Bystanddood – ’n omstrede saak

  • 15

Jaco Beyers se navorsingsartikel “’n Veelkantige besinning oor eutanasie” wat in Desember 2021 in LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling verskyn het, raak ’n besonder aktuele saak aan wat by tye plaaslik en ook internasionaal groot opslae maak. Pieter GR de Villiers, LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-redakteur, het vir Willem Landman, buitengewone professor in die Universiteit Stellenbosch se Departement Filosofie, en een van die mees gerekende kenners op die gebied, genooi om meer omvattend en uitgebreid oor die saak te skryf. Landman bespreek belangrike aspekte van bystanddood in twee aflewerings op LitNet, waarvan hierdie die eerste is.

Willem A Landman (Foto verskaf)

In hierdie aflewering plaas Willem Landman die hoofargumente vir en teen bystanddood op die tafel. In die tweede aflewering, “Bystanddood in die regswêreld”, kyk hy na die openbare beleid en wetgewing aangaande bystanddood – wat dit toelaat en wat dit verbied.

Lesers word genooi om hul sienings oor bystanddood met LitNet te deel deur kommentaar onderaan die artikels te lewer.

In die kassies by hierdie artikel verskyn inligting oor boeke met bystanddood as tema.

 

1. Bestek

Hierdie is die eerste van twee meningsartikels oor eutanasie of genadedood – of bystanddood, om die meer onlangse term te gebruik.

Bystanddood is ’n omstrede saak. Deur die geskiedenis was daar sterk uiteenlopende gevoelens en meningsverskille oor bystand of hulpverlening aan ’n persoon om selfdood – voorheen selfmoord genoem – te pleeg, en oor die doodmaak van ’n persoon, nie met kwade opset nie, maar omdat, in die omstandighede, die dood verkieslik bo voortgesette lewe sou wees.

In hierdie aflewering word die hoofargumente vir en teen bystanddood van nader bekyk – die goed en sleg daarvan. My slotsom is dat die etiese argumente vir bystanddood beduidend sterker as die teenargumente is.

In die tweede artikel bekyk ek die regskonteks van bystanddood, spesifiek in Suid-Afrika. Is dit wettig of onwettig? Ek sal aantoon dat daar sedert die aanvaarding van die 1996-Grondwet ’n onhoudbare spanning heers tussen ons gemene reg (gewoontereg), waarvolgens dit moord is, en ons konstitusionele regte, wat na alle waarskynlikheid ’n reg op bystand met sterwe tot stand bring. Die regsvraag – wat uiteindelik ’n politieke vraag is – word dan hoe om hierdie spanning op te hef.

Van belang is die volgende: Die etiese debat (hierdie artikel) en die regsdebat (die tweede artikel) staan nie los van mekaar nie. Ek argumenteer dat die regsdebat ’n verskuiwing en voortsetting van die teoreties-etiese debat is na ’n ander – steeds etiese – konteks met sy eie interne logika en grense. Dit bly in die laaste instansie steeds ’n etiese debat. Die onafwendbare gevolgtrekking is dat twee komponente van ons konstitusionele demokrasie – die regbank en die parlement – etiese verpligtinge het wat al vir meer as ’n kwarteeu ontduik word.

 

2. Agtergrond

Ons lewens vind betekenis in ons verhoudings met ander, met die lewensprojekte wat ons aanpak en uitleef, en met genietinge van allerlei aard.

Onontbeerlik hiervoor is liggaamlike gesondheid, want dit maak alles waaraan ons waarde heg, moontlik. Ons het ’n natuurlike lewensverwagting eie aan die menslike spesie. Verskeie faktore bepaal hoe lank elkeen van ons gaan leef – soos genetika, gesondheid, lewenstyl, natuurlike omgewing, sosio-ekonomiese omstandighede, toeval of geluk.

Chronologiese oudword is ’n natuurlike verouderingsproses van liggaamlike aftakeling waardeur ons liggaam die vermoë verloor om alles wat vir ons van waarde is – verhoudings, lewensprojekte, genietinge – moontlik te maak. En dié proses van oud word én siek word is ’n sterwensproses met ’n onafwendbare einde, naamlik die dood.

Normaalweg is die lewe goed en die dood sleg. Maar dit is nie altyd so nie. Tensy ons voortydig of plotseling sterf as gevolg van natuurlike oorsake, ’n ongeluk of geweld, mag daar ’n tyd vir enigeen van ons kom wanneer die lewe oorwegend sleg is en die dood goed, wanneer lyding allesoorheersend, ondraaglik en onomkeerbaar is. Dan word sterwe wins, soos die apostel Paulus dit so mooi gestel het (Filippense 1:21).

