
Suid-Afrikaanse monument in Comodoro Rivadavia: Esteban Thomas Naudé, Graciela Kruger en Thea Landman (foto: verskaf)
- In hierdie teks kom pejoratiewe terme voor wat deur lesers as aanstootlik en beledigend ervaar mag word. Hierdie terme word in hul oorspronklike historiese konteks aangehaal.
1 November 2024
Thea en ek land op Comodoro Rivadavia (of net Comodoro)1 se lughawe met sy mooi moderne terminaalgebou. Dit is die middelste bestemming van ons Argentynse reis na Buenos Aires, Comodoro Rivadavia en Mendoza.
Argentinië strek 3 800 kilometer van sy subtropiese noorde tot sy Subatlantiese suide. Comodoro Rivadavia is ’n stad in Patagonië in die suide van Argentinië, aan die Golf van San Jorge in die suidelike Atlantiese Oseaan, goed 11 breedtegrade verder suid as Kaap Agulhas, Afrika se mees suidelike punt.
Hierdie grootste stad in die Chubut Provinsie lê ongeveer halfpad tussen die hoofstad Buenos Aires (1 730 kilometer na die noorde) en Ushuaia (1 350 kilometer na die suide) wat geleë is aan die verre suidpunt van die Suid-Amerikaanse vasteland en vanwaar bote die berugte Drake Oorgang na Antarktika aandurf.
Na nimmereindigende formaliteite word ons na ons huurmotor begelei. Die wind waai so sterk as wat ek die swart suidoos op sy ergste in my kinderjare aan die voet van Tafelberg meegemaak het. Eintlik erger.
Ons ry aan die regterkant. Gelukkig is dit vir my geen probleem nie, na jare in Europa en die VSA. Maar die wind maak stof wat die ganse lug vul sodat ons skaars 100 meter voor ons kan sien.
Die wind kom uit die binneland, uit die weste, en swiep oor wit bulte wat soos mynhope lyk en waarop niks groei nie. Ons besef toe dis nie mynhope nie. Dit is soos die landskap daar is. Daar is niks wat mooi is nie, is ons eerste indruk.2

Comodoro Rivadavia, Chubut Provinsie, Argentinië, nadat die stof gaan lê het (foto: verskaf)
Ons begin verstaan – na Buenos Aires en later Mendoza aan die voetheuwels van die Andes – waarom almal in Argentinië wat gehoor het ons gaan ’n draai maak in Comodoro Rivadavia, in Patagonië se Chubut Provinsie, ons in ongeloof aangekyk het.
........
Maar ons het natuurlik mettertyd uitgevind dat daar wel mooi ook is. In die natuur en veral in die mense. Later sou ek hierdie kostelike verwysing na die bodem en klimaat van Comodoro teëkom: “In die gront van die wint”.
........
Maar ons het natuurlik mettertyd uitgevind dat daar wel mooi ook is. In die natuur en veral in die mense.
Later sou ek hierdie kostelike verwysing na die bodem en klimaat van Comodoro teëkom: “In die gront van die wint” [sic].3
Dit is net noord van hier, by Puerto Visser, waar die eerste Boere na die Anglo-Boereoorlog (ABO) van 1899–1902, op 4 Junie 1902, geland het, skaars ’n jaar nadat Comodoro in 1901 gestig is.
. In hierdie godverlatenheid het hulle – man, vrou en kind – in tydelike tente tuisgegaan. En pas na hulle aankoms sneeu dit.
Is dít waarna ek al vir jare uitsien? Hierdie plek? En hoe gaan ons ontvang word? Hoe gaan ons omgaan met vreemdelinge wat in ’n gans ander leefwêreld woon en werk?
Ons ry die 13 kilometer verder suid na Rada Tilly,4 Comodoro se meer gegoede aangrensende seedorpie, effens meer beskut teen die wind en glo veiliger, waar ons sou tuisgaan.

Rada Tilly, Chubut Provinsie, Argentinië (foto: verskaf)
In Rada Tilly ontvang die pragtige Karina Thomas Naudé – afstammeling van Pelsers en Naudés – ons. Sy is ’n professionele vrou, 48 maar lyk eerder na 38, wat die hele Argentinië verken om jong talent vir die groot Argentynse sokkerklubs te identifiseer.
Karina het ons hele program vir die ses dae met die Boere van Patagonië help uitwerk en gereël, net soos vir Johan Badenhorst se Voetspore-span. (Drie jaar gelede, in 2021, het ons ’n besoek volledig gereël gehad, maar moes dit weens Covid afstel. Toe Voetspore die volgende jaar wel daar uitkom, was dit vir my erg!) Karina het tyd ingeruim om ons orals heen te vergesel.
Tewens, toe sy hoor ons wil kom kuier, het sy summier haar huis en motor vir ons aangebied, maar ons het gereken dat dit nie reg sou wees nie.
Karina het ’n verwelkomingsmiddagete gereed. Ons is heelwat later as beplan, want dit het ons goed twee uur gevat om die huurmotor te kry. Te oordeel aan die min beskikbare huurmotors is dit ook nie ’n alledaagse gebeurtenis nie.
Karina se bejaarde pa bly by haar – Esteban Thomas Naudé. Esteban is erg hardhorend, die onvoorsiene gevolg van medikasie.5 Hy kommunikeer met sy selfoon en ’n klank-na-skrif-transkribeerdertoepassing. Sy Afrikaans is suiwer en geartikuleerd wanneer hy jou eers getakseer het en gemaklik voel, sonder agtergrondgeraas of te veel stemme.
Dit was die begin van ses dae by die Boere-gemeenskap van Patagonië – ’n droom wat ek al dekades koester, in die kiem gesmoor deur Covid in 2021 – gewapen met dekades se koerantuitknipsels en ander leesstof.
Na ons by ons gastehuis – ’n woonstel agter die eienaar se huis – inbespreek en uitgepak het, is ons weer aan huis by Karina. Sy het vir Daniel Botha en Juanita van der Merwe, getroud toe Juanita 14 was, oorgenooi. Hulle Afrikaans is suiwer, duidelik verstaanbaar. Ons praat oor alledaagse goed, gemaklik, soos met ou bekendes. Dit voel onwerklik – Afrikaans, hier, met mense wat nog nooit in Suid-Afrika was nie. Hulle sê ons moet kom kuier. Maar Karina se program vir ons is vol. Ons gesels tot laataand.
Hier, soos in Buenos Aires, leer ons met die intrapslag dat mense mekaar ordentlik – hartlik – groet, met ’n aanraak en omhelsing.
2 November 2024
Ons begin ons eerste volle dag daar. Eers gaan ons na die Suid-Afrikaanse sentrum in Rada Tilly, ’n netjiese gebou met ruim onthaalgeriewe en ’n museum met kosbare artefakte en foto’s.
Norma Blackie en Elvira Florencia Llames Schlebusch ontvang ons. Norma is die weduwee van Martín Blackie, wat vir lank ’n bekende en gerespekteerde erekonsul van Suid-Afrika in Argentinië was, ook in die tyd toe Tony Leon die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Argentinië was en die Boere hier kom besoek het.
En Elvira woon op die perseel en tree as opsigter op in ruil vir haar verblyf.

Suid-Afrikaanse sentrum, Rada Tilly: Elvira Florencia Llames Schlebusch, Thea Landman, Norma Blackie en Karina Thomas Naudé (foto: verskaf)
Dit is ’n dag vir landskap verken, suid van Comodoro Rivadavia en Rada Tilly, na Punta del Marqués, en al langs die kus af op die hoë kranse wat die see inloop. Daar is robbekolonies, ver onder op die rotse by seevlak, en uitsigte oor see en kuslyn. Hier sien ons dat daar ook mooi natuur is. Weliswaar nie Chapman’s Peak nie, maar tog. Verder suid kan mens hierdie tyd van die jaar naby walvisse kom, soos by Hermanus en Walkerbaai.
Noord, 58 kilometer van Comodoro Rivadavia, lê Puerto Visser,6 vernoem na Conrado Visser.

Conrado Johannes Neethling Visser, na wie Puerto Visser vernoem is, en Ana Jacoba Elizabeth van Zyl (foto geplaas met dank aan die SA museum in Rada Tilley)
Dit is by hierdie “hawe”, onbewoon sedert 1940, waar die Boere-immigrante van 1902 tot 1907 geland het.7 Ons program laat ons egter nie toe om Puerto Visser ook in te pas nie.

