The story of Emily: ’n gesprek oor Emily Hobhouse se huis as besienswaardigheid in Engeland

  • 0

Foto’s verskaf deur Elsabé Brits

Elsabé Brits praat met Naomi Meyer oor The story of Emily, ’n besienswaardigheid in Engeland waarvoor Elsabé al jare lank navorsing doen.

Elsabé, daar is nou in Engeland ’n Emily Hobhouse-besienswaardigheid, waaroor jy onlangs vir LitNet geskryf het. Jy is deels verantwoordelik vir The story of Emily in St Ive, naby Liskeard. Vertel asseblief hoe die projek tot stand gekom het?

..............
Terwyl ek nog besig was met die navorsing van Emily Hobhouse se biografie in 2015, was ek by St Ive en het toegang tot die Rectory – die huis waar sy grootgeword het – gekry. Die eienaar was onlangs oorlede.
Ek het vir haar seun gevra of hy nie belangstel om die huis te verkoop nie.
.................

Terwyl ek nog besig was met die navorsing van Emily Hobhouse se biografie in 2015, was ek by St Ive en het toegang tot die Rectory – die huis waar sy grootgeword het – gekry. Die eienaar was onlangs oorlede.

Ek het vir haar seun gevra of hy nie belangstel om die huis te verkoop nie. Hy het en het vir my die naam en nommer gegee van die eiendomsagent met wie hy wou saamwerk. Dié besonderhede het ek aan Koos Bekker oorhandig wat baie belangstel in Emily Hobhouse – en ses maande later was die transaksie afgehandel.

Ek is gevra of ek aan die projek wou werk en ek het dadelik ja gesê! Aanvanklik sou net die Rectory gerestoureer word, maar dit het bly groei tot ’n reuse projek, wat uniek en baie besonders is om aan te werk.

Die sykant van die Rectory in 2018 tydens restourasie. Foto: Elsabé Brits

Vertel asseblief meer oor die restourering van die Rectory.

Dit het reeds in 2017 begin met ’n span argitekte en verskeie kenners. Gelukkig was daar nie baie eienaars sedert dit in 1854 voltooi is nie, en mense het nie te veel aan die huis gepeuter nie.

Die huis was ’n absolute gemors: leë en halfvol drankbottels op vensterbanke en stoele op die vloer; stapels koerante tot teen die dak, oorblyfsels van wegneemetes orals – ’n varkhok.

Eers is daar net skoongemaak en lekke op die teëldak reggemaak. Toe kies ons ’n jaar in Emily se lewe – 1875, toe sy 15 was. En Brittanje was toe op die toppunt van sy relatiewe globale mag ooit. Toe besluit ons om die huis oor te doen presies soos dit in 1875 was. Al die toilette, die elektriese ligte en moderne dinge is uitgehaal (die Victoriaanse mense het nie binneshuise toilette gehad nie).

Die oorspronklike vloerplanke en teëls kon gerestoureer word, en die mooi vensters was nog daar. Die dakteëls moes uit ’n kwarrie vervang word. Selfs die katrolwiele in van die venters was nog daar, maar ons moes replikas laat maak. En die oorspronklike klokstelsel waarmee die bediendes geroep is, is herstel.

Die wonderlikste ontdekking, nadat die lae verf afgehaal is, was dat daar afgekom is op dele van die oorspronklike muurpapier. Dié is deur ’n kenner bestudeer wat houtblokke gemaak het wat soos destyds met die hand op die papier afgedruk is.

Nog ’n ontdekking was 14 argiteksketse wat William White in 1852 gemaak het. Die huis is in 1854 voltooi.

...........
Die huis het alles in wat ’n gesin van die tyd sou gehad het: gordyne, beddegoed, klere, meubels, boeke, speelgoed, skilderye van die familie teen die mure, en kos in die spense.
...............

Die huis het alles in wat ’n gesin van die tyd sou gehad het: gordyne, beddegoed, klere, meubels, boeke, speelgoed, skilderye van die familie teen die mure, en kos in die spense.

Ons het die stoof drie keer oorgebou. Eers van die bestaande 20ste-eeu stoof na 19de eeu. Toe kry ons ’n beter 19de-eeuse stoof. Toe kry ons ’n deskundige wat daarop wys dat daar net voor 1875 ’n verskuiwing in stooftegnologie was – gevolglik: luit met ons stoof en in met derde, outentieke een.

Die resultaat is die mees akkuraat gerestoureerde middel-Victoriaanse huis in Engeland.