Anders gestel: Vir sommiges is ’n sagte of sagkense dood natuurlikerwys beskore. Hulle is gelukkig dat die sterwensproses vreedsaam en menswaardig vir hulle verloop. Maar ander se einde word oorweldigend as gevolg van pyn en angs. Vir hulle is die dood ’n verlossing van allesoorheersende foltering van liggaam en gees.

Lyding is tegelyk objektief (pyn en angs het ’n aanduibare, algemeen-menslike element) én subjektief (persoonlike ervaring van en reaksie op pyn en angs verskil tussen individue). Ons beheer lyding deur palliatiewe intervensies en sorg, insluitende pynbeheer. Die subjektiewe element van lyding maak dat ons toleransie van pyn verskil, sodat (objektiewe, standaard mediese) pynbeheer nie altyd na ons (subjektiewe, persoonlike) wense of voorkeure is nie. Trouens, pyn kan so allesoorheersend word dat selfs die beste beskikbare pyn- en angsbeheer nie daarin kan slaag om ’n spiraal van lyding en gepaardgaande verlies aan menswaardigheid af te weer nie. Dan is die aangewese palliatiewe uitweg om die sterwende persoon, in passiewe afwagting van die dood, in ’n permanente geïnduseerde koma te plaas.

Kortom, palliatiewe sorg vervul ’n onontbeerlike rol in die sterwensproses, maar dit het grense en beperkings.

Dit is hier waar bystanddood in die prentjie kom, want dit is ’n ingryping en uitkoms wat die lyding van die sterwensproses op so ’n wyse aanspreek dat die onafwendbare einde vreedsamer en met menswaardigheid intree. Dit is ’n eie keuse vir die tyd, plek en wyse van die dood onder bepaalde én streng gekontroleerde omstandighede.

Bystanddood – eutanasie of genadedood in die wydste sin – is ’n uitweg vir lyding teen die einde van ons lewens. Onmenslike lyding word deur menslike ingryping, met die hulp en bystand van die ander, menslik gemaak.

Foto: Pixabay

3. Die begrip bystanddood

Genadedood is ’n omstrede saak. Maar oor die afgelope twee dekades het die debat daaroor al hoe meer in die ope gekom. Dit het onder meer meegebring dat die terminologie wat ons gebruik, meer beskrywend – dalk meer polities korrek – geword het. Genadedood het bystanddood geword.

Bystanddood vind plaas wanneer ’n kompetente persoon wat terminaal siek is en onuithoudbaar en onomkeerbaar ly, vryelik kies om met die hulp of bystand van ’n ander persoon (die helper) te sterf.

Daar is twee soorte bystanddood:

  • Bystandselfdood vind plaas wanneer die helper ’n middel aan ’n terminaal siek, lydende maar kompetente persoon verskaf wat laasgenoemde dan self gebruik om die dood te veroorsaak.
  • Genadedood vind plaas wanneer die helper ’n middel aan ’n terminaal siek, lydende maar kompetente persoon verskaf sowel as toedien ten einde die dood te veroorsaak.

Bystanddood bevat dus vier basiese komponente. Die persoon wat sterf (1) is terminaal siek (sal byvoorbeeld binne ses maande sterf); (2) se lyding is onuithoudbaar en onomkeerbaar; (3) besit die nodige kompetensie (rasionaliteit) om oor die beëindiging van lewe te besluit; en (4) neem sodanige besluit willekeurig, dus sonder onbehoorlike beïnvloeding of druk, en ingebed in tipies menslike outonomiteit wat vrye wil en stabiele waarde behels.

In die praktyk, in jurisdiksies waar bystanddood in een of beide van sy vorme wettig is, moet dit ook aan streng mediese en administratiewe vereistes – veiligheidsmaatreëls – voldoen.

Hierdie basiese definisie van die essensie van die term bystanddood roep allerlei vrae op, en die wyse waarop hulle aangespreek word, sal ons verstaan van bystanddood verbreed of vernou. Voorbeelde:

  • Wanneer is iemand terminaal siek? Waarom is terminale siekte ’n voorwaarde vir bystanddood?
  • Wanneer is lyding te erg om te verduur? Moet lyding fisiek wees, of mag dit sekere vorme van depressie of ander geestesongesteldhede insluit, gegee dat dit nie sonder meer die nodige rasionaliteit uitsluit nie?
  • Wat is die toets van kompetensie om oor jou eie lewe en dood te besluit? Waarom kan bystanddood nie ’n genadige uitweg vir inkompetente individue wees nie (soos pasgebore babas met fatale defekte, sterwende bejaardes, of beseerde individue)?
  • Hoe kan ons seker wees dat ’n besluit willekeurig geneem is, dus sonder onbehoorlike beïnvloeding of druk?
  • Kan palliatiewe sorg nie tog lyding afdoende beheer en sodoende die hele debat oor bystanddood grootliks irrelevant maak nie?

