DignitySA gaan vanjaar die Hooggeregshof in Pretoria nader om bystandsdood in Suid-Afrika te dekriminaliseer en te wettig, maar hulle het ook ten doel dat behoorlike wetgewing en behoorlike regulasies daargestel word.
Ons mag ons eie lewens neem. Dit is nie meer ’n misdaad waarvoor mense in Suid-Afrika vervolg kan word as dit misluk nie. Om selfdood by te staan, is egter wel ’n misdaad, gegewe dat die elemente van ’n misdaad bewys word, soos intensie en kousaliteit.
Maar, daar is meer omtrent die manier van sterf indien jy ’n keuse oor jou eie lewe en dood maak.
Willem Landman van DignitySA en ook ’n kenner in etiek verduidelik: Sekere metodes, soos die inneem van ’n fatale dosis slaappille, of “two-step”, ’n gifstof wat op plase gebruik word, natriumnitraat of Nembutal. As jy te min neem, kan jy skade ly en is jy slegter daaraan toe as wat jy was voor die poging tot selfdood. Neem jy te veel, mag jy opgooi en kan jy ook skade ly wat maak dat jy oorleef en erger daaraan toe is.
Ander metodes van selfdood pleeg stroop jou van jou waardigheid, beide die daad self en jou wete daarvan. Dus, om in ’n dam te spring (soos Karel Schoeman oorweeg het om by Onze Rust te doen), voor ’n trein in te spring, van ’n krans af te spring of te jaag, en dies meer is morsig vir ander om na die tyd op te klaar.
Daar is geen rede waarom ons in ons finale nood op onsself aangewese moet wees omdat ander ons die rug toekeer nie. Dwarsdeur ons lewe help ons ander om van hul lyding verlos te word, of dit ten minte te verminder; waarom sou dit dus anders wees as die dood die enigste uitweg is?
Die dood is immers deel van die lewe – onafwendbaar, vir almal. Waarom die werklikheid daarvan ontken en maak asof dit die vyand is? Daar kom ’n tyd dat die dood nie ons vyand is nie, maar ons vriend, vertel Landman.
Beter opsies
DignitySA staan twee opsies voor:
– Doktergeassisteerde selfdood – dit is selfdood met die bystand van ’n dokter. Die dokter voorsien die middel, wat die pasiënt dan self gebruik om te sterf. Soos om iets te drink, ’n binneaarse drup oop te draai, ’n knoppie te druk wat ’n drup aktiveer.
– Doktergeadministreerde genadedood: Die dokter voorsien én dien die middel toe wat die dood veroorsaak.
Jy raak gewoon aan die slaap soos met narkose, en sterf.
In ’n onlangse artikel in die South African Medical Journal gee sewe bekende spesialiste hulle steun aan bystandsdood en ook hulle redes daarvoor, onder meer hoekom hulle dink dit is nié teen etiese mediese praktyk nie.
Mediese geassisteerde dood verhaas die dood om die pasiënt die lyding te spaar van ’n kondisie waarvoor daar geen voordelige behandeling is nie. Dit moet die enigste respons wees op inisiatief van en op versoek deur die pasiënt, gevolg deur vrye keuse. Dit word gedryf deur die pasiënt, skryf hulle.
Daarom steun hulle die versoek om te sterf op ’n manier wat barmhartig, vreedsaam, bevrydend en waardig is. Dit beteken nie dat palliatiewe sorg nie ’n bestaansreg het nie, maar daar is gevalle waar mense steeds ongekende lyding ervaar.
Hulle skryf voorts: Onder die huidige wet plaas dit die dokter onder die risiko om van moord aangekla te word indien hy/sy optree ná ’n versoek vir doktergeassisteerde selfdood. Ons weet daar is dokters wat hulle pasiënte help om te sterf. Ten spyte daarvan dat dit onwettig is, sien ons dit as ’n morele daad.
Ons glo dat dokters wat mediese hulp in die sterfproses gegee het, ’n onuitwisbare en stabiele verhouding met hulle pasiënte het. Gegewe die wetlike risiko’s kan daar nie daaroor in die openbaar gepraat word nie.
“Voldoende mitigasie van pyn en lyding kan in die omstandighede ’n dodelike dosis van ’n middel vereis wat die sekondêre, onvermydelike en onvoorsiene gevolg het om die dood te verhaas. Die dood as ’n sekondêre gevolg van palliatiewe sorg word soms na verwys as die ‘dubbele effek’. Sulke terminale pynbestuur kan onderskei word van mediese bystandsdood alleenlik in terme van hoe dit die daad beskryf: óf as die eliminasie van pyn op ’n manier wat ook die dood verhaas (terminale pynbestuur), óf om die dood te veroorsaak om pyn te elimineer (bystandsdood).
