoon of die nederige leefwyse van die sobere Boerevroue en -kinders in die kampe.

The dead we now honour met that test and did not shrink. They died for freedom, they clung to it with unfaltering trust that God would make it the heritage of their children. The years have brought changes they little dreamed, but South Africa [as die Unie van Suid-Afrika na 1910] is one and it is free […] Even children of quite tender years shared the spirit of the struggle, and sick, hungry, naked or dying prayed ever for “no surrender”. (Aangehaal in Van Schoor 1993:32)

Die Vrouemonument is nie opgerig om mense aan swaarkry en smart te herinner en dié herinnering lewend te hou nie. Dit gaan hier om inspirasie wat van vroue- en kinderhelde uitgaan. Die klem val nie soseer op sigbare gedenktekens nie, maar op ’n grondliggende oortuiging van mense; ’n geestelike krag en vryheid wat aan die nageslag oorgedra en deur hulle sigbaar ontwikkel moet word. Vryheid behels egter nie net die erkende onafhanklikheid van state nie, maar ook die gelyke regte van mense, ongeag ras, kleur of geslag. Anders raak ’n gemeenskap verdeel en bly dit nie staande nie. Wat Hobhouse betref, gee die inspirasie van die Boerevroue en -kinders in die konsentrasiekampe gestalte aan die slagspreuk van die Franse Revolusie, naamlik “vryheid, gelykheid en broederskap” – vir haar ’n norm vir stemreg aan almal in Suid-Afrika. Op hierdie stadium word stemreg aan die totale bevolking ongeag ras, kleur of geslag egter afgewys deur die Afrikaner met sy Calvinistiese dryfkrag en strewe na stabiele selfregering. Gelykheid en gelyke regte word volgens hulle verbind aan ’n gelyke geestelike vermoë van die burgery om hierdie regte te eerbiedig en gestabiliseerd aan die nageslag oor te dra. Die hele aangeleentheid was destyds in die demokratiese Weste meer haalbaar as in ’n minder ontplooide Afrika. In state binne die Britse invloedsfeer, insluitende die ZAR en OVS, is vroue uit die wit gemeenskap toendertyd ook as onbevoeg beskou om te kan stem (Visagie 2012:144; Grobler 2012:166; Scher 2012:257). Met “vryheid, gelykheid en broederskap” in haar rede by die onthulling van die Vrouemonument as ’n “World monument”, wil Hobhouse dat “the justice and liberties you love so well, extend to all within your borders” (uit Van Schoor 1993:33). Hierdie versugting van Hobhouse sou staatkundig egter eers in 1994, na ’n lang tydperk van ’n uitsiglose wetlike apartheid in Suid-Afrika, bewaarheid word. ’n Demokratiese Suid-Afrika wat ’n kwarteeu na die instelling daarvan in 1994 op sy beurt met groeipyne worstel.

Hobhouse wil nie dat vroue geestelik leeg en onaangeraak van die monument weggaan nie. Hoewel baie van hulle wat hier vereer word, ’n lewe van harde werk en armoede moes lei, het hulle erfenis ’n morele krag in Suid-Afrika geword. Hulle verryk die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Soos diamante en goud skitter op “julle” mynvelde, so kom hulle stories soos skitterende juwele uit die donker annale van “julle” verlede.

Hierdie vroue het vir die vroue wat ná hulle kom, ’n ereplek in die gemeenskap en die reg op ’n stem in hulle raadsale verwerf (Van Schoor 1993:33).

Die Nasionale Vrouemonument eer die menswaardigheid van die vroue van Suid-Afrika, maar ook van die wêreld. Hierdie vroue het in hulle sprekende eenvoud ook met die vroue van die wêreld gepraat en die waarde van vrouwees universeel aangespreek.

“We claim it as a WORLD-MONUMENT …” (Sien Van Schoor 1993:34; Brits 2016:212).

Hobhouse se oproep aan die Afrikaner om die Britte hulle oorlogswandade te vergewe, is vir haar die konsekwensie van ’n oorlog wat die Boere in die Christelike geloof aangepak het. Mense wat ’n oorlog in vertroue op God voer én – soos dit op die Monument staan – bely dat Gods wil geskied, moet ook bereid wees om soos Christus te vergewe. Haar oproep is ’n praktiese gevolg van oudpresident Steyn se oortuiging dat die Vrouemonument opgerig is “om liefde te bevorder”. Hobhouse wil dat die Boere uit liefde vergewe en Steyn wil liefde bevorder (vgl. toesprake in Van Schoor 1993:29, 31). En tog is die reaksie van Afrikaners op Hobhouse se oproep ’n oorwegende stilswye.