Hierdie vrae word vir ’n ander geleentheid in die midde van die debat gelaat.

Wat ook al hierdie komplikasies, bystanddood is ’n daad van medelye en genade, van identifisering met ’n ander in sterwensnood, deur ’n goeie of sagkense dood te help bewerkstellig. Dit is om vreedsaam en menswaardig te sterf, sonder onnodige lyding en met behoud van menswaardigheid, met die hulp van ’n Samaritaan.

Maar bystanddood is omstrede, om etiese of morele redes. Dus: Is bystanddood eties? Is daar omstandighede waarin ons eties geregverdig is om ’n persoon by te staan of te help om selfdood te pleeg? En om genadedood te pleeg?

Foto: Pixabay

4. Etiese argumente teen bystanddood

Daar is drie hoofargumente téén bystanddood.

a. Dit is strydig met die wil van God. Dit is God se prerogatief om die tyd en wyse van ons dood te bepaal. Om dus iemand te help om te sterf, is om God se plan met ons lewens vir onsself toe te eien.

Indien ons aanneem dat God bestaan en dat ons sy wil ken omdat hy dit aan ons bekend maak, is die vraag of ons weet dat God teen bystanddood gekant is. Daar is vooraanstaande teoloë en geestelikes wat geen teenstrydigheid tussen geloof in God en bystanddood sien nie. Dit behoort nie te verras nie, want mens sou verwag dat ’n God van liefde júis lyding sou wou beëindig, óók deur bystanddood, sou dit die mees gepaste uitweg in die omstandighede blyk te wees.

Bowendien is daar vele ander wyses waarop ons die tyd en wyse van die dood manipuleer – met middels soos antibiotika, voorkomende intervensies soos inenting, of prosedures soos chirurgie of chemoterapie. Indien die dood net “natuurlik” mag intree, dus sonder menslike intervensie, omdat ons sy wil só moet laat geskied, sal dit die einde van die mediese wetenskap beteken. Dit kan tog nie, om die eenvoudige rede dat skeppings van die menslike verstand óók deel van die “natuur” is.

b. Dit is onversoenbaar met dokters se morele en professionele verpligtinge soos vervat in die Eed van Hippokrates (460–377 vC) en professionele kodes. Kortom, dokters moet lyding verlig, mense genees en lewens red, nie mense doodmaak nie.

Daar is etlike kontroverses oor die inhoud en interne konsistensie van die professionele vereistes van die Eed van Hippokrates, en ook oor watter weergawe die “oorspronklike” is. Die eed vervat onder meer voorskrifte wat algemeen geïgnoreer word, byvoorbeeld dat mediese studente in hulle latere professionele hoedanigheid hulle leermeesters materieel moet bystaan. Waarom behoort die eed se verbod op bystand met sterwe dan ernstig opgeneem te word, veral as dit moderne medisyne met meer as twee millennia voorafgaan?

Geen wonder nie dat die Eed van Hippokrates wat vandag deur mediese skole geformuleer word, grootliks van die vroegste weergawes verskil. Dit het ontstaan in ’n tyd en omstandighede wat in vele opsigte radikaal van ons werklikheid verskil, onder meer toe medisyne voorwetenskaplik en uiters primitief volgens vandag se standaarde was.

Voorts word dokters se professionele verpligtinge alte dikwels verstaan in ’n konteks waar die dood as vyand beskou word en sterwe as die verloor van ’n stryd. Maar indien die lewe ’n natuurlike, onafwendbare terminus het, dan vereis gesonde verstand tog dat dokters se morele en professionele verpligtinge dienooreenkomstig verstaan behoort te word.

Gevolglik sou verligting van terminale lyding wat die sekondêre, onvermydelike en nie-intensionele gevolg het dat dit die dood verhaas (die sogenaamde leerstelling van dubbele gevolg), of selfs intensionele verkorting van lewe om pyn te elimineer, ook onder dokters se morele verpligtinge kon tel. Kortom, daar kom ’n tyd om vrede te maak met die dood, en bystanddood sou die mees gepaste uitkoms in sekere omstandighede kon wees.

c. Opponente van bystanddood argumenteer dat dit in die praktyk misbruik (kan) word sodat mense sterf wat nie behoort te sterf nie. Selfs indien bystanddood binne streng geformuleerde grense of veiligheidsmaatreëls gewettig sou word, sal kwesbare persone deur die sisteem uitgebuit word en sterf wanneer dit nie hulle vrywillige keuse is nie.

