Jy is ’n belangrike deel van die nuwe wapenwedloop

  • 1

Foto links: Andrew West, Pixabay. Foto regs: Verskaf op versoek.

...
As jy bereid is om die waarheid en hoop te help versprei, gaan jou bydrae net so waardevol wees soos dié van wetenskaplikes wat elke aantal maande ’n nuwe entstof gaan vervaardig.
...

Daar is ’n nuwe wapenwedloop aan die gang. Vergeet van die Koue Oorlog; ons baklei tans ’n kouekettingoorlog.

Jy kan help.

  • Die COVID-19-virus muteer die hele tyd, wat nuwer en beter vaksiene vra.
  • Die leuens op die antivaksers se fone muteer ook die hele tyd, wat nuwe en beter maniere vra om feite en data te verduidelik.

As jy bereid is om die waarheid en hoop te help versprei, gaan jou bydrae net so waardevol wees soos dié van wetenskaplikes wat elke aantal maande ’n nuwe entstof gaan vervaardig.

Die geveg teen die virus vind plaas in laboratoriums en klinieke, een spuitnaald op ’n slag. Die vyand verander egter voortdurend; talle mutasies per dag word ingespan om entstowwe te probeer uitoorlê.

Die Koue Oorlog se mantra was “Groter, Vinniger, Verder”. Die kouekettingoorlog se mantra is “Gereeld, Gereeld, Gereeld”. Die virus muteer gereeld, baie gereeld. Die uitdaging is om gereeld nuwe entstowwe gereed te hê om gereeld honderde miljoene mense te kan inent.

Ons stry ’n ongelyke stryd

Die virus het nie toestemming of duur toetse nodig om te verander nie; wetenskaplikes moet egter elke verandering in ’n entstof met papierwerk en toetse en omslagtige prosedures verduidelik. Dit is ’n baie ongelyke stryd.

Daar is ’n tweede front waarop ’n dodelike oorlog geveg word. Tydens die Koue Oorlog was die “vyand” insurgente wat in kommunistiese lande opgelei is. Nou, in die kouekettingoorlog, is COVID-19 se dodelikste meelopers jou niggie, maatjie of daardie oom wat, gewapen met hul selfone, disinformasie klakkeloos aan ander stuur.

Die COVID-19-meelopers se selfone is gewapen met vrees, daarom glo mense hul leuens. Wetenskaplikes se wapens is data, wat soms só moeilik is om te interpreteer dat almal sukkel om dit te verstaan. Die geveg teen disinformasie is dus ook baie ongelyk. Tog is daar hoop.

...
Die COVID-19-meelopers se selfone is gewapen met vrees, daarom glo mense hul leuens.
...
Lees ook:

Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide | LitNet | PEN Afrikaans

Die AstraZeneca-gemors het dalk ’n baie goeie einde

Die Astra-Zeneca-debakel was sekerlik een van die regering se swakste skuiwe nog; tog kan die vreemde besluit dalk juis help om die disinformasie teen inentings, of vaksiene, te help beveg.

As ons nugter kyk na wat ons kan uit die AstraZeneca-fiasko kan leer, is hier is ’n aantal punte om ter harte te neem:

  1. Die vaksiene word getoets. Daardie bewerings dat entstowwe nooit op mense getoets is nie, is ten beste hier weerlê. Dit is ómdat ons data het dat ons regering besluite kan neem – al was daardie besluit waarskynlik nie reg nie.
  2. COVID-19 is gevaarliker as wat ons dink. AstraZeneca word steeds op ’n enorme skaal in ander lander gebruik, want dit is effektief en redelik goedkoop. In die Verenigde Koninkryk, waar daar ook reeds ’n nuwe variant is, bly AstraZeneca 89% effektief om mense teen infeksie te beskerm. Die Suid-Afrikaanse variant het dit egter reggekry om mense te infekteer en ’n ligte siekte te gee, al het hulle AstraZeneca gekry.
  3. Entstowwe, ook AstraZeneca, voorkom skynbaar wel ’n erge siekte – ook in die geval van die nuwe variant. Talle Suid-Afrikaanse wetenskaplikes pleit steeds dat AstraZeneca sou gou moontlik aan enige persone gegee moet word wat in die hoërisiko-kategorie val: Ouer mense, diegene wat erg oorgewig is en almal wat sukkel om hulle diabetes te beheer, moet sou gou as moontlik ’n entstof kry. Hoekom? Enige vaksiene bevat ’n klein deeltjie van die virus – ’n weergawe wat nie infeksie kan veroorsaak nie. Daardie deeltjie is egter genoeg om die liggaam se immuunrespons te stimuleer. Sou die persoon dan ’n tweede infeksie kry, weet die liggaam reeds hoe om teen die virus te veg. Iemand wat ingeënt is, kan dus weer ’n infeksie kry van die ander variante, maar hulle sal nie ernstig siek word of in die hospitaal beland nie. Lees meer op Ground Up
  4. Al die data is deksels moeilik om te interpreteer. Ook vir dokters en staatspresidente. Daarom moet ons vrees met eenvoudige, maar korrekte boodskappe beveg.
  5. Daar is ander entstowwe wat beter resultate getoon het. Suid-Afrika gaan baie binnekort begin om mense in te ent met die Johnson & Johnson-entstof, wat veel beter gevaar het teen ons variant in die kliniese toetse. Pfizer s’n, ’n RNS-entstof, is ook op pad en gaan in Suid-Afrika uitgerol word. Pfizer word nou al in 50 lande gebruik.