In sy gepubliseerde standpunte ignoreer N.J. van der Merwe as skoonseun van M.T. Steyn haar oproep of stel hy dit sonder kommentaar (Van der Merwe 1921:170–8; Van der Merwe s.j.:14–17). Anders as Hobhouse gee hy nie ’n noodsaaklike plek daaraan nie. By die halfeeufees van die Vrouemonument in 1963 laat die Afrikaanse koerante hierdie deel van Hobhouse se toespraak weg én vermeld hulle niks van die sterftes in swart konsentrasiekampe nie. Statistiek oor swart sterftes in konsentrasiekampe word eers in die 1970’s openbare kennis (Scholtz 2013:47). Hobhouse se standpunt voor die Kaapse Sinode van die NG Kerk in 1903 (toespraak in Van Reenen 1984:318) dat die vergifnis van die Boere op ’n apologie van die drie Britse hoofaanstigters van die ABO moet volg, word ook nie in 1963 uitgelig nie. Dit wil voorkom asof sake soos Afrikaners se vergifnis vir Britse wandade en swart sterftes in konsentrasiekampe in die hoogbloei van die apartheidsbewind nie aanvaarbare agendapunte was nie. Asof aandag aan hierdie sake remmend sou inwerk op die groei van (die wit gemeenskap se) Afrikanernasionalisme in die 20ste eeu.12

Hobhouse vul haar oproep in 1913 dat die Afrikaners die Britte hulle oorlogswandade moet vergewe aan deur die opmerking dat dit hier nie alleen om die saak van die Britse vyand gaan nie. Dit gaan ook om die Boere, omdat liefde mooier is as haat: “To harbour hate is fatal to your own selfdevelopment ... (it) eats into the soul of a nation as of an individual” (Van Schoor 1993:31). Daarmee gee Hobhouse blyke van ’n houding wat sy moontlik in die meer as ’n dekade na die ABO onder Bittereinder-Afrikaners waarneem: haat vir alles wat Engels is. Dit gaan hier om ’n diepgewortelde wrewel wat Afrikaners met moedersmelk inkry en ’n bedreiging vir die idee van die ABO as ’n uitsluitlike, gekaapte bron van inspirasie vir Afrikaners.

Scholtz wys daarop dat Hobhouse se opmerkings oor gelyke stemreg vir almal in Suid-Afrika “hopeloos” te vroeg was. Dit was nie net te vroeg vir 1913 nie, maar ook vir 1963 by die halfeeufees van die Vrouemonument in die hoogbloei van die apartheidsbewind van die Nasionale Party in Suid-Afrika. In 1963 is hierdie deel van haar toespraak weggelaat wanneer dit in Afrikaanse koerante gepubliseer is. Wat ook al die rede vir hierdie weglating, oor hierdie kwessies het Hobhouse en Afrikaners verskil. Moontlik wou hulle wat vir die weglatings verantwoordelik was, Hobhouse se beeld by die “gemiddelde” lojale Afrikaner beskerm. Hulle geestelike band met haar moes om sake of oortuigings draai wat hierdie band nie sou laat ontspoor nie. Moontlik was hierdie kant van Hobhouse vir hulle in hulle gedrewe Afrikanernasionalisme so ongemaklik dat hulle haar hierop ideologies aggressief gemuilband het.

 

5. Hobhouse se effek op Afrikaners

Hobhouse se boodskap van liefde in plaas van voortslepende haat is voorafgegaan deur die rede van oudpresident Steyn soos voorgelees by die onthulling van die Vrouemonument op 16 Desember 1913.13 Steyn word as die “vader” van die monument beskou, asook as die dryfkrag agter die sinsnedes op die monument. Die sleutelwoorde op die Vrouemonument, naamlik “Uw wil geschiede”, word volgens navorsing aan Steyn toegeskryf; sleutelwoorde wat by die onthulling reeds deeglik in die pekel van die gedagtes van Steyn en die kommissie van die monument moes gelê het; woorde wat ’n betekenis dra waarbinne die Hobhouse-oproep om Afrikaner-vergifnis vir Britse vergrype prinsipieel ’n suiwer uitvloeisel van die boodskap van die Vrouemonument is.