Kennelik verteenwoordig hierdie argument nie ’n beginselbeswaar teen bystanddood nie, maar wel ’n empiriese argument waarvan die geldigheid gewortel is in getuienis (data) vir en teen bewerings van onafwendbare misbruik en benadeling. Dit is hoogstens ’n argument oor gevolge wat voorspel word en wat in werklikheid mag intree al dan nie.

Ervarings in jurisdiksies waar bystanddood wettig is, staaf nie veralgemeende bewerings van sodanige misbruik nie. Dit is ’n onderwerp wat noukeurige oorweging van ’n massa beskikbare feitelike bevindings vereis. Hier volstaan ek daarmee dat (byvoorbeeld) ’n studie van die jaarverslae oor bystandselfdood in die Amerikaanse deelstaat Oregon (waar daar al vir meer as 30 jaar uitstekende monitering en verslaggewing is) nie bewerings van misbruik ondersteun nie. Insgelyks staaf getuienis uit Nederland, Kanada en enkele ander lande nie bewerings van wydverspreide of sistematiese (in teenstelling met episodiese) misbruik nie.

En al sóú daar episodiese misbruik wees, moet dit binne ’n tersaaklike, breë perspektief beoordeel word: Enige menslike praktyk loop die risiko om misbruik te word, en word in werklikheid op een of ander wyse, en in mindere of meerdere mate, misbruik. Hieruit volg dit egter nie noodwendig dat ’n spesifieke praktyk verbied moet word nie. Ons verban byvoorbeeld nie verkeer van paaie omdat mense as gevolg van ander se dronkbestuur, swak oordeel of nalatigheid in padongelukke sterf nie; ons verbeter eerder politieke beheer en operasionele kontrole van padverbruik. Analoog hieraan word bystanddood in jurisdiksies waar dit wettig is, deur ingeboude veiligheidsmaatreëls gemonitor en verbeter.

Sommiges argumenteer egter dat selfs al sou daar geen geloofwaardige bewyse vir misbruik van wettige bystanddood in ontwikkelde lande wees nie, daar wel in Suid-Afrika, as ontwikkelende land met unieke probleme, groter moontlikhede of eiesoortige ruimtes vir misbruik is.

Dit is ook ’n empiriese argument wat net deur betroubare plaaslike data ondersteun of weerlê kan word. Dit skep egter ’n onhoudbare teenstrydigheid wanneer bystanddood sonder die nodige feitebasis vir beweerde misbruik uitgesonder word. Ander wettige praktyke binne ons konstitusionele demokrasie veroorsaak sekerlik ook onnodige lewensverlies, veiligheidsmaatreëls ten spyt – soos terminasie van swangerskap, pynbeheer wat die dood verhaas, en weerhouding en onttrekking van verskillende vorme van mediese lewensondersteuning.

Hoe presies (byvoorbeeld) kulturele opvattings, sosio-ekonomiese faktore en gebrek aan toegang tot gesondheidsorg unieke, lokale vorme van misbruik van bystanddood in ons samelewing kan veroorsaak, is tans suiwer spekulasie. Feitelike bevindings kan hoogstens ’n saak maak vir addisionele Suid-Afrikaanse veiligheidsmaatreëls – soos vertalingsdienste, inligting en kultureel sensitiewe berading – maar nie vir ’n algehele verbod op bystanddood nie.

Kortom, om bystanddood te verbied vir diegene wat dit verkies, is ’n onreg en onverdedigbare diskriminasie te midde van wettige praktyke wat (byvoorbeeld) ’n twaalfjarige kind die mag gee om oor die voortgesette lewe van haar ongebore baba te besluit, of surrogaatbesluitnemers (familie) wat mag besluit dat lewensondersteunende medikasie of masjiene gestaak moet word.

In ag genome die konteks waarin bystanddood meestal ter sprake kom – die privaatheid van ’n hospitaal, ’n sterwende persoon omring deur liefdevolle familie, en bystand deur professionele persone wat vir hulle pasiënte omgee – lyk die misbruikargument nie net empiries dun nie, maar onbetaamlik tendensieus, so asof familielede en professionele persone op ’n roetinebasis daarop uit is om sterwendes se dood teen hulle wil te bewerkstellig op wyses wat nouliks onderskei kan word van gewone kriminaliteit in die samelewing.

Geeneen van hierdie drie hoofargumente teen bystanddood kom die mas op nie, gegee fatale probleme met elkeen van hulle.

 

5. Etiese argumente vir bystanddood

Daar is drie hoofargumente ten gunste van bystanddood.

a. Allesoorheersende, ondraaglike en onomkeerbare lyding wat nie behoorlik deur palliatiewe sorg beheer kan word nie, en gevolglik ’n pasiënt van menswaardigheid stroop, is ’n etiese grond vir sterwensbystand wat die dood verhaas, insluitende bystanddood. Bystanddood is soms die enigste manier om lyding op ’n gepaste, deernisvolle wyse te beëindig.