“As mediese praktisyns moet ons pasiënte help om so ’n sagte en vreedsame dood as moontlik te hê. Daarom moet mediese bystandsdood toegelaat word as ’n einde-van-lewe-behandelingsopsie, saam met palliatiewe sedasie, terminale sedasie en die onthouding of onttrekking van lewensonderhoudende behandeling. ’n Algemene wetlike verbod op mediese bystandsdood onder die passende omstandighede beteken dit sal pasiënte in die steek laat in hulle laaste uur van nood.”
Diere mag sterf, maar mense nie?
As lyding argumentshalwe terminaal is met gepaardgaande ondraaglike en onomkeerbare pyn en dus lyding, waarom mag ’n dier daarvan verlos word, maar nie ’n mens nie?
Landman dink die algemene verwysing na die “uitsit van diere” het te doen met die teenstrydigheid tussen ons optrede ten opsigte van die lyding van mense en diere. Daar is aspekte van lyding wat in mens en dier oorvleuel as gevolg van fisieke pyn. Dit is dus lyding as gevolg van fisieke pyn wat hier op die spel is. Lyding kan ook ontstaan as gevolg van psigiese toestande.
........
DignitySA is nou 14 maande aan die gang met die hofproses. Daar is eers ’n span aangestel, toe ’n regstrategie uitgewerk, gebaseer op die reg op beheer oor eie liggaam eerder as die reg op menswaardigheid, want dit is makliker om te verdedig. “Maar ons sal die reg op menswaardigheid en die reg op lewe as bykomend gronde vir ’n reg op bystandsdood aanvoer.” Sedert Junie is hulle besig om getuienis in te samel van agt ander lande waar dit wettig is. Advokate is besig om die grondslagverklaring voor te berei.
........
Uiteraard het mense ’n veel hoër kognitiewe lewe, ’n veel meer komplekse sosiale lewe, maar pyn is pyn omdat dit gevoel word deur wesens met sentrale senuweestelsels wat in groot mate dieselfde is. Waarom die een help met dood, maar die ander moet ly al kies hulle die dood wanneer dit die enigste verlossing van pyn en lyding is? So, al is daar verskille, kan lyding wat deur pyn veroorsaak word, grootliks dieselfde wees vir mens en dier, sê Landman.
Dit is seker ook nie heeltemal waar nie, of is komplekser as met die eerste oogopslag, want ’n dier se psigiese lyding, gegee dieselfde fisiese omstandighede as dié van die mens, mag erger wees omdat die dier nie die kognitiewe vermoë het om te begryp wat aan die gebeur is nie. Omgekeerd, in ander omstandighede: júis omdat die mens hoër kognitiewe vermoë het om te verstaan wat aangaan, mag mense psigies gesproke erger ly, want hulle weet wat die lyding beteken en waarop dit afstuur, dus óók psigiese lyding weens fisieke lyding.
Die hofproses
DignitySA is nou 14 maande aan die gang met die hofproses. Daar is eers ’n span aangestel, toe ’n regstrategie uitgewerk, gebaseer op die reg op beheer oor eie liggaam eerder as die reg op menswaardigheid, want dit is makliker om te verdedig. “Maar ons sal die reg op menswaardigheid en die reg op lewe as bykomend gronde vir ’n reg op bystandsdood aanvoer.”
Sedert Junie is hulle besig om getuienis in te samel van agt ander lande waar dit wettig is. Advokate is besig om die grondslagverklaring voor te berei.
Die regering sal dit teenstaan en hulle eie verklaring in antwoord daarop indien, waarop DignitySA weer sal moet reageer. Tydens die hofverskyning sal ’n baie bekende senior advokaat vir DignitySA optree, vertel Landman.
“Ons versoek aan die hof is tweërlei:
(1) dat die hof bystandsdood dekriminaliseer sodat dit nie meer krimineel vervolg word nie; en
(2) dat die hof die parlement opdrag gee om binne 24 maande wetgewing en regulasies te skryf om bystanddood te wettig, iets wat die hof nie kan of mag doen nie.
“Verwag dus dat alles vyf jaar of so sal duur. Maar ons is op die punt om ons kaarte op die tafel te sit en dan is die pad vorentoe oop, in die sin van argumente wat die hof sal moet oorweeg.
“Op daardie punt moet ons die publiek vra om hierdie poging om ’n grondwetlike reg vir ons almal erken te kry, finansieel te steun. Die regswerk is véél meer as wat pro bono-werk kan vermag. As die regering ons na die Appèlhof en daarna na die Konstitusionele Hof neem, sal ons ongeveer ’n verdere R3 miljoen moet insamel. Verbeur ons hierdie kans, kan ons vir dekades hiervan vergeet. Ons webwerf maak donasies doodeenvoudig.”


Kommentaar
Dit is dalk wys om 'n swart advokaat by die regspan in te sluit, hoe irrelevant kleur ookal by die ter sake regskwessie mag wees. Wat 'n wêreld.
Ek maak graag 'n klein donasie. Mens weet nooit nie, maar dit moet 'n keuse wees. Dankie vir die mooi artikel oor genadedood.