Volgens Steyn is die Nasionale Vrouemonument nie opgerig om iemand te pynig of om as ’n ewige verwyt te dien nie, maar “hier geplaatst” uit suiwer piëteit – uit eerbiedige hulde aan die duisende vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe en “elders” omgekom het. Die monument is opgerig uit die rykdom van die rykes én die armoede van die armes: ’n volk se hulde aan die nagedagtenis en erfenis van sy “dierbaren ... onze heldinnen en lieve kinderen”.14 Die Vrouemonument, wat die wil van God vooropstel, wil nie haat aanwakker nie, maar liefde bevorder (Van Schoor 1993:30–4).15

Steyn en Hobhouse, wat sleutelfigure by die oprigting en boodskap van die Vrouemonument was, kom in hulle voorgelese toesprake op die punt van liefde as die leidende beginsel vir menseverhoudinge in Gods wil by mekaar uit. Dat die Here die Afrikaner na die ellende van die ABO by die onthulling van die monument vra om te vergewe soos die Here keer op keer vergewe (sewentig maal sewe), is Bybels. Gelowige Afrikaners wat konsekwent is in hulle geloof, kan dit nie weerspreek nie, al sou hulle ’n skuldbelydenis verwag van diegene wat vergewe moet word. Hobhouse se oproep om vergifnis omdat Christus dit vra, is ’n uitvloeisel van die sentrale stelling op die monument – woorde wat Steyn uit die Onse Vader-gebed geneem het – “Uw wil geschiede”. Anders gestel, julle moet die Engelse hulle wandade vergewe sodat God se wil geskied, omdat dit sy wil is.

In dieselfde trant beëindig M.T. Steyn sy toespraak by die onthulling van die monument in 1913 met die volgende belydenis oor die voorsienigheid van God – ’n paragraaf wat hy ook op die monument rig:

Laten wij hier bij dit Monument het Tegenwoordige, met al zijn strijd en bitterheid, vergeten en ons terugplaatsen in het Verledene. En als wij de zorg en kommer, het leed en lijden van dat verledene herinneren, mogen wij dan genade krijgen om, zonder enig verwijt, wrevel of haat in het hart – daar wij de diepe wijsheid van de Almachtige niet kunnen peilen –, onze hoofden nederig te buigen en ootmoediglik te zeggen: “Vader! Uw wil geschiede.” (Aangehaal in Van der Merwe 1921:173)

Dit is opmerklik dat daar uit Afrikanergeledere sedertdien nie kritiese reaksie op hierdie woorde van Steyn en Hobhouse gekom het nie. In literatuur oor die Vrouemonument kom daar verwysings na aspekte daarvan voor, maar nie ’n diepgaande ontleding van die woorde op die monument of die verduidelikende toesprake by die onthulling daarvan nie. Dit wil voorkom asof daar oor die standpunte en aandeel van bekendes soos Steyn, Hobhouse en Kestell tradisioneel nie gedebatteer word nie. Asof die standpunte van hierdie bekendes wat tot debat kan lei, uit respek vir hulle eenvoudig gelaat word.

In haar biografie oor Emily Hobhouse wys Brits op Hobhouse se verwysing na gelyke regte vir almal in Suid-Afrika, ongeag ras, kleur of geslag, terwyl Hobhouse se kernopmerking – ’n dekade na die ABO in 1913 – van Afrikanervergifnis onderbeklemtoon word. Hobhouse se relevante klem op vergifnis en ’n nuwe toekoms waarin haat en bitterheid begrawe word, haar groot saak na die stryd tussen Boer en Brit, word vermeld, maar nie in ’n Bybels-historiese perspektief geplaas nie (Brits 2016:208 e.v.).

Op sy beurt sonder Fry vanuit Londen Hobhouse se oproep om vergifnis uit. Die vergifnisparagrawe in haar rede soos weergegee “show the tenor of the message she had wished to deliver at so much cost to herself …”, aldus Fry. Fry begin Hobhouse se oproep om vergifnis deur die Boere met die sleutelsin uit die kern van laasgenoemde se rede: “Alongside of the honour we pay to the Sainted Dead …” (Fry 1929:262–5).