Sommige ondersteuners van die hospiesbeweging voer egter aan dat alle lyding – fisiek of geestelik – toereikend en met behoud van menswaardigheid beheer kan word sonder om die dood te kies om dit te beëindig. Dit is egter kennelik nie die geval nie, want dit is ’n benadering tot lyding wat die belewenis, oordeel en voorkeur van persone in sterwensnood ontoereikend respekteer, met – inteendeel – gevolglike miskenning van hulle menswaardigheid.

Uiteraard kan lyding uitgeskakel word deur in die laaste instansie ’n lydende persoon in ’n geïnduseerde koma te plaas en te wag dat die einde intree, met of sonder die inname van kos of water, omdat die persoon se organe uiteindelik ingee of omdat die persoon van honger of dors sterf, weliswaar sonder om dit te weet of te voel, aangesien die bewussyn medies uitgeskakel is.

Die hoofoorweging hier is dat daar vorme van terminale, onuithoudbare en onomkeerbare lyding is wat nie bevredigend aangespreek kan word nie en waarvoor die een wat ly, hulp vra om daaraan te kan ontkom. En persone wat so ly, mag verkies om nie hulle lyding deur middel van ’n geïnduseerde koma te laat beëindig nie, nie omdat dit gewoon nie hulle voorkeur in sterwensnood is nie, en omdat hulle dit as ’n aanslag op hulle menswaardigheid beskou.

b. Aansluitend by terminale lyding is die argument van outonomie. Dwarsdeur ons lewens maak ons vrye keuses oor ons lewenswyses en lewensprojekte in terme van ons stabiele waardes en binne die wet. Waarom sou hierdie vryheid van keuse heel aan die einde van die lewe vir ons verbode wees, gegewe dat die lewe wat op die spel is, gevul is met lyding, grootliks ontdaan van menswaardigheid? Ander word immers geen leed daardeur aangedoen nie.

Gegewe die nodige kompetensie of bevoegdheid om bystand met die sterwensproses te kies, moet ander ons outonomie of vryheid van keuse respekteer. Ons het immers ’n morele (en wetlike) reg om mediese behandeling te ontvang of te weier, selfs al verkort dit ons lewe. Geeneen het ’n morele (of wetlike) reg om ons te forseer om enige behandeling – ingeslote lewensondersteunende behandeling – te ondergaan nie.

Kortom, indien ek aan die einde van my lewe kies om met bystand te sterf, eerder as om aan ondraaglike lyding uitgelewer te word, is ’n verbod op bystanddood ’n finale aanslag op my selfbeskikking.

c. Die derde en laaste etiese regverdiging van bystanddood is die logiese argument van konsistensie (konsekwentheid). Dit lui kortliks soos volg: Daar is geen algemeen geldige morele verskil tussen bystanddood en bestaande, wettige mediese bystandspraktyke nie.

Ons weerhou of onttrek behandeling – respektiewelik behandeling wat nog nie begin is nie of wat reeds begin is – selfs al is dit lewensondersteunende behandeling. Bystanddood kan op dieselfde wyse eties geregverdig word as beide hierdie aanvaarde praktyke van niebehandeling. Daar is geen etiese klasverskil tussen, enersyds, weerhouding of onttrekking van lewensondersteuning en, andersyds, bystanddood sodat hulle verskillende etiese status geniet nie.

Dit beteken dat ’n besluit om behandeling te weerhou of te onttrek, en ’n besluit om bystand met sterwe te verleen, mag ooreenstem ten opsigte van al die veranderlikes wat ’n handeling se morele kwaliteit bepaal – intensie (om ’n einde aan lewe te bring); motief (om lyding te beëindig); oorsaaklikheid (die helper se handeling as doen of late); direkte gevolg (die persoon sterf); en indirekte gevolge (vir naastes, ander en die samelewing).

Voorts is daar aanvaarde vorme van pynbeheer wat noodwendig die lewe as sekondêre gevolg verkort. Om dit netjies vanuit ’n etiese oogpunt van bystanddood te onderskei, is intellektueel onbevredigend. In beide gevalle word die dood voorsien, of dit nou primêr of sekondêr is, terwyl al die ander veranderlikes waarvolgens die twee tipes handelinge beoordeel kan word, soos motief en kousaliteit, dieselfde is.

Foto: Pixabay

6. Beoordeling en opweeg van argumente

Hoe moet ons die etiese gewig van hierdie twee stelle argumente – teen en vir bystanddood – beoordeel?