Afbeelding van die aankoms van die Suid-Afrikaanse Boere by Puerto Visser aan die Atlantiese ooskus van suidelike Argentinië, op 4 Junie 1902 (foto geplaas met dank aan die SA museum in Rada Tilley)
Ons geniet middagete met nog afstammelinge by Karina se huis in Rada Tilly – Liza (Elizabeth) Bauer (gebore Kruger) en haar dogter Luciana Moreno Bauer. Ons het in Buenos Aires vir Liza se ander twee kinders – Romina en Germán Bauer – vir aandete uitgeneem in die pragtige Palermo-buurt, waar ons ook tuisgegaan het. (Germán het die eetlus van ’n jong man in sy 20’s en is honger. Geen wonder Romina het gevra of hy kon saamkom nie.) In Januarie vanjaar het ma Liza en dogter Romina familie en vriende in Suid-Afrika kom opsoek.
Luciana het ’n aantal kostuums saamgebring, asook ’n boks met foto’s en dokumente, en die kostuums met groot entoesiasme vir ons gewys. Te oordeel aan foto’s en video’s word sosiale byeenkomste van tyd tot tyd gehou (byvoorbeeld in die gemeenskapsaal by die Suid-Afrikaanse sentrum in Rada Tilly), waartydens tradisionele kostuums gedra en vlae vertoon word. (Terloops, daar is geen tekort aan die ou en nuwe Suid-Afrikaanse vlag onder die Boere-gemeenskap nie.) Dit is geleenthede waaraan oud en jonk deelneem, byvoorbeeld op 4 Junie, die dag waarop die eerste Suid-Afrikaanse setlaars by Puerto Visser aan land gestap het. Ons het ook in Buenos Aires verneem van soortgelyke byeenkomste vir Walliese en Oostenrykse immigrantegemeenskappe.
Luciana Bauer wys my ook ’n lywige boek in Spaans8 met name en familieverbintenisse van Suid-Afrikaanse Argentyne. Sy sê die jongmense gebruik dit om moontlike ondertrouery met familie te vermy. (Die volgende dag ontvang ek ’n kopie vir my verjaardag van Norma Blackie by die Suid-Afrikaanse gemeenskapsentrum.)
Laatmiddag breek ons geleentheid aan om vir Jan (Juan Luis) Schlebusch te ontmoet; dit waarna ek die meeste uitgesien het. Thea en ek ry van Rada Tilly na Comodoro Rivadavia, in ons huurmotor en met Waze om ons te lei. Ons gaan vir aandete na die huis van Jan en sy vrou, Marta Myburgh, ’n beskeie huis in Comodoro Rivadavia.
Jan, 84, en ek het al vier jaar gelede vir die eerste keer ’n WhatsApp-video-oproep gehad. Ons het net gekliek. Nou wag Jan ons in by sy tuinhekkie met sy hond wat ywerig is om ons te groet. As dit nie vir Jan was nie, sou ek nooit op hierdie reis gegaan het nie. Ek noem dit vir hom en Marta vra wat dan van haar? Ek moet gou verduidelik.
Binne is die hele gesin vergader in afwagting op ons besoek. Jan en Marta se dogter, Silvana Schlebusch Myburgh, en haar dogtertjie, Mia, het 580 kilometer ver – sewe uur per bus – oornag vanaf Esquel, aan die voetheuwels van die Andes, gery om die aand saam met ons te deel. Jan en Marta se jongste dogter, Jenifer, en haar seuntjie bly in ’n buitewoonstel agter hulle huis en is ook daar.
Jan is ’n skaapboer. Hy het tans 800 skape, waarvan 180 lammers is. Daar was ’n tyd toe hy 3 600 gehad het. Maar sedertdien was dit net afdraande. In 2013 het 320 van sy skape verdrink, en in 2015 het 750 verdrink, in Laingsburg-tipe vloede. En die pumas maai al hoe meer onder die skape soos wat aangrensende plase verlaat word.
.........
Die skaap word in die vuurherd gebraai, oopgevlek en skuins op ’n spit op die tipiese Argentynse manier. Marta, Silvana en Jenifer is in beheer van die braai en maak beurte om die skaap op die spit te roteer. Jan sê hy braai nie so goed soos die vrouens in sy huis nie en kry nou nog skaam by die gedagte dat hy die skaap wat hy in 2022 op sy plaas vir die Voetspore-span gebraai het, laat aanbrand het.
........
Vir ons besoek het Jan ’n geslagte skaap vir aandete saamgebring. Hy het die amper drie uur van die plaas af gekom om ons by sy dorpshuis te ontvang. Dit het vyf uur geword, want sy Ford Ranger-bakkie se een bladveer het gebreek. Die skaap word in die vuurherd gebraai, oopgevlek en skuins op ’n spit op die tipiese Argentynse manier. Marta, Silvana en Jenifer is in beheer van die braai en maak beurte om die skaap op die spit te roteer. Jan sê hy braai nie so goed soos die vrouens in sy huis nie en kry nou nog skaam by die gedagte dat hy die skaap wat hy in 2022 op sy plaas vir die Voetspore-span gebraai het, laat aanbrand het.
Ons ruil geskenke uit, onderskeidelik goed uit Afrika en tipies plaaslike kosprodukte.
Jan praat die mooiste Afrikaans. So praat hy van “groetenis”, “peerd” en “die poort” – sy verwysing na Comodoro Rivadavia, waar hulle huis is en waar sy grootouers saam met ander setlaars aan land gegaan het, weliswaar ’n bietjie noord, by Puerto Visser.

Met Jan (Juan Luis) Schlebusch, 84 (foto: verskaf)
Ons kan nie vinnig genoeg oor alles gesels nie. Later word ’n boks met ou familiefoto’s en dokumente uitgehaal.
Onder meer is daar ’n brief, gedateer 22 Augustus 1990, aan Jan gerig, van Alwyn Schlebusch – in lewe kabinetsminister en vise-staatspresident. In die brief verduidelik Alwyn Schlebusch dat sy pa se broer en twee susters na die ABO Argentinië toe is:
Jou Oupa was Jan Louis Schlebusch, gebore 3 Mei 1883, ’n broer van my Vader. Jou Oupa saam met twee susters, Sophia Jacoba Christina en Cecilia Johanna, is na die Anglo-Boereoorlog na Argentinië. Jou Vader is dus my neef. [...] My oorlede Vader het altyd die ideaal gehad om sy familie in Argentinië te gaan sien maar hy is te jonk dood.
Voor ons reis na Argentinië het Silvana in korrespondensie aan my genoem dat hulle ook ’n Landman-voorouer het. Sy was Maria Elizabeth Landman (1842–1925) van die distrik Alexandria in die Oos-Kaap, Jan Schlebusch se oorgrootjie.
Ek werk toe uit dat ons ’n gemeenskaplike Landman-voorouer het, naamlik Willem Adolph Landman (1775–1845).9 Jan en ek stam onderskeidelik af van twee van sy seuns.10
Soos Jan dit met kennelike genoegdoening stel: “Ons is mos familie.” Ja, inderdaad. Letterlik.11
Interessant dat die geslagte mekaar oënskynlik vinniger in Argentinië opvolg as hier in Suid-Afrika. Moontlik het dit te doen met die omgewing waarin hulle moes oorleef, met ’n groter behoefte in Argentinië om vroeër te trou en meer kinders te kry.
Johan Badenhorst se Voetspore het Jan op sy plaas besoek. Ons kon dit nie inpas nie. Jan was besig met skaapskeer en het spesiaal vir die familie-ete met ons die skeerdery onderbreek om ons aan huis in Comodoro Rivadavia te ontvang.
Jan is ook saam met Ty (“Tenis”) Dickason, wat laasjaar oorlede is, een van die twee hooffigure in die video Boere op die aardsdrempel (The Boers at the end of the world) – ’n sinspeling op die verre suidpunt van Patagonië, ook Suid-Amerika, wat bekend staan as fin del mundo (“die einde van die wêreld”). Jan en Ty is vir ’n kort besoek deur die programvervaardigers Suid-Afrika toe geneem. Hier het hulle onder meer familie besoek, sowel afstammelinge van Boere wat nooit Argentinië toe getrek het nie en van Boere wat in 1938 uit Argentinië na Suid-Afrika teruggekeer het.
Ons neem afskeid met ’n knop in die keel. Jan wil ons weer sien. Hy sê ons het dan net begin gesels. Al wou ons almal, laat ons program nie nog ’n kuier toe nie.
Sedertdien bel Jan my gereeld, ten minste een maal per week, van sy plaas af, diep in die onherbergsaamheid van Patagonië. Dit is daar verby Sierra Chaira, noordwes van Comodoro Rivadavia, waar hulle tot 10 jaar gelede nog ’n jaarlikse boeresportdag gehou het. Hy wil Afrikaans met my praat en vertel my hy hou nie eintlik van Spaans praat nie (hoewel hy natuurlik vlot in Spaans is).
Tot onlangs was hy totaal afgesonder op sy plaas, ver van sy naaste bure. Op sy gevorderde ouderdom is dit gevaarlik en hy het juis nie lank gelede nie van sy perd geval toe dié in ’n gat getrap het. Nou het sy dogter van Esquel, die een wat die nag deur gery het om saam met ons aandete te geniet, Silvana Schlebusch Myburgh, gereël dat hy een van Elon Musk se Starlink-satellietskottels kry. (Dit is nou dieselfde skottels wat die ANC slegs hier wil toelaat mits Musk eienaarskap aan reeds bemagtigdes oordra vir hulle verdere bemagtiging al is dit ten koste van volslae onbemagtigdes in afgeleë gebiede hier.)
........
Jan se WhatsApp-oproepe na my in Stellenbosch is glashelder en sonder enige steurende klankvertragings. Ek hoor sy skape blêr in die agtergrond. Dit is duidelik dat hy ’n groot verlange het, ’n begeerte om te gesels, met sy “familie” in Afrika.
........
Jan se WhatsApp-oproepe na my in Stellenbosch is glashelder en sonder enige steurende klankvertragings. Ek hoor sy skape blêr in die agtergrond. Dit is duidelik dat hy ’n groot verlange het, ’n begeerte om te gesels, met sy “familie” in Afrika. Via WhatsApp stuur ek vir hom Gert Potgieter se opnames van “O Boereplaas”, “Ou Karooland” en “Jubilate”.
Jan het al meermale laat blyk dat sy pa ’n fout gemaak het om nie van die repatriasie-aanbod van die Unie-regering in die 1930’s gebruik te maak nie. In 1938 het dit uitgeloop op die terugtog van nagenoeg die helfte van die Boere-kolonie in Argentinië.12
Jan is eers twee jaar later, in 1940, gebore, maar met verloop van tyd het hy uiteraard die Argentynse Boere se omstandighede met dié in Suid-Afrika vergelyk en gereken sy pa het ’n swak besluit geneem omdat hy nie vooraf sy opsies mooi deurdink het nie. Maar mens moet begrip vir Jan se pa hê, want hy was van die eerste geslag wat in Argentinië gebore is en het geen ander land geken nie.
Jan, daarenteen, beskou Suid-Afrika as sy “eintlike land”. Dus was sy lewe vir hom altyd ietwat van ’n kompromis waarmee hy ter wille van sy familie vrede gemaak het. Maar hy tob nie oor die ander lewe wat hy kon gehad het nie. Daarvoor is hy te veel van ’n aanpasbare, praktiese mens wat goed vat soos dit kom. Tog, ons blote teenwoordigheid herinner hom weer daaraan hoe alles anders kon gewees het.
3 November 2024
Vandag is ek 76. (Terloops, so is Heinrich van der Mescht, afgetrede musiekprofessor van die Universiteit van Pretoria, en Tobie Cronje, die akteur. En my pa sou 115 wees.)
Saam met Karina ry ons weer die 7 kilometer Comodoro Rivadavia toe en laai vir Graciela Kruger op. Sy is in haar 70’s en bly alleen in ’n netjiese huisie, pragtig deur haar seun laat opknap en verf. Haar groot roosbome oorleef waarskynlik omdat hulle teen die wind beskut is. Sy praat vlot Afrikaans en het ’n wonderlike sin vir humor.
Vandag doen ons by plekke aan wat al lankal op my lys is.
Die eerste stop is die kerkgeboutjie, opgerig deur die oorspronklike Boere-setlaars en hulle kinders, die eerste geslag wat daar gebore is. Aan weerskante is dit nou ingedruk deur ander geboue, letterlik so, maar ook tog simbolies. Op die gewel staan geskrywe: Iglesia Reformada Templo Evangelico.
Twee diakens het spesiaal vir ons kom oopsluit en hulle maak vir ons tee.