In sy weergawe van die Hobhouse-toespraak by die onthulling van die monument begin Fischer vanuit Londen ook by hierdie oproep om vergifnis deur Emily. “Alongside of the honour we pay to the Sainted Dead …”. Hy beperk sy verwysing na haar rede tot twee paragrawe oor vergifnis en oordeel dat hy daarmee reg laat geskied aan die oogmerk van haar hele betoog (Fischer 1971:231).

In sy werk oor die Vrouemonument 80 jaar later vat M.C.E. van Schoor die kwessie raak: Emily Hobhouse is met die onthulling van die Vrouemonument in 1913 – hoewel Van Schoor die twee nie koppel nie – steeds die “engel van die liefde”; ’n engel wat volhard teen ongefundeerde weerstand in. En ter ondersteuning van die engel staan die persoon na wie vader Kestell by sy begrafnis in 1916 verwys as “De kroon onzes hoofds …”, M.T. Steyn (Van Schoor 1992:250).

Na Hobhouse se dood merk D.F. Malan op: “She went childless into her grave, but there are thousands who owe her their lives … Therefore she is being buried among our heroes in the bosom of the women of our nation” (Aangehaal in Brits 2016:196).

 

6. Julle is in staat om te vergewe

Die waarderende oordeel van Hobhouse oor die Afrikanervrou harmonieer met haar stelling dat die Vrouemonument ’n gedenkteken is van die feit dat die Afrikanervrou ’n morele krag in Suid-Afrika geword het (Van Schoor 1993:33) – ’n vrou wat ná die lyding in die konsentrasiekampe steeds kon bely: “Uw wil geschiede”; wat oorgee nooit oorweeg het nie; en van wie oudpresident Steyn opgemerk het dat hulle met ’n triomferende martelaarskap uit die kampe kom; ’n triomferende martelaarskap wat deur die monument “aanskoulik” voorgestel word (Van der Merwe s.j.:21; Van Schoor 2009:392).16 Dieselfde oordeel harmonieer met Hobhouse se oortuiging dat ’n Bybels-morele fondament en geestelike dryfkrag vir nasieskap veel sterker is as die heb- en magsug van individuele maghebbers; dat die karakter of geestelike ingesteldheid van die individu ’n belangrike faktor is om ’n nasie van hoë gehalte te vorm. M.T. Steyn se strewe dat die Afrikaner moreel sterker uit die ABO moes kom, het in hierdie vroue waar geword.17 Emily Hobhouse kon inderdaad pleit vir Afrikaner-vergifnis én die vergifnis van die fisiek swakkeres maar geestelike wenners met hulle geestelik-beskaafde waardes tydens die ABO, “for you can afford it”. Nie ’n Britse verskoning nie, maar ’n Bybelse vergifnis vanuit hulself, sou die Afrikaners laat opstaan na die verwoesting en lyding van die ABO. Vergifnis sou dien as die Bybelse afronding van ’n regverdige oorlog wat in die naam van die Here van stapel gestuur is en wat meegebring het dat hulle hulself daarna in die oë kon kyk; vergifnis as deel van die gees van die Boerebittereinder in die ABO.

’n Treffende gevolg van hierdie triomferende martelaarskap was dat die Nasionale Vrouemonument besoekers kon herinner aan die lyding van die duisende vroue en kinders en dat die onthulling as ’n begrafnis of waardige afskeid vir hulle kon dien (Van Schoor 2009:391).

In ’n wêreld waarin imperialisme en materialisme Christelik-etiese waardes, die menswaardigheid van die vrou en eenvoud van die Christelike geloof verdring, is die Vrouemonument ’n uitstaande bastion en “World-monument” vir waardige vrouwees. Die rol van die Afrikanervrou in die ABO het ’n boodskap vir die vroue van hierdie wêreld. Deur die Vrouemonument ’n WORLD-MONUMENT (so, in hoofletters) te noem, bevestig Emily Hobhouse haar bewussyn en persoonlike statuur as vrou.

Volgens Hobhouse het die gewone man en vrou buite die politiek die indruk gekry dat die Britse politieke en militêre owerhede in die ABO vir barbaarsheid ten koste van beskawing gekies het. Volgens haar is alle oorloë barbaars omdat dit tot lewensverlies en verwoesting lei, hoewel die graad van barbaarsheid mag verskil. Die Haagse Konvensie van 1899, wat Groot-Brittanje – ironies genoeg – ook onderskryf het, het oorlog en beskawing gekoppel. Volgens die Konvensie is die doel van oorlogvoering alleen om die vyand “buite geveg te stel” – niks meer nie. Enige daad wat hierdie grens oorskry, is “onnodige wreedheid” (konvensie afgedruk in Hobhouse 1923:xiii-xiv; my vertaling).