Uiteraard kan elkeen van hierdie argumente verder ontwikkel en ontrafel word, maar dit is reeds duidelik dat etiese argumente vir bystanddood meer samehangend is, en dus beduidend swaarder weeg, as etiese argumente daarteen. Argumente teen bystanddood loop hulle vas in probleme met deernis (lyding), die erkenning van ’n ander as persoon (outonomie), en logika (konsekwentheid van verskillende bystandspraktyke). En ek is nie optimisties dat hierdie probleme ondervang kan word nie.

Deur die dekades waartydens ek my met die etiek van bystanddood besig gehou het, het ek mettertyd al hoe duideliker tot die insig gekom dat dit ’n nimmereindigende debat is, en dit waarskynlik sal bly. Dit word dikwels gekenmerk deur sterk emosies en onversetlikheid wat soms aan teistering grens, spesifiek deur opponente van bystanddood. Opponente het uiteraard die goeie reg om hulle standpunte te stel en te verdedig, en voorstanders het ’n verpligting om daardie argumente respekvol aan te hoor.

Wat egter in die laaste instansie op die spel is, is die werklikheid van mense se lewens, lyding en keuses. Dus, hoewel dit reg en goed is dat die debat oor die etiek van bystanddood voortgaan, mag dit nie net by etiese argumente vir hul eie onthalwe bly vassteek nie. Ons moet hierdie debat verder voer en binne ’n perspektief of konteks plaas wat dit moontlik maak om in die praktyk uitsluitsel daaroor te verkry.

 

7. Slotsom

Bystanddood – as beide bystandselfdood en genadedood – staan op stewige etiese grond. Nie net is die argumente vír bystanddood baie sterk nie, maar die argumente téén bystanddood moet fatale probleme konfronteer:

a. ’n God van liefde wat persoonlik betrokke is by menslike lotgevalle, het goeie rede om bystanddood te seën, omdat dit in sommige gevalle die mees deernisvolle en genadige uitweg uit erge lyding is.

b. Beweerde misbruik van ’n gewettigde en verantwoordelike praktyk van bystanddood is alarmisties, en as sodanig onverskillig – eerder moedswillig – met feitelike waarhede.

c. Aangesien daar geen algemeen geldige etiese verskille tussen, enersyds, gevestigde mediese praktyke rondom sterwe en die dood (soos weerhouding of onttrekking van lewensondersteuning, of pynbeheer wat die dood verhaas) en, andersyds, bystanddood is nie, moet bystanddood as ’n etiese opsie ten minste met hulle gelyk gestel word.

Ten slotte: Sommiges meen dat mense wat selfdood wil pleeg, net eenvoudig moet voortgaan om dit te doen, sonder om ander daarby te betrek. ’n Eenvoudige antwoord hierop is dat die nodige middel waarmee selfdood gepleeg moet word, van ander verkry moet word, en dat daar mense is wat nie hul arms kan beweeg of kan sluk nie. En om van ander te verwag om van ’n krans, in ’n dam of onder ’n trein in te spring – indien hulle daartoe in staat is – regverdig geen ernstige antwoord nie.

Maar die meer menslike reaksie daarop is dit: As ons ander dwarsdeur hulle lewens bystaan wanneer hulle in pyn, angs en lyding verkeer, as menswees ten diepste betrokkenheid by die ander is, waarom hulle dan in sterwenslyding en sterwensnood versaak?

 

Lees ook:

Jaco Beyers se artikel in LitNet Akademies: “’n Veelkantige besinning oor eutanasie

Jean Oosthuisen se verslag oor ’n gesprek by die US Woordfees in 2018: “Genadedood is ’n demokratiese reg

Gustaf Pienaar se rubriek: “Regsalmanak: Oor eutanasie (‘genadedood’)

George Bekker se brief op SêNet: “Genadedood: Die reg om te verskil

Chris Jones se essay: “Die reg op ’n waardige selfdood

Handré Brand se essays: “Enkele perspektiewe op waardigheidsdoding (eutanasie)”, “Opponerende standpunte oor waardigheidsdoding (eutanasie)” en “Waardigheidsdoding (Eutanasie)

Bettina Wyngaard se rubriek: “Hulpdoding: sonde, of die ultimate toonbeeld van compassion?

 

  • Die fokusprent by hierdie artikel is ’n verwerking van ’n afbeelding deur Tumiso op Pixabay. Die afbeeldings in hierdie artikel is ook va Pixabay geneem. Besigtig Pixabay se lisensieooreenkoms hier.

 

  • 15

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Mense kan nie vir jou uit een mond sê of God kelkies of bekers by die nagmaal verkies nie, maar hulle weet darem hoe God dink en voel oor genadedood (nie dat ek dink daar is so wese soos god nie).

    Erger nog, homo sapiens sapiens het die insig ontwikkel om sy of haar troeteldiere waardig te laat sterf, maar gun dit nie vir 'n medemens nie.