Die Gereformeerde Kerk, Comodoro Rivadavia (foto: verskaf)
Binne sê ’n gedenkplaat: Gereformeerde Kerk in gebruik geneem 17/18 Maart 1934. Die Afrikaanse Bybel onder die preekstoel is oop by Psalm 27:1: “Die Here is my lig en my heil; vir wie sou ek vrees?”
Op die eerste bladsy van die kerkraad se notuleboek staan in netjiese skrif:
Gereformeerde Kerk. Mat. 16:18.13 Chubut [die Argentynse provinsie waarin Puerto Visser, Comodoro Rivadavia en Sarmiento geleë is]. Kerkraadsnotule vanaf 30 Oktober 1926.
Bo die preekstoel is die volgende in hout uitgekerf:
God alleen die eer / Solo a dios la gloria.

Gereformeerde Kerk, Comodoro Rivadavia, “God alleen die eer” (foto: verskaf)
In die een hoek staan ’n outydse orreltjie en teen die mure hang talle foto’s van die vroeë aankomelinge
Die Gereformeerde Kerk staan sedert 1978 letterlik in die skaduwee van die Rooms-Katolieke katedraal, die Catedral de San Juan Bosco, in moderne Gotiese boustyl, reg oorkant die pad. Dit is sedert die inwyding steeds onvoltooid, ruim, maar opvallend karig van binne, veral na ’n besoek aan Buenos Aires se pragtige, imposante katedraal. Daar word vertel dat dit gebou is as teenvoeter vir die Boere se kerk waarvan die lidmaatskap in ieder geval beduidend kwyn soos Boere-afstammelinge met Katolieke trou.
Daarna is ons na die monument vir die Patagoniese Suid-Afrikaanse setlaars – De Sudáfrica a la Patagonia – opgerig in 2002 ter herdenking van die Boere-immigrante, op ’n straathoek van Boulevard Los Colones Sudafricanos. Op hierdie straatnaambord staan ook: 120 Anniversario del desembarco de los Colones Sudafricanos, Municipalidad de Comodoro Rivadavia, klaarblyklik aangebring in 2022.

Suid-Afrikaanse monument in Comodoro Rivadavia: Esteban Thomas Naudé, Graciela Kruger en Thea Landman (foto: verskaf)
Ek het al baie foto’s van hierdie monument gesien – die sementkaart van Suid-Afrika, die sementossewa en die Afrikaanse vanne op die paneel wat die aankomelinge lys – maar ek word effens onkant betrap deur die kleiner as verwagte proporsies en die eensaamheid daarvan te midde van die straat se verlatenheid wat mens in die alomteenwoordige wind nog erger ervaar. Bo-aan die lys van immigrante se vanne staan: Eer jou vader en jou moeder.

Suid-Afrikaanse monument in Comodoro Rivadavia: lys van immigrante se vanne (foto: verskaf)
Ons wend ’n poging aan om na die munisipale begraafplaas, Cementerio Oeste, te gaan, maar dit is groot en moeilik om die Boere se grafte te vind. Die ondraaglike wind wen en ons draai overrigter sake om.
Karina vat ons see toe vir ’n seekosmiddagete. Baie van die huise en ander geboue in die strate van Comodoro Rivadavia spreek van ’n uiters beskeie bestaan. En ook verwaarlosing. Soos ons nader aan ons bestemming langs die see kom, is daar sinkhuisies wat net sowel in Kayamandi of Diepsloot kon tuishoort. Mens word getref deur die karigheid van die konstruksies en, ja, armoede.
En die wind is steeds genadeloos en word meer verbete soos die dag vorder. Die seekos is heerlik, maar ons sit op vaste, harde, nou, ongemaklike sementbankies by ’n vaste sementtafel in die enigste hoekie, gevorm deur ’n glasskerm, wat ons effens teen die wind beskut. Ons baklei om die vlieë weg te hou. Graciela Kruger weier botweg: Sy eet nie “goggas” nie, al is dit uit die see, en bestel vis.
Laatmiddag is ons terug in Rada Tilly en weer by die museum vir die Suid-Afrikaanse immigrante.
Norma Blackie het vir my ’n verjaardagpartytjie gereël met tee, melktert en koeksisters. En kersies op my verjaardagkoek – weliswaar nie 76 van hulle nie, maar genadiglik net twee, ’n 7 en ’n 6, wat ek dadelik omruil om 67 te vorm! ’n Aantal ouer dames uit Comodoro Rivadavia en Rada Tilly is daar, almal Boere-afstammelinge, en ’n hele paar met wie ons gesprekke in Afrikaans kon voer.
As kind het ons geslag nie juis verjaardagpartytjies gehad nie, dalk af en toe iets heel beskeie, beslis niks om kers vas te hou by deesdae se ouers wat kompeteer oor wie se kind se partytjie die koek vat nie. Maar hier, na meer as ’n driekwart eeu, kry ek toe uiteindelik my partytjie. Wat besonders.
4 November 2024
Ons is vroeg op en Karina, Thea en ek vat die pad na die dorpie Sarmiento, 140 kilometer wes van Comodoro Rivadavia. In Karina se Toyota Hilux. Ons huur-Ford sou dit nie op die paaie wat vir ons voorlê, kon maak nie.
Dit is hier na Sarmiento waarheen ’n groot aantal van die Boere weswaarts, binneland toe, getrek het om hulle te vestig op plase wat die Argentynse regering aan hulle beskikbaar gestel het.
Comodoro Rivadavia het geen eie waterbronne gehad nie – en het steeds nie – en water moes van die twee mere (een waarvan nou droog is) buite Sarmiento aangery word. Die Boere versoek herhaalde male die Argentynse regering om vir water te boor. Uiteindelik, na die eerste setlaars reeds vyf jaar daar woonagtig was, word daar in 1907 vir water geboor. Dit was in die tyd toe Argentinië ongekende ekonomiese voorspoed geniet het en onder die 10 rykste lande ter wêreld getel het. (Mens sien steeds duidelike tekens daarvan, veral die klassieke Franse argitektuur in Buenos Aires.)
........
Ry jy Sarmiento toe, sien jy orals in die veld, op berge (verrassend so) en in dale, klein oliebore wat stadig op en af beweeg, soos reusemuskiete wat berekend afbuk om kop teen die grond te steek, elkeen ’n monument vir die Boere wat gemaak het dat Argentinië in Patagonië olie ontdek het.
........
Maar hulle vind nie water nie. Wel olie. Mineraalregte behoort aan die staat en dus het die Suid-Afrikaanse Boere op wie se plase olie gevind is nie finansieel daarby gebaat nie. Maar wel die ekonomie van die Chubut Provinsie en Argentinië as geheel. Water gaan steeds per pypleiding van die groot Musters-meer, wes van Sarmiento in sentraal Patagonië, na Comodoro Rivadavia en Rada Tilly aan die ooskus op die Atlantiese Oseaan, bykans 160 kilometer ver.
Ry jy Sarmiento toe, sien jy orals in die veld, op berge (verrassend so) en in dale, klein oliebore wat stadig op en af beweeg, soos reusemuskiete wat berekend afbuk om kop teen die grond te steek, elkeen ’n monument vir die Boere wat gemaak het dat Argentinië in Patagonië olie ontdek het.

