Op dees aarde: Emily Hobhouse is nou by haar mense

  • 2

  • Elsabé Brits skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Die rol wat één dapper vrou tydens ’n oorlog kan speel, en die wyse waarop só ’n fluitjieblaser en humanis in een land onthou is, maar in haar eie land se bewussyn gou vergete geraak het, is duidelik nadat die The Story of Emily-museum nege maande gelede geopen het. Tog is daar vele positiewe verrassings oor hoe die Britse besoekers reageer en Emily Hobhouse stadig maar seker vir hulle uit die duisternis gelig word.

“There are no words to express my shame at the behaviour of the British. The world has so much to learn from this, but never will.”

Nadat besoekers klaar is met hulle ervaring by die Oorlogskamers by The Story of Emily in St Ive, naby Liskeard in Cornwal, kan hulle boodskappe op ou tikmasjiene tik of met potlood skryf. Dié boodskap is deur ’n Britse vrou getik, want ek het daarna met haar oor haar ervaring gepraat.

Sy was, soos die meerderheid besoekers, positief oorweldig, maar ook ontsteld omdat hulle nie op skool geleer het oor die Anglo-Boereoorlog (ABO) en nog nooit van Emily Hobhouse gehoor het nie. Daarvan was ons bewus met die oprig van die museum.

Die eerste fase van die Anglo-Boereoorlog word in dié vertrek uitgebeeld met stories, historiese foto’s en artefakte van beide kante. (Foto: Dook)

Daar is ’n boks sneesdoekies by die uitgang, en dit is nie ’n oordrewe gebaar nie. Talle mense kom in trane daar uit.

Om eerlik te wees, ek was al die jare wat ons aan The Story of Emily gewerk het, so in my agterkop effe bekommerd gewees oor presies hoe besoekers en Britse joernaliste die Oorlogskamers sou ontvang. (Oor die gerestoureerde pastorie waar Emily saam met haar ouers en sibbe gewoon het, was ek nie bekommerd nie.)

Die Oorlogskamers (War rooms) met sy 24 vertrekke is ’n ander saak, hoewel die narratief nie polities is nie. Blaam word nie geplaas nie, feite word gestel. Die Britte se stories word ook vertel, saam het hulle foto’s en artefakte.

.......
Sou daar dalk ontkenning wees? Van wat gebeur het met die verskroeide-aarde-beleid en die gevolglike Britse konsentrasiekampe?
.......

Máár, niks word verdoesel nie – dit daag mense uit om oor oorlog te dink, met die klem op die effek van konflik op vroue en kinders en die rol wat Emily gespeel het. Dit was byna ondenkbaar moeilik vir haar om in oorlogstyd op te staan teen militêre owerhede en die regering van die magtige Engeland – vroualleen.

Sou daar dalk ontkenning wees? Van wat gebeur het met die verskroeide-aarde-beleid en die gevolglike Britse konsentrasiekampe? En dat die meeste besoekers dit nie sou aanvaar nie? Die storielyn wat ons binne ’n uur en 45 minute moes vertel met animasie, historiese foto’s, artefakte, film, ligbokse en relevante dekor wat die verhaal versterk, het die toets geslaag. Indien daar hier en daar ’n vraag is, reageer ons dadelik aan die hand van primêre bronne.

Aan die einde van die besoek aan die Oorlogskamers kan besoekers boodskappe hier laat. (Foto: Elsabé Brits)

Van die boodskappe wat besoekers daagliks in die Oorlogskamers by The Story of Emily in Cornwall laat. Die boodskappe word op ou tikmasjiene getik – wat nie meer vir mense maklik is om te doen nie – of met potlood geskryf. Foto’s: Elsabé Brits

Intussen het ek al heelwat joernaliste daar begelei – maar teruggestaan sodat hulle die ervaring self kan beleef, sonder om enige iets voor die tyd aan hulle te verklap.

In aanloop tot die onlangse Internasionale Vrouedag – met die fokus op Emily Hobhouse as ’n vergete historiese figuur wat verdien om uit die verlede opgediep te word en juis in haar eie land onthou te word – is vrouejoernaliste uitgenooi vir ’n dag lange besoek.

Een van dié joernaliste met dekades se ervaring, onder meer in konfliksones, se reaksie was dat Emily een van die “mees inspirerende vroue van haar era is”. Twee weke ná haar besoek het sy steeds gesukkel om die storie en tonele te verwerk – iets waarvan sy net terloops en min geweet het, het sy vertel. Sy het basies net geweet dat daar ’n “Boer War” was, maar nie wát gebeur het nie. Maar sy het klem daarop gelê dat die storie ook inspireer en verryk. Júis.