    Kom ons hoop hierdie sakie kry baie vinnig baie momentum. Ek dink dit is gewoon wreed om mense wat, weens fisieke pyn en aftakeling nie langer wil leef nie, te forseer om vas te byt vir 'n onsigbare en afwesige God.

  • Frederik Van den Berg

    Ek wil graag meer weet van selfdood (Danie het hom self gehang aan 'n boom, 1 Januarie 22). Hoekom en waarom? En wat dryf n person tot so 'n daad? My broer, 61 jaar oud, 41 jaar aktief gewerk, was so te sê amper op aftrede. Ongetroud. Ek is stukkend. Hoe en waar kan ek inligting kry? Help, asb?

  • Tersia Viljoen

    Baie dankie vir 'n uitstekende artikel, Willem. Ek dink jou slotsin som presies my gevoelens rakende bystanddood op. Ek het veral waardering vir die wyse waarop jy die hoofargumente daarteen as ongegrond verduidelik het. Ek sien uit na die tweede artikel.

  • Willem Landman

    Stem saam, Barend. Ons wil God beheer, in ‘n blik druk, vasvang in ons hand, skep na ons eie voorkeure en selfs vooroordele.

  • Willem Landman

    Frederik, my artikel gaan oor selfdood in ‘n mediese konteks aan die einde van die lewe. Jy soek na inligting en hulp oor selfdood in die algemeen, ook wanneer mense oënskynlik alles het om voor te leef, dus nie ondraaglike pyn het of terminaal siek is nie. Ek sal kyk watter inligting ek kan kan vind oor ondersteuning vir sulke mense en jou antwoord. Iemand wat weet, kan ook asb hiermee help deur inligting te verskaf

  • Ek sou graag 'n eerstehandse ervaring wil deel vir diegene wat belangstel.
    Ek en my vrou woon sedert 2002 in Nederland, albei haar ouers is oorlede aan kanker, haar moeder toe sy 9 was, en haar vader toe sy 11 was. Sy het hulle albei stadig sien sterf. Tydens die 22 jaar wat ek haar geken het, het sy volgehou dat dieselfde haar nooit sou oorkom nie.
    Jare gelede het ons reeds “euthanasieverklarings” by die notaris vasgelê, net vir ingeval. Eind 2020 was dieselfde kanker wat haar ouers geëis het, by haar gediagnoseer. Eers was die tekens hoopvol, maar binne vier maande was dit duidelik dat dit afgelope was.
    Dan volg 'n hele proses. Die eerste kontak is die huisarts. Sommige huisartse het gewetensbesware, en wil dit nie doen nie, dis hulle volste reg. Ons huisarts van Eijk, top kêrel, was bereid te help. Gelukkig was die juridiese dokumente reeds in orde.
    Die huisarts meld dan by die ministerie dat hy bereid is om die euthanasie uit te voer.
    Vanuit die akademiese hospitaal, waar sy behandel is, volg 'n verslag, van tien professore, haar situatie is “uitzichtloos”.
    Dan kry sy besoek van 'n onafhankelike euthanasie-arts, wat 'n onderhoud voer, en homself oortuig dat selfdood haar wens is. Duidelik was sy terminaal. Dit was die Woensdag.
    Sy het 'n afspraak gemaak vir Vrydag 16:00.
    Ons huisarts van Eijk het wel 'n paar voorwaardes gehad. Hy wou nie self die intraveneuse naalde insit nie, mense is dikwels emosioneel en maak dit moeilik vir hom, en hy wil 'n IV in elke arm hê, ingeval een verstop is. Dus, om 14:00 kom 'n ambulansbroeder langs, en hy het 'n IV-lyn in albei haar arms gesit. Nou sit en wag ons. Die oggend (26-03-2021) het ons nog van die laaste episodes van Boer soek 'n Vrou en Die Boekklub op Showmax gekyk, die laaste ontknoping van albei sou sy nie meer sien nie.
    Maar die einde van Schitt’s Creek op Netflix wou sy nog sien, dus tussen 14:00 en 16:00 het ons nog al die laaste episodes deurgejaag.
    En toe, net voor 16:00, lui die voordeurklokkie. Lize het onmiddellik gaan sit, haar pantoffels onder die bed uitgeskop, haar arms reguit gemaak, van Eijk het die leidinge aangesluit. Ons twee beste vriende was by. Hy het verduidelik dat die “fatale” middel heel pynlik is, dus gaan hy haar eers onder narkose bring (met midasolam). En eers as sy heeltemal slaap, sal die fatale dosis toegediend word.
    Van die Midasolam sal sy 'n slegte smaak in haar mond kry, het hy vertel. En gevra of sy reg is. Sy was reg.
    Sy het nog een keer gesê hoe lief sy vir ons is, ons kon mekaar vashou, en toe het van Eijk die eerste spuit gegee: “Oe, dit proe heel bitter,” het sy nog gesê, haar laaste woorde, toe rol haar oë agtertoe.
    Van Eijk het 'n paar minute gewag, keer op keer herkontroleer dat sy in diep narkose was, en toe die volgende spuit gegee.
    Ek kon sien dat haar hartklop en ademhaling steeds stadiger word, en uiteindelik stop. My pragtige, liewe vrou was oorlede, net 49 jaar.
    Vreemde is, dit was, vreemd soos dit mag klink, ook mooi. Ek het nog lank met van Eijk gepraat. Daar moes nog 'n “officier van justitie” kom, dit was natuurlik geen natuurlijke dood nie, daar moes dus 'n ondersoek kom, alles vooraf gereël. En die arts en die offisier mag mekaar nie ken nie, en ook nie daar teëkom nie, hulle moet onafhanklik bly. Dus was ek op die sel met die offisier, vra wanneer hy aankom, voor die tyd moet die arts weg wees.
    Maar van Eijk het my iets interessants vertel. Baie mense stel 'n euthanasieverklaring op, almal wil die gemoedsrus daarvan hê. Maar byna niemand voer dit ooit uit nie. Ek dog dat hy elke week, of ten minste elke maand so iets meemaak, maar hy vertel dat daar twee tot drie jaar tussen gevalle verby gaan.
    Hy kry baie aanvrae, maar mense bly dit uitstel, tot hulle uiteindelik self sterf. Maar die gemoedsrus, om self die prop uit die muur te trek, wil hulle wel hou.

