Wat gebeur wanneer ons ’n entstof kry?

  • 29

Die mens se immuunstelsel is wonderlik.

Die goed wat gebeur wanneer ’n virus ons selle probeer kaap, klink soos iets uit ’n Hollywood-film; daar is tot geheime agente wat soos 007 opgelei word. Moet ook nie die rol van die bibliotekaris vergeet nie!

Ons weet dat entstowwe ons immuunstelsel aktiveer. Maar wat beteken dit?

1 Die entstofproefkonyn se dagboek en 007

Ek is nou die dag die derde keer ingeënt.

Ek kry my derde inenting in die Universiteit Kaapstad se longinstituut. Die instituut is deel van die navorsing teen COVID-19. (Foto deur een van die mediese dokters.)

Die derde inspuiting was ’n toets. Die navorsers wou my so ’n bietjie siek maak. Selfs die dokter wat my ingespuit het, was verbaas oor die dosis.

  • Kyk of jy siek word.
  • Bel ons as jy siek word.
  • Jy gaan dalk siek word.
  • Hier is parasetamol vir die pyn.

Klink dit soos die army?

Die dokters wou uitvind of my lyf se biblioteekdienste nog hulle werk sal doen, ses maande ná my vorige inenting, want sonder ’n goeie biblioteekdiens sou Ian Fleming se Q nie my 007’s vinnig genoeg kon aktiveer nie.

Elke entstof bevat ’n verswakte deel van die virus.

Om die liggaam se respons te verstaan, is dit egter nodig om die ware virus se werkswyse te verstaan.

“007, licence to heal!” Die werking van ons immuunstelsel klink soos ’n storieboek. Daar is buurtwagte, doderselle, spesiale magte en uitstekende biblioteekpersoneel betrokke by die opspoor en uitwis van ’n virus.

2 Ons werk met ’n gedugte vyand

SARS-CoV-2, wat COVID-19 veroorsaak, glip oor die grens van buite ons liggaam na binne, soos ’n wafferse terroris.

Die aanvalsmag skuil in spoegdruppeltjies. Wanneer geïnfekteerde mense praat sonder ’n masker, val daar orals insurgente. Ons moet net naby genoeg wees om ’n spoegdruppeltjie op ons oë, in ons mond, of in ons neus te kry, dan kan die oorgrensoperasie begin.

SARS-CoV-2 koppel uiteindelik aan ’n ensiem in jou longe, jou hart, jou lewer en niere. Die inflammasie in die longe kan so erg word dat party mense nie sonder hulp kan asemhaal nie, dit is hoekom sommige pasiënte doodgaan van COVID-19 – hulle versmoor.

Willem Steenkamp vertel in sy boek Die Suid-Afrikaanse Grensoorlog 1966–1989 dat die bevestigde dodetal in die oorlog op die Angolese grens teen 1 November 1988 die volgende was:

  • 715 soldate van die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte
  • 1 087 burgerlike Suidwesters
  • 11 291 insurgente (ek gebruik met opset Steenkamp se term) en Angolese soldate.

Dit beteken dat Suid-Afrika 715 mense verloor het in ’n stryd wat 22 jaar geduur het; ’n vulletjie teen COVID-19.

Op 25 Mei 201 het Suid-Afrika reeds 55 874 mense verloor weens COVID-19, dit in ’n tydperk van net meer as ’n jaar.

Kyk mooi:

Grensoorlog 1966–1989, 715 dooies uit Suid-Afrika

C0VID-19 1 Maart 2020 – 25 Mei 2021, 55 874 dooies in Suid-Afrika

 

 

COVID-19 verander jou lyf in ’n slagveld.

Vergun my dus ’n stukkie militêre verslaggewing.

Dit begin alles met insurgente.

2.1 Insurgensie (Jy word aangesteek)

Die aanvalseenheid word in spoegdruppels oorgedra.

’n Virus kan nie self voortplant of repliseer nie. Eintlik “leef” virusse glad nie – hulle het mense of diere se selle nodig om te kan vermenigvuldig.

Daarom glip die virus by ons liggame in.

Die meeste van ons het nog nooit kontak gehad met SARS-CoV-2 nie – veral nie voor 2020 nie. Die liggaam besef taamlik gou dat daar ’n insurgent is, maar weet nie wat om te verwag nie en kan dus nie onmiddellik die aanval keer nie.

Die meeste virusse wat ons inkry, word eenvoudig weer uitgeskei, want hulle kan nie menslike selle oopsluit nie, maar COVID-19 is deeglik aangepas om ’n menslike sel binne te dring.

2.2 Sabotasie (infeksie)

Die korona-insurgent sluit ’n menslike sel oop met een van daardie bekende stekels. Nou is die insurgent gereed om ’n saboteur te word.

In die sel kaap die virus die proteïenfabrieke, pas hulle aan, en maak dan kopieë van sigself.

Daarna maak die virus die sel dood, die selwand bars en miljoene weergawes van die virus word in die liggaam losgelaat. Elkeen gaan dan weer probeer om ’n volgende sel te infiltreer. (Nie alle virusse maak die selle dood nie, maar in die geval van COVID-19 gebeur dit wel.)

3 Teenaanvalle

Die liggaam is nou ’n staat van infeksie en loods ’n teenaanval.

Die maniere waarop ons liggame terugbaklei, lees soos ’n storieboek.

Die plaaslike troepe vorm barrikades, die infanterie storm in en die spesialiseenhede word opgelei en bewapen op maniere wat Ian Fleming se Q jaloers sou laat.

3.1 Die spesialiste (limfosiete)

Ons liggame stuur uiteindelik spesialistroepe in om met die virus af te reken, maar enige spesialis het tyd nodig om opgelei en van die korrekte wapens voorsien te word.

Die limfosiete, wat in ons limfkliere gemaak word, is witbloedselle wat spesialiseer in die opspoor en uitwissing van baie spesifieke virusse.

Wanneer die liggaam die eerste keer deur ’n sekere virus aangeval word, is daar gewoon nie genoeg van hierdie spesialiste om die aanval te stuit nie. Daar is ook geen biblioteek waarin gelees kan word wat die liggaam met hierdie blikskottels moet doen nie.

Die liggaam moet dus eers die wapens navors om die witbloedselle mee te bewapen, dan moet daar genoeg van hierdie selle én hulle wapens vervaardig word om die virus mee te beveg.

Dit kan dae vat vir die liggaam om genoeg troepe en wapentuig voor te berei. Intussen moet die ouens op die grond die fort hou.

3.2 Die plaaslike troepe (interferons)

Buurtwagte is soos gewoonlik die eerste respons teen ’n insurgensie. Dan word die polisie ingeroep, en as dit nodig is, die weermag.

Die meeste groot dorpe en stede het iewers ’n buurtwag en/of ’n groep mense wat op kort kennisgewing gemobiliseer kan word. Dié ouens moet baie vinnig kan inspring wanneer daar ’n krisis is. Hulle hoef nog nie altyd goed opgelei te wees nie – solank hulle padblokkades kan opstel of sandsakke kan dra, is hulle waardevol om dinge te kalmeer wanneer niemand mooi weet wat aangaan nie.

Die liggaam gebruik ook die buurtwag.

Sodra ’n sel infeksie ervaar, stuur dit dadelik seine na die nabygeleë selle.

Skermgreep.

Dink aan die WhatsApp-groep wat nou so algemeen in ons woonbuurte is: Inbreker! Pasop.

Nou is die alarm gemaak. Die lede van buurtwag word wakker, gryp hulle honde en druk handwapens in die broekrek.

Skermgreep.

Die geïnfekteerde sel stuur dan nog waarskuwings aan die omringende selle wat selfs ’n kode van die tipe virus insluit. Dink aan die WhatsApp-groep: Hier is ’n foto van die ou wat by ons ingebreek het, van my sekuriteitskamera getrek.

Ditto met ons liggame. Die vyand kom egter nie een-een nie, maar in miljoene; gelukkig lyk daardie miljoene insurgente byna almal soos die ou op die foto.

Die liggaam se buurtwaglede word die interferons genoem.

Die interferons waarsku die omliggende selle, wat dan antivirale proteïne produseer.

Die antivirale proteïene in die omringende selle beteken die insurgent kan nie gewoon oor die muur spring en langsaan ook moeilikheid maak nie.

’n Boerboel, of ’n stewige oom met ’n .38 Special, sal ’n opportunistiese inbreker laat verbyhou om liewer by ’n buurhuis in te hardloop, maar sal nie ’n opgeleide insurgent keer nie. Ditto met die interferons. Hulle werk is om die verspreiding te vertraag, om met honde en bakkies padblokkades op te stel om die aanvalsmag se spoed te breek.

3.3 Die infanterie daag op (natuurlike doderselle)

Nou daag die brekers op.

Die natuurlike doderselle is die ouens wat skiet tot hulle koeëls op is. Hulle het net ’n teiken nodig. Hulle vra nie vrae nie. Hulle opdrag is eenvoudig: Maak dood.

Die liggaam se natuurlike doderselle weet hoe om ’n sel te identifiseer wat moontlik geïnfekteer is, dan word die hele sel vernietig.

Hierdie ouens is brutaal en kan nie altyd onderskei nie, dus is dit nie ongewoon dat gesonde selle ook in die slag bly nie.

3.4 Die spesialiste word ontplooi (T-limfosiete en teenliggaampies)

Ná ’n infestasie bespeur en bestudeer is, word twee tipes spesialisselle deur die liggaam voorberei.

3.4.1 Die ouditeure (sitotoksiese T-limfosiete)

Elke sel in ons liggame vervaardig voortdurend nuwe proteïene, en lewer ook voortdurend verslag deur voorbeelde van daardie proteïne na die oppervlak te stuur.

Op elke oomblik van ons lewens is daar selle wat hierdie voorbeelde op die seloppervlakke oudit. Dit is nodig, want ’n sel wat die verkeerde soort proteïen maak, kan byvoorbeeld kanker veroorsaak. Die ouditeure werk dus dag en nag.

Gekaapte selle wat deur ’n virus ingedring is, plaas ook getrou voorbeelde van die gesaboteerde proteïen op hul oppervlakke. Wanneer ’n virale infeksie bespeur word, lei die limfkliere spesialisouditeure op. Hulle word sitotoksiese T-limfosiete genoem. Hulle gaan soek op die seloppervlakke na tekens dat selle die insurgente se proteïene vervaardig. Wanneer so ’n sel raakgesien word, gee die T-limfosiet opdrag dat alle vervaardiging gestaak word. Die sel pleeg in effek selfdood, en vernietig daarmee saam die fabriek wat die virus kan repliseer.

3.4.2 Die James Bonds (B-limfosiete gewapen met teenliggaampies)

Die finale aanslag op die virus word deur die superspesialiste gepleeg.

Die B-limfosiete kom met gespesialiseerde wapens, teenliggaampies wat presies gemaak is om hierdie virus te neutraliseer. Dit is Q se droomwapens.

Dié teenliggaampies is geprogrammeer om die viruspartikels in die bloed en in ander liggaamsvog te herken. Die oomblik wanneer een van die teikens geïdentifiseer word, heg die teenliggaampie sigself aan die virus en maak dit sodoende onmoontlik vir die virus om ’n sel binne te dring.

In die geval van SARS-CoV-2, die koronavirus wat COVID-19 veroorsaak, heg die teenliggaampies hulleself aan die stekels; dit verander virus in ’n nuttelose proteïen.

3.4.3 Die B-limfosiete is ook die biblioteekdiens

Die liggaam hou aan teenliggaampies vervaardig lank ná die virus oorwin is, maar uiteindelik is dit gewoon te duur om daarmee aan te hou. Produksie word al hoe minder, en uiteindelik word dit gestaak.

Die liggaam maak egter gereeld nuwe B-limfosiete wat die bloudruk van die virus onthou. Vir elke nuwe virus wat die liggaam binnedring, is daar dus ’n aantal spesialisbibliotekarisse, wat gereeld vervang word, sodat hulle dadelik weer met die produksie van teenliggaampies kan begin, sou dieselfde virus weer die liggaam binneval.

4 Simptome: Pyn, koors en moegheid

Geen oorlog is sonder pyn nie. Geen slagveld bly ongeskonde nie. Wanneer die liggaam se immuunrespons inskop, ervaar ons dikwels inflammasie, wat gepaard gaan met pyn en koors.

Die entstofproefkonyne moes baie gereeld dagboek hou oor ons liggaamstemperatuur.

4.1 Koors

Koors is gewoonlik die eerste teken van ’n infeksie.

Koors het drie gevolge:

  • Dit maak die wêreld warm vir virusse wat aangepas is om optimaal te repliseer by ons normale liggaamstemperatuur.
  • Koors is ook ’n deel van die waarskuwingstelsel. Dit is soos ’n alarm wat afgaan en almal in die buurt wakker maak sodat die buurtwag kan begin patrolleer.
  • Koors veroorsaak ook verhoogde bloedvloei en vergemaklik die wit bloedselle se vermoë om deur selwande te dring.

Waarom kry ons dan kouekoors tydens ’n erge virusinfeksie? Kouekoors is gewoon die liggaam se manier om die hipotalamus te vra om nóg meer hitte te verskaf. Kouekoors beteken nie jy is koud nie. Juis die teendeel.

4.2 Pyn

Waarom ervaar ons pyn tydens ’n virusinfeksie? Dink aan foto’s van die Dellville-bos ná die slag verby was. Daardie bos is platgeskiet.

Die immuunstelsel se aanvalle op selle veroorsaak ook trauma.

4.3 Moegheid

Om oorlog te maak is duur. Hoe groter die gevaar, hoe meer hulpbronne gebruik die liggaam. Dit verg energie om al daardie interferons, moordselle en limfosiete te maak. Elke sel wat vernietig word, moet ook vervang word.

Dit is nie die virus wat koors, pyn en moegheid veroorsaak nie. Dít is die skuld van ons immuunstelsels wat met alle mag oorlog maak.

Ek word getoets. Hierdie gruwelike neustoetse soek óf vir die virus se proteïen (die antigeentoets), óf vir die virus se RNS (die polimerasekettingreaksietoets). Dit is waarskynlik die lelikste selfie wat ek nog geneem het.

 5 Wat is die beste? Die entstof of volle virus?

Wat het al hierdie oorlogspraatjies met die entstowwe te doen? En waarom laat die entstof jou soms ellendig voel?

Die entstof is niks anders nie as ’n Trojaanse perd wat ’n deel van die virus in jou liggaam loslaat.

In Januarie 2020 het die Chinese regering COVID-19 se volle genoom gepubliseer.

Wetenskaplikes het toe die daardie stekel, wat die selle oopsluit, geneem en dit ingebou in verkillende entstowwe. Die gevaarlikste deel van die virus, wat jou longe kan seermaak, is egter nie ingebou nie.

Die entstof help die liggaam om spesialisselle te vervaardig sonder om deur al die stappe te gaan wat ek hier bo noem.

Sou jy COVID-19 kry van iemand anders, sal dit ’n sterk weergawe van die virus wees, want net die sterkste virusse kan oorleef en versprei.

Jy is nou volgende.

Iemand wat nie die entstof gekry het nie, se lyf moet deur die hele proses gaan wat ek hier bo beskryf.

As jy reeds die entstof gekry het, sal jou liggaam dadelik die stekels herken en die produksie van teenliggaampies sal vinnig kan gebeur. Die teenliggame sal aan die stekels gaan kleef en die virus sal nie jou selle kan kaap nie.

In jonger mense is ’n infeksie van die volle virus minder problematies, want jonger mense se interferons en natuurlike doderselle is skynbaar vinnig en goed genoeg om die infeksie te kan beheer. Jongmense se liggame sal steeds die B-limfosiete, gewapen met al die nodige teenliggaampies, vervaardig en vir die res van hulle lewens gaan die spesialisbibliotekarisse (die B-limfosiete) die nodige bloudruk met hulle saamdra om teen COVID-19 in hulle liggame op te tree.

In ouer mense help dit om die verswakte virus in te kry met ’n entstof, want dan weet die liggaam reeds wat om te doen wanneer die ware virus jou lyf binnedring.

Duisende mense reg deur die wêreld het deelgeneem aan toetse om seker te maak die entstowwe is veilig, ook dat die liggaam se immuunstelsel wel daarop sal reageer soos dit beplan is. Een van die verpleegsusters in die Universiteit Kaapstad se longinstituut maak hier aantekeninge in my lêer. Ek het volle toestemming vir die plaas van die foto’s, maar personeel het verkies om nie hulle name te publiseer nie.

6 Die effektiwiteit van die inentings na ’n tydperk

Aangesien die teenliggaampies wat teen COVID-19 gemaak word, na ’n tyd nie meer te bespeur is in ’n mens bloed nie, het dokters gewonder hoe lank die liggaam se immuunrespons sal hou.

Dit is een van die redes waarom die navorsingspan my weer so ’n groot derde dosis gegee het. Hulle wou sien of my liggaam genoeg spesialisselle het om dadelik teen die nuwe dosis van die verswakte virus op te tree.

Die antwoord is toe ja.

Ek het geen newe-effek gehad nie en het die oggend ná die groot dosis 10 km gehardloop sonder enige probleme.

7 Maar wat van variante?

Ander variante van die virus veroorsaak steeds steeds COVID-19. Dit mag die liggaam ’n tydjie langer neem om nuwe variante van die virus te herken, maar ons immuunstelsel sal genoeg inligting in die biblioteek hê om vinnig teenliggaampies te vervaardig wat aan die stekels kan bind.