Met die aanhaal van relevante Haagse artikels in die inleiding van haar Die smarte van die oorlog en wie dit gely het breek Hobhouse ’n lansie vir beskaafde oorlogvoering teenoor die regerende Britse imperialiste van 1899–1902 wat nie daarby gehou het nie. Die smarte van die ABO is volgens haar ook veroorsaak deur die Britte se verbreking van die Haagse Konvensie van 1899. Daarom vermeld sy relevante uittreksels hiervan in haar boek. Sy sluit haar inleiding in Die smarte af met ’n eerbetoon aan M.T. Steyn as die inisieerder en vader van ’n eersteling: die Vrouemonument as ’n monument vir nievegtendes in ’n oorlog (Hobhouse 1923:xxv). Daarby lê Hobhouse – teen ander bewerings in – klem op die eenvoudige beskaafdheid en sindelikheid van die Boerevroue in die kampe onder die moeilikste omstandighede (Hobhouse 1923:174–7, 381–3).

Met sy voorwoord in die program van 16 Desember 1913 vat Steyn die omstandighede en oogmerk van die Monument soos volg saam:

Daar is verneem dat duisende uit alle oorde in Suid-Afrika teenwoordig sal wees […] ons dierbares is dit waardig […] Hulle het gesterf, maar sal leef in ons harte en inspirerend werk lank nadat die oorlog met al sy ellende vergete is. Ons harte sal in die dae vol weemoed en droefheid wees. Ons staan immers as ’t ware by die graf van duisende vroue en kinders … (Programma 1913:3; ook volledig aangehaal in Van Schoor 2009:391)

Reeds voor die Kaapse Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika in 1903, waarheen Hobhouse genooi word, verwys sy na die ABO en vergifnis. Op hierdie stadium is sy van mening dat vergifnis deur die Afrikaners voorafgegaan moet word deur ’n “public apology” deur die drie Britse hoofaanhitsers van die ABO, “the three men whose positions made them responsible”. Hulle was die imperialis lord Milner, wie se onheilspolitiek “has brought grief and ruin to your land”; die minister van oorlog, Brodrick, wat nie die moed gehad het om Hobhouse in ’n hof te opponeer nie, en wat volgens Hobhouse op daardie stadium die mees onbevoegde lid van ’n onbevoegde Britse regering was; en lord Kitchener, wat in plaas van sy vyande, eerder die vroue en kinders die stryd aangesê het en wat “even arming thousands of savages, turned them too against these helpless people …” (toespraak afgedruk in Van Reenen 1984:318). Op twee punte verskil Emily hier van haar rede tien jaar later by die onthulling van die Vrouemonument. Voordat die Afrikaner die Britte vir hulle konsentrasiekampe sal vergewe, moet die drie hoofaanhitsers onder die Britte verskoning vra vir hulle aanblaas van die ABO. Dan bly die militêre aksie van duisende gekleurde “savages” saam met die Britte teen die Boere in die ABO ’n swaar pil om te sluk, ’n pil waartoe die Britse militêre arm sy deel bygedra het. Die tien jaar na 1903 bring skynbaar ’n versagting by Emily teweeg ten opsigte van die skuldenaars vir die ellende en verwoesting van die ABO – ook die ellende en verwoesting van verhoudinge tussen mense. In 1913 gaan dit om Afrikaners wat vergewe, nie omdat die Britte hulle skuld bely nie, maar omdat God dit vra. Oor stemreg aan almal verskil Emily egter van die Boere met haar siening van “alle mense is gelyk” en “vryheid, gelykheid en broederskap”: ongeag die tipe samelewing waaruit hulle kom én ten spyte van die “savages” waarvoor sy sommige aansien.

 

7. Slot

“Forgive for you can afford it” is ’n uitsonderlike formulering van ’n gedagte wat nie by alle mense leef nie. Die vergifnis wat God vra, is selfs onder toegewyde Christen-gelowiges nie vanselfsprekend nie.

Emily Hobhouse se oproep dat die Boere die Britte moet vergewe vir wandade in die ABO (1899–1902) soos dit voorkom in haar geleeste toespraak op 16 Desember 1913 voor bykans 20 000 mense by die onthulling van die Vrouemonument, sou nie sonder meer in vrugbare aarde val nie. Daarvoor was die wonde en emosies by Afrikaners ’n dekade na die afloop van die ABO nog te vars en te sensitief, nog te anti-Engels, al was Hobhouse deur haar hulp aan Boerevrou en -kind in die Britse konsentrasiekampe bekend, en al is sy uit Britse wrewel “that English woman” en van Afrikaanse kant die engel van die liefde genoem. Die feit dat sy, getrou aan haar aard, met hierdie oproep tot Bittereinder-Afrikaners (M.T. Steyn en sy mense) in 1913 moontlik teen ’n breë gevoel onder haar toehoorders ingegaan het, is sonder kritiek in stilte ontvang en so gelaat.

Wat in haar guns getel het, was die ondersteunende geleeste boodskap van die Oudpresident, die vader en gerespekteerde inisieerder van die Nasionale Vrouemonument.18

Die waarneming dat Steyn en Hobhouse ten nouste saamgewerk het ten opsigte van die monument, dat sy ’n weldoener van die Boere en ’n simpatisant van die Boeresaak was, die unieke plek wat sy onder Afrikaners van die voormalige Boererepublieke ingeneem het deur haar hulp in die nood van hulle vroue en kinders in die Britse konsentrasiekampe, het meegebring dat die kissie met haar as in 1926 aan die voet van die naald ingemessel is. Emily Hobhouse se plek onder Afrikaners was so gevestig dat sy saam met Afrikanerleiers by die Vrouemonument begrawe is – ’n groot eer wat Afrikaners aan haar as ’n buitestander wou bewys.

Hobhouse het volgens haar ’n sterk motivering vir die vergifnis van die Boere vir Britse oorlogs- en oorlogsverwante dade, gehad. Die opdrag kom immers van Christus self. Daarby was Afrikanervroue en hulle mense geestelik sterk genoeg om te vergewe. Deur haar belewenis van die deursnee-Boerevrou wou Hobhouse sê: Julle beskik oor innerlike geestelike krag wat meebring dat julle as die oorlewendes uit die Britse kampe met ’n triomferende martelaarskap kom en ’n morele krag in julle samelewing geword het. Julle volharding in lyding het tot ’n monument gelei wat die menswaardigheid en onmisbaarheid van alle vroue in die wêreld beklemtoon; ’n monument wat hierdie universele element bevat.

Vir Emily Hobhouse moes die mense wat ’n regverdige oorlog in gebed aangepak het, die sirkel voltooi deur die wandade van die vyand in die oorlog te vergewe: “… forgive for you can afford it.”

 

Bibliografie

Botha, W.J. 2008. Van der Merwe, Nicolaas Johannes (1888–1940). In Gaum (red.) 2008.

Brits, E. 2016. Emily Hobhouse – beloved traitor. Kaapstad: Tafelberg.

De Kock, W.J. en D.W. Kruger (reds.) 1972. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek II. Kaapstad: Tafelberg.

Fischer, J. 1971. That Miss Hobhouse. Londen: Martin Secker & Warburg.

Fry, A.R. 1929. Emily Hobhouse: A memoir. Londen: Jonathan Cape.

Gaum, F. (red.). 2008. Christelike Kernensiklopedie. Wellington: Lux Verbi.

Grobler, J.E.H. 2004. The war reporter. The Anglo-Boer War through the eyes of the burghers. Johannesburg: Jonathan Ball.

—. 2012. Staatsvorming en stryd (1953–1983). In Pretorius (red.) 2012.

Hobhouse, E. 1902. The brunt of the war and where it fell. Londen: Methuen and Kiel.

—. 1923. Die smarte van die oorlog en wie dit gely het. (Afrikaanse vertaling van Hobhouse 1902 deur N.J. van der Merwe.) Kaapstad: Nasionale Pers.

Hofmeyr, G.S. 2008. Kestell, John Daniel (Vader) 1854–1941). In Gaum (red.) 2008.

Joubert, D.H. 1993. Trompsburg 1892–1992. Bloemfontein: NG Sendingpers.

Kestell, J.D. en D.E. van Velden. 1982. Die vredesonderhandelinge. Kaapstad: Human & Rousseau.

Lee, E. 1985. To the bitter end. Londen: Butler & Tanner.

McLeod, A.J. 2001. Emily Hobhouse: platvoet op die aarde. In Pretorius (red.) 2001.