Kitchener die held

Iewers, om welke rede ook al, het die “Boer War” vergete geraak, dalk weens die Eerste Wêreldoorlog, of juis oor wat tydens die ABO gebeur het? Wie sal weet. In Brittanje is lord Herbert Kitchener basies ’n held. Almal met wie ek gesels het, onthou dié plakkaat: "Britons: Lord Kitchener Wants You. Join Your Country’s Army! God save the King."

Oor sy optrede in Suid-Afrika met die verskroeide-aarde-beleid en die brutale slagting in Khartoem waarvoor hy verantwoordelik was, wis min van.

Die reaksie van die meeste joernaliste tot dusver was positief, met die uitsondering van een of twee wat nie die diepte en essensie van die konflik kon vasvang nie. Of dié wat haar wil vergelyk met Florence Nightingale. Maar dié twee vroue verskil hemelsbreed van mekaar. Beide verdien om op die keper beskou te word, en as individue.

Ek was verniet bekommerd oor die meerderheid mense en joernaliste se reaksies.

The Story of Emily poog om Emily meer bekend te maak in Engeland, maar ook om met ’n nuwe lens na die vroue en kinders te kyk – wat nie blote slagoffers was nie, maar mense wat besluite geneem het.

........
Die ABO is egter nie ’n konflik van isolasie nie. The Story of Emily gaan nie net oor een oorlog nie. Dit is duidelik in hoe die besoekers dit ervaar. Ook in hoe Emily tydens en na die oorlog haar waarnemings opgesom het. Dit bring gesprek na vore, en die rol van vroue toe en nou.
........

Die ABO is egter nie ’n konflik van isolasie nie. The Story of Emily gaan nie net oor een oorlog nie. Dit is duidelik in hoe die besoekers dit ervaar. Ook in hoe Emily tydens en na die oorlog haar waarnemings opgesom het. Dit bring gesprek na vore, en die rol van vroue toe en nou.

“The material destruction and bodily suffering were one thing, but the worst aspect of war was the moral miasma that grew from it and infected everything,” het sy gesê.

Oor oorlog het sy bladsye vol geskryf. “... I think one of the worst features of war ... [is] the rotting away or jeopardy of Justice, Truth and Humanity.”

Dit is tyd vir haar eie land om haar te omarm. Ook in die geskiedskrywing. Dit is waar dat sy tot ’n mate uit die Engelse geskiedenis geskryf is waar die oorlog ter sprake kom. Sy haal hoogstens ’n paar bladsye in historiese boeke, hoewel sy ’n groot impak gehad het – gegewe dat die sterfgevalle in die konsentrasiekampe veel meer was as dié aan beide kante van die konflik. Veral die rol wat vroue in oorlogsituasies gespeel het, en steeds speel, moet hersien word.

Emily is nie amptelik in haar eie land erken vir haar werk nadat haar verslag in Junie 1901 gepubliseer en dit in die parlement bespreek is nie, buiten deur liberale partye, maar dié erkenning het gou vervaag, en haar feite is ook maar net vir politieke motiewe deur die liberales teen die konserwatiewes gebruik.

........
Emily is bloot as ’n histeriese verraaier wat moeilikheid in oorlogstyd gemaak het, beskou. Tydens die oorlog kan ’n mens dit verstaan, want ’n fluitjieblaser is nooit gewild nie, maar ná die oorlog het Engeland nooit haar rol behoorlik beskou en ontleed nie.
........

Toe sy twee keer met St John Brodrick, die oorlogsminister vergader het en haar aanbevelings vir verbeterings in die konsentrasiekampe gepubliseer is, het dit direk tot die Dameskommissie van Millicent Fawcett gelei. Emily is opsetlik nie gekies om op die kommissie te dien nie, maar hulle bevindings was basies dieselfde as hare. Emily se voorloperwerk is nooit in hulle verslag erken nie. Dié kommissie het wel geglo sekere maatreëls wat teen die burgerlike bevolking geneem is, was in orde.

Emily is bloot as ’n histeriese verraaier wat moeilikheid in oorlogstyd gemaak het, beskou. Tydens die oorlog kan ’n mens dit verstaan, want ’n fluitjieblaser is nooit gewild nie, maar ná die oorlog het Engeland nooit haar rol behoorlik beskou en ontleed nie.

Die “dumpy spinster”

Om haar plek in geskiedskrywing te heroorweeg is ’n stryd indien die gerekende Thomas Pakenham in sy Boer War twee keer na haar verwys as “a dumpy, middle-aged English spinster called Emily Hobhouse”. En dan ook as “passionate in public, yet inwardly reserved and lonely”.

Sy mag dalk by tye eensaam gewees het, maar ingetoë en ’n kort pokkel was sy nié. By die lees van haar honderde briewe en beskrywings wat ander mense van haar gee – van dr Aletta Jacobs en Sylvia Pankhurst tot Jane Addams en Jan Smuts – was Emily die teenoorgestelde van ingetoë. Sy was ’n moeilike vuurvreter. Daar is ook ’n bewaarde artefak wat wys dat sy op 18 jaar 1,72 m lank was.

