- Op dees aarde is ’n nuwe rubriek deur Elsabé Brits.
In Suid-Afrika sterf een uit elke 25 kinders voor hul vyfde verjaardag. ’n Volle 71% leef onder die boonste armoedegrens in huishoudings wat nie genoeg inkomste het om in hul basiese behoeftes te voorsien nie. En net 4% – ja, só min – leef in huishoudings waar beide die ma en die pa teenwoordig is.
Ja ek weet, mense wil dalk nie verder lees nie, maar dit is nodig om te besef wat met kinders in Suid-Afrika gebeur. En juis hoe dit uiteindelik die ganse samelewing in die die breë beïnvloed.
Dié data word elke jaar in een van die bes nagevorste verslae bekendgestel in die South African Child Gauge. Die projek word gelei deur die Universiteit van Kaapstad se Kinderinstituut, saam met verskeie kenners en instansies. Die 2024-verslag in die 17de uitgawe fokus op vroeë kinderontwikkeling.
’n Paar punte uit die lywige verslag word hier uitgelig.
Vroeë ontwikkeling
Vanaf geboorte rig die baba se brein sy sensoriese en motoriese sisteme spesifiek op ander mense. Babas oriënteer hulleself en reageer by voorkeur op menslike gesigte, stemme, reuke en aanraking sowel as smake waaraan hulle blootgestel is in utero.
Noodseine, veral huil, verseker dat ouers en ander volwassenes naby bly en die baba beskerm. Pasgeborenes is kalm wanneer toestande hul baarmoederomgewing naboots, soos in vel-tot-vel-kontak – wat die bykomende voordeel van temperatuurregulering het. Hulle toon voorkeur vir hul ma se reuk, stem en borsmelk kort na geboorte, en hulle is geneig om die gesigsuitdrukkings van hul ma's en pa's na te boots
Saam berei hierdie vermoëns babas voor vir hul toetrede tot ’n menslike wêreld en om met ander te verbind, wat Colwyn Trevarthern noem “aangebore intersubjektiwiteit”. Intersubjektiwiteit is die bewuste en onbewustelike uitruiling van gedagtes en gevoelens tussen twee mense wat deur emosionele konneksie vergemaklik word.
Die emosionele uitruilings tussen moeders (of primêre versorgers) en hul babas stel hulle in staat om preverbale intersubjektiwiteit te bereik – emosionele resonansie en interpersoonlike begrip voor die baba begin praat. Hierdie vroeë intersubjektiwiteit in die eerste 4–5 maande na geboorte is die platform waarop die baba progressief opgeneem word in die linguistiese, gedrags- en emosionele kultuur van hul versorgers.
Die aantal babas wat gebore is met ’n lae geboortegewig (onder 2,5 kg) het redelik stabiel gebly op ongeveer 13%. Die Noord-Kaap het die hoogste syfer, met byna ’n vyfde (18%) van babas wat met ’n lae geboortegewig gebore word.
Die eerste voedingsinsette wat kinders na geboorte ontvang, is melk, ideaal deur eksklusiewe borsvoeding tot ses maande. Vroeë aanvang van borsvoeding (binne die eerste uur na geboorte) het oor die tydperk van 67% in 2016 tot 89% in 2022 toegeneem.
Omgekeerd het eksklusiewe borsvoeding vir kinders jonger as ses maande aansienlik gedaal, van 32% in 2016 tot 22% in 2022.
In 2016 het 29% van kinders onder die ouderdom van ses jaar geleef in huishoudings waar nie een van die inwonende volwassenes werk gehad het nie. Teen 2022 het die syfer vir huishoudings sonder werk tot 32% gestyg.
Die kinderondersteuningstoelae is ’n uiters doeltreffende meganisme om kinders in armoede te ondersteun. Dit is goed gerig op die armes, en omdat dit goed gevestig is en betreklik maklik om toegang te verkry, het dit hoë dekkingsyfers. Ten spyte van die geringe waarde van die toelae (R530 in 2024) het talle studies die positiewe impak daarvan vir kinders bevestig, insluitend beter voeding- en gesondheidsuitkomste. Dit is omdat die toelae grootliks aan kos bestee word.