Pretorius, F. 2001. Die Anglo-Boereoorlog: ’n oorsig. In Pretorius (red.) 2001.

—. 2012. Almal se oorlog: die Anglo-Boereoorlog (1899–1902). In Pretorius (red.) 2012.

Pretorius, F. (red.). 2001. Verskroeide aarde. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg.

Programma en Algemene Regelingen. 1913.

Raath, A.W.G. 2012. Onthou. Brandfort: Kraal.

Republiek van de Oranje-Vrijstaat. 1899. Volksraadsnotule, 21 September 1899.

Reynolds, C. 2013. Konsentrasiekampsterftes gedurende die Anglo-Boereoorlog 1899–1902. Brandfort: FAK.

Scher, D.M. 2012. Naoorlogse rasseverhoudinge, 1902–1948. In Pretorius (red.) 2012.

Schoeman, K. 1983. In liefde en trou. Kaapstad: Human & Rousseau.

Scholtz, L. 2008. De Wet, Christiaan Rudolph (1854–1922). In Gaum (red.) 2008.

—. 2013. Die vrou wat vergifnis gevra het. In Van Bart (red.) 2013.

Van Bart, M. (red.). 2013. Die Nasionale Vrouemonument. Honderdjarige herdenking. Verlede – hede – toekoms. Pretoria: FAK.

Van der Merwe, N.J. 1921. Marthinus Theunis Steyn II. Kaapstad: Nasionale Pers.

—. s.j. Die Nasionale Vrouemonument. Publikasieplek en -datum nie bekend nie.

Van Reenen, R. 1984. Emily Hobhouse – Boer War letters. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Schoor, M.C.E. 1992. John Daniël Kestell 1854–1941 – outobiografies geskryf. Bloemfontein: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke.

—. 1993. Die Nasionale Vrouemonument. Bloemfontein: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke.

—. 2009. Marthinus Theunis Steyn – regsman, staatsman en volksman. Pretoria: Protea.

Van Schoor, M.C.E. en J.J. van Rooyen. 1960. Republieke en republikeine. Bloemfontein: Nasionale Boekhandel.

Venter, C. 2008. Steyn, Rachel Isabella (1865–1955). In Gaum (red.) 2008.

Visagie, J. 2012. Uittog en vestiging van die Voortrekkers in die binneland. In Pretorius (red.) 2012.

 

Eindnotas

1 In haar voorgeleeste toespraak by die onthulling van die Vrouemonument in 1913 verklaar Hobhouse prontuit: “I stand here as an Englishwoman …” (Van Schoor 1993:32).

2 Wat Lee se woorde onderstreep, is die feit dat behalwe Steyn, De Wet en Hobhouse, daar net twee ander persone by die monument begrawe is: J.D. (Vader) Kestell, Vrystaatse veldprediker tot die bitter einde (1854–1941; sien Hofmeyr 2008:591) en die presidentsvrou Rachel Isabella (Tibbie) Steyn (1865–1955; sien Venter 2008:1050). Hierna is geen verdere persone hier begrawe nie (Van Schoor 1993:14).

3 Groot-Brittanje (die Anglo-deel van die naam) aan die een kant en die twee Boererepublieke aan die ander kant (die Boere) het die Anglo-Boereoorlog formeel deur ’n oorlogsverklaring op 11 Oktober begin en die vrede is deur hulle verteenwoordigers op 31 Mei 1902 gesluit. Dus is die naam Anglo-Boereoorlog volkeregtelik korrek.

4 President Steyn sou in die lig van die feit dat die ABO skaars meer as ’n dekade tevore plaasgevind het, by die onthulling daarop wys dat die monument ’n volkspoging was. “Het is opgericht niet alleen uit de rijkdom van de rijken, maar vooral uit de armoede der armen” (aangehaal in Van Schoor 1993:7).

5 Onder die eregaste en sprekers by die onthulling was juis partypolitieke teenstanders en erkende Afrikanerleiers soos generaals L. Botha, C.R. de Wet, J.H. de la Rey, J.B.M. Hertzog, oudpresidente F.W. Reitz en M.T. Steyn, en mevrou Tibbie Steyn. Voeg daarby ook die bejaarde en erkende kerkleier dr. Andrew Murray en ds. Kestell. Daar was dus leiers van die eertydse ZAR en OVS teenwoordig, asook kerkleiers (Van Schoor 1993:10).