Pakenham erken egter ook haar “overwhelming importance”. Die idee dat die Boerevroue vuil was en dat dit nie net die oorsaak van die oorlog of logistieke nagmerrie was nie, kom onder meer van Fawcett wat gesê het die “Saxon word stinking is the only one which is appropriate”. Op plekke het dié idee bly staan.

En dan is daar ander wat meen dat die verhale wat vroue neergeskryf het oor die oorlog, nie geglo kan word nie – hulle geheue laat hulle in die steek. Maar vreemd genoeg word die generaals van beide kante se dagboeke en stories nie in twyfel getrek nie.

Die nalatenskap van die ABO in Suid-Afrika, en tot ’n mate Emily, is egter ook in Suid-Afrika problematies op ’n paar vlakke. Swart mense is betrek by die ABO in ’n stryd wat nié hulle s’n was nie en tienduisende mense is ook in konsentrasiekampe inforseer waar die sterftesyfer geraam word op tussen 15 000 en 25 000, meestal kinders.

Die aktrise Meghan Oberholzer is te sien as Susanna, ’n karakter in onder meer ’n kortfilm wat die verskroeide-aarde-beleid uitbeeld, asook in ’n virtuele-realiteit-film by The Story of Emily. (Foto: Elsabé Brits)

Ook is sowat 100 000 blyplekke van swart mense tydens die verskroeide-aarde-aksies afgebrand. Maar die nasionalistiese Afrikaners het nooit in die verlede die swart mense betrek by dié geskiedenis of dae van herinnering nie, en hulle stories en trauma is nie erken nie.

Aan die een kant is daar nou mense in Suid-Afrika wat, om welke rede ook al, “skaam” is vir hulle voorsate se geskiedenis en niks wil weet van die ABO nie; en aan die ander kant is daar ’n groep wat meen mense is doelbewus “vermoor in die kampe” en dat Brittanje vandag moet boete doen.

Dit is sekerlik meer gebalanseerd as dit. Beide sienings pleeg ’n onreg teenoor die verhale van die mense wat voor ons was, en hulle lewens.

Emily het oor die oorlog en wat dit doen, soos volg beskryf soos sy dit die dag ná haar 41ste verjaardag by Warrenton ervaar het:  

Those truckloads of women and children unsheltered and unfed – bereft of home, bearing the vivid recollection of their possessions in the flames – and that mass of the “sweepings” of a wide military “drive” – flocks and herds of frightened animals bellowing and baaing for food and drink – tangled up with wagons and vehicles of all sorts and a dense crowd of human beings – combined to give a picture of war in all its destructiveness, cruelty, stupidity and nakedness such as not even the misery of the camps (with their external appearance of order) could do.

Koeksisters in die sneeu

Wanneer besoekers die Oorlogskamers verlaat, besoek hulle die restaurant waar hulle bobotie, gepekelde vis en roosterkoek, boerewors, koeksisters en melktert, en alles wat lekker is van ons erfeniskos geniet. Daar word nie latté’s bedien nie, maar regte geroosterde boeretroos. Ten spyte van die sneeu en stormweer is daar elke dag besoekers.

Die kalkoen Jabobus spandeer die meeste van sy tyd voor die groot glasvenster by die restaurant, waar hy sy eie refleksie bewonder, in stede daarvan om by die wyfies, Susanna en Petronella, vlerk te sleep. Intussen het een van dié twee darem al eiers gelê – of daar kuikens gaan kom, is ’n vraag.

Die eerste lammers word in April verwag, en die twee ponies, Alfie en Elliot, steel harte by oud en jonk.

Verlede jaar is ’n flimspan van afrOkaans oorsee om ’n reisdokumentêr te vervaardig. Dié program – Die storie van Emily – is nog op VIA (kanaal 147) te sien op dié datums: 12 Maart om 17:30; 16 Maart om 18:00; 18 Maart om 19:30; 21 Maart om 18:30; 26 Maart om 17:00; 29 Maart om 10:00. Dit is ook op DStv Catch Up en DStv Stream beskikbaar.

Besoek die webtuiste by https://thestoryofemily.com.

En lees meer by die blog: https://thestoryofemily.com/stories-of-emily.

Volg “The story of Emily” op Instagram by @thestoryofemilycornwall.

Lees ook:

Emily Hobhouse se storie nou ’n nuwe, moderne toeriste-attraksie in Engeland

The story of Emily: ’n gesprek oor Emily Hobhouse se huis as besienswaardigheid in Engeland

Op dees aarde: Oorlogstrauma en die radikale Afrikaner-psige

Mites oor die Afrikaner en Afrikaans

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top