 

Die Rectory – se agterkant in 2018 – tydens die restourasie. Foto: Elsabé Brits

Jy het ’n paar jaar gelede ’n bekroonde boek oor Emily Hobhouse geskryf. Waar het jou passie met betrekking tot Emily Hobhouse se storie spesifiek ontstaan? (En wat dit beteken, hierdie passie, hoeveel tyd dit van jou geneem het, wat jy gedoen het?)

Ek dink my passie het stadig ontwikkel met die navorsing oor Emily en die lees van haar duisende briewe en ander materiaal wat sy geskryf het. Ek het begin agterkom wie sy régtig was, en veral wie sy nié was nie.

Met die afstroop van die rooskleurige, “engelagtige beeld” wat die Afrikanernasionaliste ná die Anglo-Boereoorlog toenemend – en ongelukkig – aan haar toegedig het, het sy uit die wolk van wanopvattings oor haar na vore getree.

Sy was ’n sosialis, feminis, pasifis, belese en ingeligte denker en aktivis. Iemand wat tot in die laaste dae voor haar dood ingelig was oor die politiek en wêreldgebeure. Wel ter tale en met ’n skerp humorsin. Maar ook iemand met foute, soos ons almal.

Daar word in sommige kringe polities emosioneel na haar verwys. Tot ’n mate word ’n groot onreg Emily aangedoen deur háár nie – so goed ’n mens kan, uit die bronne – te probeer verstaan nie.

Die werk wat sy gedoen het, behoort nie bloot as “heldinwerk” gesien te word nie. Sy was geweldig gefrustreerd, en kwaad, en het in die steek gelaat gevoel. Veral ná die oorlog. Met reg. Tot aan die einde van haar lewe. Talle Boere- en Britse leiers het haar vir politieke en ander gewin gebruik, en nooit hulle vele beloftes aan haar gestand gedoen nie. Terwyl sy bly gee en gee het, ten spyte van wat sy vermag het.

Soos talle vroue was sy steeds ’n slagoffer van die genadelose patriargie. Al het sy meedoënloos paaie oopgekap. Sy was meer as die mens wat in die kampe gewerk het; sy was ook ’n vrou.

Sy noem in haar toespraak in 1913, wat sy ’n Vrouwen-Dag genoem het: “To-day, I think for the first time, a woman is chosen to make the Commemorative Speech over the National Dead – not soldiers – but women – who gave their lives for their country.”

Elsabé besig om in die War Rooms dekor vas te plak verlede jaar. Foto: Verskaf.

Emily Hobhouse het lank gelede geleef. Kan mens met vandag se bril na die geskiedenis kyk?

Dit sou ’n fout wees om enige historiese figuur of historiese gebeure met vandag se bril te beoordeel. ’n Mens leer wel uit nakennis oor die hede, maar jy kan nie iemand wat 125 jaar gelede geleef het, en gebore is in 1860 in die Victoriaanse era, sien asof sy (en die ander mense in die storie) in 2024 leef nie. Dit gebeur egter ongelukkig gereeld met geskiedenis.

Wat ’n mens kan doen, is terugloop op die spoor, en die gebeure – goed en sleg – en dit sien vir wat dit binne konteks is.

..........
Wat ’n mens kan doen, is terugloop op die spoor, en die gebeure – goed en sleg – en dit sien vir wat dit binne konteks is.
.............

’n Maklike voorbeeld is om te besef hoe moeilik dit vir haar was, eintlik ontoelaatbaar, dat ’n vrou destyds die magtigste Empire op aarde gedurende ’n oorlog internasionaal in die openbaar gekritiseer het. Dit was op soveel vlakke totaal onaanvaarbaar. Net so was dit vir haar onmoontlik om elke kamp te besoek terwyl daar krygswette was en sy nie toegelaat is om saam met ’n ander vrou te reis nie.

Dit is ook maklik om vandag, weens nakennis, mense te kritiseer vir wat hulle gedoen het, of nié gedoen het nie. Dit is ’n gevaarlike slaggat om in te trap, veral wanneer dit by oorlog kom.

Die agterkant van die huis ná die restourasie. Foto: Claire Corbett

Hoe het die ontwerp van papier tot ’n gebou gekom? (Is dit ’n bietjie soos ’n boek wat verfilm word? ’n Vrou wat opstaan uit die dode, as ’t ware, met haar sigbare nalatenskap.)