Olieboor tussen Comodoro Rivadavia en Sarmiento, Chubut Provinsie, Patagonië (foto: verskaf)
Sarmiento verras met sy groen landerye onder besproeiing, bome (geplant om die wind te keer) en vee wat op die landerye wei. Dít nadat die landskap op pad van Comodoro Rivadavia af soontoe sterk aan die Karoo herinner het.
Nadat ons kaartjies by Sarmiento se toerismekantoor gekoop het, besoek ons die Versteende Woud – Bosque Petrificado Sarmiento – binne ’n park, so 30 kilometer suid van Sarmiento, onder beskerming van die Chubut Provinsie ten einde biodiversiteit te beskerm. Daar is kontrasterende rotsformasies en diep klowe en uiteraard versteende boomstompe van bome wat 62 miljoen jaar gelede nog hier gegroei het.

Versteende woud buite Sarmiento, Chubut Provinsie, Patagonië (foto: verskaf)
Dit is hier waar die nimmereindigende wind, wat sedert ons aankoms nog nooit bedaar het nie, sigself oortref soos ek dit nog nie voorheen ervaar het nie – en ek ken die swart suidoos en was al op verskeie veraf, windverwaaide eilande om papegaaiduikers (puffins, Puffinus gravis) af te neem. Ons moet letterlik aan die naambordjies by die verskillende punte op die staproete vasklou om nie in die ravyne afgewaai te word nie.
Terug by Sarmiento gaan ons na die NG Kerk Chubut, soos dit steeds op Google Earth en Google Maps aangedui word. ’n Spaanssprekende vrou is die imposante teoloog-dominee. Hulle het die kerkie vir ons oopgesluit, wag ons in, heet ons welkom en begin om met vyf onbegeleide stemme “Amazing grace” en ander liedere spesiaal vir ons te sing. So kom die kerkie toe sommer tot lewe met ’n geweide atmosfeer. Mens kan die heimwee wat hom hier, in hierdie geboutjie met al sy Afrikaans, oor etlike dekades tuisgemaak het, aanvoel.

NG Kerk, Sarmiento, Chubut Provinsie, Patagonië (foto: verskaf)
Daar daag ander Boere-afstammelinge op, onder meer Ricardo Pedro Kruger, sy seun, Jeremias Denis Kruger, en Sara Grimbeek, ’n wakker, innemende vrou met ’n vonkel in die oog. Almal is Afrikaans magtig, weliswaar op verskillende vlakke. (Jan Schlebusch vertel my later dat Ricardo se broer, Luis Jacobo Kruger, ook van Sarmiento, “’n goeie Afrikaans” praat.)
Ons word in die konsistorie met tee, melktert, pannekoek en koeksisters onthaal. Interessant dat na 122 jaar melktert en pannekoek nog feitlik dieselfde as by die huis is, maar die koeksisters, hoewel nog mooi simmetries gevleg, het oor die jare in iets anders getransformeer.
Ricardo Kruger vertel ons hy het geboer, maar dat die woestyn oorgevat het. Sand het sy plaas se buitegebou tot teen die nok van die dak toegewaai. Die foto’s op sy selfoon herinner aan Kolmanskop. Telkens hoor mens van Sentraal-Patagonië se ander varswatermeer in die Valle de Sarmiento – die Colhué Huapi-meer – wat opgedroog het. Die Boere wonder of dit te doen het met die olieboordery wat die aarde versteur het, of klimaatsverandering. Jan Schlebusch het my al meermale vertel hoe die klimaatspatrone – waarvan veral reënval en kapok ’n aanduiding is – oor die jare verander het.
Boere wat die plase verlaat, soos hulle ouer word, is ’n tema wat ons by herhaling gehoor het. Dit was ook die geval met Daniel Botha en Esteban Thomas Naudé (ons gids, Karina, se pa wat vir baie jare langs Jan Schlebusch geboer het) van Rada Tilly. Die jonger geslag wil nie boer nie. As Jan en Piet Schlebusch nie meer met ons is nie, het Jan my vertel, sal die Schlebusch-plaas stellig terugkeer na die natuur.
Een van die tekens van die ontvolking van die plase is die terugkeer van die pumas (Puma concolor), of, soos die Boere dit noem, “die leeus”. (’n Puma lyk inderdaad baie na ’n gesonde leeuwyfie.) In die vroeë 1900’s, toe die Boere in Chubut Provinsie begin boer het, was pumas ’n immer teenwoordige gevaar vir die skape. Maar mettertyd het hulle die bedreiging onder beheer gebring met pumas wat in slagysters gevang en uitgeskiet is. Maar nou keer die pumas beduidend terug.
Jan Schlebush vertel dat ’n puma maklik 10 tot 15 skape op ’n slag doodbyt en net een eet. Dit is net so met Namibië se woestynleeus wanneer hulle tussen skape en beeste inkom, of leeus in die Kgalagadi wat elande by watergate bykom.
........
Jeremias Kruger, in sy middel-20’s, is ’n innemende, inspirerende jongman. Hy “studeer vir advokaat”. Anders as ander van sy ouderdom, kan hy Afrikaans praat. Merkwaardig genoeg leer hy dit via die internet.
........
Jeremias Kruger, in sy middel-20’s, is ’n innemende, inspirerende jongman. Hy “studeer vir advokaat”. Anders as ander van sy ouderdom, kan hy Afrikaans praat. Merkwaardig genoeg leer hy dit via die internet. Mens kan ’n heel sinvolle gesprek in Afrikaans met hom voer. Drie maande op ’n Karoodorp en sy Afrikaans sal vlot wees. Treffend is sy duidelike artikulasie.
Jeremias Kruger se belangstelling in sy pa se herkoms, en in die besonder sy liefde vir die Afrikaanse taal, is sekerlik uniek.
Tydens ons Patagoniese kruistog het ons vier geslagte Argentynse Boere ontmoet en dit is duidelik dat die jonger geslag in die algemeen belangstelling in en respek vir hul ouers en voorgeslagte se Afrikaanse oorsprong en kultuur het. Behalwe dat hulle uiteraard selferkende Argentyne is, voel hulle ’n besondere verbondenheid aan Suid-Afrika, hoewel net enkeles van hulle al in Suid-Afrika was. Dit kry uitdrukking in onder meer assimilering van hul ouers se geskiedenis en periodieke byeenkomste. En hulle ondersteuning vir die Springbokke, selfs al speel hulle teen Argentinië.
Maar van die jonges verskil heftig van Jan Schlebusch en wyle Ty Dickason, tweedegeslag-boorlinge, dat Suid-Afrika hulle “eintlike land” is. Hulle oorsprong is wel ten dele in Suid-Afrika, en daarvoor het hulle groot waardering, maar hulle is volledig Argentyns.
Mens moet egter waak teen veralgemening. Te oordeel aan Facebook is daar waarskynlik honderde in Patagonië met Afrikaanse vanne. Hulle houding teenoor Afrikaans, die Afrikaanse kultuur en Suid-Afrika sal nouliks eenvormig wees.
Tans is daar ’n poging om die Chubutse provinsiale regering te oorreed om 4 Junie, die dag toe die eerste Boere in 1902 aan wal gestap het, ’n kultuurdag vir die verskillende etniese setlaars – soos onder meer ook die Walliesers – te verklaar.
Ek het sedertdien verneem dat die dorp Esquel, aan die voetheuwels van die Andes, 580 kilometer noordwes van Comodoro af, waar Jan Schlebusch en Marta Myburgh se dogter, Silvana, en haar gesin woon, grond bewillig het vir ’n monument vir “die Suid-Afrikaners”. Dit is amptelike erkenning van die Boere-gemeenskap as identifiseerbare groep. En dit gee mens ’n idee van die aansienlike oppervlakte van die suide van Argentinië waaroor afstammelinge van die Boere-setlaars versprei het en steeds woonagtig is, ver weswaarts en noordweswaarts van die oorspronklike vestiging in Comodoro Rivadavia en Sarmiento.
Na die NG Kerk is ons na Sarmiento se munisipale begraafplaas, die Cementerio Municipal de Sarmiento. Ek wou grafstene met Afrikaanse grafskrifte afneem, veral nadat die wind ons die vorige dag by Comodoro Rivadavia se munisipale begraafplaas (Cementerio Oeste) uitgewaai het.
Na ’n bietjie rondloop, vind ons wat ons soek. Daar was nie genoeg tyd om die begraafplaas deeglik te verken nie, maar die grafte wat ons wel gesien het, was interessant omdat van die eerste setlaars daar begrawe is – Boere wat in die Boere-republieke gebore is, Patagonië toe uitgewyk het en daar oorlede is.
So, byvoorbeeld, is daar die graf van Catharina Cornella Bothma de Viviers, gebore 5 Desember 1854 (in Suid-Afrika) en oorlede 9 Oktober 1937 (in Patagonië) – ’n jaar vóór die helfte van die Boere-gemeenskap na Suid-Afrika teruggekeer het met behulp van die Suid-Afrikaanse regering, onder meer senator FS Malan.14
Op haar grafsteen staan geskrywe “hier rus” Catharina Cornella Bothma de Viviers, met die volgende teksvers:
Ek is die opstanding en die lewe; wie in mi [sic] glo, sal lewe, al het hy ook gesterwe (Joh. 11:35).

