Die afgelope tyd is die poliovirus in rioolwater in Londen, Jerusalem en die staat van New York opgespoor – en al is daar nog net ’n handvol gevalle aangemeld, beteken dié ontdekking die virus sirkuleer veel wyer.
Wat mense dalk nie weet nie, is dat Suid-Afrika sy status as poliovry in 2017 verloor het, weens gebreke in ons immunisasie- en moniteringsprogram, en weer in September 2019 die status herwin het.
Almal van ons behoort waaksaam te wees, want in Afrika is daar ’n ander scenario aan die afspeel.
Vir elke een bekende polio-geval is daar volgens navorsers 2 000 ander gevalle wat in ’n bevolking kan sirkuleer, daarom moet een geval nie afgelag word nie. ’n Bekende geval is een wat amptelik aangemeld word en positief in ’n laboratorium getoets het, en is net ’n aanduiding van wat regtig aangaan – soos met enige aanmeldbare siekte.
Polio (poliomiëlitis) veroorsaak die onomkeerbare verlamming in een uit elke 200 mense wat die virus opdoen, en tussen 5% en 10% van dié mense sterf omdat hulle nie kan asemhaal nie. ’n Mens kan binne ure ná blootstelling verlam raak. Indien daar dus soveel verlammings is, sal die ware omloop veel meer wees.
............
Polio (poliomiëlitis) veroorsaak die onomkeerbare verlamming in een uit elke 200 mense wat die virus opdoen, en tussen 5% en 10% van dié mense sterf omdat hulle nie kan asemhaal nie. ’n Mens kan binne ure ná blootstelling verlam raak. Indien daar dus soveel verlammings is, sal die ware omloop veel meer wees.
..............
Een uit elke 100 wat die virus opdoen, ontwikkel meningitis. Kinders of volwassenes wat herstel, kan hulle lewe lank komplikasies hê weens post-polio-sindroom.
Die virus is hoogs aansteeklik en is in jou keel en ingewande waar dit vir weke oorleef. Mense wat nie simptome toon nie, kan ook die virus oordra. Dit dra oor deur die feses van ’n geïnfekteerde persoon na ’n ander. (En minder algemeen, deur ’n nies of ’n hoes). Dit is maklik om te sê: Ek of my kinders raak nie aan ander mense se feses nie. Wel, dit is nie so eenvoudig nie.
Piepklein stukkies feses wat ’n mens nie eens raaksien nie, is genoeg om die virus oor te dra. Dit kan versprei indien iemand nie hulle hande was nie en/of nie toegang het tot behoorlike sanitasie nie. Dit gebeur maklik indien jy nie lopende, warm water in jou huis het nie. Dit kan voorkom op speelgoed, of oppervlaktes, op kos, enige plek. Sonder dat jy weet, beland dit dan in jou mond via jou hande.
En handsaniteerders wat alkohol bevat, maak nie die virus dood nie.
Die polio-entstof is 99% effektief om mense te beskerm. In ’n geval van verlammende polio wat verlede maand in Rockland County, New York, opgespoor is, was dié volwasse man nie gevaksineer nie. Dít is gevaarlik, want ’n ongevaksineerde is vir die virus soos ’n vlam vir ’n mot.
.............
Die polio-entstof is 99% effektief om mense te beskerm. In ’n geval van verlammende polio wat verlede maand in Rockland County, New York, opgespoor is, was dié volwasse man nie gevaksineer nie. Dít is gevaarlik, want ’n ongevaksineerde is vir die virus soos ’n vlam vir ’n mot.
..............
Die entstofverhaal en hoe dit ons stryd teen polio raak, word hier meer kompleks.
Vroeg in die jare vyftig het dokter Jonas Salk die ongeaktiveerde polio-entstof (IPV) ontwikkel in die grootste kliniese toets van sy tyd waarin 400 000 Amerikaanse kinders die produk ontvang het. Vir die eerste keer was daar ’n wapen teen wat steeds in 2022 ’n ongeneeslike toestand is. Dit is danksy geld van die National Foundation for Infantile Paralysis (nou die March of Dimes) moontlik gemaak. Dié entstof word ingespuit.
Sowat tien jaar later het dr Albert Sabin die orale polio-entstof (OPV) ontwikkel. Baie mense onthou hulle het dalk dié entstof lank gelede op ’n blokkie suiker gekry. Deur dit oraal te gee, boots die entstof dieselfde manier van infeksie na, via die mond na die ingewande. So wek dit ’n goeie immuniteitsrespons op.
Gou het die kompetisie reusagtig geword en uiteindelik is daar laat in die jare sestigs besluit Sabin se produk is beter en veel makliker om te gebruik, omdat jy nie opgeleide mense of naalde nodig het nie.
Die OPV is ’n “lewendige”, geattenueerde virus, met ander woorde ’n verswakte weergawe van die virus. Maar omdat dit ’n verswakte weergawe van die virus is, kan daar virale afwerping gebeur. Dit kan nabye mense passief immuniseer, maar dit beteken ook in baie skaars gevalle kan ander mense aangesteek word. Nog skaarser is dat die virus kan muteer en herkombineer en dan word dit ’n sirkulerende entstofafgeleide poliovirus (cVDPV).