Be her antibody!

Die belangrikste punt om te maak: Vaksiene word streng getoets, en ons regering luister na die data. In hierdie geval was die regering dalk oorhaastig, maar jy kan die selfoonbrigade se vreesbewind help beveg deur hierdie inligting te deel: Vaksiene word streng getoets.

AstraZeneca wys ook die stryd gaan nie gou oor wees nie

Die wapenwedloop gaan ongelukkig nog lank met ons wees.

Aan die begin van 2020 het almal gedink dat ons COVID-19 een keer moet kry, dan is jy immuun daarteen. Toe begin talle mense ’n tweede keer positief toets. Hoekom? Anders as met die MIV, muteer COVID-19 baie vinnig. Die liggaam bou dus antiliggaampies op teen een variant van die virus, dan kom ’n volgende variant wat jou weer kan infekteer.

Die meem het kort na die regering se aankondiging oor AstraZeneca op die internet verskyn.

AstraZeneca werk dus uitstekend teen die eerste variant wat die wêreld so vinnig geïnfekteer het, maar nie teen Suid-Afrika se mutasie nie. Enige inenting is dus slegs teen sekere variante wat dit probeer bekamp, effektief.

...
Dieselfde gaan gebeur as jy die virus by iemand anders kry. Jy gaan immuun wees teen daardie variant, maar nie teen die nuwer variante nie.
...

Dieselfde gaan gebeur as jy die virus by iemand anders kry. Jy gaan immuun wees teen daardie variant, maar nie teen die nuwer variante nie. Die inenting sal jou egter nie dodelik siek maak nie; as jy die virus by iemand anders kry, kán dit jou dodelik siek maak, en doodmaak.

Selfs Pfizer se huidige superwapen sal nie vir altyd effektief bly nie. In laboratoria is daar reeds variante gevind wat Pfizer se entstof kan klop, daarom sal Pfizer hulle vaksiene bywerk. Lees gerus meer hier op die aanlynblad Sciencmag.org.

Die goeie nuus is dat entstofvervaardigers hulle produkte gereeld kan en sál bywerk. Elke nuwe variant wat potensieel gevaarlik kan wees, sal beveg word. Die wapenwedloop is maar nog jonk. Dit sal variant vir variant beveg word.

Net soos ’n griepinenting elke jaar ’n nuwe klomp variante van die talle verskillende virusse beveg, sal COVID-19-inentings ook elke paar maande bygewerk word.

Sê dit vir die selfoonbrigade: Inentings sal aanhou verander om die nuwe variante effektief teen te werk.

...
Net soos ’n griepinenting elke jaar ’n nuwe klomp variante van die talle verskillende virusse beveg, sal COVID-19-inentings ook elke paar maande bygewerk word.
...
Die grootkanonne kyk na panvirusentstowwe

In enige wêreldoorlog word alliansies gevorm. Dit gaan ook gebeur in die stryd teen COVID-19.

Bill Gates, en ander, het miljarde geskenk om wetenskaplikes te befonds om kennis te deel. Tans is duisende klein maatskappye besig om patente aan te koop sodat hulle COVID-19 kan help beveg met die vaksiene wat hulle vervaardig.

Aangesien honderde miljoene mense jaarliks inentings teen ’n groot aantal virusse sal moet ontvang, begin vervaardigers reeds panvirusentstowwe oorweeg. Wat beteken dit? Maklik. Ons sal binnekort ons griepinentings kry en daarmee saam ook die nuutste dekking teen COVID-19.