6 In 2013 word die getal sterftes in die kampe deur nuwe navorsing op 34 051 geraam en nie 26 370 soos aangedui op die Vrouemonument nie. Sien Van Schoor (1993:20), Raath (2012:13), Reynolds (2013:122).

7 McLeod wys daarop dat die doel van die Britse beleid van verskroeide aarde was om die hulp aan die Boerekommando’s in die vorm van kos, klere, verpleging en inligting wat deur hulle vroue verskaf is, uit te skakel. Die platteland moes leeg en onbewoonbaar gemaak word en daarvoor moes die vroue, kinders en ou mans in kampe beheer word. Die Britse leër was as militêre instelling egter nie hiervoor gerat nie. Boonop het Kitchener nie rekening gehou met “that Miss Hobhouse” en haar openbare aanslag nie (McLeod 2001:199; Grobler 2004:119).

8 ’n Omrekening van hierdie skade aan kerkgeboue in vandag se terme kan slegs die skade by benadering wees. Die NG Kerk Trompsburg se boukoste van R 3 800 vir ’n kruiskerk net na die ABO in 1903, ’n kerk met 600 sitplekke en ’n oppervlakte van ongeveer 32 X 13 m2, is so ’n aanduiding (Joubert 1993:45–6).

9 Hobhouse vertel self die volgende: “Dit was gedurende die laaste dae van Desember 1899 en die eerste van Januarie 1900 dat die verbranding van plaashuise begin het. ‘Lubbeshoek’, die woning van kommandant Lubbe in die Suid-Vrystaat, was een van die eerstes wat verniel is” (Hobhouse 1923:4–5).

10 Volledige toespraak in Van Schoor (1993:30–4); Brits (2016:208–12); vgl. ook Fry (1929:262–4); Scholtz (2013:45).

11 In sy voorwoord in die program van die gebeure op 16 Desember 1913 by die monument skryf die “vader” van die monument en voorsitter van die kommissie daarvan, M.T. Steyn, dat aanwesiges hier “als het ware” by die graf van duisende vroue en kinders staan. Daarom moet hulle die plegtigheid in “stilte en eerbiediglik” soos met ’n bedevaart benader (Programma 1913:3). Hierdie stelling van die oudpresident sou daarna ten opsigte van besoekers se optrede in die binnehof van die monument gehandhaaf word: By ’n graf toon jy respek en gedra jy jou plegtig. Kyk die Reglement van die Nasionale Vrouemonument, artikel 13. Misbruikers van hierdie ruimte stel hulle aan vervolging bloot.

12 Scholtz (2013:47) praat van ’n aggressiewe Afrikanernasionalisme wat Hobhouse se bedoelings in die vergetelheid laat wegsink het.

13 ’n Oudsekretaris en lid van die oorlogspersoneel van president Steyn, Rocco de Villiers, sou die toespraak lees (Van der Merwe 1921:170).

14 Soortgelyke woorde, naamlik “heldinnen en lieve kinderen”, kom ook voor in Steyn se voorwoord tot die program van 16 Desember 1913 en ander bewaarde opmerkings van hom (Programma 1913:3; Van der Merwe s.j.:15).

15 Schoeman noem die Vrouemonument “’n aangrypende denkmaal, en vir die nageslag nog altyd die mees ontroerende monument wat Suid-Afrika besit …” (Schoeman 1983:121–2).

16 Hobhouse is daarvan oortuig dat ’n onbevooroordeelde beskouing van die Boerevroue van haar tyd sal toon dat hulle kalm, bestendig, gasvry, skerp van blik, eenvoudig en met “moedervernuf in oorvloed” lewe. Hulle het beskik oor ’n natuurlike vroulikheid en ’n huislike waardigheid; hulle dwing eerbied af en gee die indruk van onsigbare dieptes waarin krag setel (Hobhouse 1923:385). Geen wonder dat Hobhouse geoordeel het dat hulle kan vergewe “for you can afford it” nie.

17 M.T. Steyn sou hom tot die einde van die ABO daarvoor beywer dat die Boer deur die ABO nie sy selfrespek verloor en in die oë van die Britte verneder voel nie (Kestell en Van Velden 1982:42).

18 Kyk die Brit H. Kitchener se waardering vir M.T. Steyn in Van der Merwe (1921:VI), asook die Boereveldprediker J.D. Kestell se preek by die begrafnis van Steyn in 1916 in Van der Merwe (1921:354–5).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top