  • Willem Landman

    Jacques, ‘n groot dankie dat jy hierdie merkwaardige gebeurtenis van jou vrou se dood met ons gedeel het. Dit is kosbaar. Karel Schoeman het ook herhaaldelik daarna verwys dat die dood mooi kan wees. Jou opmerking dat vele mense goedgekeur word vir bystand met sterwe, maar dit uiteindelik nie vra of kry nie, is absoluut in die kol. Ander jurisdiksies soos Oregon bevestig dit. Die gemoedsrus en wete dat mens nie verlaat sal word nie (“abandon”) is die groot positiewes ...

  • Henry von Eeden

    Uitstekende artikel, dankie. Die eerste argument teen bystanddood, nl dat dit teen God se wil is, het egter geen plek in 'n ernstige besinning oor die kwessie in sekulêre lande nie. Dit kan uiteraard mense se persoonlike beskouings en optrede rig (bv om te kies om nie bystandselfdood uit te voer nie, selfs indien hulle wetlik kan en mag, omdat dit teen hul religieuse opvattings indruis), maar behoort geen rol te speel in besluite oor beleid en wetgewing nie.

  • Willem Landman

    Henry, jy is heeltemal korrek - die argument oor God se wil is heeltemal irrelevant met betrekking tot die wettiging van bystanddood. Dit sal duidelik uit my tweede artikel blyk. Ons moet die waardes en regte in die Handves van Menseregte van ons Grondwet interpreteer en op bystanddood toepas. Argumente oor wat God van ons sou verlang, of argumente oor wat ons kultuur is, is beslis nie konstitusionele vraagstukke nie.

  • Ek het my eie mening, soos almal het, oor genadedood. Ek kan nie verstaan waarom daar so 'n bohaai oor genadedood gemaak word nie. Die persoon is nie in alle gevalle bewus van wat om hom/haar aangaan nie. Die persoon gaan deur lyding en pyn. Die emfiseemgeval lê en roggel vir dae/weke aanmekaar. Die persoon is totaal onkapabel, maar die hart weier om te gaan staan. Die vraag ontstaan egter wanneer skakel wie die masjiene af. Ek persoonlik sal dit verkies indien iemand my dalk tegemoet sal kom indien ek eendag onherstelbaar is. Wat vir my tragies is, is wanneer Alzheimers intree. Almal is oor genadedood opgeklits. Waarom word aborsies oor die hoof gesien? Is dit nie dieselfde nie? 'n Lewe word geneem.

  • 'n Wet met prosedures behoort in Suid-Afrika goedgekeur te word met reëls wanneer bystanddood uitgevoer kan word. Dit moet vrywillig wees en mense wat daarteen gekant is, mag nie met bystanddood gehelp word nie. In Switzerland waar bystanddood wettig is, is die vooraf goedkeuringprosedures baie kompleks, met die gevolg dat slegs mense wat geen kans op herstel het nie, daarvoor mag vra en daarmee gehelp mag word.

  • Graham Lawrence

    Prof,

    Given the availability of the "cocktail", has an "antidote" been made available? That is, reversing the process. Would like to hear comment on this.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top