Griepvirusse muteer ook baie gereeld en van die variante maak mense ernstig siek – talle mense gaan jaarliks dood weens griep. Elke jaar word nuwe griepentstowwe beskikbaar gestel wat jou liggaam teen die gevaarlikste griepvariante leer baklei. Die behandeling van COVID-19 sal binnekort deel word van hierdie pakket.

Waarom is dit goeie nuus? Dit gaan oor bekostigbaarheid. Tans word astronomiese bedrae spandeer aan die ontwikkeling van entstowwe om COVID-19 teen te werk en dan word slegs COVID-19 daarmee behandel. Panvirusentstowwe gaan die prys afbring, en dit gaan ook beteken dat daar regoor die wêreld bestaande instansies sal wees wat hierdie entstowwe sal toedien saam met al die ander entstowwe wat reeds daar toegedien word.

...
Wanneer die plaaslike pastoor, die ouderling en die tannie wat pannekoek bak vir die basaar entstowwe begin gebruik, sal die bang mense gou sien dat hulle belieg is.
...
Jou foto kan lewens red, maak soos Marion

Marion Erskine se foto sal lewens help red in hierdie ongelyke wapenwedloop. Joune sal ook.

Soos meer mense openlik entstowwe gebruik, sal die stigma en die leuens rondom die gebruik daarvan ook afneem.

Tans is daar talle gelowiges wat bang is vir 666 in entstowwe. Dis ’n vrees wat spruit uit onkunde en ons gaan hulle nie met feite kan verkeerd bewys nie, want hulle wil nie feite hoor nie. Wanneer die plaaslike pastoor, die ouderling en die tannie wat pannekoek bak vir die basaar entstowwe begin gebruik, sal die bang mense gou sien dat hulle belieg is.

Wat kan ons, gewone mense, doen om te help? Kry die inenting en plak dit oral op die internet. Stuur die kiekie aan al jou vriende. Maak seker dis op Facebook, Twitter, Reddit, Instagram, jou status; stuur dit aan met WhatsApp, maak dit jou storie en gooi dit sommer op Bumble en Grinder en Tinder ook. Ons moet die antivaksers wys hulle is belieg.

Marion Erskine het oneindig baie beteken vir die waarheid toe hy foto’s van homself gedeel het waar hy die inenting kry in die Emirate. Ons moet dit ook doen. Gewone, alledaagse mense kan só help om die wapenwedloop in ons guns te swaai.

Dink net as Alta Cloete, Chanette Paul, Elsa Winckler, Deon Meyer en Rudi van Rensburg foto’s van hulleself plaas, soos Marion.

Dink net as al 10 000 lede van Marion se Lekkerleesboekrak elkeen die goeie boodskap help versprei aan 100 mense ... So bereik ons een miljoen mense met die waarheid dat vaksiene ons beste kans is om terug te keer na ’n wêreld sonder maskers, waar ons mekaar weer kan drukkies gee, waar boekbekendstellings weer sal kan plaasvind.

So help gewone mense, soos ek en jy, in die wapenwedloop teen die infodemie.

Lees ook:

Waarom ’n entstof jou lewe kan red, maar nie jou DNS kan verander nie

Die dobbelspel van die antivaksers

Daar is goeie nuus vir ons almal, ook vir diegene wat om ideologiese redes nie ’n entstof wil gebruik nie: Jy gaan die virus kry. Dalk het jy dit al gehad.

Studies op Suid-Afrikaanse bloedskenkers toon ’n geweldig hoë aantal gesonde mense wat antiliggame in hulle bloed het; dit beteken hulle het al die virus opgetel, hoewel die meeste nie bewus was daarvan nie. Lees meer oor die voorlopige bevindinge hier.

Francois Venter, ’n infeksiesiektespesialis, noem dit die dobbelspel: Kry die veilige vaksiene wat vir jou antiliggame gaan gee sonder om jou siek te maak, of wag tot jy Covid by ’n vriend kry. Gesonde jongmense behoort heeltemal oukei te wees as hulle die virus van vriende kry, maar ’n klein aantal antivaksers sal ernstig siek word of doodgaan; dit is dan hulle goeie reg. Sy Zoom-gesprek met Dennis Davis is die moeite werd om te luister.

Gelukkig is ons liggame geweldig slim. Daar is elke liewe dag ’n wapenwedloop aan die gang binne-in ons. ’n Mens noem dit evolusie.

Die feit dat jy hier lees, beteken al jou voorouers se liggame het lank genoeg ’n wapenwedloop suksesvol gehandhaaf om minstens een keer seks te hê.