Dit was glad nie soos ’n boek wat verfilm is nie, maar ek verstaan jou vraag. Ek het heeltemal van nuuts af begin met ’n storielyn van nege verskillende vertrekke. Daarin het ek reeds talle visuele elemente en artefakte (wat ek nog nie gehad het nie) ingewerk in 2019.

Die museumontwerpers Kossmandejong van Nederland is betrek, asook die argitek Nicola du Pisanie en haar maatskappy Stonewood Design wat die War Rooms en die ander nuwe geboue ontwerp het. Met insae van kenners van Emily Estate.

Ons het begin met “kreatiewe storieborde” en ’n raamwerk: Wat wil ons, waar, vertel, en hoekom? Uiteindelik het die verhaal gegroei van nege kamers na 18. Daar is baie boeke gelees en intens navorsing gedoen: van Emily tot meubels tot hoe om klere te verouder, ou spykers te kry, en ’n sinkplaatdak die perfekte rooi kleur te maak.

Die ontwerp is ’n hele paar keer oorgedoen tussen 2020 en die begin van 2023. Skrywers praat altyd van “killing your darlings”. Wel, daar lê ’n bloedspoor soos ek my lieflinge geslag het. Máár ... dit is altyd die beste om te herskryf, oor te doen en weer oor te doen, want daardie eerste paar probeerslae is altyd vrot – al dink jy nie op daardie stadium so nie.

Wat uitsonderlik was met die projek, was die kreatiewe vryheid wat aan die span gegun is. En veral: Niemand is onderwerp aan mikrobestuur nie; ons is bloot vertrou om ons werk goed te doen. Dít het heerlike werksbevrediging meegebring wat ’n mens aanspoor. Voorstelle is ook nie bloot afgeskiet nie – ons kon toets en net die beste doen, en só het ek ongelooflik baie geleer.

.........
Wat uitsonderlik was met die projek, was die kreatiewe vryheid wat aan die span gegun is. En veral: Niemand is onderwerp aan mikrobestuur nie; ons is bloot vertrou om ons werk goed te doen. Dít het heerlike werksbevrediging meegebring wat ’n mens aanspoor. Voorstelle is ook nie bloot afgeskiet nie – ons kon toets en net die beste doen, en só het ek ongelooflik baie geleer.
...............

Die skiet van die film vir die verskroeide aarde en die virtuele realiteit (laasgenoemde is pas aangewys as ’n finalis in die XR Film & Experience of the Year category at the 8th International AIXR XR Awards) was ’n hoogtepunt in die leerskool van die lewe en op die projek. Dit was heerlik om saam met Nicola Hanekom, ’n Hertzogpryswenner, op dié projek te werk.

Nadat die storie wat mense in hulle oorfone hoor, herhaaldelik verfyn is, is daar gewerk aan die ligbokse, animasie, musiek en projeksies sodat alles saam kan gesels. Intussen het ek reeds al die artefakte versamel, asook die dekor (met behulp van Daniël Jacobs).

Dit was vyf jaar se versamel en snuffel om die regte items te kry. Die fynste besonderhede is nagevors, maar ek móét erkenning gee aan my vrou, Carol Hodes, wat my baie gehelp het met haar kunstenaarsoog en kennis van oudhede. Sy was ’n wonderlike klankbord en hulp gewees – ek sou dit nie sonder haar kon gedoen het nie.

Hoe sluit die artefakte en dekor by die verhaal aan?

Alles praat met mekaar. Die kappies wat jy in die kombuis sien, is ook in die konsentrasiekamp, en jy sien hoe vroue dit in die virtuelerealiteitfilm op die historiese foto’s dra.

Jy sien twee groot perde, historiese foto’s van hulle, ’n ou saal, ysterdorings uit die oorlog; jy hoor hoe belangrik hulle was, maar hoor ook hoe gruwelik hulle dood is in die oorlog – en hoekom.

Daar is mielies en mieliemeel, en biltong. Dit het ’n groot rol voor, tydens en ná die oorlog gespeel, maar jy kan ook pap en biltong in die restaurant eet. Blikbekers en emalje wat so ’n belangrike rol gespeel het destyds, is oral te sien, en dan kan jy regte moerkoffie uit mooi emaljebekers in die restaurant drink.

Al die dekor praat met jou; dit is nie lukraak daar neergesit nie. Van die kleinste knoop en botteltjie ... alles dra iets oor en maak ’n geheel.

Hoekom is die hele terrein nie ’n outydse museum nie, maar ook ’n historiese ervaring – soos wat jy daarna in jou rubriek verwys?

