Willem Landman is op Malmesbury gebore, matrikuleer aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, en woon op Stellenbosch.
Hy is buitengewone professor in die Departement Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch, dien in die uitvoerende komitee van Dignity South Africa, en is ’n etiekkonsultant.
Willem gradueer aan die Universiteit Stellenbosch (US) met ’n BA, Honneurs BA Filosofie, MA Filosofie (almal cum laude) en PhD Staatsfilosofie; die Universiteit van Oxford met BA with Honours (First Class) en MA, beide in teologie en filosofie; en die Universiteit van Suid-Afrika met ’n BProc. Op US was die onderskeie promotors vir sy MA (1973) en PhD (1985) Hennie Rossouw en Johan Degenaar.
Hy was ’n South-Africa-at-Large Rhodes Scholar aan die Universiteit van Oxford en is lid van Corpus Christi College.
Willem het akademiese poste aan die Universiteite Stellenbosch, Suid-Afrika, Transkei, Wes-Kaap en North Carolina (UNC) beklee. By UNC was hy volle professor in mediese etiek in die Brody School of Medicine, East Carolina University (deel van die UNC-sisteem).
Sy publikasies is in godsdiensfilosofie en toegepaste etiek (mediese etiek, sake-etiek en diereregte), en verskyn in joernale en boeke in Suid-Afrika, die VSA, Engeland, Nederland en Switserland.
Hy was die stigter- uitvoerende hoof van Die Etiek-Instituut, voorsitter van die etieksubkomitee van die King III Report on Corporate Governance, raadslid van die Institute of Directors, mederedakteur van die internasionale akademiese tydskrif Developing World Bioethics (Blackwell, Oxford), voorsitter van die etiekraad van PricewaterhouseCoopers (PwC), lid van redaksionele rade van vaktydskrifte en etiekrade van gesondheidsorganisasies, en etiekadviseur vir die Global Fund to Fight Aids, Tuberculosis and Malaria in Genève, Switserland.
Sedert sy uittrede by Die Etiek-Instituut einde 2013 is hy ’n ywerige amateurwildsfotograaf.