Wat beteken ons liggame se vermoë om ’n wapenwedloop te handhaaf?

  • Die gereelde gebruik van vaksiene sal jou liggaam help voorberei om die ernstigste variante van COVID-19 te beveg sonder om ernstig siek te word.
  • As jy ’n antivakser is, gaan jy Covid kry. Dalk gaan jy siek word, dalk nie. As jy dit eers gehad het, is jy net ten dele immuun en wanneer daar ’n nuwe variant is, sal jy weer Covid kry sonder om noodwendig ernstig siek word.

Kan julle sien hoe na aan mekaar dié twee is?

Hoekom dan die vaksiene neem? Want dit verminder jou kanse om ernstig siek te word.

Dit is hoekom mediese dokters vra dat die AstraZeneca-entstof, wat nou kwansuis onder verdenking is, sou gou moontlik wel aan mense in die hoërisiko-groepe gegee word. Hulle sal wel later nog inentings kry. As ’n ouer persoon met diabetes die AstraZeneca-entstof kry, sal dit hul eie liggame se wapenwedloop help. Sonder die inenting kan so ’n persoon sterf weens Covid se eerste, of daaropvolgende variante. Met AstraZeneca aan boord, sal daardie persoon heel waarskynlik nie in die hospitaal beland as hulle ’n nuwe variant kry nie.

Is dit beter om nie die vaksiene te neem nie?

Aangesien ons liggame die loopgrawe is waarin die wapenwedloop se metaforiese bomme ontplof, maak dit sin om die voor- en nadele op te weeg.

Gesonde jongmense het waarskynlik nie die COVID-19-vaksiene nodig nie, want hulle liggame sal die aanslag kan hanteer. Hulle kan dus die dobbelsteen gooi, want hulle kans om ernstig siek te word, of te sterf, is skraal. Soos ons ouer word, gaan die virus almal van ons harder tref; ons kanse om ernstig siek te word, of te sterf, is soveel groter.

...
Daar is ’n probleem: Enigiemand wat die virus opdoen deur blootstelling, nie deur inenting nie, kan ander aansteek.
...

Daar is ’n probleem: Enigiemand wat die virus opdoen deur blootstelling, nie deur inenting nie, kan ander aansteek.

Dit is gevaarlik. Jonk en oud kan ander doodmaak deur die virus oor te dra wanneer hulle asimptomatiese draers is.

Nagklubs, waar die musiek hard is en jy op mekaar moet skree, is waar die virus ’n jol het en vinnig versprei. Dit is dus waar jongmense mekaar gaan aansteek. Jou dogter kan gaan dans, die virus kry, geen simptome toon nie, en dan haar ouma doodmaak.

Dit is hoekom Ouma beslis die inenting moet kry. As Ouma ingeënt is, sal haar kleindogter se virus haar waarskynlik olik maak, maar nie doodmaak nie.

Maak seker jou ouer vriende verstaan hoekom hulle ingeënt moet word.

...
As Ouma ingeënt is, sal haar kleindogter se virus haar waarskynlik olik maak, maar nie doodmaak nie.
...
Ivermektien en die wapenwedloop

So daar is hierdie anonieme dude wat vir ons in ’n WhatsApp-boodskap vertel dat ivermektien die “silver bullet” is in die stryd teen COVID-19.

Cute. Behalwe dat COVID-19 nie ’n vampier is nie.

Ivermektien is reeds in Maart 2020 by Wits getoets en te lig bevind. Ivermektien was nie die enigste middel wat getoets is nie; desperate viroloë het na talle ander middels ook gekyk: chlorokien, asitromisien, vitamien D, vitamien C ... die lys is lank.

Toe AfriForum weer wou lawaai maak met hul hofsaak, het SAHPRA die wind uit hul seile geneem deur deernisgebruik goed te keur.

Intussen het almal al “getuienis” gehoor dat mense wat amper dood was, die volgende dag rondloop ná hulle ivermektien gedrink het; maar vra ’n bietjie hoekom daardie gevalle nie wetenskaplik beskryf word nie?

Waarom vertel die komplotters ons nie oor die duisende mense wat gesond word sonder ivermektien nie?

Medisyne het soms onbedoelde gevolge – dink maar aan Pfizer se blou pilletjie, Viagra. Daardie middel is aan mense met hartprobleme gegee gedurende kliniese toetse, soortgelyk aan die kliniese toetse waardeur al ons entstowwe gegaan het. Die omies vertel toe vir die dokters dat daar dele van hulle lywe uit die dood opstaan elke keer as hulle een van daardie pille sluk ...