Graf van Catharina Cornella Bothma de Viviers, gebore in Suid-Afrika en oorlede in Patagonië (foto: verskaf)
Die wind jaag ons verby die argeologiese park en museum – Parque Paleontologico Cretácico – waar daar etlike konkreetgietsels van dinosourusse is. Sarmiento het sy eie dinosourus: die Sarmientosaurus musacchioi het 95 miljoen jaar gelede hier rondgewandel.15

Sarmiento se dinosourus, Sarmientosaurus musacchioi, van 95 miljoen jaar gelede (foto: verskaf)
Die aand was merkwaardig. Nog ’n hoogtepunt.
Thea, Karina en ek word onthaal aan huis van Cristina Blackie en haar man. Dis ’n groot vertrek met ’n lang tafel. Daar is 27 plus die drie van ons – 30 altesame – wat vier geslagte verteenwoordig. Daar is spesiaal ’n lam geslag wat in die binnenshuise braaiplek, oopgevlek en op ’n skuins spit, gaargemaak word. Hier ontmoet ons onder meer Jan Schlebusch se drie bejaarde susters, Helena, Susana (ma van Cristina Blackie in wie se huis die ete is) en Ana Schlebusch. Susana het 10 kinders, waarvan ten minste die helfte teenwoordig is.

Jan Schlebush se drie susters saam met Thea Landman: Ana, Thea, Helena en Susana (foto: verskaf)
Ons ontmoet ook vir Catalina (“Kik”) Dickason, suster van Ty Dickason16 (wat laasjaar oorlede is), heel goed met Afrikaans, net soos Jan se drie susters. Catalina is ’n sterk teenwoordigheid. Haar broer Ty sal onthou word as een van die twee tweedegeslag- Argentynse Boere wat deur die merkwaardige videoprogram Boere op die aardsdrempel saam met Jan Schlebusch na Suid-Afrika geneem is om hulle familie hier te ontmoet. Dit is vir my ’n persoonlike verlies dat ek die merkwaardige Ty Dickason, weens Covid, nooit kon ontmoet nie – die man wat so aandoenlik kon praat oor sy liefde vir Suid-Afrika en oor die bar aarde waar hy daar by sy ouers begrawe sou word.
Ons ontvangs is oorweldigend. Almal wil ons net bederf en met ons gesels. Die kleine Guillermina het nog nooit so ’n lang mens soos ek gesien nie en is gefassineerd, beslis nie bang nie. Toe ek haar eers optel, wou sy nie weer neergesit word nie; ’n nuwe ervaring vir my.
Aan die einde van die aand moet ek ’n toespraak afsteek. Jy weet meer as die helfte verstaan jou nie, al praat jy deels Afrikaans en deels Engels. Dit is nogal ’n gevoel van futiliteit, maar jy weet ook daar is geen uitkomkans nie. En dat dit die gebaar is, nie die inhoud van die “toespraak” nie, wat tel.
Jan Schlebusch se susters oorhandig, namens almal teenwoordig, ’n sertifikaat aan my en Thea met ’n foto van Jan en sy broer Pedro (Jan noem hom “Piet”) en hulle drie susters. Onderaan is die vlae van Argentinië en Suid-Afrika, en die sertifikaat lees soos volg:
04/11/2024. Argentina [sic]. Broers Schlebusch [hoewel daar vyf sibbe op die foto is, die meerderheid waarvan susters]. Namens die Crous-Schlebusch-familie17 wil ons graag ’n hartlike welkom aan Sarmiento, Chubut, bied. Ons hoop dat julle jul verblyf sal geniet en dat julle saam met ons die ryk kultuur en tradisies kan deel wat ons verbind.
Met ons vertrek, laataand, kom almal op die sypaadjie uit en waai ons vaarwel. Dis nou iets wat mens nie aldag ervaar nie. Daar’s ’n knop in die keel. Jy voel die behoefte aan van mense om hul bande met “Afrika”, soos hulle dit dikwels noem, te behou en wat besoekers uit Suid-Afrika – wat gemiddeld so elke drie of vier jaar daar opdaag – as familie beskou. Die moeite en koste wat hulle aangaan, word opmerklik waardeer.
5 November 2014
Die volgende oggend gaan ons eers by Jeremias Kruger (die jongman wat Afrikaans deur die internet leer) se suster en haar man se nuwe, klein koffiekroeg in Sarmiento aan – Café Lennon, vernoem na die Beatles se John, met foto’s van hom op die mure. Jeremias is ook daar. Ons drink cappuccino en gesels in Afrikaans.

In Café Lennon, Sarmiento, Patagonië: Ricardo Pedro Kruger, Sara Grimbeek, Thea Landman, Karina Thomas Naudé en Jeremias Denis Kruger (foto: verskaf)
Toe is dit die nagenoeg 70 kilometer na die plaas van Nito van der Merwe, broer van Juanita van der Merwe, eggenote van Daniel Botha vir wie ons op ons eerste aand in Rada Tilly by Karina aan huis ontmoet het. Op pad soontoe ry ons verby perde, guanacos (Lama guanicoe, dis ’n vreemde, maar mooi dier met ’n lang nek) en choique (Rhea pennata) wat soos ’n klein volstruis lyk. Wat die landskap en bossies betref, kan dit net sowel die Karoo wees.

Guanacos, Chubut Provinsie, Patagonië (foto: verskaf)
Ons kom aan by Nito van der Merwe se plaas met die naam Establecimiento Cañadon Russo. Op die werf is mooi vet skape, nog nie geskeer nie. Nito en sy Spaanssprekende vrou woon in ’n beskeie plaashuis. Een van hul dogters, Marina van der Merwe van Comodoro Rivadavia, het kom kuier omdat ons daar sou kom besoek aflê. Vir middagete het ons pizza en koeldrank van Sarmiento saamgebring.

Bo en onder: Nito van der Merwe, 77, en sy plaashuis in die Chubut Provinsie, Patagonië (foto’s: verskaf)

Vir 25 jaar boer Nito al met skape, maar hy is nou afgetree en hou net 80 aan, tans met 20 lammers, vir Marina se onthalwe, want sy wil ’n veearts word en die skape dien as haar “kliniek”. Skeertyd het aangebreek en Nito is geïnteresseerd om te hoor dat Jan Schlebusch – wie se plaas 80 kilometer daarvandaan is – al die vorige week begin skeer het.

