Emily Hobhouse, geliefde verraaier deur Elsabé Brits: ’n lesersindruk

  • 1

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het.

Emily Hobhouse, geliefde verraaier
Elsabé Brits
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 978-0-624-07574-5

Hierdie boek deur Elsabé Brits is ’n geskenk aan almal wat in geskiedenis en merkwaardige mense belangstel. Geliefde verraaier is ’n niefiksieboek wat oor Emily Hobhouse se lewe handel.

Dié boek is nie net iets vir die brein nie, maar ook iets vir die oog. Die hele ontwerp van die boek is ’n kunswerk. ’n Pragtige en roerende voorbladillustrasie van Emily wat versier is met Emily se handtekening lei daartoe dat die lesers ’n persoonlike verhouding met haar ontwikkel, asof sy ook medeskrywer is. Emily was ’n geliefde mens vir almal wat sy gehelp of ondersteun het. Haar doen en late was egter in stryd met die Britse regering se beleid. Brits maak van ’n literêre stylmiddel (oksimoron) in die boek se titel gebruik om dié ambivalensie in die lewe van die hoofkarakter te suggereer. Dit is geniaal. Dan maak ’n mens die boek oop en ’n mens betree Emily se wêreld. Die hele boek is vol foto’s van Emily, van mense wat op daardie stadium belangrik was, van historiese plekke, briewe, handgeskrewe notas, en Emily se waterverfskilderye. As agtergrond vir die geskrewe teks is in baie gevalle ’n foto, ’n brief of ’n gedeelte van ’n waterverfskildery gebruik. Dis ongelooflik mooi en ’n mens besef dadelik die groot liefde vir besonderhede. Elke bladsy is ’n ontdekkingsreis en ’n mens word hartlik genooi om deel te neem.

Die boek begin met die kort hoofstuk “Aanloop”, waarin Brits vertel hoe haar belangstelling in Emily Hobhouse ontwikkel het en hoe sy by haar storie uitgekom het. Sy het Jennifer Hobhouse Balme, Emily se broer se kleindogter, ontdek en haar toe op Vancouver-eiland gaan besoek. Dié ontmoeting het nuwe deure vir Brits geopen en sy kon aan die hand van briewe, plakboeke, dagboeke, dokumente en foto’s, nogal ’n afskrif van Emily se onvoltooide outobiografie, nuwe insigte in Emily se lewe bekom. “Dis ’n ongekende, intieme blik op die ware Emily” (10).

Emily Hobhouse is op 9 April 1860 gebore as die vyfde van ses oorlewende kinders van Reginald Hobhouse, aartsdeken van Bodmin, en sy vrou Caroline. Sy en haar susters het tuisonderrig ontvang deur ’n goewernante. Om naaldwerk te doen, te sing, klavier te speel en selfs Frans te praat was vir haar nie genoeg nie. Niemand kon haar vertel wat sy wou weet nie. Sy self druk dit só uit: “Ek is jaloers op die seuns en die spesiale leermeesters wat hulle het, mense wie se brein hulle mag tap” (17). ’n Mens leer haar as ’n weetgierige mens ken.

Toe begin sy welsynswerk in Engeland en sy gaan Amerika toe om die Cornwalliese mynwerkers by te staan. Dis fassinerend om te lees hoe sy met £200, wat sy onder die inwoners insamel, ’n biblioteek begin, ’n ontspanningssaal open, ’n kerkkoor en Sondagskool stig. Al hou die dorpsmense van Emily, is daar botsings met mense in magsposisies. “Oor opvoeding en mense se toegang tot kennis sal sy haar nie laat voorsê nie, daaroor voel sy te sterk” (32). James McGonicle, predikant van die Episkopale Kerk, begin in die kerk teen haar preek. John Carr Jackson, ’n tydgenoot, is nou ’n onverwagse ondersteuner van Emily se werk en raak betrokke by haar biblioteekkomitee. Hulle sien mekaar gereeld en Emily raak verlief op hom. Sy is baie gelukkig en belowe om met John te trou. Hoe hartseer is dit om te moet lees dat John Emily waarskynlik finansieel misbruik het.

Nadat sy weer terug is by die huis, en drie weke nadat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, word die South African Conciliation Committee in Engeland gestig en Emily word die eresekretaris van die komitee se vrouetak. Om besware teen die oorlog te propageer, gaan Emily saam met David Lloyd George na Liskeard om ’n vergadering by te woon. “Dit was die begin van die einde van baie van Emily se vriendskappe. Ná dié dag, in hierdie saal in Julie 1900, het van haar naaste vriende en familie haar verwerp” (45). Maar Emily het ’n visie. “En dit is om dáár te wees – in Suid-Afrika. Om daar ’n verskil te maak” (47). Sy beplan om ’n fonds te stig – die South Africa Women and Children Distress Fund. Nadat sy £300 vir haar fonds ingesamel het, vertrek sy op 7 Desember na die Kaap en sy begin ook “die taal” aanleer. ’n Paar dae ná Kersdag 1900 hoor sy van 4 000 vroue en kinders in ’n kamp in Johannesburg en mense vertel haar dat nóg 600 plaashuise die afgelope week afgebrand is. In Engeland het sy niks gehoor van die bestaan van sulke kampe nie. Sy skryf aan sir Alfred Milner en kry kans om met hom te praat. Milner erken dat die verskroeide-aarde-beleid ’n fout was. Later kry sy toestemming om na die Vrystaat te reis – maar sy mag nie verder noord as Bloemfontein gaan nie.

