Op dees aarde: Oorlogstrauma en die radikale Afrikaner-psige

  • 1

Boekomslag: Jopie Fourie deur Albert Blake (Protea Boekhuis, 2024)

Die radikalisering van die Afrikaner-psige ná die Anglo-Boereoorlog (ABO), die Rebellie en die teregstelling van Jopie Fourie het tot ’n bittere vorm van nasionalisme gelei wat Suid-Afrika op ’n afdraande pad gestuur het.

Met die lees van Albert Blake se jongste boek, Jopie Fourie – ’n besinning, het dié storie wat in 1903 deur Emily Hobhouse opgeteken is, my weer bygeval. Dit was tydens haar reis ná die ABO, toe sy die naoorlogse lyding en effek van die verskroeide-aarde-beleid eerstehands ervaar het: “Another farmer says do not pity me, pity the porcupine. The Englishman turns me out of my house, I turn out the black, the black turns out the porcupine, let the pity go to the porcupine.”

Dit mag wel wees dat mense vandag nie meer “belangstel” in die ABO met die traumatiese effek daarvan op wit en swart in die land – soos die verlies van 30 000 plaashuise en 100 000 huise van swart mense – nie; die verlies van alles wat mense besit het – ook hulle kosbare vee – en die sterftes in die konsentrasiekampe.

Dalk het ons vergeet van die hongersnood daarna, die woede omdat die Britte tienduisende plaaslike swart mense by húlle kant betrek het en beloftes gemaak het wat nooit nagekom is nie, wat verhoudings ná die oorlog versuur het. Alfred Milner, wat ná die oorlog almal hier wou verengels en rassisties neergekyk het op mense. Die invoer van Chinese, deur hom, om op die goudmyne te werk. Die onregverdige (vir baie) uitbetaling, en misverstande met die miljoene ponde vir die repatriasie en skadevergoeding.

Die lys is lank.

........
Máár – dit was die vroue en kinders se lyding in beide die wit en swart konsentrasiekampe wat van die een generasie na die volgende oorgedra word. Die epigenetika reis deur die DNS van mense. Dit weet die wetenskap. Intergenerasietrauma bestaan.
........

Máár – dit was die vroue en kinders se lyding in beide die wit en swart konsentrasiekampe wat van die een generasie na die volgende oorgedra word. Die epigenetika reis deur die DNS van mense. Dit weet die wetenskap. Intergenerasietrauma bestaan.

Die trauma is geïnternaliseer. Het groot-oumagrootjies openlik daaroor gepraat? Regtig hulle ervarings neergepen of terapie ontvang? Dit deurgepraat? Nee, net ’n paar dagboeke bestaan, of stukkies is baie jare later in versamelings opgeneem. Dan is daar die stories wat Emily Hobhouse neergepen het in haar verslae, briewe en boeke. Oor die swart vroue en kinders se individuele lyding weet ons te min.

Die amptelike stilswye van regeringskant af oor die seksuele vergrype teen vroue, in ’n poging om versoening met die Britte te vergemaklik, het verder ’n sluier oor dié aspek van oorlog gegooi.

Sowat 150 000 wit mense (en minstens 140 000 swart mense) wat in die kampe was se pyn en trauma is in hulself weggebêre, en dit het dekades later eers werklik aandag begin kry. Maar Suid-Afrika in sy geheel het klaaglik daarin misluk om sáám die ABO te gedenk en dit as ’n gedeelde geskiedenis van almal te maak. Dit word steeds as ’n “white man’s war” gesien.

........
Die rimpelings kabbel steeds op die water, want dit was die gids wat dié wat destyds in beheer was, gelei het. Dit het die politiek, ekonomie en sosiale kwessies en verhoudings in die land tot vandag beïnvloed, nog meer ná die Rebellie en Fourie.
........

Dít alles het vir generasies ’n uitwerking op Suid-Afrika se toekoms gehad en is ingebed in die geskiedenis van die ganse land – of die ABO vir jou nou saak maak of nie. Die rimpelings kabbel steeds op die water, want dit was die gids wat dié wat destyds in beheer was, gelei het. Dit het die politiek, ekonomie en sosiale kwessies en verhoudings in die land tot vandag beïnvloed, nog meer ná die Rebellie en Fourie.

Die kwessie van Afrikaans was (soos steeds) hoog op die agenda. Maar dit het dieper gestrek as bloot ’n taal, buiten dat dit ’n emosionele aspek van identiteit was. Die Britse koloniale mag het homself hoër geag as enige plaaslike bevolking. Herbert Kitchener het byvoorbeeld na die Afrikaners verwys as “uncivilized Afrikaner savages with a thin white veneer”. Die Britse jingoïsme het vir jare soos ’n doring geskaaf.

Blake se boek bring die effek van die Rebellie – wat eintlik in sy wese geen militêre bedreiging was nie, maar eerder ’n politieke gevaar – in kolkhelder perspektief. Dit is die eerste behoorlike biografie oor Jopie Fourie wat ook die hedendaagse belig.