Om dié rede het talle ryker lande in 2000 besluit om terug te keer na Salk se entstof en net Sabin s’n te gebruik waar daar uitbrekings is. Maar baie ontwikkelende lande gebruik steeds die OPV, omdat die soveel geriefliker is. Dit hou ’n reuserisiko in vir mense wat nie gevaksineer is nie – veral indien entstofsyfers daal. Dit moet duidelik gestel word.
Daarom kan die gevalle wat nou opgelet word, selfs die virus in die rioolwater, gesien word as mensgemaak, máár net omdat daar nie behoorlik voldoen word aan entstofprogramme nie. Vir virusse soos polio (onder meer masels ook) wat hoogs aansteeklik is, moet 90% of meer van die bevolking gevaksineer wees om voldoende dekking te kry.
..........
Daarom kan die gevalle wat nou opgelet word, selfs die virus in die rioolwater, gesien word as mensgemaak, máár net omdat daar nie behoorlik voldoen word aan entstofprogramme nie. Vir virusse soos polio (onder meer masels ook) wat hoogs aansteeklik is, moet 90% of meer van die bevolking gevaksineer wees om voldoende dekking te kry.
.............
Daar is reeds twee jaar lank probleme met cVDPV in verskeie lande, soos Pakistan, Afganistan, Jemen, Maleisië, die Filippyne en byna 20 lande in Afrika, onder meer Malawi en Mosambiek. Dit is tans van die grootste bedreigings.
Om dié probleem te probeer keer is ’n nuwe entstof teen tipe 2-polio (nOPV2) in 2020 vir noodgebruik deur die Wêreldgesondheidsorganisasie goedgekeur. Sowat 100 miljoen kinders het dit reeds ontvang. Dit was die eerste entstof ter wêreld met dié spesiale goedkeuring en het die pad vir die Covid-19-entstowwe se noodgoedkeuring gebaan.
Wilde vorms van polio is nog endemies in Pakistan en Afganistan – die poliovirus sirkuleer nog in hierdie gemeenskappe. Om dit nog meer kompleks te maak, is daar drie tipes polio.
In 2015 het die Wêreldgesondheidsorganisasie verklaar dat tipe 2-polio uitgewis is, nadat daar vir 16 jaar geen geval van dié tipe aangemeld is nie. Die orale entstof teen tipe 2 is toe in 150 lande onttrek, ook in Suid-Afrika, nadat ons voorheen die OPV teen al drie ontvang het. Ons gebruik nou die bivalente orale polio-entstof (teen polio tipe 1 en 3) twee keer vir babas. Dan ontvang hulle ook vier keer ’n ses-in-een-inspuiting in die been wat teen polio en ander siektes beskerm. (Hier is die volledige skedule.)
Om die res van Afrika te ignoreer en te dink dat ons op ons louere kan rus, sou nie raadsaam wees nie. Boonop het byna die hele wêreld gedurende die twee Covid-jare agtergeraak met die immunisasie van kinders en babas. Dekades se vooruitgang kan nie verlore gaan nie – nie met polio of enige ander immunisasie nie.
.............
Daar is beduidende redes en bewyse hoekom daar entstowwe is teen sekere dodelike virusse en bakterieë. Hoekom mense steeds huiwer of versuim om dit vir hulle kinders te gee, is bloot nalatig.
..............
Daar is beduidende redes en bewyse hoekom daar entstowwe is teen sekere dodelike virusse en bakterieë. Hoekom mense steeds huiwer of versuim om dit vir hulle kinders te gee, is bloot nalatig.
Dit was oudpresident Franklin Roosevelt se bydrae tot die National Foundation for Infantile Paralysis wat uiteindelik gesorg het dat die geld daar was sodat Salk sy navorsing vir ’n entstof kon doen. Op 39 jaar het Roosevelt polio opgedoen en hy was daarna gestrem. Hy kon net regop staan met stywe metaalgespes soos prostese aan sy bene wat by die knie gesluit het.
Om te loop het hy sy heupe heen en weer geswaai en is regop gehou deur ’n kierie en iemand, gewoonlik sy seun en later ’n militêre offisier, aan sy sy. Hy kon skaars loop, maar soms het hy met krukke reggekom.
In ’n tyd waarin mense met enige gestremdheid uit die samelewing gestoot is, het hy gevoel mense sal oningelig wees. Hy was nooit heeltemal gemaklik met ’n rolstoel, homself of wat met hom gebeur het nie. Die Geheime Diens het hom beskerm teen mense wat dié kant van hom wou afneem of hom as “swak” wou uitbeeld.
...........
Net soos in die geval van vele ander kindersiektes waarteen daar net een voorsorg is, en dit is immunisasie.
..............
Hy is dood voordat hy Salk se sukses kon sien. Maar om te dink dat daar nie meer mense is wat ly weens die gevolge van polio nie, is nie waar nie. Net soos in die geval van vele ander kindersiektes waarteen daar net een voorsorg is, en dit is immunisasie. Net omdat jy nie die kind sien wat breinskade gekry het weens masels nie, beteken nie hy is nie dáár nie.
Lees ook:
COVID-19: Verdraaide feite wat so vinnig soos ’n virus versprei