Die plaas van skaapboer Nito van der Merwe in Patagonië (foto: verskaf)
Nito is in 1947 gebore, soos Jan Schlebusch ’n tweedegeslag- Argentynse Boer. Hulle het drie seuns en twee dogters. Nito se pa was ’n eerstegeslag- Argentynse Boer, gebore in 1920, getroud met ’n Afrikaanssprekende vrou.
Nito se Afrikaans is skaflik, veral as mens stadig praat. Na ete haal Nito sy trekklavier uit en begin speel, met Marina wat hier en daar op haar eie trekklavier by hom inval. Dis “Jan Pierewiet” en ander bekendes waaraan ek in dekades nie gedink het nie, maar steeds die woorde onthou. Thea sing saam en Nito lag met ’n speelsheid oor hoe die lirieke mettertyd so effens ondeund aangepas is. Nito vertel hoe hy met die jaarlikse Boeredag by Sierra Chaira vir ses uur aanmekaar trekklavier gespeel het.
Hulle wys vir ons ’n video-opname van die Boeredag wat 10 jaar gelede ten einde geloop het. Daar is sakresies, lepel-en-eier-resies en perderesies, en gedans op boeremusiek.
Orals teen die mure van die plaashuis is daar tekens van die sterk bande met Suid-Afrika. Maar Nito was nog nooit in Suid-Afrika nie.
........
Deur die Argentynse Boere se mooi Afrikaans, die musiek uit die trekklavier en die beelde op die skerm raak jy daarvan bewus dat jy ’n blik het op die verlede, voor die ABO, een wat nie meer – ten minste nie so helder nie – in Suid-Afrika bestaan nie. Jy voel jy raak aan jou eie geskiedenis wat hier as’t ware ten dele by 1902 gaan stilstaan het.
........
Deur die Argentynse Boere se mooi Afrikaans, die musiek uit die trekklavier en die beelde op die skerm raak jy daarvan bewus dat jy ’n blik het op die verlede, voor die ABO, een wat nie meer – ten minste nie so helder nie – in Suid-Afrika bestaan nie. Jy voel jy raak aan jou eie geskiedenis wat hier as’t ware ten dele by 1902 gaan stilstaan het. Dit is ’n verlede voor 20ste-eeuse apartheid en demokrasiebevryding. Maar dit is uiteraard nie ’n verlede sonder sy eie historiese bagasie van 1652–1902 nie.
Laatmiddag is ons terug in Rada Tilly waar Karina vir ons sushi kry vir ’n laaste maaltyd saam met haar en haar pa Esteban.
Laataand stuur ek vir Karina per WhatsApp foto’s van Johan Heyns se begrafnis en gesinsfoto’s van die Heynse, een met Nelson Mandela, en herinner haar daaraan dat dit vandag presies 30 jaar is sedert hy op 5 November 1994 vermoor is. Karina het sy kleinseun, Adam, wat Spaans magtig is, saam met die Voetspore-span ontmoet en hulle het nog kontak. En ek onthou presies waar ek was toe ek daardie Sondagoggend op my motorradio in Noord-Carolina van Johan Heyns se dood gehoor het. Hy was 10 jaar jonger as wat ek nou is.
6 November
Vroegoggend gaan Thea en ek lughawe toe, parkeer die huurmotor en neem ’n vlug na Mendoza, met sy unieke Malbec-wingerde aan die voetheuwels van die sneeubedekte Andes. Terloops, Jan Schlebusch was nog nooit in Mendoza nie. Ek het vir sy dogter Silvana genoem dat dit ’n lekker 85ste verjaardaggeskenk sal wees, veral as Jan ook ’n oogspesialis daar kan konsulteer.
Indrukke en opmerkings
Wat sê mens van so ’n besoek? Hiermee net ’n paar voorlopige indrukke – geen diepsinnige teoretiese perspektiewe nie.
Die omgewing waar die Boere hulle gevestig het, is een van onherbergsaamheid met ekstreme weer, temperature en fisiese uitdagings. Vir mense om 122 jaar gelede na ’n wekelange bootrit daar aan wal te stap, in tente te woon, met sneeu kort na hulle aankoms, verg deursettingsvermoë en vindingrykheid. Argentyne wou hulle nie daar vestig nie. Om daar te boer, was en bly steeds uiters uitdagend, veral gegee die middele tot hulle beskikking.
Die huidige afstammelinge van die oorspronklike Boere-setlaars het nie net die kultuurgoedere oorgehou wat aan hulle oorgedra is nie, maar is aktief betrokke by die behoud daarvan, op persoonlike sowel as gemeenskapsvlak.
........
Die taal, Afrikaans, soos almal weet, is onvermydelik aan die uitsterf in Patagonië, maar dit is nog merkwaardig veerkragtig. Dit is opvallend hoe die volslae uitsterwe daarvan reeds vir dekades voorspel word.
........
Die taal, Afrikaans, soos almal weet, is onvermydelik aan die uitsterf in Patagonië, maar dit is nog merkwaardig veerkragtig. Dit is opvallend hoe die volslae uitsterwe daarvan reeds vir dekades voorspel word. Van die tweede geslag wat daar gebore is, meestal nou in hul laat 70’s en 80’s, praat nog ’n goeie Afrikaans, soms selfs uitstekend, soos Jan Schlebusch, Esteban Thomas Naudé en Graciela Kruger. Hulle het nog Afrikaans gehoor van hul grootouers (geëmigreer uit Suid-Afrika) en ouers (die eerste geslag daar gebore, kort na die aankoms in 1902–1907), baie van wie nooit Spaans goed magtig was nie, indien hoegenaamd.
Die derde en latere geslagte wat daar gebore is, die huidige jonger geslagte, praat Spaans en soms ook Engels. Party verstaan ’n bietjie Afrikaans, maar praat dit nie, soos ook ons gasvrou Karina. Maar hulle gebrek aan Afrikaans beteken hoegenaamd nie dat hulle onverskillig staan teenoor die “Suid-Afrikaanse kultuur” van hulle ouers nie. Inteendeel, hulle besef dat daar iets unieks aan hulle ouers is wat hulle onderskei van ander Argentyne. En dit fassineer hulle, en hulle respekteer dit.
Dit is juis hulle respek vir hulle ouers se kultuur en tradisies – hulle ouers se andersheid daar in Argentinië – wat maak dat die jonger geslagte ’n klaarblyklike verbondenheid aan Suid-Afrika het. Hulle voel hulle deel van ons land. En baie hunker na ’n besoek hier, deels om te sien waarvandaan hulle voorouers gekom het, maar ook om familie hier op te soek, wat sommiges van hulle reeds gedoen het of beplan om te doen.
Dit is ook opmerklik hoe gemaklik mense van verskillende geslagte daar meng en hoe vertroud hulle met familieverbande is. Hulle is hartlike, vriendelike mense – “Boeremense” – wat jou laat welkom en gewaardeerd voel.
Boerdery, dít waarvoor die Argentynse regering die Boere laat kom het en aan hulle grond voorsien het, is aan die taan en latere geslagte moes toenemend hulle ekonomiese aktiwiteite dienooreenkomstig aanpas. Om dus met boere, soos Jan Schlebusch en Nito van der Merwe, oor boerdery te praat, is ’n insiggewende blik op die verlede.
........
In watter mate, indien wel, kan ons vasstel hoe Afrikaans in 1902 gepraat is? Is die ouer geslag van Jan Schlebusch lewende verteenwoordigers van die Afrikaans van 1902?
........
In watter mate, indien wel, kan ons vasstel hoe Afrikaans in 1902 gepraat is? Is die ouer geslag van Jan Schlebusch lewende verteenwoordigers van die Afrikaans van 1902?
Wat politieke bewussyn betref, het apartheid en die oorgang na demokrasie die Argentynse Boere verbygegaan. Wat – indien enigiets – kan ons aflei oor politieke en sosiale oortuigings van 1902? Hoe, byvoorbeeld, was woordeskat en taalgebruik rondom ras? En hoe is dit nou? Wat dink hulle van Suid-Afrika se rassekwessies, indien hoegenaamd?
’n Hele paar van die Argentynse Boere wat ons ontmoet het, het ons vertel van twee swart mans uit Suid-Afrika wat die immigrante vergesel het. Die een was Dumboy (wat kan hiervan afgelei word?) en die ander was Kokkelas (Jacobo Pinnar) van wie ek ’n foto kon opspoor en ook kon vasstel by wie hy in diens was. Hulle het blykbaar geen familie daar gehad nie en is nooit terug Suid-Afrika toe nie. Jan Schlebusch het ons vertel dat Dumboy apart moes eet, agter die yskas.
Wat kan ons wys word oor rassepersepsies en taalgebruik wat terugdateer na 1902 uit die wel en wee van Dumboy en Kokkelas?
Twee families het bokse met vergeelde foto’s en oorspronklike dokumente uitgehaal en die inhoud met ons gedeel. Daar was nie tyd om veel daarmee te doen nie, maar ek kon wel ’n paar foto’s neem, soos van Alwyn Schlebusch se brief aan Jan Schlebusch in 1990. Daar is dus vele foto’s, geskrifte en artefakte om na te vors of net te dokumenteer.