AstraZeneca, waarmee ek ingeënt is, skyn minder effektief te wees teen herinfeksies, maar diegene wat ’n nuwe variant opdoen, word nie ernstig siek nie. Daarom gebruik baie lande in Europa steeds AstraZeneca.

Ons regering het op Johnson & Johnson en Pfizer besluit. Albei bied baie goeie weerstand teen die nuwe variante, maar die meeste van ons sal iewers in ons lewens weer ’n Covid-infeksie kry. Dit is wanneer die spesialisbibliotekarisse hulle werk gaan doen. Enige nuwe infeksie sal die plaaslike buurtwag en die natuurlike doderselle aktiveer, maar die liggaam sal ook baie vinnig teenliggame ontplooi, want die bloudruk bestaan.

Bronne:
Lees ook:

Waarom ’n entstof jou lewe kan red, maar nie jou DNS kan verander nie

Die etiek van inentings en toetsing: Izak de Vries as proefkonyn

Oxford se breins, ’n siek sjimpansee en my linkerarm: Ons gaan COVID-19 dôner

Jy is ’n belangrike deel van die nuwe wapenwedloop

COVID-19: Jeremy Nel on vaccines, returning to normal and ivermectin

  • 29

Kommentaar

  • Wow! Dit was nou 'n insiggewende, opvoedkundig-slim en humoristiese artikel.
    Dankie, Izak - ek gaan my inenting met moed tegemoet.

  • Mara Baumgartner

    Dit is so verfrissend. Ek het albei my inentings gekry en voel perdfris. Geen newe-effekte. Ek het op die Chinese Sinopharm besluit omdat die wagperiode na die eerste inenting slegs 28 dae duur. Ek is op 'n missie om my landsgenote te inspireer om die inenting te neem. 👋

  • Dis baie intresant. Ek sal net graag wil weet of die, inenting vir my goed sal wees, ek het Lupus SLE en my immuunstelsel word met chemo afgebreek. Ek drink 32 pille per dag. Maar ek het 'n kroniese verhoogde witseltelling. Wat dalk nou goed is in die geval? Ek het nie meer 'n milt en skildklier nie. Sal graag wil hoor wat is jou mening.

  • Johanna von abo

    Ek is 65 jaar en bly onseker oor wat moet ek doen, moet ek gaan vir die inenting of nie? Daar word so baie dinge gepraat op media, seker ook maar bietjie bang gaan dit my siek maak? Of nie? Ek is gewoond om jaarliks vir my gewone verkouespuit te gaan.

  • Johanna.
    Die jaarlikse inspuiting wat jy kry werk op presies dieselfde beginsel as die Covid-inspuiting.

  • Sophiyette Venter

    Pragtige leesstof, dankie vir die impak wat jy maak. Ek is ook n proefkonyn, maar vir die J&J entstof. Beslis 'n voorreg om steeds deel te wees van die studiegroep. Mag jou pragtige vertelling help om menigtes te oortuig dit is die regte ding om te doen!

  • Juis nie. Ek het dit reeds drie keer gekry. Nommers 2 en 3 het niks gedoen nie, want my liggaam was voorberei.

  • Wilhelm,
    Wanneer die lus vir winterbiltongtyd jou beetkry, sal jy in elkgeval 'n jab moet kry.
    Wat is 'n beter tyd hier as in die winter?
    Jou NZ sal jou nie 'n terugkeer gun sonder die jab nie!

  • Wilhelm, en wanneer die wêreld ingeënt is, sal Adern verplig wees om jou te dwing om jou jab te vat. Eintlik is julle ingehok. Waar's jou vryheid nou?

  • Suzette Fouché

    My 73-jarige man wat 10 jaar gelede 'n hartoperasie gehad het, het 'n week gelede sy eerste Pfizer-inspuiting gehad. Hy het nog steeds verhoogde hartklop met gevolglike moegheid. Suurstofvlak normaal. Wanneer kan hy verwag dat dit sal normaliseer?

  • Ek sekondeer wat Raed-na-Gael sê. Moenie ooit sulke persoonlike vrae aan vreemdes toevertrou nie. Bel asseblief jou dokter.

  • Anti-vaxxers, glo maar julle bure wie se enigste mediese kwalifikasie is hoe om 'n selfoon te gebruik om samesweringsteorieë te versprei.

  • Buks Pietersen

    Tot watter mate word mens ná die eerste inspuiting van Pfizer teen die Covid-virus beskerm?

  • Sjoe, dit is nou vir jou mooi verduidelik. Ek het my eerste Pfizer gekry, was glad nie siek nie. Gaan die 18de Oktober vir my 2de een.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top