Pfizer verdien miljarde danksy die verkope van Viagra.

Geld praat hard.

Waarom op aarde sal die uitvoerende hoofde van groot maatskappye nie moeite doen om hulle produk te verkoop vir gebruik teen COVID-19 nie? Hulle kan miljarde maak as ivermektien wel effektief gebruik sou kon word in die stryd teen COVID-19. Hoekom is hulle nie besig met hofsake teen regerings nie?

Die rede is dat ivermektien al in talle lande getoets en te lig bevind is.

Moenie vir my glo nie.

Jy gaan dalk nie die komplotters oortuig met feite nie, maar ten minste kan jy die feite help oordra aan diegene wat wel belangstel om te help in die wapenwedloop teen die infodemie.

...
Steroïede, ivermektien, asitromisien, chlorokien, vitamien D, vitamien C – alles wat moontlik kon help – is toe getoets. Steroïede werk.
...

Lees ook:

Ivermektien, entstowwe en die wetenskap – ’n veearts verduidelik

Steroïede: Behandelingsriglyne word gereeld bygewerk

Aan die begin van die pandemie was hoë dosisse steroïede nie deel van ’n mediese dokter se behandelingsriglyne teen Covid nie.

Steroïede, ivermektien, asitromisien, chlorokien, vitamien D, vitamien C – alles wat moontlik kon help – is toe getoets.

Steroïede werk. Dit is bewys.

Steroïede word toe deel van dokters se behandelingsriglyne.

Aan die begin van die pandemie het dokters nie baie siek mense op hulle mae laat lê nie. Toetse is egter gedoen en vandag is “proning” (maaglê, buiklê) ’n belangrike deel van die geveg teen die virus, want dit is in die behandelingsriglyne.

Daar is tans ’n belowende studie wat jigmedisyne ondersoek om die inflammasie teen te werk wat deur COVID-19 veroorsaak word, maar dit is nog nie op die behandelingsriglyne nie, want dit is nog nie duidelik en deeglik bewys nie.

Gewone mense wat teen die infodemie wil help veg, kan dit aan die komplotters voorhou: Indien ’n middel of metode bewys word as effektief, en veilig, word dit by dokters se behandelingsriglyne gevoeg.

Ivermektien is nie daar nie, want dit is nie bewys nie. Punt. As daar eendag wel goeie bewyse kom, sal dit saam met steroïede en maaglê deel word van die behandelingsriglyne.

...
Gewone mense wat teen die infodemie wil help veg, kan dit aan die komplotters voorhou: Indien ’n middel of metode bewys word as effektief, en veilig, word dit by dokters se behandelingsriglyne gevoeg.
...
Ter opsomming
  • Almal sal COVID-19 (in)kry, meer as een keer in jou lewe. Jy kan die dobbelsteen laat rol en hoop jy sterf nie wanneer jy dit van ’n vriend kry, of jy kan ’n veilige entstof kies.
  • Entstowwe word op duisende mense getoets. Die fiasko met AstraZeneca is ’n bewys daarvan.
  • Johnson & Johnson en Pfizer blyk meer effektief te wees in die voorkoming van nuwe, Suid-Afrikaanse variant. Albei is op pad na Suid-Afrika.
  • COVID-19 is dodelik en dit muteer geweldig vinnig. Enige wapen wat ons op die virus gaan rig, sal met nuwe variante deur die virus bestry word.
  • Die wetenskaplikes weet presies watter variante gevaarlik is en hulle bou nou al entstowwe om daardie variante te keer. Die virus sal daarteen ook weerstand opbou en die wetenskaplikes gaan dan weer nuwe entstowwe ontwikkel.
  • Die toekoms van effektiewe entstowwe lê in die vervaardiging en verspreiding van panvirusentstowwe.
  • Geld praat. Talle kleiner maatskappye koop tans patente om lande soos Suid-Afrika gereeld van entstowwe te voorsien.
  • Ons gaan van nou af gereeld inentings moet kry om te keer dat ons nie in die hospitaal beland weens die virus nie.
  • Indien ivermektien eendag deur genoeg medici as veilig en doeltreffend bewys word, sal dit vinnig by die behandelingslyste gevoeg word om deel te neem aan die wapenwedloop. Dit is nog nie.
  • Jou foon kan hoop en feite versprei, of disinformasie en vrees. Kies.
Lees ook:

COVID-19: Verdraaide feite wat so vinnig soos ’n virus versprei

COVID-19: Die jongste | The latest

Daai was ’n missed opportunity, Uncle Cyril

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top