Uit etlike gesprekke het dit geblyk dat die Boere min tyd vir die Argentynse regering het. Hulle vertel verhale van die erge korrupsie en inkompetensie van amptenare. So, byvoorbeeld, verwys hulle na ’n pad in die Chubut Provinsie waaraan jare gebou word, maar wat onvoltooid bly ten spyte van opeenvolgende kontrakteurs wat betaling ontvang.
En so vind ons toe nog ’n ooreenkoms wat ons aan mekaar verbind – om te woon in ’n staat waarin korrupsie van episodies na endemies getransformeer het.
Dit dan net enkele voorlopige indrukke en opmerkings.18
Vorentoe: Wat is daar te doen?
Ons het nog ’n kans om die lewens van die Argentynse Boere en hulle bande met 1902 beter te probeer verstaan.19
Dit is wel laat, want die geslag van Jan Schlebusch, Nito van der Merwe en Graciela Kruger is aan die uitsterf. Daar is egter nog individue wat Afrikaans goed magtig is en dus genoeg materiaal oor die tweede geslag wat daar gebore is. Daar kan met vrug opnames gemaak word van individue wat binne die volgende vyf na 10 jaar nie meer met ons sal wees nie. Dis ’n kulturele residu om te ondersoek en dokumenteer.
Die stemme van die jonger geslag Argentynse Boere is egter ook belangrik, soos dié van Barrie Dickason van Sarmiento. Ons het Barrie nie persoonlik ontmoet nie, want hy was uitstedig weens sy werk, maar ek het wel ’n aantal WhatsApp-gesprekke uit Mendoza met hom gehad. Hy is ’n empatiese, oop mens met geartikuleerde idees oor hoe sommige besoekers in die verlede die Boere-gemeenskap van Argentinië uitgebeeld het as ietwat versukkeld, ’n soort eienaardigheid.
Die sleutelwoord hier – soos so telkens – is perspektief. Tensy jy jou met kreatiewe verbeelding in die skoene van die ander verplaas, eerder as om ander vanuit jou eie beperkte omstandighede en ervarings te oordeel, verwoord jy bloot jou eie vooroordele. Perspektief sluit tyd en ruimte in, strek oor geskiedenis en geografie (“die gront van die wint”).
........
Hoe is Argentynse Boere se afstammelinge se lewe nou? Wie is hulle? Wat doen hulle? In watter mate identifiseer hulle met onderskeidelik Argentinië en Suid-Afrika? Wat hou die toekoms vir hulle as “gemeenskap” in?
........
So het ek byvoorbeeld die opmerking gehoor dat die Argentynse Boere op foto’s lyk asof hulle almal familie is. En boonop kom sekere vanne volop voor. Maar die mense op die foto’s is byvoorbeeld drie bejaarde susters, of vyf jong sibbe. Voeg hierby ons samelewing se mediagedrewe, oormatige gefikseerdheid op voorkoms eerder as substansie en jy het ’n glybaan na vooroordeel wat dalk sy oorsprong vind in ’n starre onvertroudheid met andersheid. En dan volg gemaklike veralgemenings gegrond op beperkte waarnemings.
Daar is interessante historiese vrae om te ondersoek. Waarom het sommige Boere ná die ABO gereken dit is verkiesliker om hulle lewens in Argentinië eerder as tuis van meet af aan op te bou?20 Wat was hulle oorwegings om so ’n enorme stap na ’n onsekere toekoms te neem? Wou hulle gewoon wegbreek van die trauma van herinnerings aan die verwoesting van huis en haard (verskroeide aarde), konsentrasiekampe en ballingskap? Of was daar ook ideologiese oorwegings oor Britse onderdaanskap? Was daar iets unieks daaraan, of was dit maar net nog ’n geval van ’n universele verskynsel van mense wat vir ’n verskeidenheid van redes iewers elders heen trek?
Hoe was die bootvaart van Kaapstad; die aandoen by Buenos Aires vir die aankoop van voorraad en implemente; die landing by Puerto Visser; die huisbouery, boerdery en ontberings; hulle opvoeding, gesondheidsorg en ander sosio-ekonomiese omstandighede? Ons het byvoorbeeld verneem van ontberings op lang bootritte en van kinders wat tot op 10-jarige ouderdom net Afrikaans gepraat het en oornag in ’n Spaansmedium skool moes aanpas.
Hoe is Argentynse Boere se afstammelinge se lewe nou? Wie is hulle? Wat doen hulle? In watter mate identifiseer hulle met onderskeidelik Argentinië en Suid-Afrika? Wat hou die toekoms vir hulle as “gemeenskap” in?
En is daar rigtingwysers na die oorsaaklike voorwaardes vir die voortbestaan van Afrikaans in Suid-Afrika?21
Stellenbosch
27 November 2024
Aangevul en geredigeer tot 29 April 2025
Eindnotas
1 Wikipedia sê onheilspellend: “Comodoro Rivadavia can have a bit of a rough feel, but the people were warm, the attractions interesting, and the seafood amazing.”
2 Interessant genoeg was dit ook die indruk van ’n feitesending, vroeg in die 1900’s, voor die Boere se emigrasie. Daar is gerapporteer dat die binneland diep wes van Comodoro Rivadavia pragtig is met groot potensiaal om suksesvol te boer, maar:
Sterk het hy [ds LP Vorster] ons aangeraai om te trek, maar tog nie om te gaan woon in die nabyheid van Comodoro Rivadavia nie. Duisend myl het hy te perd afgelê in Argentinië, en die lelikste deel, en daarby die swakste, was Comodoro en omgewing. (PH Henning: ’n Boer in Argentinië. Kaapstad: Nasionale Pers, 1940)
3 Sien voetnota 8.
4 Sien Rada Tilly.
5 Steptomycin word nie meer vir bakteriële infeksie gebruik nie, weens toksisiteit en erge skadelike newe-effekte, soos gehoorverlies en balansprobleme. Ek moes dit ook in 1980 na ’n ernstige rugoperasie vir ses maande gebruik, uiteraard sonder enige voorkennis van die newe-effekte.
6 Sien Wikipedia vir inligting oor die aankoms van die Boere-setlaars in die hawe van Puerto Visser en hulle bydrae tot die ontwikkeling van die ekonomie, nie net van Chubut Provinsie nie, maar Argentinië as geheel.
7 Die uittog van Boere na Argentinië was ’n direkte gevolg van die Britse methods of barbarism (soos Henry Campbell-Bannerman, Britse opposisieleier en latere eerste minister, dit genoem het) gedurende die ABO. Vroue en kinders het uit konsentrasiekampe en mans uit ballingskap in St Helena, Bermuda en Ceylon teruggekeer na plase (huise, oeste, vee) wat tydens Kitchener se verskroeide aarde-beleid vernietig is. Henning stel dit so in sy ’n Boer in Argentinië (Kaapstad: Nasionale Pers, 1940, bladsye 1–2):
Dink ’n bietjie na. Die plase in Transvaal en die Vrystaat was verwoes, die vee was óf gedood óf weggevoer, die boer self gebreek op kommando, sy vrou verwaarloos in die kampe gedurende die oorlog. Wie het die moed gehad om weer van vooraf te begin. [...] Watter toneel om te aanskou! Die afgebrande huis met die rooigebrande sink opmekaar in die huis, die lemoenbome voor die huis verskroei deur die hitte, alles verwoes en ’n woesteny, getuie van die oorlogsvernielsug.
Hulle het min aanmoediging nodig gehad om die versoek van twee gesante van die Argentynse regering aan los Boers te aanvaar: Kom na ons; daar is genoeg grond beskikbaar in Patagonië in die suide van Argentinië.
8 Liliana Esther Peralta en María Laura Morón: En las tierras del viento: Ultima travesia Boer 1902–2002. Uitgegee deur Municipal de Comodoro Rivadavia. Dit bevat ook ’n geskiedenis van Suid-Afrika as agtergrond tot die koms van die Boere-immigrante, en ’n kostelike inskripsie op die voorblad: “In die gront van die wint – Laaste treek van die boere” [sic].