The story of Emily is eintlik nie tegnies ’n museum nie – dit is soveel meer, omdat dit uit soveel dele en sensoriese ervarings bestaan. Daar is nie rye en rye items agter glas nie. Jy belééf dit.

............
The story of Emily is eintlik nie tegnies ’n museum nie – dit is soveel meer, omdat dit uit soveel dele en sensoriese ervarings bestaan. Daar is nie rye en rye items agter glas nie. Jy belééf dit.
.............

Geen toue is in die Rectory gespan wat jou verhoed om byvoorbeeld naby Emily se bed te kom nie. Dit is ’n lewende huis, waar jy jou kan verbeeld dié Hobhouse-familie nou bly. Jy betree ’n wêreld van 1875 en beleef dit, met oorfone wat vir jou die storie vertel.

Net so in die War Rooms, waar jy die verlede ervaar, maar met moderne tegnologie.

Hoe vertel mens Emily Hobhouse se komplekse storie?

Dit was nie maklik nie, juis omdat sy ook self ’n komplekse mens was en die agtergrond tot die aanloop van die oorlog en die oorlog plek moes vind. Tyd het ook ’n rol gespeel, en die ervaring in die Rectory is beperk tot 30 minute en die War Rooms tot een uur en 40 minute.

Uiteindelik is die beste van haar storie haar wese binne die konteks van vroue en kinders belig. Met die klem op die boodskap wat sy wou uitdra en haar karakter.

Ons weet dat sekere Suid-Afrikaners opgewonde sal wees oor hierdie storie – maar hoe voel die Britte daaroor? Het jy terugvoer gekry?

.............
Die storie wat ons vertel, dra nie blaam nie. Ons bly by die feite. Ek het onlangs in ’n artikel gelees dat wat in die verlede gesê en gedoen is, nie vandag verander of uitgewis kan word nie.
Ons het hierby gebly en ook die beste van beide kante se saak gestel. Daar is twee oorwegende reaksies van die Britte: bewondering vir Emily en wat sy vermag het, asook teleurstelling dat hulle nooit bewus was van haar nie.
............

Die storie wat ons vertel, dra nie blaam nie. Ons bly by die feite. Ek het onlangs in ’n artikel gelees dat wat in die verlede gesê en gedoen is, nie vandag verander of uitgewis kan word nie.

Ons het hierby gebly en ook die beste van beide kante se saak gestel. Daar is twee oorwegende reaksies van die Britte: bewondering vir Emily en wat sy vermag het, asook teleurstelling dat hulle nooit bewus was van haar nie.

En tweedens is die oorlog, en veral die effek daarvan, nooit op skool – voorheen en nou – enigsins aan hulle geleer nie. Vandag is dit totaal vergete, en dit word ook nie in die gesprekke oor kolonialisme wat tans heers, genoem nie. Baie mense is geskok en vies oor die konsentrasiekampe en verskroeide-aarde-beleid.

Indien die oorlog wel genoem word, is dit steeds in die trant van die Empire wat ander nasies “opgehef, sogenaamde beskawing en godsdiens” na die uithoeke van die aarde gebring het.

Vir die gehalte van die ervaring en wat aangebied word, kry ons wonderlike terugvoer.

Emily het nie belanggestel in of die Britte of Boere se saak “reg” was in die oorlog nie, maar in die onmenslikheid van geweld, en wat dit aan almal doen – slagoffers én geweldenaars.

Het jy, terwyl jy besig was hiermee, nog meer van die mens Emily Hobhouse geleer?

Baie, baie meer. Ek wens ek kon nog ’n boek skryf. Emily was ’n baie komplekse mens wat geweldig hardkoppig was. Die eienskap het seker tot haar voordeel gestrek in sekere situasies, maar in ander nie.

Haar ganse versameling briewe is geskandeer, en met die lees van alles het ek soveel meer van haar te wete gekom. Sy was ’n unieke en baie besonderse vrou.

Hier is nog inligting vir lesers wat The story of Emily in Engeland wil besoek.

Lees ook:

Emily Hobhouse se storie nou ’n nuwe, moderne toeriste-attraksie in Engeland

Emily Hobhouse (1860–1926) en haar biograwe: US Woordfees 2017

Emily Hobhouse, geliefde verraaier deur Elsabé Brits: ’n lesersindruk

Elsabé Brits oor Emily Hobhouse, geliefde verraaier

Book review: Emily Hobhouse – Beloved Traitor by Elsabé Brits

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top