COVID-19: Verdraaide feite wat so vinnig soos ’n virus versprei

  • 2

Die vermenigvuldiging van verkeerde inligting die afgelope jaar versprei net so vining soos die virus wat floreer in ons selle. ’n Berg van vals inligting val maand na maand via sosiale media op ons, en het gelei tot ’n pandemie van fopgemors.

........

’n Berg van vals inligting val maand na maand via sosiale media op ons, en het gelei tot ’n pandemie van fopgemors.

...........

Die verdraaide, blatante verkeerde inligting of selfs dramatiese samesweringsteorieë is al vir lank met ons, maar dit word verskerp tydens ’n pandemie wat almal op aarde raak. Die vals of misleidende inligting tot blatante leuens neem vele vorme aan. Dit strek van mense wat bloot onkundig is en mense wat weier om bewese feite te aanvaar en arrogant daaraan sal vasklou, tot geteikende veldtogte teen wetenskap en die georganiseerde verspreiding van leuens.

Die skade wat waninligting veroorsaak en die hoeveelheid wat elke dag uitgepomp word, skep egter bekommernis. Dit is nie skadeloos nie.

Hoe meer jy die leuens op sosiale media sien, hoe meer geneig is jy om dit te glo. Veral as dit deur emosionele taal en ’n menslike anekdote vergesel word. Almal verklaar dan dit is waar. Dan is dit mos so.

........

Hoe meer jy die leuens op sosiale media sien, hoe meer geneig is jy om dit te glo. Veral as dit deur emosionele taal en ’n menslike anekdote vergesel word. Almal verklaar dan dit dis waar. Dan is dit mos so.

.........

Mense deel inligting sonder om oor die akkuraatheid daarvan te dink. Of, mense vermoed dit is nie waar nie, maar dit sal mos nie skade doen nie? Dit doen júís skade. Die vraag moet eerste wees: Is dit waar?

Die interaksie op sosiale media — die positiewe versterking — is belangriker as akkuraatheid. Mense sal baie eerder vals inligting op sosiale media deel as wanner jy met hulle gaan sit en gesels en hulle uitvra oor die akkuraatheid. En hoe minder mense weet oor wetenskap, hoe meer geredelik glo hulle nonsens.

........

Die mees basiese kennis oor wetenskap wat jy op skool opdoen behoort vir jou te sê dat 5G-torings nie jou “immuniteit kan verswak” nie, nog minder dat ’n virus deur ’n elektromeganiese golf kan versprei. Die virus versprei tussen mense en het selle nodig om te oorleef.

..........

Die mees basiese kennis oor wetenskap wat jy op skool opdoen behoort vir jou te sê dat 5G-torings nie jou “immuniteit kan verswak” nie, nog minder dat ’n virus deur ’n elektromeganiese golf kan versprei. Die virus versprei tussen mense en het selle nodig om te oorleef. En selfoontegnologie se golwe lê onder dié van sigbare lig op die spektrum, maar diesélfde mense wat dié nonsens glo, dink nie twee keer oor ’n X-straal of die wonders van ’n CT-skandering wat heelwat bestraling gee nie.

Die gevaar van vals inligting tydens ’n pandemie, of as dit enigsins met geneeskunde te doen het, is dat dit mense siek maak en lewens kos. Dit is oneties.

.........

Die gevaar van vals inligting tydens ’n pandemie, of as dit enigsins met geneeskunde te doen het, is dat dit mense siek maak en lewens kos. Dit is oneties.

...........

’n Kwessie wat ’n jaar ná COVID-19 steeds met ons is, is dat baie mense steeds glo dit is “nie so erg nie”, dat dit net “nog ’n griep” is of steeds glo alles is ’n liegstorie. Of dat die ware bedreiging nie ’n nuwe virus is nie, maar iemand se obskure vorm van vryheid. Hoekom mense nie oortuig is nie, sal ek nie weet nie. Wat wel waar is, is dat diegene wat nie hulle gedrag aangepas het of steeds aanpas nie, ander mense in gevaar stel.

Die oulike boek An illustrated book of bad arguments verduidelik die redenasies van al die algemene logiese denkfoute. Dalk lê van die antwoorde daar. Die volgende aanhaling van Richard Feynman is voorin: “The first principle is that you must not fool yourself and you are the easiest person to fool.”

Daar is natuurlik “kenners” wat gerekende wetenskaplike inligting wat vrylik beskikbaar is, verdraai en buite konteks aanpas deur die kersies van die koek af te eet soos dit hulle pas. Hulle bied dit op ’n gesaghebbende manier aan en mense glo dit.  Hulle herkontekstualiseer feite en pas dit so aan. Dit is baie slim.

Of hulle is bloot nie kenners nie, die “Dr” of “Prof” voor die naam is geheel en al vals, maar min mense doen die moeite om te gaan kyk. Dan is daar natuurlik die afvallige, die renegaat wat om een of ander rede alles wat hy geleer het, laat vaar het.

Van die grootste verspreiders van fopnuus is politici en beroemdes — dit het navorsing die afgelope jaar gewys. Donald Trump was die hoogste op die lys.

In enige pandemie, en selfs wanneer daar nie ’n pandemie is nie, bly die stryd tussen wat geneeskunde en die mediese wetenskap werklik kan vermag en mense se vrese en verwagtinge ’n teelaarde vir wilde bewerings: Die Wonderkuur. En sodra die wonderkuur nie bestaan nie of faal, is die bewering dat dit weerhou of weggesteek word en dat dié wat in beheer is, soos farmaseutiese maatskappye, weier om dit beskikbaar te stel. Dan raak dit ’n kwessie van “ons” vs “hulle”.

........

Die Wonderkuur. En sodra die wonderkuur nie bestaan nie of faal, is die bewering dat dit weerhou of weggesteek word en dat dié wat in beheer is, soos farmaseutiese maatskappye, weier om dit beskikbaar te stel. Dan raak dit ’n kwessie van “ons” vs “hulle”.

...........

Weens die mensdom se vrees vir die dood — ja, algar vrees maar daardie laaste tree wat ons geheel en al alleen moet neem — het ons van geneeskunde begin verwag om ons van álles te kuur. Of dalk het ons dit nog altyd verwag. En sommer gou ook, sonder enige newe-effekte. Wanneer iets meet jou gebeur, soos ’n motorongeluk, kan dokters jou behandel en dalk jou lewe red.  Jou weer “regmaak”.

Antibiotika, waarvan die misbruik dalk tot ’n volgende stadige pandemie sal lei, is ’n kuur teen die aanslag van vele bakterieë. Dis waar. Maar soveel van die siektes en toestande word bestuur met slegs chroniese medikasie; en/of ’n mens se lewenskwaliteit word deur die medikasie verbeter. Van ’n kuur is daar baie keer nie sprake nie, hoewel dit verwag word. Dit is eerder bestuur as kuur.

Hierdie soeke na ’n wonderkuur is een van die grootste bronne van waninligting. Dit maak ook die hek wyd oop vir skelms wat wonderkure verkwansel. Of beweer hulle kan jou met allerhande masjiene of kruie en konkoksies genees. Dit veroorsaak dat bangmaakteorieë ontstaan.

........

Die beste kuur is voorkoming. Die beste voorkomingsmiddel wat bestaan is ’n entstof.

..........

Die beste kuur is voorkoming. Die beste voorkomingsmiddel wat bestaan is ’n entstof. ’n Entstof is ook die enigste manier om vir jou immuniteitstelsel ’n ware hupstoot te gee. Al die vals inligting oor entstowwe, wat veilig en effektief is, is bekend. Dalk is een van die grootste misverstande oor entstowwe dat dit juis oor baie, baie meer as die individu gaan — dit gaan oor die gemeenskap, net soos die dra van ’n masker.

Jy kan ’n entstof hê wat 95% effektief is, maar as sowat twee-derdes van die gemeenskap nie geïmmuniseer word nie, help dit jou niks. Dekking is van belang. Die meerderheid moet inkoop om hulself en ánder te beskerm. Dit is ’n saak van ubuntu. Indien jy dus so vreeslik liberaal is soos wat jy voorgee, sal entstowwe vir jou sin maak.

Tog skop mense vele mense daarteen vas, selfs met ’n magdom inligting tot hulle beskikking wat die teendeel bewys en enige redelike mens se vrese sal besweer. Dalk sou sekeres dit meer geredelik geneem het as dit ’n pil was en nie ’n inspuiting nie? Tog dit bly bisar dat die een besliste voorkomingsmiddel, eerder as ’n pil wat jy neem nadat jy siek word, so in twyfel getrek word.

Die beginsel van korrelasie en oorsaaklikheid is een van die grootste struikelblokke in die begrip van wetenskap, waarbinne geneeskunde natuurlik val. Korrelasie beteken nie oorsaaklikheid nie, daar mag dalk net ’n verhouding wees.

Steven Harnad het beskryf hoe daar vier stadiums is vir die skep van kennis.

Derduisende jare gelede in die mens se evolusie het taal ontwikkel, en daarna die vermoë om te skryf, en meer as 500 jaar gelede die drukpers. Met die koms van die internet en sosiale media het elkeen op aarde ’n uitgewer en skepper van inligting geword. Jy kan kommunikeer en enigiets publiseer, of dit nou waar of vals is.

Feite word nie meer net versprei deur iemand met ’n mate van outoriteit, kennis en insig nie. Nee, elkeen het ’n opinie en hulle meen dié opinie is ’n feit. Ag, ons kan ure lank debatteer oor opinies; elkeen kan een hê, maar feite bly onbewese brokkies ware inligting.

Inligting word gemanipuleer net soos dit jou pas. So indien jy meen daar is gif in ’n entstof, en dat dit jou DNS of RNS verander, dan is dit waar. Bogger die wetenskaplike metodes wat gevolg word, en of jy eintlik ’n snars weet van genetika, entstowwe en hulle biologiese werking.

.........

Nou sit ons op ’n plek waar ’n gogga bestaan: “alternatiewe feite”. So asof daar ’n alternatiewe feit vir swaartekrag is. Of vir die bloudruk van ons genetiese samestelling. Hoe op aarde het ons hier beland? 

.............

Nou sit ons op ’n plek waar ’n gogga bestaan: “alternatiewe feite”. So asof daar ’n alternatiewe feit vir swaartekrag is. Of vir die bloudruk van ons genetiese samestelling. Hoe op aarde het ons hier beland? Maar hier sit ons.

Lees ook

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met medikus Helmuth Reuter

Medikus oor COVID-19 en die pad vorentoe

LitNet Akademies Weerdink: COVID-19 en vis maior, kontrakbreuk en repudiëring

Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide

COVID-19: Die jongste | The latest

 

  • 2

Kommentaar

  • Die hoofstroommedia help ook nie baie om die tendens van fopnuus teë te werk nie. Hulle is gewoonlik verbonde aan ‘n sekere ideologie, denkrigting of narratief om nie te praat van die groot base wat hul salarisse betaal nie en dit beïnvloed wat en veral hoe hul feite weergee. Kamala Harris het haar sterk uitgespreek oor die verspreiding van die vaksine in Amerika onder Trump en gesê hulle sal alles nou weer van vooraf moet doen. Dr Fauci het daarop reageer en gesê hulle hoef nie van vooraf te begin nie, want die werk word reeds gedoen en die strategie is in plek. Toe dit ‘n politieke besprekingspunt word krabbel hy terug en steun Harris deur te sê hy dink nie sy het dit so bedoel nie. Sy twyfel oor die dra van maskers het ook die wenkbroue laat lig. As jy byvoorbeeld na Fox News en CNN op dieselfde dag luister is dit wat hul jou oor dieselfde aangeleentheid vertel heeltemal verskillend. Miskien is dit waarom samesweringsteorië ontstaan en die internet maak dit makliker. Ons word mos vertel “Google is your friend” en en ons ploeter tussen ongeverifieerde stellings rond.

  • Estelle Neethling

    Sosiale media is inherent 'n uitstekende bron van inligting, maar het ‒ net soos Elsabé Brits tereg sê ‒ in hierdie tyd 'n teelaarde vir waninformasie geword en dit skep groot gevaar vir die vreesagtige mensdom. Die teenvoeter is dat al is ons goed ingelig, die besef altyd daar moet wees dat daar sovéél is wat ons nie weet nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top