9 Hierdie gemeenskaplike voorouer, Willem Adolph Landman, was die oudste kind van Johannes Abraham Landman (1750–1817) en Martha Rog(ge) wie se jongste kind die Voortrekkerleier Karel Pieter Landman (1796–1875) was wat in 1837 ’n trek – as deel van die Groot Trek – uit die distrik Olifantshoek – nou Alexandria, in die Oos-Kaap – na Natal gelei het. Na die moorde langs die Bloukrans- en Boesmansrivier het Karel Landman as leier van die Voortrekkers in Natal waargeneem tot met Andries Pretorius se aankoms. Hy was onderbevelvoerder onder Pretorius by die Slag van Bloedrivier. Nadat Pretorius tydens die Slag in sy hand gewond is, het Landman as bevelvoerder oorgeneem. Daarna het hy, op bevel van Pretorius, die verslane, vlugtende Zoeloes agtervolg en op groot skaal gedood. Landman was ook die aanvoerder tydens die Slag van Wit Umfolozi. Sy plaashuis by Wasbank is die enigste in KwaZulu-Natal wat nie gedurende die ABO as gevolg van Kitchener se verskroeide aarde-beleid afgebrand is nie, omdat dit as Britse offisierskwartiere gedien het. Op ’n reliëf onderin die Voortrekkermonument word hy by Sarel Cilliers op die kanonwa afgebeeld tydens die Gelofte van Danskraal in die aanloop tot die Slag van Bloedrivier. Sien Wikipedia-bronne oor Karel Landman en Alexandria.
10 Die een seun, Johannes Marthinus Landman (1820–1871), is die pa van Jan se oorgrootjie, Maria Elizabeth Landman; die ander, Johannes Christiaan Landman (1823–1906), is my oorgrootjie. Albei hierdie broers was ook van die distrik Alexandria waar my pa op die plaas Waaiheuwel gebore is. Maria Elizabeth Landman se getroude van was De Kock. Sy is gebore in die distrik Alexandria, is nie Argentinië toe nie, en is oorlede in Komga. Haar dogter, Catharina Petronella Wilhelmina de Kock (1874–1940) (getroude van Crous), Jan Schlebusch se ouma, is in Macleantown in die Oos-Kaap gebore, het na Argentinië geëmigreer en is daar oorlede. Jan Schlebusch se ma, Estrella Groendelina Crous (getroude van Schlebusch), is in 1915 in Argentinië gebore.
11 Ek kon ook met Jan en sy familie die geskiedenis van ons gesamentlike vroeëre voorgeslagte deel, onder meer ons slawevoorouers uit Wes-Afrika se Slawekus en Bengale, en ook die 17-jarige Landman-stamvader uit Amsterdam wat in 1735 as skeepsjonge op die VOC-skip, die Paddenburg, in die Kaap aangekom en later trekboer geword het.
12 Sien voetnota 14 vir meer besonderhede oor die 1938-repatriasie van Argentynse Boere.
13 “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (1963; 1953-vertaling).
14 In 1910 was senator FS Malan ’n lid van genl Louis Botha se eerste Unie-kabinet. Na die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918), in 1919, het Malan vir ag maande as eerste minister waargeneem terwyl Botha en genl Jan Smuts by die vredesonderhandelinge in Parys was wat op die Vrede van Versailles uitgeloop het. In 1933 is Malan op ’n feitesending na Comodoro Rivadavia waar hy vir PH Henning, die gevolmagtigde van die repatriasie-beweging, ontmoet het. Henning het indertyd handtekeninge versamel vir ’n versoekskrif aan die Suid-Afrikaanse regering om Argentynse Boere na die Unie te help terugkeer en hervestig (Wikipedia). In die voorwoord tot Henning se boek, ’n Boer in Argentinië (Nasionale Pers, 1940), skryf Malan soos volg:
Nadat ek die grootste deel van die Boerekolonie deurreis en met ’n groot aantal koloniste die saak van hul terugkeer bespreek het, was dit my weloorwoë oordeel dat daar vir die koloniste net twee weë oop was: Om so spoedig moontlik vrywillig na die Unie terug te keer, óf om hul lot met die Argentynse Republiek in te werp. As hulle op twee stoele sou wil sit, deur Afrikaners in Argentinië te wil bly, dan sou hulle net hul eie toekoms benadeel. Hierdie oortuiging het ek duidelik uitgespreek op die afskeidsgeselligheid wat hulle my te Comodoro Rivadavia aangebied het.
15 Sien Sarmientosaurus.
16 Ek vermoed die Dickasons is afstammelinge van ’n 1820- Britse setlaar wie se nageslag verafrikaans het. Van hulle is toe ná die ABO Patagonië toe.
17 Vir hierdie verwysing na Crous, sien voetnota 10.
18 My oorhoofse indruk is dat die Argentynse Boere se verhaal nog volledig vertel moet word soos reeds gedoen is met die vestiging van Boere in Angola in die 19de eeu. Hulle verdien iets soortgelyks as Nicol Stassen se gehalte-navorsing oor die Dorslandtrek. Sien sy Die Dorslandtrek 1874–1881. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015 en Van Humpata tot Upingtonia. Pretoria: Protea Boekhuis, 2021.
19 Dit is verblydend om te verneem dat M-Net, onder leiding van Waldimar Pelser (Direkteur: Premiumkanale), besluit het om in Januarie venajaar ’n kort televisiereeks oor die Argentynse Boere te maak, in samewerking met Voetspore se Johan Badenhorst. Dit sal saamval met die eeufeesviering van Afrikaans. (Terloops, Pelsers het ook Patagonië toe uitgewyk, onder meer ons gasvrou Karina se Pelser-voorouers.) Kundiges oor emigrasie en hervestiging en oor taalgemeenskappe sal kan help met die voorbereiding vir so ’n televisiereeks. Jan Schlebusch glo dat ek sal saamkom vir die maak van ’n televisieprogram, sodat ons ons onvoltooide gesprekke kan voortsit en hy sy plaas vir my kan wys, die plaas wat stellig na die natuur sal terugkeer wanneer hy nie meer daar is nie. Dis deels dié dat hy my weekliks bel. En ek vind dit moeilik om hom te vertel dat ek maar net my ervarings en indrukke met Johan Badenhorst en M-Net deel en nie daar sal wees nie.
20 Sien voetnota 7.
21 Oor hierdie vraag het Anton van Niekerk soos volg gereageer op ’n vroeë weergawe van hierdie dagboekaantekeninge:
Ek het veral met waardering kennis geneem van jou slotparagrawe waarin jy iets meer omtrent die mense en hul wêreld interpreteer. Vergun my om een moontlike addisionele stuiwertjie in die armbeurs te gooi, en dit betref die toekoms van die Afrikaanse taal. Ek dink jou stuk wys twee dinge duidelik. Enersyds is dit absoluut merkwaardig dat Afrikaans oor meer as ’n eeu in hierdie semi-wildernis sodanig oorleef het dat jy kan skryf dat sommige Afrikaanse Patagoniërs Afrikaans korrek en duidelik verstaanbaar steeds praat, lees en moontlik selfs skryf. Dit wys dat ’n “taal met ’n geskiedenis” (en dis seker alle tale!) hom nie maklik of ligtelik laat uitrangeer nie.
Aan die ander kant is dit ook so dat 100–150 jaar in die geskiedenis ook weer nie ’n lang tyd is nie. Afrikaans oorleef en het gedy in SA, grootliks, soos ons weet, omdat dit ontgin, gedra, bevorder en beskerm is deur ’n kultuur-nasionalistiese beweging wat baie hard en intensief gewerk het, nie slegs om die taal as sodanig te bly gebruik nie, maar om die taal die spilpunt te maak van ’n groter kultuur-nasionalistiese beweging. Ek dink dis goeie en slegte nuus. As klein, kwesbare taal toon Afrikaans nie noemenswaardige groei nie, en sonder ’n aantoonbare groei in die getal sprekers, is die taal op die duur gedoem om uit te sterf. Dit mag wees dat die Solidariteitsbeweging in hierdie verband ’n ommeswaai bring en ’n nuwe taalbeweging ontketen wat goed sal wees vir Afrikaans se oorlewing. Miskien kan die Patagoniërs ons meer leer oor ons kapasiteit om in ’n taal-enklawe te leef en steeds te floreer. (Persoonlike epos-kommunikasie, 9 Januarie 2025)
Lees ook:
kykNET Silwerskermfees 2015: Boers at the End of the World | Boere op die aardsdrempel
Revisiting the end of the world: an interview on language identity and displacement


Kommentaar
Baie interessante skrywe oor die Patagoniërs. Ek wonder of iemand daar nog iets sal weet van my oupa se oom, Oom Andries Schutte. Hy was 'n groot diereliefhebber. Kort na die Boere-oorlog ry hy met sy perd in Johannesburg. 'n Britse offisier loop agter hom verby en slaan die perd op sy boud met 'n karwats. Oom Andries spring af en slaan die offisier met die vuis. Die val met sy kop teen 'n klip of randsteen en sterf aan breinbloeding. Oom Andries vlug na Mosambiek en vandaar na Patagonië. Hy woon tien jaar daar en kom na uniewording terug na SA.
Fassinerend! En jy is heeltemal reg: die volle geskiedenis van hierdie mense moet nog vertel word.
Uitsekende blik op die verlede. Baie dankie.