Die boek beskryf sy hele lewe, asook die kompleksiteite van die Rebellie, die verhoor, die nadraai van sy dood, die rolle van Louis Botha en Jan Smuts – wat geweldig belangrik is in die opkoms van nasionalisme. Die nekomdraai van talle mites oor Fourie en die negatiewe invloed van die sosiale media se waninligting oor geskiedenis is veral verreikend.

Om te oordeel of Fourie se ganse verhoor deur die Veldkrygshof hoegenaamd regverdig was, moet mens die boek met sy deeglike navorsing en ontleding daarvan lees.

Fourie is baie vinnig veroordeel en sonder die medewete van sy regsverteenwoordigers skuldig bevind. Van behoorlike regspraak was daar nie juis sprake nie. Dit blyk nie daar was ooit ’n skriftelike uitspraak met motivering nie. Die inligting oor die ure voor sy dood, en die briewe wat hy geskryf het, sorg vir verdere insig in sy karakter.

Voordat Fourie die binnehof binnegelei is, het hy versoek dat hy sonder ’n blinddoek geskiet word, want hy het ’n groot “Afrikanerhart, groot genoeg om al die koeëls te ontvang”. Kort voor die bevel om te vuur het hy twee reëls van Gesang 20:8 begin sing: “Als wy den doodsvallei betreen / Laat ons elke aardse vriend alleen …”

Sy regsverteenwoordiger het die volgende oggend in die koerant daarvan gelees.

Die vrese van politici word ontbloot deur die jare lange stryd wat Fourie se vrou en familie gehad het om uiteindelik sy oorskot te kry.

Maar gebeure van die verlede is nie eenvoudig nie – die bevelvoerder van die regeringsmag, luitenant-kolonel Nikolaas Pretorius, wat die laaste jag op Fourie gemaak het, was sy neef, ’n broerskind van sy ma. En kaptein Allan King, ’n vriend van hom, maar aan regeringskant, is dood tydens ’n geveg tussen Fourie se kommando en die magte van King. Daar is baie grys areas in oorlog en opstand.

........
Betreklik min mans het aan die Rebellie deelgeneem, maar daar kan moontlik gesê word dat ná Fourie se teregstelling daar nie keer aan die “steun” was nie. Dit was ’n pynlike en “onregverdige” dood wat die slagofferskap en onverwerkte trauma van die ABO verder versterk het.
........

Betreklik min mans het aan die Rebellie deelgeneem, maar daar kan moontlik gesê word dat ná Fourie se teregstelling daar nie keer aan die “steun” was nie. Dit was ’n pynlike en “onregverdige” dood wat die slagofferskap en onverwerkte trauma van die ABO verder versterk het. Midde die regering se steun aan Brittanje gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Afrikaner-nasionalisme aggressief gedy. En dit was nie uitsluitlik polities gedrewe nie.

Blake skryf: “Afrikanernasionalisme het al hoe meer – in ’n poging om selfbeskerming – eksklusief geraak, deels om te verhoed dat die onaanvaarbare verlede herhaal word. Dit het bygedra tot die opkoms van ’n verharding van Afrikanernasionalisme wat tot ’n onplooibare en vir ander ’n onaanvaarbare rassebeleid aanleiding gegee het. Die Afrikaner wou tot elke prys soortgelyke lyding as in die verlede vermy, maar het daardeur ander se lyding misgekyk. Dit word ’n bose kringloop van ‘mishandelde kinders’ (onder die Britse heerskappy) tot ‘mishandelende ouers’ (onder apartheid) wat nooit verbreek word nie, omdat daar nie heling vir die onverwerkte trauma was nie.”

In 1913 het Hobhouse die gevaarligte raakgesien toe sy in haar toespraak by die opening van die Vrouemonument gemaan het:

In your hands and those of your children lie the power and freedom won; you must not merely maintain but increase the sacred gift. Be merciful towards the weak, the down-trodden, the stranger. Do not open your gates to those worst foes of freedom – tyranny and selfishness. Are not these the with-holding from others in your control, the very liberties and rights which you have valued and won for yourselves? So will the monument speak to you.

Many nations have foundered on this rock. We in England are ourselves still but dunces in the great world-school, our leaders still struggling with the unlearned lesson, that liberty is the equal right and heritage of every child of man, without distinction of race, colour or sex. A community that lacks the courage to found its citizenship on this broad base, becomes ‘a city divided against itself, which cannot stand’.

Lees ook:

Mites oor die Afrikaner en Afrikaans

Emily Hobhouse se storie nou ’n nuwe, moderne toeriste-attraksie in Engeland

The story of Emily: ’n gesprek oor Emily Hobhouse se huis as besienswaardigheid in Engeland

Op dees aarde: Die tragedie van Suid-Afrika se kinders

  • 1

Kommentaar

  • Hélène Opperman-Lewis.

    Dankie Albert Blake en Elsabé Brits.

    Nou voel ek nie meer so alleen in hierdie betoog nie. Veral omdat ‘n prominente Afrikaner Historikus en ABO-kenner na ‘n bespreking in 2018 oor intergenerasie trauma by die na-oorlogse Afrikaners, my letterlik toegesnou het: “Niemand het angs of depressie na die ABO gehad nie!”

    Gelukkig het ons die tydvak bereik dat die objektiewe en subjektiewe nie summier meer geskei kan word nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top