Op 24 Januarie 1901 kom sy in Bloemfontein aan met “ses ton klere en ses ton kos” (54). Sy gaan praat met die vroue. “Dit is verhale van verlies, blootstelling, hongersnood, siekte, pyn en verlange” (59). Emily raak uitgeput van die emosionele druk. Sy gee verder aandag aan konsentrasiekampe vir swart mense, wat daartoe lei dat haar briewe gesensor word en sy verbied word om groot kampe te besoek.

Emily is op 24 Mei 1901 weer terug in Engeland. Sy begin om politici te nader. Die meeste mense wil glad nie luister nie. In die geval van sir Henry Campbell-Bannerman, leier van die Liberale Party-opposisie, kry sy egter die indruk “dat hy alles moontlik sal doen om by die waarheid uit te kom” (85) ná sy uitlating: “When is a war not a war? When it is carried on by methods of barbarism in South Africa” (85).

Op 18 Junie 1901 verskyn Emily se verslag wat in die parlement versprei word en ’n skokgolf veroorsaak. Ná sy in Engeland 26 toesprake in vier weke gehou het, maak sy planne om weer Suid-Afrika toe te gaan. Sy word egter verbied om na die kampe te gaan. Dié taak word ’n Vrouekommissie opgelê.

Die leser moet hom of haar telkens afvra waar al die vrou se krag en energie vandaan kom. Wanneer sy nie besig was om geld in te samel of siekes te besoek nie, was sy óf besig om afsprake met mense te reël, óf sy het reëlings vir nuwe reise getref.

Na al dié worsteling is die leser verlig om by hoofstuk 7 uit te kom: “Emily wás reg” (103). Uiteindelik het die harde waarheid tot die Britse regering deurgedring en het hulle besef “dat die konsentrasiekampe nie is wat hulle – die politici en die offisiere – voorgee dit is nie” (104). “Uiteindelik het ongeveer 30 000 wit mense en vermoedelik 25 000 swart mense tydens die oorlog in onderskeidelik 50 en 64 tentkampe gesterf” (107).

Nadat Engeland en die Boererepublieke vrede gesluit het, reis Emily deur die land en besoek plase. Sy beplan ’n nuwe projek: spin-en-weef-skole in Suid-Afrika. Emily is bedrywig, adverteer haar projek en kry dit reg dat die regering betrokke raak deur tussen £4 000 en £5 000 aan skole te bewillig. 1905 is die eerste spin-en-weef-skool op Philippolis gestig en in 1907 is daar spin-en-weef-skole oral in die land te vinde.

As ’n “agent vir vrede” reis Emily tydens die Eerste Wêreldoorlog na België en Duitsland. Dat sy tydens die oorlogstyd in die vyand se gebied was en met ’n hooggeplaaste Duitse amptenaar gepraat het, maak dat mense dink dat sy haar land verraai het. Lord Leonard Courtney betoog dat sy inligting probeer kry het om internasionale vrede te probeer bewerkstellig. Emily het dit so gestel: “Ek het doodeenvoudig en openlik Duitsland toe gegaan, sonder om ’n wet te oortree. Ek het met ’n ‘humanitêre paspoort’ onder my eie naam en ter wille van die waarheid, vrede en menslikheid gereis ...” (262). In Leipzig, Duitsland, was 11 000 kinders deel van die voedingskema waarvoor sy ’n ongelooflike £49 000 ingesamel het. Dit het 5,5 miljoen maaltye beteken.

Siektes en haar uitputtende leefstyl maak haar broos. Haar energie is op. Sy sterf op 8 Junie 1926 in Londen. Sy word veras en haar laaste reis is die pad na Bloemfontein. Daar het sy op 26 Oktober aan die voet van die Vrouemonument haar laaste rus gevind.

Emily Hobhouse was ’n sterk vrou met ’n groot hart. Sy het plekke besoek waarin baie mense glad nie sou wou beland nie. Sy het sterk gevoel oor omgee en hulpverlening ten spyte van wette, oorlog of enige persoon in ’n magsposisie se besluit. Emily was altyd net aan mense se kant. Sy het so baie ellende gesien en sy wou mense se nood verlig. Emily het in onmenslike tye menslik gebly, wat as ’n rolmodel vir ons almal kan dien. Sy was ’n geskenk aan die mensdom.

Ek wil graag alle belangstellendes aanraai om hierdie boek te lees. Dié boek is 950 gram feite oor Emily se lewe; ’n lewe met groot opoffering en ware simpatie vir mense.

Die boek het ook in Engels verskyn, as Emily Hobhouse – Beloved Traitor.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top