Honger
Die belemmerde groei wat chroniese wanvoeding weerspieël, bly hoog, met die mees onlangse data wat toon dat 28,8% van kinders jonger as vyf jaar dit ervaar. Dit benadeel hulle kognitiewe ontwikkeling en vermoë om te leer. Terselfdertyd neem oorgewig en vetsug toe by jong kinders, met 22,6% van kinders onder vyf wat geraak word. Hierdie dubbele las van wanvoeding plaas kinders ’n groter risiko.
Daar is egter ’n verband tussen vetsug en wanvoeding – net weens ’n swak dieet. Net omdat die kind aan vetsug ly, beteken dit nie hulle eet gesonde kos nie. Juis nie. Ultraverwerkte kos is goedkoop.
In 2022 het 20% van kinders in huishoudings gewoon wat gerapporteer het daar is te min kos weens ’n gebrek aan geld, terwyl 25% gewoon het in huishoudings wat gedwing was om minder kos te koop.
Ouerskap en sorg
Daar is ’n wanopvatting dat ’n sogenaamde kerngesin, waarin daar ’n biologiese ma en pa is, die ideaal is. Dit is nie die realiteit in Suid-Afrika nie.
Baie kinders in Suid-Afrika woon nie konsekwent in dieselfde huishouding as hul biologiese ouers nie. Dit is ’n gevestigde kenmerk van kinderjare in Suid-Afrika, en internasionale studies het gewys dat die land uniek is in die mate waarin ouers afwesig is uit kinders se daaglikse lewens.
Ouerafwesigheid hou verband met baie faktore, insluitend apartheid-era-kontroles op bevolkingsbeweging, arbeidsmigrasie, armoede, behuising en opvoedkundige geleenthede, lae huwelik- en saamwoonkoerse, asook tradisionele sorggebruike vir familielede om ’n wesenlike rol in kinderopvoeding te speel.
Ouerafwesigheid beteken nie noodwendig ouerlike verlating nie. Baie ouers gaan voort om te ondersteun en sien hulle kinders gereeld, al moet hulle elders woon.
Alle kinders het versorging nodig. Maar die vermoë van gesinne – ouers en versorgers – om gesonde ontwikkeling te ondersteun, word dikwels benadeel deur faktore buite hul beheer. Dit sluit in die impak van armoede en ’n gebrek aan hulpbronne vir fisieke en psigiese gesondheid, en die buitensporige las van sorg wat deur vroue gedra word.
Dit is van kritieke belang om die sosiale en strukturele struikelblokke tot versorging van sorg aan te spreek deur:
- voorsiening van inkomstesteun en bekostigbare kindersorg om vroue in staat te stel om terug te keer werk toe
- versterking van ondersteuning van gemeenskap- en geloofsgebaseerde organisasies
- ondersteuning van ouers en versorgers om koesterende sorg te verskaf, en mans aan te moedig om ’n aktiewe rol in die versorging van jong kinders te speel.
Geweld
Geweld teen kinders is steeds deurdringend, met 42% van kinders in Suid-Afrika wat kindermishandeling, geweld of verwaarlosing ervaar, volgens die Optimus-studie. Terwyl daar beperkte data is oor die mate waarin jong kinders blootgestel word aan geweld, het nasionale studies oor kindermoord bevind dat meer as driekwart van moorde op kinders onder vyf jaar in die konteks van kindermishandeling en -verwaarlosing plaasgevind het.
Babas en jong kinders loop ’n hoë risiko van mishandeling en verwaarlosing, dikwels in hul eie gesinne, vanweë hul ontwikkelingstadium en afhanklikheid van diegene rondom hulle.
Blootstelling aan geweld op ’n vroeë ouderdom, veral in die afwesigheid van responsiewe versorging, kan breinontwikkeling benadeel en ander dele van die senuweestelsel en kognitiewe ontwikkeling beïnvloed, en kan lei tot swak skoolprestasie, moontlike gedragsversteurings en ’n groter waarskynlikheid om betrokke te raak by riskante gesondheidsgedrag.
Lees ook: