Dodelike entstoffiksie: Wat is die waarheid?

  • 33

Fotoerkenning: Pixabay

.......

’n Ramp, pandemie, vrees, veranderende tye en onsekerheid is die perfekte teelaarde, ryp met mis wat ruimhartig op die grond gegooi word sodat elkeen wat nog ooit ’n wilde gedagte gehad het, op sy seepkis kan staan en skree en sy saadjies kan plant. En val daardie sade nie op geil stukkies aarde nie.

.........

Iets waarmee baie mense en die media sukkel, en wetenskaplikes baie in gebreke bly om behoorlik te verduidelik, is oorsaak en gevolg en assosiasie. Twee goed kan baie nou met mekaar geassosieer wees sonder dat daar enige verwantskap tussen oorsaak en gevolg is.

Veral in kwakkerye en sogenaamde kure, en gesondheid, of eerder die najaag van welstand eerder as gesondheid, is daar reuseverwarring hieroor. Tog dink mense dié verkeerde inligting kom van “wetenskaplikes en navorsing” af en dan vertrou hulle nie die behoorlike bewese wetenskap nie.

Bogstories om mense bang te maak oor entstowwe kruip byna elke dag uit ’n donker gat, veral van sosiale media. Fantasieë so wonderbaarlik fiktief dat dit goeie Hollywood-flieks sal kan maak.

Dit sou tydmors wees om elkeen van die duimsuigtoerieë oor die virus, voorkoming en wat nog oor die pandemie en die pseudowetenskap waarmee dit “bewys” word, te ontmasker. Laerskoolwetenskap en -biologie is genoeg daarvoor.

’n Ramp, pandemie, vrees, veranderende tye en onsekerheid is die perfekte teelaarde, ryp met mis wat ruimhartig op die grond gegooi word sodat elkeen wat nog ooit ’n wilde gedagte gehad het, op sy seepkis kan staan en skree en sy saadjies kan plant. En val daardie sade nie op geil stukkies aarde nie.

Daarby is daar die gruwelike afleidings wat oor COVID-19 gemaak word, meer as ’n jaar nadat die pandemie begin het, terwyl van die beste bronne beskikbaar is om jou van die basiese te vergewis. Daar is oorgenoeg rede waarom baie aansprake bloot fiktief is, veral indien oorsaak en gevolg geïgnoreer word,  omdat twee dinge wat met mekaar geassosieer word, nie noodwendig oorsaaklik is nie.

Ons is nou maar eenmaal steeds vasgevang in die liefde vir die argetipiese figuur van gesag, die pater. Die doktor, professor, dominee en skoolhoof – veral dié wat mans is. As hulle nie kan bewys wat hulle sê nie, dan beteken die titels niks. Net omdat “hulle” so sê, beteken dit nie dit is waar nie.

Veral die stem op ’n WhatsApp-boodskap – die vet alleen weet wie dit is – wat voorgee om “iemand te wees” – wat raad gee en veral vrees saai. Wie is dit? Enige bron op Instagram, Facebook, Twitter en waar nog kan stories opmaak en lieg soos hulle wil.

Die lewe het ’n mynveld van waninligting geword, omdat daar wel ook dokters is wat om een of ander rede die pad byster geraak het en alles wat hulle geleer het, weggegooi het.  

........

Die lewe het ’n mynveld van waninligting geword, omdat daar wel ook dokters is wat om een of ander rede die pad byster geraak het en alles wat hulle geleer het, weggegooi het.  

..........

Omstrede Nobelpryswenners

Daar is selfs ’n Nobelpryswenner of twee wat ontrou geraak het en wat ander wetenskaplikes warm onder die kraag het.

Een so ’n afvallige, Luc Montagnier, wat in 2008 ’n medewenner van die Nobelprys vir geneeskunde was vir sy werk oor MIV, vertroebel die waters met sy uitsprake. Let wel: uitsprake – hy bewys nie sy wilde teorieë op die gewone manier deur in akademiese portuurevaluasie te publiseer nie: hy praat net.

Ander wetenskaplikes sien hom lankal reeds as ’n vrot randeier, omdat hy onder meer glo water het ’n geheue, DNS het glo elektromagnetiese afdrukke, en omdat hy homeopatie steun. Die idee dat water ’n geheue het is so verregaande ’n mens kan net daarmee spot – soos met homeopatie. Dit laat my noodwendig dink aan die “arme” water in die toilet ...

Dit is wel vals dat hy sou gesê het almal wat die entstof ontvang het, sal binne twee jaar dood wees. Maar wat hy wel gesê het, is dat nuwe variante geskep word deur die seleksie van teenliggaampies wat uit immunisasie ontstaan. Hy het ook gesê die massa-immunisasie is ’n “reusagtige fout. ’n Wetenskaplike en mediese fout”, en om dit gedurende ’n pandemie te gee is ondenkbaar, want nadat dit gegee is, is daar sterftes in lande.

Die verskeie variante wat eerste in Brittanje, Suid-Afrika en Brasilië ontstaan het, was hier lank voordat daar met massaveldtogte begin is. Die beste verweer en voorkoming in enige pandemie is ’n entstof. Dit het almal gesien in die geskiedenis van dodelike kindersiektes, poke, polio, vorige grieppandemies en die uitbrekings van masels. Was dit nie daarvoor nie, sou miljoene van ons nie hier gewees het nie.

Dit is duidelik Montagnier het sy sin vir die wetenskaplike metode verloor.

Die ander bekende is Michael Levitt, wat ’n medewenner van die Nobelprys vir chemie in 2013 was. Die plaaslike groep Pandemic Data Analysis (Panda) gebruik onder meer wat hy sê om hulle data te staaf. Levitt meen COVID-19 is nie ’n groot gevaar nie, en hy het ook nie gedink daar sal veel sterftes wees nie. Hy was en is verkeerd, maar hy het steeds ’n reuse-aanhang onder dié wat ná al die maande nog glo dié virus is net duskant ’n griep.

Die naam Nobelprys beteken vir talle mense die toppunt van geniale en foutlose denke. Kan wees, maar nie altyd nie. Voor dié twee was daar ander Nobelpryswenners in die wetenskappe wat aanvanklik goeie wetenskap gedoen het, en toe nie. Dalk raak die gewig wat dit op ’n mens se skouers plaas, of die euforie daarvan, te veel.

’n Goeie voorbeeld is Linus Pauling, wat die Nobelprys vir chemie en die een vir vrede gewen het. En toe word hy ’n totale kwak. Eens ’n briljante molekulêre bioloog wat later onwrikbaar geglo het vitamien C kan álles genees, van hartsiektes tot kanker. Dit kan nie.

Vitamien C wat, indien jy meer inneem as wat jou liggaam kan opneem, jy uitpiepie. Duur piepie. Dis al; dit kan nie eens verkoue genees nie, maar dit het tot een van die grootste mites van ons tye gelei en ’n industrie wat sekerlik in die miljarde is.

Die ander een is James Watson, medeontdekker van die dubbeleheliksstruktuur van DNS, wat alle aansien verloor het weens sy rassistiese uitsprake. Uitsprake wat hy ook nie bereid was om terug te trek nie, maar wat hy herhaal het. Vele toekennings en titels wat aan hom toegeken is, is teruggetrek.

In die jongste bewese wetenskap wat pas in Nature Medicine gepubliseer is, is dit duidelik hoe groot die impak van entstowwe is. In Brittanje, waar mense die entstowwe van AstraZeneca of Pfizer-BioNTech ontvang het, het die voorkoms  van infeksies met onderskeidelik tussen 61% en 66% gedaal wat ná die tweede dosis verbeter het tot 79% en 80%. Dit is een van die voorbeelde wêreldwyd van wat toenemend sal gebeur.

Toetse in Suid-Afrika het gewys die AstraZeneca-entstof is nie effektief teen die plaaslike variant nie. Maar ons gaan dit nie gebruik nie.

Miskien moet die fokus nou verskuif na om mense wat wel behoorlike inligting wil hê, en redelike vrae het, van inligting te voorsien. Onsekerhede en vrees kan ontstaan omdat mense wat verkeerde inligting versprei, jou ’n gat in die kop kan praat, en hulle is goed daarmee. Veral omdat ’n klein bietjie kennis oor die onderwerp óf vervorm word óf nie behoorlik verstaan word nie.

........

Onsekerhede en vrees kan ontstaan omdat mense wat verkeerde inligting versprei, jou ’n gat in die kop kan praat, en hulle is goed daarmee. Veral omdat ’n klein bietjie kennis oor die onderwerp óf vervorm word óf nie behoorlik verstaan word nie.

..........

Hoe werk ’n mRNS-entstof?

Deoksiribonukleïensuur (DNS) dra die genetiese inligting van alles wat lewe. Dit is binne-in die kern van ’n sel buiten mitochondriese DNS wat by mense en diere buite die selkern is. Dit vorm ’n dubbele heliks.

Ribonukleïensuur (RNS) is soortgelyk aan DNS, maar dit is nie dieselfde nie, onder meer omdat dit in ’n enkelstring voorkom. Daar is verskillende tipes RNS, en die een wat hier belangrik is, is die boodskapper-mRNS wat opdragte dra sodat selle proteïene kan maak.

Dus: mRNS is stringe van die genetiese kode wat chemiese boodskappers is tussen die DNS en die sellulêre enjin wat die proteïene maak wat ons nodig het om te funksioneer. mDNS gee die instruksies wat die enjins gebruik.

Daar is tans net twee mRNS-entstowwe teen COVID-19: Moderna en Pfizer-BioNTech, wat vinnig gemaak kan word – binne ’n week.

Elke entstof het dieselfde doel: Lei die liggaam se immunstelsel op om ’n spesifieke patogeen, in dié geval die ernstige akute-respiratoriese-sindroom-koronavirus tipe-2 (SARS-CoV-2) te herken en dan met teenliggaampies aan te val. Hoewel ’n mens ook T-selle het wat help.

Om dit te bereik het die meeste entstowwe ’n verswakte, of onaktiewe, weergawe van die virus, of een of ander herkenbare proteïen in sodat die liggaam daarvan kan leer. Dit staan beken as ’n antigeen en is die aktiewe bestanddeel. Sommige entstowwe bevat ook ’n hulpmiddel (adjuvant) wat die immuniteitsreaksie verbeter.

In die geval van mRNS-enstowwe is dit anders, want dit bevat stringe mRNS. Die stringe gee aan die liggaam se selle die opdragte om kopieë van die herkenbare, máár skadelose, virusproteïen te maak. Daardie juiste stekelproteïen.

Die immunstelsel ontvang dan die skadelose weergawe van die proteïen, maar leer om reeds sy verdediging op te bou vir die dag wanneer jy wel aan die virus blootgestel word. Indien jy dit reeds gehad het, versterk dit die immunstelsel net meer.

........

Die immunstelsel ontvang dan die skadelose weergawe van die proteïen, maar leer om reeds sy verdediging op te bou vir die dag wanneer jy wel aan die virus blootgestel word. Indien jy dit reeds gehad het, versterk dit die immunstelsel net meer.

.........

Kan dit jou siek maak?

Nee. mDNS-entstowwe kan dit nie doen nie, omdat die stringe mRNS nie die volledige pakkie inligting bevat om die virus te bou nie. Dit het net inligting oor ’n spesifieke proteïen.

Kan ’n entstof jou DNS of RNS verander?

In die eerste plek kan RNS nie met jou DNS kombineer nie. Dit is geweldig broos en bly vir slegs 72 uur in ’n sel net om die boodskappe oor te dra voordat dit afbreek. Dis juis omdat mRNS so broos is dat die betrokke entstowwe so koud gehou moet word.

Om DNS te verander moet jy genetiese materiaal van ’n ander organisme binne-in die selkern kry. ’n Entstof kan dit nie doen nie. mRNS dring nie selkerne binne nie, maar bly in die sitoplasma waar die stekelproteïne vervaardig word. mRNS-entstowwe is al ’n dekade lank in ontwikkeling en hoewel die tegnologie nuut is, is die kennis nie. Tydens die pandemie was daar natuurlik geld om daarin te belê.

Hoekom is daar dan nog nie entstowwe teen kanker en MIV nie?

Kanker is nie ’n oordraagbare siekte nie. Servikale kanker word in 80% van gevalle wel deur die menslike papilloomvirus veroorsaak. Die entstof is al jare lank beskikbaar. Kanker word veroorsaak deur verskeie faktore – twee daarvan, en wat ’n groot rol speel, is onkogene en mutasies.

Daar was al tálle pogings om ’n entstof teen die MI-virus te maak. Dié virus is egter nie dieselfde as die koronavirus nie. Een van die vele redes is dat die virus juis die immunstelsel aanval, die einste een waarop staatgemaak word. Teenliggaampies kan juis nie ontslae raak van MIV nie. Met MIV muteer die virus geweldig vinnig – dit is byna asof elke mens wat dit onder lede het, sy “eie virus” het. Boonop het MIV muteer in families en subtipes wat anders is in verskillende dele van die wêreld.

Is die entstowwe “eksperimenteel”?

Nee, en dit is bloot vals om dit te beweer. Óf diegene wat dit beweer, is teen entstowwe gekant, óf hulle verstaan nie die proses wat gevolg word om entstowwe te ontwikkel nie.

Elke liewe entstof wat beskikbaar is, insluitend dié teen COVID-19, het deur kliniese toetsing, registrasie en lisensiëring gegaan. Van alle mediese produkte en prosedures word entstowwe aan die strengste toetsing, monitering en regulasies onderwerp.

Geen belangrike stappe is enigsins uitgelaat vir die noodgebruik van entstowwe gedurende ’n pandemie nie. Presies wat gedoen is, kan hier gesien word.

Kortliks is dit:

  • Honderde entstofkandidate word ondersoek. (Die meeste opsies bly net hier.)
  • Toetse word in die laboratorium en op diere gedoen. (Nog meer bly hier in die slag.)
  • Fase 1 van ’n kliniese proefneming, met al die etiese goedkeuring. Min mense – meestal gesonde jong volwassenes – neem as vrywilligers deel. Dit toets die veiligheid, immuniteitsreaksie en dosis. (Nog kandidate druip die toets hier.)
  • Fase 2 betrek ’n paar honderd vrywilligers om die veiligheid en effektiwiteit te ondersoek. Maar nou word dit gegee aan al die ouderdomsgroepe waarvoor dit bedoel is. ’n Groep wat nie die entstof kry nie, word betrek om vergelykings te maak.
  • Fase 3 betrek derduisende mense in vele lande. Een helfte kry die entstof en die ander helfte ’n plasebo. Veral nou word daar gekyk of die entstof effektief is. In beide fase 2 en 3 is die toetse “dubbelblind”. Nie die studieleiers of die deelnemers weet wie kry wat nie, sodat hulle nie die uitkoms kan beïnvloed nie.
  • Fase 3b: Die resultate word ontleed en gefinaliseer. Eers dan word almal ingelig wie wat ontvang het. Die resultate moet die portuurevalueringsproses slaag.
  • Indien dit minstens 50% beskerming bied, moet die proses van goedkeuring, registrasie en lisensiëring gevolg word voordat dit vervaardig en versprei mag word. Nog entstowwe haal hier nie die paal nie. Die proses om die langtermyneffekte te bestudeer, begin.
  • Tydens ’n pandemie word noodgoedkeuring aan entstowwe gegee.
  • Daarna is dit ’n entstof vir algemene gebruik, hoewel voortgegaan word met fase 4, wat opvolgwerk en monitering behels. Die proses om die langtermyneffekte te bestudeer begin met internasionale rapporteringsisteme.

Dus, sodra die entstof op die mark is, is dit nie “eksperimenteel” nie.

Wat die entstowwe op die mark intussen gewys het (en onthou, daar was honderde kandidate en die uiteinde was toe net ’n klompie), is een belangrike punt: Hulle beskerm goed teen ernstige siekte, hospitalisasie en die dood. En dit is tog wat elkeen van ons al maande lank wil sien – dié soort beskerming. Dit is waarvan ons dié tyd verlede jaar nog net gedroom het. Waarom dan twyfel in die beste wat die wetenskap vir ons gebring het? 

En laat ons vir ’n oomblik dink aan, en dankie sê vir, die baie, baie diere in laboratoriums waarop die COVID-19-entstowwe getoets is. Net sodat ons beskerm kan wees. Net sodat ons kan leef.

Lees ook

Die sielkunde agter samesweringsteorieë

Ivermectin, vaccines and science – a vet explains

Jy is ’n belangrike deel van die nuwe wapenwedloop

Die etiek van inentings en toetsing: Izak de Vries as proefkonyn

Waarom ’n entstof jou lewe kan red, maar nie jou DNS kan verander nie

Wat gebeur wanneer ons ’n entstof kry?

COVID-19: Entstowwe | Vaccines

COVID-19: Die jongste | The latest

  • 33

Kommentaar

  • Tiaan Jordaan

    Ek het persoonlik aan agt (8) mediese kliniese toetse deelgeneem in my lewe in die Verenigde Koningkryk meer as 'n dekade gelede as a gesonde kandidaat. Die deelname was in die tweede laaste of laaste mense-groepe (ons het betaling ontvang vir hierdie deelname). Die kortste tydperk wat kliniese toetse loop vir ou (verbeterde) of nuwe mediese produkte is sewe jaar, maar gewoonlik is dit agt. Dit was nog altyd so. Die rede is omdat newe-effekte soms eers in van die laaste groepe nog kan voorkom. Deelnemers word baie noukeurig dopgehou vir enige newe-effekte en as probleme ontwikkel op enige stadium met meer as twee of drie persone, staak hulle die toetse onmiddellik - in sommige gevalle permanent (en almal word uitbetaal).

    So, dit blyk dat vir noodgebruik word al die fases verkort - maar beteken dit dat die nuwe produkte ewe veilig is? Is dit regtig so nodig dat almal hierdie noodprodukte moet gebruik as mense onder die ouderdom van 55 amper altyd self hestel (omtrent 97% oor die algemeen)? Kan mens al die dokumente lees van die toetse wat gedoen is, soos wat gebeur wanneer jy deelneem an kliniese toetse? Hoe lyk die newe-effekte van hierdie nuwe inentings teenoor inentings vir griep wat al jare op die mark is, gedurende die toetstydperk sowel as nou dat dit alreeds op die mark is?

  • Hans Richardt

    Van die voorstedelike legendes is dat daar 'n mikroskyfie ingeplant word of dat vrouens se eierstokke aangetas word en hulle onvrugbaar word of dat mense wat entstof kry, net vyf jaar sal leef a.g.v. die entstof. Hier in die groot Noord-Kkaap is daar net 'n handjievol plekke waar entstowwe gegee word. Dis skandelik.

  • Great artikel. Hopelik besweer dit meeste se vrese, maar ek is bevrees die dogmatiese denkers sal vasklou aan hul dogma.

  • Hoekom moet ons julle glo wanneer baie ander goed gekwalifiseerde dokters nie toegelaat word om enige repliek, teenwys of mediese feite te bring om die gesprek te verryk nie? Wanneer politieke agendas mediese siektes gebruik om mense se vryhede vir meer as 'n jaar lank te ontneem, en elke Jan Rap en sy maat van big-tech en sosiale media nou "fact-checkers" is en alle stemme volgens hulle eie diskresie kan snoer?

  • Elsabe Augoustides

    Insiggewende artikel, gegrond op 'n feitelike weergawe wat ons "leke" help in ons besluitnemingsproses. Dankie aan die verslagskrywer. Ek lees graag jou werk, Elsabé.

  • Eldaleen Hugo

    'n Komplekse onderwerp, maklik geskryf vir almal om beter te verstaan. Elsabe Brits het dié vermoë. Uitstekende joernalis. Dankie.

  • Mathilda Williams

    Maklik leesbaar en in eenvoudige taal geskryf sodat almal kan sin maak van jou skrywe. Hierdie artikel en inligting is long overdue en by uitstek bedoel vir veral die menigte 'sosialemedia-experts'. Baie dankie.

  • Tiaan, jy beweer hierdie: "Is dit regtig so nodig dat almal hierdie noodprodukte moet gebruik as mense onder die ouderdom van 55 amper altyd self hestel (omtrent 97% oor die algemeen)?" - Dit is bloot nie waar nie, waar kry jy die statistiek, dat 97% van mense onder 55% herstel sonder enige intervensie?
    Alles wat gedoen word tydens kliniese proewe van entstowwe word gepubliseer tydens die portuurevaluasieproses, soos genoem word in die artikel. (Dit is seker die 'dokumente' waarna jy verwys.) Dit word ook gedeel op die Clinical Trial Registry. Jy kan na hartelus gaan lees. https://clinicaltrials.gov/ en hier https://clinicaltrials.gov/ct2/results?cond=COVID-19
    En hier: https://www.clinicaltrialsregister.eu/ctr-search/search?query=vaccine+covid-19
    En hier: https://coronavirus.tghn.org/covid-therapeutic-trials/covid-ongoing-trials/
    Niemand steek enige iets weg nie,
    Kliniese toetse van medikasie en entstowwe, buite 'n pandemie en binne 'n pandemie se protokolle verskil in hulle aard van mekaar. Daar is duidelik in die artikel genoem die volgende genoem: Dit stel dit tog baie duidelik, dat kliniese proewe gestaak word:
    (Die meeste opsies bly net hier.) en weer
    (Nog meer bly hier in die slag.) en weer
    (Nog kandidate druip die toets hier.)
    En weer eens: Hoekom op aarde moet Covid-19-entstowwe met griep vergelyk word? Daar is geen rede nie. Dit het net so min met griep te soen as wat die kat met saffraan te doen het.

  • Attie Labuschagne

    Wat ek gelees het laat my gedagtig aan wat ander geleerdes reeds geskryf het, maar in 'n teenoorgstelde rigting as hierdie. Die feit dat hierdie stuk enigsins dit waag om te konstateer dat homeopatie 'n foefie is en dat water geen geheue het nie, is klaar 'n bewys van die skrywer se oogklapsiening van die lewe. Nee wat, ek is nie beïndruk nie. Dit is beter dat dit waarin mens nie glo nie, nie summier afgeskiet word nie.

  • Dit is 'n uitstekende artikel. Praat ons van mDNA-vaksiene wat mRNA bevat, want tot nou to het ek gedink die entstowwe wat mRNA bevat word mRNA-entstowwe genoem. In die geval van mDNS-enstowwe is dit anders, want dit bevat stringe mRNS. Die stringe gee aan die liggaam se selle die opdragte om kopieë van die herkenbare, máár skadelose virusproteïen te maak. Daardie juiste stekelproteïen.

  • Elsabé, wat van ’n artikel oor “cancel culture”?
    En luister na die 3 uur lange gesprek tussen Brett Weistein, Steve Kirsch en Robert W Malone. Malone is die vader van die mRNA-vaksiene en RNA-medikasie.
    Dis nou as jy die gesprek kan opspoor, want Facebook het dit geblok.
    Gaan kyk op Apple TV.
    Tyd is die beste leermeester.

  • Ek merk hier ontwikkel ’n subdebat. Elsabé se ongelukkige opmerking oor homeopatie maak ’n paar mense (of een mens) kwaad. Ek dink die leser moet onderskei tussen statistiek en wetenskap. Statisties is die Covid-herstelkoers bo 90 persent. Daar is geen rekord of dit met of sonder intervensie gebeur nie. Anekdoties gebeur ’n groot aantal herstellings sonder voorgeskrewe medikasie, maar hoeveel weet niemand nie. As ons bly by "to Vax or not to Vax, that is the question", dan is dit verstommend dat daar enigsins so ’n vraag is. Niemand vra dieselfde vraag oor griepinspuitings nie. Mag ons maar sosiale media die skuld gee?
    Ek wil nog iets sê oor homeopatie. Benvenito het in 1988 ’n eksperiment gepubliseer waarin hy bevind het dat water ’n geheue het. Anders gestel, wanneer water in aanraking kom met ’n stof, "onthou" die water die stof en kan dit dieselfde reaksie op ander plekke uitoefen. In Benvenito se eie woorde: jy kan jou karsleutels in ’n rivier skud en op ’n ander plek in die rivier jou kar aansit met die water. Wetenskap het dit afgemaak as bog.
    Dit was nie die einde van die storie nie. Baie eksperimente het gevolg, want homeopatiese middels word so verdun dat daar amper net enkele molekules gebruik word en niemand kan verklaar hoekom dit werk nie. Die watergeheue-teorie het aanloklik gelyk. Hoe dit ookal sy, niemand anders kon die eksperiment herhaal nie.
    Hoekom is dit belangrik in hierdie debat? Eenvoudig omdat wetenskap wetenskaplik verklaar moet word. Dinge soos goëlery moet maar buite die deur bly. Wat myself betref, ek het gaan Vax. Miskien is dit hoekom ek nou hier sit en bog verkoop.

  • Tiaan Jordaan

    Elsabé, meeste mense onder 55 herstel wel van Covid-19 sonder ernstige mediese intervensie. Het jy statistieke wat bewys dat meer as 3% van mense onder 55 so iets nodig het? Miskien kan jy duideliker wees oor wat jy bedoel met 'intervensie'?
    Die sterftesyfer van Covid-19 vir mense onder 55 is laer as 2%. M.a.w. hulle oorleef Covid sonder 'n enstof, maar hulle gebruik waarskynlik normale vorms van medikasie. Hierdie statistieke is vrylik beskikbaar op blaaie waar die doodsyfers per ouderdomsgroepe gelys word.
    Kom ons vergelyk appels met appels, d.w.s. noodentsof met noodentstof. Wat het gebeur met die H1N1-virus (varkgriep) se enstof wat dringend ontwikkel is? Dit het ook dringende noodgoedkeuring ontvang, maar wat was die gevolge?
    Dit lyk ook asof die Covid-19-enstowwe se newe-effeke redelik hoog is teenoor bv. griepenstowwe as mens na die data kyk op die VAERS-blad (die EU se blad vir enststof- negatiewe reaksies).
    Die rede hoekom die nuwe enstowwe noodgoedkeuring moes kry is omdat hulle eksperimenteel is a.g.v. hulle kort toetstydperke (anders sou noodgoedkeuring in die eerste plek nie nodig gewees het nie).
    Dit is nog te vroeg om met sekerheid te weet hoe veilig die nuwe entstowwe is. Soos ek genoem het, in die normale verloop van kliniese proewe word die proewe soms (nou en dan) gestaak in van die groepe wat in die latere fases deelneem, 4 of 5 jaar na die proewe begin het (die normale volle toetstydperk is 7 tot 8 jaar). Ek praat uit ondervinding en het dit self ondervind aangesien ek deelgeneem het in van die latere fases van sulke kliniese proewe. Mense moet dit net alles in gedagte hou.

  • Sjoe, Elsabé. "Ons is nou maar eenmaal steeds vasgevang in die liefde vir die argetipiese figuur van gesag, die pater. Die doktor, professor, dominee en skoolhoof – veral dié wat mans is". Regtig? Dit klink vreeslik woke. Ek sien geen relevansie daar nie, jy het ook nie statistieke om sulke stellings te ondersteun nie. Trek daai onderrokkie wat so uithang bietjie op vir meer geloofwaardigheid. Maar verder steun ek jou skrywe, baie dankie, sulkes is broodnodig.

  • Elsabé Brits, baie dankie vir jou relevante en diepsinnige navorsing en die merkwaardige en verstaanbare wyse waarop jy dit uiteengesit het.
    BAIE DANKIE!

  • Elke liewe entstof wat beskikbaar is, insluitend dié teen COVID-19, het deur kliniese toetsing, registrasie en lisensiëring gegaan. Van alle mediese produkte en prosedures word entstowwe aan die strengste toetsing, monitering en regulasies onderwerp

  • Alet Oosthuizen

    Hoeveel proteine word deur 'n sel in jou liggaam gemaak en hou die sel later op om proteïene te vervaardig of hou dit op ... ek en my man het 'n hewige argument hieroor. Hy sê dat jou selle hou aan proteïene maak wat jou later kan baie siek maak. Help asb en antwoord die vraag vir my asseblief.

  • Mariq Swanepoel

    Dankie vir die verduideliking. Dit stel mens gerus, juis omdat nie almal opgelei is in Biochemie nie. Ek glo almal moet die vaccine kry.

  • Ek raai niemand af om die inenting te neem nie en ek raai ook niemand aan nie; dis elkeen se besluit. Van my familie en vriende is omtrent die helfte al ingeënt en van die ander helfte weier party volstrek.
    Wat my pla is die kwantifisering van risiko. Op die 'Praatsaam'-program vanoggend sê een van die deskundiges dat daar wel 'baie slegte' newe-effekte is maar die is nalaatbaar klein, slegs een uit ek weet nie hoeveel inentings nie.
    In projekbestuur word risiko gekwantifiseer in geldwaarde; die produk van die waarskynlikheid dat iets kan gebeur (P) en die negatiewe finansiële impak. Byvoorbeeld dat, gedurende die konstruksiefase, 'n meteoriet so groot soos 'n klavier die bouterrein gaan tref (P=0,000000001, sê) en die koste-impak is die totale koste van die gebou en al die masjinerie op terrein, sê R100miljoen. Dus die risiko is R0,000000001x100000000 =R0,1, maw 10 sent, dus nalaatbaar klein en kan ignoreer word.
    Wat is die risiko as een van die 'baie negatiewe' newe-effekte jou tref? Al is P baie klein, watter geldwaarde heg jy aan jou lewe? Onberekenbaar sou ek sê. Benewens die verlies van 'n lewe, wat is die finansiële impak van 'n broodwinner of werkgewer wat wegval?
    En watter geldwaarde kan mens heg aan die sielkundige aspek van die storie, die smart, lyding en verlange?
    Buitendien, as die persentasie 'erge negatiewe effekte' so klein is as wat beweer word, waarom word enstofvervaardigers gevrywaar teen eise (want dis dan so skaars)?

  • Ek is 69 jaar oud en het porfirie, is reeds ingeënt en het geen reaksie of nagevolge. Ek volg net streng higiëniese leefwyse, veral by my werk, 'n tehuis vir bejaardes en vermy om onnodig tussen baie mense te beweeg.

  • Sylvia Borsatx

    My man en ek (70 en hy 76) het covid gehad. Ons is nou onseker of ons die onenting moet vat.

  • Na hierdie artikel, sou ek sê ons moet dit beslis almal kry, selfs al het jy reeds Covid gehad. Dit maak net sin, omdat daar verskeie variante van die gogga is.

  • ‘n Frustreerde BSc Student

    In die wetenskap werk ons ook met daardie einste ‘p-waarde’. Ek dink dit is duidelik dat geen waarde aan enige lewe geheg kan word nie - ek stem saam dat die verlies van 'n broodwinner 'n finansiële implikasie inhou. Wat ek wel wil beklemtoon is dat daardie broodwinner netsowel dan van COVID-19 kon sterf. 'n P-waarde kan sonder 'n rand-waarde gebruik word. Indien die p-waarde onder 'n sekere punt is, is dit baie onwaarskynlik en dus nalaatbaar klein. Ongelukkig lei 'n SARS-CoV-2-infeksie nie net na lewe of die dood nie. Daar is die moontlikheid van leef, maar met permanente longskade. Dus neem die persoon se lewenskwaliteit en moontlik hul lewensverwagting ook af. Dié entstof het nooit voorgegee dat dit waarborg dat 'n persoon nie sal siek word nie. Die hoofdoel is om teen ernstige siekte wat tot hospitalisasie kan lei, te probeer veg. Sodoende word die druk op die gesondheidstelsel verminder. Nés die geliefde van 'n persoon wat weens die inenting sterf pyn en smart sal ervaar, het die geliefdes van bykans 4 miljoen mense deurentyd gely. Dié getal is natuurlik onderskat. Ek dink hierdie joernalis het haar ongelooflik goed van haar taak gekwyt. 👏🏻

  • Schalk von Solms

    "The For Gotten Battle" On Netflix (+- 23:14) "I have learned something, Dutchman. If the lie is big enough ... and you tell it often enough, THEN PEOPLE START TO BELIEVE IT"

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top